Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

1 Konings 19:12 - God Werk Ongemerk

En ná die vuur was daar die gesuis van 'n sagte koelte.

1 Konings 19:12b

Gees en kruis

God is 'n God van groot krag. So openbaar Hy hom in sy Woord. So bely ons. Tog lyk dit soms of 'n mens tevergeefs na 'n teken van sy krag soek.

So het dit ook vir Elia gelyk toe hy vir Isebel moes vlug. Elia het in sy jare as profeet telkens in 'n uur van nood beleef dat God met groot krag hulp uit die hemel verleen. By Krit, by Sarfat en by Karmel was dit elke keer die geval. En toe Isebel begin om die profete van God dood te maak en ook Elia wou doodmaak, het Elia heimlik verwag dat God weer met 'n wonder uit die hemel sou ingryp. Maar hy het tevergeefs gewag. Daar was geen teken van die krag van God nie. Teleurgesteld het hy woestyn toe gevlug en gewens om te sterwe. Hy het nie daarvoor kans gesien om sonder die krag van God aan te gaan nie.

Daar in die woestyn het God deur 'n gesig met Elia gepraat. Die gesig het begin met groot kragvertoon: 'n Sterk wind wat berge en rotse skeur, 'n aardbewing en 'n groot vuur het voor Elia verbygegaan — 'n soort magsvertoon wat Elia van God verwag het! Maar dan wys God hom dat Hy nie in een van hierdie indrukwekkende kragte is nie: Hy vertoon Homself in die geruis van 'n sagte koelte, in die stille fluistering van die wind wat geen opspraak verwek nie.

Met hierdie gesig het God Elia laat besef dat die krag van God nie in skouspelagtige gebeure gesoek moet word nie. God laat sy grote krag gewoonlik in die stilte, ongemerkte gang van die lewe werk in die gesuis van 'n sagte koelte. Om dit te bevestig, sê God vir Elia: Daar het nog seweduisend in Israel oorgebly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie.

Toe Elia gevlug het, het hy gedink dat daar geen geloof in Israel oorgebly het nie. Maar sonder dat hy besef het, het God die wonder van die geloof in seweduisend harte bewaar. Sonder dat die mens se oog dit kan sien, laat God met onweerstaanbare krag die grootste van alle wonders in die mens gebeur — die wonder van die wedergeboorte en die geloof. Die Here Jesus het sy dissipels op hierdie selfde verborge krag van Gods Gees gewys toe Hy gesê het (Johannes 3:8):

Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

God wedervaar sy uitverkorenes nie te midde van groot opspraak en sensasie nie, maar in die stille werking van sy Woord wat in jare van onderrig en studie van die Bybel gebeur. 'n Wedergebore kind van God word dus nie geken aan 'n lewe van groot en indrukwekkende tekens uit die hemel nie, maar aan 'n lewe wat vloei in die waarheid van Gods Woord — soos die gesuis van 'n sagte koelte.

God bewaar ook nie sy kerk met 'n skouspel van wonders uit die hemel nie. Die kerk wat vervul is met die krag van die Gees word dus nie daar gevind waar sensasie en opspraak is nie, maar waar sy Woord met kalme volharding suiwer gepreek word, waar sy sakramente behoorlik onderhou word, waar die tug van sy Woord stilweg bekeer - soos die gesuis van 'n sagte koelte.

Selfs die grootste wonder van die geskiedenis het God sonder sensasie laat gebeur — Jesus Christus. Volgens menslike maatstawwe was sy lewe maar nederig en selfs veragtelik: gebore in 'n stal, metgesel van hoere en tollenaars, 'n misdadiger wat aan die kruis tot sy einde kom. In Jesaja 53 word gesê:

Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad dat ons Hom sou aansien, en geen voorkoms dat ons Hom begeer nie.

Nogtans het God in Hom die grootste krag van alle tye betoon: Christus het uit die dood opgestaan en daarmee ook oor ons die mag van die dood verbreek! Dit het Hy gedoen sonder ooggetuies, sonder groot gebaar of vertoon — soos die gesuis van 'n sagte koelte.

Soek jy dan na 'n teken van die krag van God in jou lewe? Jy sal dit nie in die groot opspraakwekkende gebeure vind nie, maar in die klein en alledaagse gang van sake, want God laat die stille krag van sy Woord en Gees soos 'n sagte koelte deur die lewe van sy kinders suis.