Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Al die Ampte Betrokke!

kerkraadsbank

Die Kerk moet sy eintlike taak, naamlik die bediening van die versoening, getrou en ywerig uitoefen sodat die bejaarde op 'n gebalanseerde wyse die ouderdom ervaar. Al die ampte – predikant, ouderling, diaken, trouens, die hele gemeente – is hierby betrokke.

Die Taak van die Predikant🔗

Daar is baie wat beweer dat om die bejaardes te bedien, die predikant buitengewone psigologiese kennis en insig moet hê. Ongetwyfeld is psigologiese insig nodig, maar geestelike insig en daarby 'n bewussyn van amptelike roeping is die belangrikste.

Die predikant wat voor die bejaarde staan, staan daar van Godsweë en in opdrag van sy Sender, Jesus Christus en dit maak hom ootmoedig maar moedig, begenadig maar sterk, oorgegewe in die diens van die Here.

Sy groot taak is om die Woord van die versoening aan die bejaarde te bedien. (Vgl. C.J.H. Venter, Die bediening van die versoening aan die bejaarde, p. 434 e.v.)

En nou dink ons nie soseer aan die erediens nie maar aan die persoonlike bediening, by wyse van huisbesoek wat veel meer gereeld as by gewone lidmate van die gemeente moet plaasvind. Die situasie is 'n gespreksituasie, van persoon tot persoon, van oog tot oog, van mond tot mond. Maar van die predikant se kant loop dit uit op Woordbediening; aktueel en konkreet, toegespits op die besondere situasie van die bejaarde. Dit moet verklaring en toepassing van 'n bepaalde teks of Skrifgedeelte wees sodat die gesag van die Woord agter die gesprek sit. Hier is 'n groot verskeidenheid moontlik.

  • Dit kan byvoorbeeld gaan oor die sin van die lewe soos weerspieël in Psalm 27:1; Psalm 63:3; Filippense 2:17; 1 Korinthiërs 6:20; 2 Timotheüs 4:8.

  • Of dit kan gaan oor die sin van die arbeid of die rus soos weerspieël in Prediker 3:13; Jesaja 55:2; 1 Korinthiërs 3:9; Mattheüs 11:29; Hebreërs 4:9.

  • Of dit kan gaan oor die sin van die ouderdom – Psalm 71; Psalm 90; Titus 2:3-5; Prediker 12; Jesaja 46:4.

  • Of, en dit is baie belangrik, dit kan gaan oor die sin van die lyde. Talle Skrifgedeeltes kan hier gebruik word soos Deuteronomium 32:11, 12; Psalm 10:14, Psalm 73; Job 1:21; Job 42:1; Jakobus 1:2; 1 Timotheüs 1:8-12; Romeine 8:18; ens.

  • Dit moet sekerlik ook gaan oor die sin van die sterwe – Psalm 89:49; Johannes 11:25, 26; Filippense 1:23; Filippense 3:20, 21.

  • In die ampswerk van die predikant aan die bejaarde kan en moet dit ook gaan oor die roeping van die bejaarde in die ouderdom en aspekte soos diens (Psalm 92:15, 16) of vergenoegdheid (Filippense 4) of versoening as sodanig (2 Korinthiërs 5:20).

Die verhouding tussen predikant en bejaarde is van die uiterste belang. Dit moet 'n pastorale verhouding wees waarin op grond van 'n gemeenskaplike geloof 'n egte ontmoeting plaasvind, waarin liefde gegee en ontvang word, waarin gespreksopenheid en gespreksvrymoedigheid deur egte empatie tot stand kom, waarin daar met begrip geluister en nogmaals geluister word en waarin daar dan simpatieke Skrifgetroue antwoorde kom op soveel knellende vrae.

Vanselfsprekend het mens hier te doen met hoogs individuele pastorale bediening wat die unieke van elke bejaarde in sy besondere situasie en met sy besondere nood in ag neem (vgl. Venter, p. 436-473).

predikant bejaarde🔗

Die Taak van die Ouderling en Diaken🔗

Meeste van die fokuspunte van die bediening wat vir die predikant gegeld het, geld ook vir die ouderling en die diaken. By die amp van die ouderling val die aksent op die aspek van toesig en vermaning waar nodig. Ook moet hulle die bejaardes met raad en troos bystaan. Om dit te kan doen moet die ouderlinge die Woord laat spreek en as't ware saam met die bejaarde hulleself gedurig oefen in die bepeinsing van die verborgenhede van die geloof (vgl. Formulier van bevestiging van ouderlinge).

By die diaken moet die aksent op behoeftebepaling en behoefteversorging val, maar dan in die breedste sin van die woord. Die diaken het hier as besondere taak om te sorg dat die bejaarde sy vrees dat hy uit die gemeenskap kan uitval, sal oorwin. Hy moet die gevoel van verwerping help teëwerk (vgl. ds. P. van Schalkwyk, Besoek van die diaken aan die bejaarde. Voordrag voor diakonale konferensie, 1984).

Vanuit die gesigspunt dat diakonale sorg die bediening van die gemeenskap van die liefde is, gaan

daar 'n wêreld van diensbetoon aan die bejaarde oop. Dan is diakonale versorging nie maar net leniging van fisiese nood deur middel van voedsel-, klere- en medisynevoorsiening nie. Dit sluit dan ook in hulpverlening t.o.v. vervoer na die Kerk of die dokter of die besigheidsentrum. Dit sluit in talle inisiatiewe wat kan meebring dat die bejaarde kontakte met sy omgewing kan behou, funksies kan bywoon, ens.

Ten slotte moet daar ook die persoonlike gesprek wees wat handel oor persoonlike behoeftes en belangstellings soos kinders, finansies, gesondheid, vroeëre beroep, die Kerk, die Bybel, tyd en ewigheid. (vgl. Van Schalkwyk.)

Die Taak van Medegelowiges🔗

Van die ware gemeenskap van die gelowiges geld die uitspraak van Paulus dat as een lid van die liggaam ly, ly al die lede saam, en as een lid geëer word, is al die lede saam bly (1 Korinthiërs 12:26).

Waar die verhoudinge in die Kerk gesond is, moet hierdie beginsel in onverminderde krag ten opsigte van die bejaardes toegepas word. Die amp van die gelowige het hier 'n toespitsingsveld van onberekenbare omvang en waarde. So byvoorbeeld kan vaste komitees, bestaande uit lidmate, benoem word om bejaardes op te soek en by te staan. Daar kan gedink word aan die moontlikheid om bejaardes aan bepaalde gesinne toe te wys met die oog op gereëlde besoeke oor en weer (vgl. Venter, p. 468, 469). Hierdie "herderlike" bediening aan bejaardes deur medegelowiges kan ontsaglik daartoe bydra om vereensaming teë te werk.

Bejaarde🔗

Die Ideaal-Tipiese Bejaarde🔗

As daar miskien 'n indruk gewek is dat die proses van oud word alleen maar met negatiewe faktore soos sorge, moeite, verdriet en vereensaming gepaard gaan, dan is dit 'n eensydige indruk. Oud word kan ook iets moois wees. Trouens in bejaardheid lê daar inderdaad talle positiewe eienskappe. Dit gebeur as die bejaarde erns maak met die advies wat Paulus deur Titus aan hulle gegee het:

Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees, eerbaar, verstandig, gesond en vas in die geloof, liefde en volharding. Net so moet jy ook vir die ouer vroue sê hulle gedrag moet die wees van mense wat 'n heilige lewe lei.Titus 2:2, 3