Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Alle Prediking is Belofte-Prediking

testament

Eintlik is dit baie moeilik om die kern van die Reformatore se sig op die Evangelie en veral die prediking van die Evangelie te verstaan, indien ‘n mens nie verstaan hoe hulle (volgens die Skrif) die begrip belofte verstaan het nie. ‘n Mens kan byna sê dat dit onmoontlik is om die Reformasie as sulks te verstaan indien die Reformatore se sig op die begrip belofte nie verstaan word nie! Vir die Reformatore was alle prediking belofte-prediking. Maar, wat presies word daarmee bedoel? En, het dit enigsins betekenis vir die hedendaagse kerk wat getrou wil gaan leef aan Christus?

Die Reformatore het raakgesien dat die begrip “belofte” in die Skrif anders funksioneer as in die algemene gebruikstaal. In die gebruikstaal word ‘n “belofte” gesien as iets wat moontlik in die toekoms sal realiseer. In die Skrif beteken “belofte” dieselfde as God se lewende Woord in die hede! God praat “belowend” wanneer Hy praat. Dit beteken Hy gee daadwerklik Sy heil as ‘n toesegging. Soos wat die Here praat, bereik Sy verlossing die mens se hart. Hy bied ons Sy liefde in die Woord van Sy liefde. Sien bv. 2 Kor. 5:19.

Hierdie belowende/toeseggende spreke van God word aan die mens gegee deur die Woordverkondiging en verseël deur die sakramente. Byna soos die toesegging wat in ‘n testament aan ‘n erfgenaam persoonlik bemaak word. Dit word nie maar net in die algemeen gegee nie, maar dit word persoonlik geadresseer!

Hierdie belowende/toeseggende spreke van God omvat inklusief sake soos die wet, voorwaardes wat aan die mens gestel word, die eise van die verbond, die toe-eiening van die heil, geloof, bekering ensovoorts. Al hierdie sake wat ‘n appèl maak op die mens se verantwoordelikheid, word reeds ingesluit in God se belowende spreke. Deur middel van Gods belowende spreke, word hierdie dinge vervul en kom die mens dan ook inderdaad in beweging.

Dit is interessant om dit in die Woord na te gaan. Telkens wanneer daar ‘n appèl gemaak word op die mens, gaan die Here se belofte voorop. Die handelende God, die groot dade van God, gaan voorop en bring die mens se dade na vore. Sien byvoorbeeld Joh. 1:11&12, Mark 1:15, Joël 2:13. In laasgenoemde is die Here se teenwoordige barmhartigheid die grond vir die oproep tot bekering wat tot die gemeente uitgaan. Die belofte gaan altyd die geloof vooraf. Daarom word die prediking van die belofte ook die prediking van die geloof genoem! (Sien Gal. 3:2, 5).

Alle prediking, ook die prediking van die eis van die verbond, is belofteprediking. Dit is die groot dade van God in Christus (belofte) wat verkondig word en nie die voorwaardes waaraan die mens moet voldoen nie! Maar, in die prediking van die groot dade van God, word die mens heel direk betrek en kom die mens in beweging! Die Here eis immers niks wat Hy nie ook tegelyk skenk nie. Hy gee wat Hy vra. In die skenk van die heil (deur die beloftewoord) gee God Self ook die geloof en bekering en roep Hy dus die mens tot geloof en bekering.

Dit is dus ‘n misverstand om die belofte teenoor of apart van die appèl op die mens se gehoorsaamheid te stel. So asof God in Sy beloftewoord Sy heil aan die sondaar toesê en dan lê die onus verder op die mens om nou sy (veronderstelde) innerlike vrome potensiaal (waaroor die natuurlike mens nie beskik nie!) te gebruik (of nie te gebruik nie) om die belofte te realiseer. Dan ontaard ‘n preek in iets wat bestaan uit twee “pole.” Aan die een kant die “objektiewe” (dit wat God gedoen en moontlik gemaak het) en aan die ander kant die “subjektiewe” (dit wat die mens met sy eie wilskrag moet antwoord op God se spreke). Die gevolge van hierdie polêre benadering kan katastrofies wees. Enkele gevolge is:

twee pole

  • ‘n Preek word in twee verdeel: eers word die belofte gepredik en daarna die eis waaraan die mens moet voldoen. Die eerste deel is dan die Blye Boodskap terwyl die tweede deel die “pakgee-sessie” is waar die lidmate “gehamer” word om tot “gehoorsaamheid” te kom, omdat hulle daarop attent gemaak word hoeveel hulle nog te kort skiet.

  • Nádat die goeie nuus van die belofte verkondig is, kom die dreigende “maar” of “mits” of “moet” wat weer almal in onsekerheid laat.

  • Die gevaar skuil lewensgroot dat lidmate hul heilssekerheid sal gaan vasknoop aan een enkele moment in die verlede toe hulle hul bekeringsbeslissing gemaak het, pleks daarvan om hul sekerheid te bou op die belofte self wat nooit verledetyd raak nie, maar telkens weer gegee word in prediking en sakrament.

  • Lidmate word deur hierdie prediking teruggewerp op hulleself om altyd weer hul eie ervarings te gaan ontleed om daaruit “sekerheid” te verkry, pleks van om op die groot dade van God in Christus te vertrou vir sekerheid.

  • Die prediker leef onder die juk van ‘n meedoënlose meester van die dwang om “oproepe” op sy gemeente te maak sodat hy “evangelies” kan wees en “resultate” kan sien. Daarom word die tegniek van goedbedoelde oordrywing gebruik waar ‘n oorvloed byvoeglike naamwoorde en bywoorde gebruik word om klem op hierdie “bybelse oproep” te plaas sodat die lidmate die erns daarvan kan begryp. Die gevolg is egter dat lidmate verlam en moedeloos raak en die prediker by die dag meer depressief word.

Die enigste alternatief is reformatoriese belofteprediking, waar die appèl op die mens gemaak word binne die omhulsel van die verkondiging van die groot dade van God (verlede, hede, toekoms). Die geheim en uitdaging van gereformeerde prediking lê dus daarin dat die belowende, sprekende, skenkende, handelende God op so ‘n manier verkondig word dat die mens daarin meegeneem kan word in sy/haar geloofskeuse.