Bron: Kompas. 3 bladsye.

Alleenstaandes

alleenstaande

In elke gemeente is daar alleenstaandes, mense wat in die algemene spreektaal as ‘single’ beskryf word. Dit verwys nie slegs na jong ongetroudes nie, maar ook na manne en vroue wat vanweë sterfte of egskeiding weer alleen is. Van hierdie groep kry ʼn mens dikwels die klagte dat daar slegs aandag is vir getroudes, en in besonder vir getroudes met kinders. Daarom is dit belangrik dat hierdie groep ʼn duidelike plek in die gemeente sal hê.

Ds. LW de Graaff skryf in Nader Bekeken van Junie 2010 hieroor onder andere die volgende:

Om ʼn goeie perspektief te kry op die plek van die singles in die gemeente, is dit nodig om die hele Bybel in oënskou te neem. Daar kan begin word by Genesis 1. Daarin word vertel van die skepping van man en vrou na die beeld van God. Elke man en vrou is só geskape dat hy of sy iets van God kan vertoon. Dit is deel van die ‘geskape wees na sy beeld’. Elke man en elke vrou is op hulle eie ʼn volledige skepsel. Wie alleen deur die lewe gaan, is nie ʼn onvolledige mens nie.

Verhoudings bestaan danksy die Drie-enige God🔗

Alle manne en vroue lewe in verhouding tot ander mense. Niemand kom geïsoleerd in die wêreld nie. Daar is altyd ʼn moeder. Meestal ook ʼn vader, broers en/of susters. Verder is daar vriendskappe en al die ander verbande wat daar tussen mense kan bestaan. Baie besonders is uiteraard die band van die huwelik.

Die God wat in Homself nie eensaam is nie, het mense só geskape dat hulle aangelê is op omgang met mekaar. Ons hoor dit in God se woorde: “Laat ons mense maak na Ons beeld, na Ons gelykenis.” Geskape mense mag in hulle onderlinge omgang ʼn spieël wees van die Drie-enige God. Dit is by uitstek die geval in die huwelik.

Hoe dit was🔗

Hierbo is alreeds opgemerk dat God nie in Homself eensaam is nie. Daaroor skryf die apostel Paulus baie mooi dinge in 1 Korintiërs 2:10: “…die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God … So weet niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.” Hierin sien ons iets van die onderlinge omgang van Vader, Seun en Gees. God is nooit eensaam in Homself nie. ʼn Mens hoef (ook) nie eensaam te wees nie, omdat hy geskape is deur die God wat nie eensaam is nie.

As ons die Drie-eenheid as vertrekpunt neem, kan ons sê dat die mens as God se ewebeeld ʼn mens-in-gemeenskap is. So het God die mens geskape.

Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed” (Genesis 1:31). Daarom kan ons met vrymoedigheid stel dat daar in die paradyslike lewe geen eensaamheid was nie. Adam was eers alleen – dit beteken nie dat hy eensaam was nie. Eensaamheid is pynlik, en daar was nie pyn in die paradys nie. Ook nie verdriet en rou nie. Wanneer God Eva skep en na Adam toe bring, word die lewe slegs nog mooier en volmaakter. Daar is niks wat ontbreek vir die uitvoering van sy taak as rentmeester in die tuin van Eden nie.

Hoe dit geword het🔗

Voordat die sonde in die lewe gekom het, het Adam en Eva hulleself nie vir God of vir mekaar geskaam nie. Hulle het in ʼn volledige oop verhouding met God en mekaar gelewe, en in harmonie met hulleself. Juis op hierdie punt breek die sonde verwoestend in. Die satan plaas sy koevoet in die verhoudings. Daar tree vervreemding op tussen God en mens. Adam en Eva vlug vir God wanneer Hy hulle opsoek in die hof van Eden. Daar is ook sprake van onderlinge vervreemding. Die mense gee die skuld vir mekaar. Dit word sigbaar in die skaamte vir mekaar, vir God en vir jouself. ʼn Skaamte wat baie dieper gaan as slegs preutsheid. Dit is ʼn skaamte wat die versteurde verhoudings ontbloot.

oosterse vrou

Een van die gevolge is dat baie manne en vroue nie meer ʼn lewensmaat vind nie. Met alle gevolge van dien vir veral die alleenstaande vrou. Haar plek het kwesbaar geword. Dink aan die oosterse en Islamitiese maatskappye waar alleenstaande vroue ʼn baie lae status het. Maar ook in die Westerse samelewing word baie vroue as slavinne verhandel en misbruik.

Wie met hierdie misstande in gedagte na die evangelie kyk, verstaan nog beter wat dit beteken dat Christus vandag alreeds die Bevryder is. Dit beteken nie dat, danksy Christus, elkeen ʼn lewensmaat ontvang en ʼn paradyslike huwelik kan sluit nie. Dit beteken wel dat elke man en elke vrou, elke seun en elke dogter weer tot sy en haar reg kom. Getroud of ongetroud. In die woorde van die apostel Paulus: daar is nie meer Jood of Griek, slaaf of slavin, man of vrou nie – julle is almal een in Christus Jesus. Daarmee wil die apostel sê: Jesus Christus maak nie onderskeid nie. Getroud of nie getroud nie – jy het jou eie volwaardige plek. In die koninkryk van God is ongetroudes nie tweederangs nie.

In die Gemeente aanvaar?🔗

Dit is egter nie vanselfsprekend dat dit ook so in die gemeente funksioneer nie. ʼn Mens hoor soms hoe alleenstaandes sê dat hulle in die samelewing meer aanvaar voel as in die kerk. ʼn Klag waarop ons bedag moet wees. Die Nuwe Testament gee geen aanleiding om die plek van die alleenstaande as tweederangs te beskou nie… Hier kan verwys word na die apostel Paulus, wat oor sy ongetroude staat geskryf het. Wanneer ons die apostel se uitsprake oor sy ongetroude staat langs mekaar plaas, sien ons dat dit vir hom ʼn bewuste keuse was om nie te trou nie. Dit het hom, net soos die ander apostels, vrygestaan om met ʼn vrou te trou en op sy reise saam te neem (1 Korintiërs 9:5). Tog het hy besluit om nie te trou nie om homself so goed as moontlik vir die prediking van die koninkryk van die hemele te kan gee. En as ongetroude man het hy as’t ware ʼn voorsprong gehad bo die getroude apostels. Getroude manne het ʼn plig om hul vrou en moontlike kinders te versorg.

Hieruit kan ons aflei dat, om alleen te staan, nie maar net ʼn ‘lot’ is wat oor jou kom nie. So word dit dikwels ervaar. Maar dit kan in die eerste plek ʼn keuse wees om alleen te bly… Nie elke alleenstaande kies egter bewus daarvoor om ongetroud te bly nie. ʼn Mens kan dit agteraf wel as leiding van die Here ervaar. En daarom is dit belangrik om jouself as alleenstaande steeds af te vra wat God se wil met jou lewe is.

Die Voorsprong van die Ongetroude man en vrou🔗

ʼn Mens kan stel dat die ongetroude man of vrou in ʼn sekere opsig ʼn voordeel het in terme van inset vir God se koninkryk. Dit beteken nie dat die getroude die werk vir God se koninkryk aan die ongetroude kan oorlaat nie… Dit is eerder so dat die ongetroude die rol van inisieerder kan vervul. Daarmee bedoel ek dat die ongetroude in baie gevalle meer vryheid het om sake in die gemeente van Christus aan te pak. In 1 Korintiërs 7 plaas die apostel ook die lewe van die getroude in die lig van die naderende koninkryk: “van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie…” Met hierdie woorde wys die apostel dat die ‘lewe sonder vrou’ in die gemeente rigtinggewend is.

Hier is ʼn waarskuwing egter gepas. Die woorde van Paulus leer ons nie om die ongetroude staat geestelik hoër te takseer as die getroude staat nie. Wel kan gesê word dat ongetroude broeders en susters in die algemeen ʼn voortrekkersrol kan vervul. Iets hiervan sien ons ook in Paulus se brief aan Timotheüs (1 Timoteus 5). Daarin skryf hy uitgebreid oor die posisie van die weduwees in die gemeente, wat daarin duidelik ʼn taak gehad het…

vroue Bybellees

Dit is duidelik dat die alleenstaandes in die oë van die apostel van die Here nie tweederangse persone in die gemeente is nie. In plaas van tweederangs teken die apostel die alleenstaande as ʼn voortrekker.

Die gemeente is op pad na die tyd wanneer daar geen huwelike meer sal wees nie. Die tyd waarin die koninkryk in alle volheid op aarde neergedaal het.

Daar word in ons tyd dikwels gepraat oor ‘die styl van die koninkryk’. Dan gaan dit dikwels oor huwelik en egskeiding. Die styl van die koninkryk is egter nie van minder belang vir ons denke oor die alleenstaande broeders en susters in ons midde nie.

Ek hou van die manier waarop ds. De Graaf die saak omdraai. In plaas daarvan om op ʼn meewarige wyse te soek na maniere hoe die alleenstaandes betrek kan word, plaas hy die voortrekkersrol in die hande van die alleenstaandes. Daarvoor is hulle hande immers vrygemaak! En die getroudes behoort hierdie voortrekkers te volg. Hy begrond dit baie goed – en na my mening tereg – in die eskatologie. Vanuit die eskatologiese perspektief dat mense nie sal trou nie (Lukas 20:35), wys hy dat die ongetroudes die getroudes as’t ware reeds voorgaan in die toekomstige lewe. Daarom is hulle plek in die gemeente nie te versmaai nie. Ek sien dit egter nog nie in ons gemeentes funksioneer nie. Is dit dalk ʼn gebrek in ons kerklike lewe? Miskien ʼn stukkie bekering wat op hierdie punt moet plaasvind?