Bron: Vox Viva. 1 bladsye.

Alles wat ons in die evangelie beloof word

Wat moet ‘n christen glo? So kort as wat hierdie vraag is, so kragtig en aktueel is en bly hierdie vraag. Dit is natuurlik ‘n vraag waarmee elke kind van die Here gedurig weer besig is en wat daarom ook tereg ‘n plek gevind het in ons Kategismus as vraag 22 by Sondag 7. Die vraag sluit aan by vraag 21 : “Wat is ‘n ware geloof?” Die vraag is baie belangrik en veronderstel dat daar ‘n geloof is wat wel die pretensie het om eg te wees, maar dit nie is nie. Die vraag het daarom ‘n baie sterk pastorale inslag, aangesien ons gedurig maar weer geneig is om onsself te mislei of om mislei te word oor ons geloof.

Die antwoord van die Kategismus gryp steeds in die hart. ‘n Christen glo alles wat in die evangelie beloof word. Hiermee is onmiddellik elke vorm van intellektualistiese “geloof” uitgesluit. God se openbaring is ‘n blye boodskap. Dit is evangelie. Dit is ‘n belofte van vergifnis en verlossing. So skryf H. Bavinck tereg heel mooi in sy Gereformeerde Dogmatiek hieroor. Aan ‘n belofte kan van ons kant deur niks anders geantwoord word as met geloof nie. Net deur geloof en geloof alleen eien ons, ons toe wat die Here vir ons met ‘n eed “gesweer” het (Heb. 6 : 16 – 18). Wat die Here gesê het, kan geglo word – Hy is waaragtig.

Die genade van God in ons Here Jesus Christus kom na ons in die belofte van die evangelie. Wanneer ons hierdie belofte aanneem, sluit dit duidelik in dat ons, ons met ‘n hartlike vertroue aan ons God en Vader en ons troue Verlosser oorgee en aan Hom toevertrou.
Dit is belangrik dat ons hierdie evangeliese geloof van ons as gereformeerdes heel duidelik onderskei van die intellektualistiese geloof van byvoorbeeld die Roomse Kerk. Die geloof by Rome is ‘n aanvaarding van ‘n bepaalde aantal waarhede in die openbaring op grond van die gesag van God wat na ons kom in die Skrif en in die kerk. Vir die lewe in die geloof, het dit ontsettend veel skadelike gevolge om so oor geloof te dink. Geloof word op hierdie manier ‘n intellektuele aanvaarding van ‘n aantal “waarhede”. Tereg word dan ook aangevoel dat só ‘n geloof geen sekerheid van verlossing kan gee nie. In die Roomse teologie moet hierdie geloof dan ook gedurig aangevul word met ander “deugde”, met name die liefde. By hierdie liefde word verstaan die werke van liefde, die goeie werke. Op hierdie manier word die sentrale plek van die lewe uit die geloof alleen verdring en word geloof gesien as iets wat ons alleen maar kan “voorberei” op die werklike genade wat ons s’n word deur die werke van die liefde.

Dikwels word opmerklik genoeg in sg. “evangeliese” kringe ook gedurig weer gewaak teen ‘n lewe uit geloof alleen. Die waarskuwing word opgewerp : “Maar ons moet tog ook goeie werke doen!”. Natuurlik sal ‘n lewende geloof oorgaan in ‘n lewe met die Lewende God. Daaroor mag ons tog geen twyfel hê nie. Maar die sekerheid van ons verlossing word ons s’n op ‘n heel persoonlike manier deur alles te glo wat in die evangelie aan ons beloof word. Dit is die genade waaruit ons leef – ja, ‘n godvrugtige lewe leef! Die belofte van die evangelie is tog ‘n saak waarin die Here Homself vir ons gee. Hy gee ons nie “iets” nie, maar Homself. Sal ons dan nog iets kan byvoeg vir ons heil vanuit onsself? Om die vraag te vra, is om dit te beantwoord. Tegelyk sal ons ALLES glo waarmee ons Here na ons kom. Alles wat Hy wil gee kom van Hom af. Ons geloof is sekerlik nie beperk tot sekere “fundamentele” sake nie. As Christene glo ons alles wat in die evangelie deur God aan ons beloof word. Ons glo alles omdat ons in die evangelie die belowende Here self ontmoet met sy genade-woord aan ons adres gerig.