Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing verby?

In die Winter 1992-uitgawe van die tydskrif Woord en Daad het prof. Bouke Spoelstra 'n belangwekkende artikel oor die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing geskryf. Wat hy daar skryf, is vir Kerkbladlesers belangrik, enersyds omdat dit oor die Christelike lewensbeskouing gaan (wat ons almal met mekaar deel), andersyds omdat dit gaan oor die manier waarop die Christelike lewensbeskouing spesifiek onder Afrikaners gestalte gekry het (uit wie se geledere die meeste van ons lesers kom). Daarom word hier in die artikel enkele lyne getrek wat verband hou met prof. Spoelstra se artikel.

Waar kom  die  Christelik-Afrikaanse  lewensbeskouing  vandaan?

Die koninkryk van God is soos suurdeeg wat in meel ingewerk word en die hele deeg deursuur. So leer die Here Jesus sy dissipels in Mattheus 13:33. Dit beteken onder meer dat daar vanuit die gelowiges 'n heilsame invloed uitgaan op elke samelewingsverband waarin hulle hulle bevind. Ook op die volk. In elke volk is die gelowiges soos 'n lig wat skyn en soos 'n sout wat smaak gee (Matt. 5:13-14). So het dit ook in die Afrikanervolk gebeur. Waar Christelike waardes dus deel geword het van die lewensuitkyk van Afrikaners, het die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing ontstaan. Die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing is die vrug van die evangelie in 'n bepaalde samelewing, in hierdie geval die Afrikanervolk.

'n Swaarbelaaide kapstok🔗

Hoewel die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing aan die Afrikanervolk verbind is, beteken dit ongelukkig nie dat elkeen wat hom in die geledere van die Afrikanervolk bevind, hierdie lewensbeskouing huldig nie. Daarom kan nie alle Afrikaner-optrede as vrugte van die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing bestempel word nie.

Tog het die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing met verloop van tyd 'n kapstok geword waaraan allerlei sake en optredes gehang is wat inderwaarheid nie met hierdie lewensbeskouing verband hou nie. Staatskole is bestempel as Christelik-nasionale skole, sonder om werklik aan die ideaal van Christelik-nasionale onderwys te voldoen. Verskeie polities-maatskaplike optredes is onder die vaandel van die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing geloods of daaraan verbind, terwyl dit meer met Afrikaans-politieke as Afrikaans-Christelike waardes te doen gehad het.

Die gevolg is dat diegene wat daardie polities-maatskaplike optredes verwerp, daarmee saam ook die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing verwerp. Hulle bestry die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing onder die wanindruk dat hulle besig is om 'n bepaalde politieke beskouing te bestry. Die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing het 'n stigma gekry wat dit nie toekom nie.

Nie meer samebindend nie🔗

Dat nie alle Afrikaners die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing handhaaf nie, is in ons tyd duideliker as ooit. Prof. Spoelstra verwys na 'n ondersoek wat onlangs onder leiding van prof. Hentie Boshoff van Toekomsstudies by die Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O. gedoen is. Volgens die ondersoek is daar tans onder Afrikaners groot verskille ten opsigte van waardesisteme en is hulle lewensbeskoulik alles behalwe gekonsolideer.

Prof. Spoelstra skrywe: "Die Afrikaner was tradisioneel goedig, konserwatief, godsdienstig, hardwerkend, sober, lief vir sy politiek en sport, betroubaar en 'n gesinsmens. As ek die studie van prof. Boshoff reg verstaan, pas vandag reeds minder as een derde van die Afrikaners nog in hierdie prentjie.

Daar is wel 'n miskien ewe groot deel van Afrikaners wat hulleself nog as konserwatief beskou, maar hulle word in werklikheid nie deur Afrikaans-Christelike waardes nie, maar deur materialisme en soek na status en plesier gemotiveer.

Die ander derde van Afrikaners is reeds duidelik liberale innoveerders en jappies wat krities teenoor die Afrikaner en sy kultuur, godsdiens en kerke staan en net hulle eie persoonlike selfverwesenliking op die oog het. Vir hulle bepaal hulle nuutste motor, nuwe huis, nuwe vrou of jongste besoek aan die Griekse eilande die sin van die lewe. Hierdie mense het niks aan 'n Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing wat offers vra en jou nooit kan 'betaal' nie".

Verantwoording🔗

Die bedoeling met die aanhaling uit prof. Spoelstra se artikel is nie om na 'n bepaalde deel van die samelewing vinger te wys nie. Die studie-ondersoek verplig ons egter tot verantwoording. Elke gelowige Afrikaner moet homself afvra: Is daar vandag nog by ons sprake van 'n Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing? Is daar vandag nog by ons plek vir 'n Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing?

Roeping🔗

Die antwoord op bogenoemde vrae kan kwalik anders wees as: ons het 'n geweldige roeping om die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing te handhaaf en uit te dra. Die suurdeeg van ons geloof moet die hele volk deursuur. Die sout moet sout en die lig moet skyn, sodat die Christelike waardes al meer deel kan word van die samelewing waarin ons woon. Los van allerlei strukture en sisteme kan en moet die Christelik-Afrikaanse lewensbeskouing uit die puin waarin dit verval het, herrys en opnuut 'n krag in die samelewing word. Die lig hou egter nie op skyn by volksgrense nie. Daarom is ons roeping om die sout en die suurdeeg ook na ander volke te laat deurwerk — en ook deurwerking van ander te ontvang. So kan die Christelike lewensbeskouing deel word van mense in elke volk in ons land. Die evangelie van Jesus Christus gaan oor volksgrense heen en dra die vrug van die Gees. So kan die Christelike lewensbeskouing hom in elke volk en taal en nasie vestig, tot eer van die Here ons God.