3 bladsye.

Christus en Sy Kerk

kerk🔗

1. Jou Sienswyse is Belangrik! 🔗

Hoe praat ons oor die kerk? Die neiging om dit volgens mens se eie sienswyse te doen, lyk bykans onuitroeibaar.  Dan praat ons oor die kerk vanuit die mens se oogpunt en godsdienstigheid. Op hierdie manier is dit maklik om allerlei moeilike kwessies rondom die kerk op te los. Oral waar ons geloof sien of meen dat geloof aanwesig is, is daar dan kerk, of veelvoud van kerke, insluitende “ons” kerk.

Maar die Bybel leer ons iets radikaal anders. Die Bybel leer ons die sienswyse van die geloof. Dit beteken dat ons geleer word om ons oë te rig op die Here Jesus Christus en om oor die kerk te praat as “die gemeente van God, wat Hy (Christus) deur sy eie bloed verkry het” (Handelinge 20:28).

Die Bybel leer ons altyd weer om ons oë op Christus, as God se gesalfde, te rig. Slegs dan kry ons, vanuit Christus en in gemeenskap met Hom, Sy gemeente in die oog.

Ons wys nou op hierdie noue band tussen Christus en sy gemeente soos ons dit orals in die Skrif vind. Ons bring net ʼn paar gegewens na vore, wat almal op dieselfde waarheid wys: eers Christus ... en daarom (onlosmaaklik aan Hom verbonde) die gemeente.

  1. Christus is die Hoof en sy gemeente is sy liggaam, onder meer Efesiërs 1:22-23 “... en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” Vergelyk ook Efesiërs 5:23-24.

    ​Net so ook 1 Korinthiërs 12:27: “Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik”. Vergelyk ook die “so ook Christus” in 1 Korinthiërs 12:12!  In hierdie drie woorde praat die apostel op ʼn oorweldigende manier oor die gemeente in haar eenheid met Christus.

  2. Maar Christus is ook die Bruidegom en die kerk is sy Bruid. Vergelyk Efesiërs 5:25 en verder: “...soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor gegee het”. En vergelyk ook vers 32: “Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” en ook Openbaring 21:9: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.” Vergelyk ook die woord wat Johannes die Doper voorheen gesê het: “Hy wat die bruid het, is die bruidegom” (Johannes 3:29).

  3. ​En verder: Christus is die Herder en die kerk is sy kudde (Johannes 10:11): “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape”, asook vers 16: “en dit sal wees een kudde, een herder.”

    Vergelyk ook onder meer Psalm 23 en Esegiël 34:23. Hier moet ʼn mens oplet na die noue band wat daar bestaan tussen die HERE, die God van die verbond, wat praat oor “my skape” (vers 6 en verder) én die ‘een enkele herder’, Dawid, God se kneg.

Ons mag en moet tot die volgende konklusie kom: die Bybel leer ons altyd die sienswyse van die geloof – die kerk is die liggaam van Christus, bruid van die Lam en kudde van die goeie Herder.

Buite hierdie sienswyse om raak ons wêrelds in ons praat oor die kerk! Slegs binne hierdie sienswyse kan ons skriftuurlik-suiwer oor die kerk praat. Die kerk is nie ‘ons' kerk nie, maar Christus se kerk en daarom: God se kerk.

2. Christus is ʼn Ewige Koning🔗

Daar is nog ʼn plek in die Skrif wat ons die nou verband, die lewensband, tussen Christus en sy kerk leer. Christus is ook die Here God se gesalfde Messias. As Seun van Dawid is Hy die koning van sy volk.

Die volgende Psalms teken Hom so: Psalm 2, Psalm 72, Psalm 89:20 en Psalm 110.

Hy word so deur die engel aangekondig aan Maria. Lukas 1:32, 33: “...en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”

Sy self-aankondiging kan ook hier genoem word: “Ek is die wortel en die geslag van Dawid” (Openbaring 22:16, en vergelyk ook Openbaring 5:5).

Die gereformeerde belydenis verwoord op ʼn pragtige manier die lewensband tussen Koning en (die gekoopte) volk, as in Artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis genoem word: “want Christus is ʼn ewige Koning, wat nie sonder onderdane kan wees nie.”

kroon

Die onbreekbare band tussen die Koning en sy onderdane lê vas in God se ewige en genadige verkiesing. Vergelyk Efesiërs 1:4: “Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld.” Hierdie lewensband plaas die kerk in die magtige samehang van God se liefde, wat deur al die eeue heen, in sy Seun tot die wêreld uitgegaan het (vergelyk Johannes 3:16). “God het sy Seun” in “die volheid van die tyd” gebore laat word “uit ʼn vrou” ... dit is Christus (Galasiërs 4:4).

Daarom moet ons ook die hoofstuk oor die goeie Herder (Johannes 10) lees teen die agtergrond van wat Johannes ons leer in sy Inleiding (die sogenaamde Proloog) van sy evangelie. In die Inleiding word vertel van die koms van die Woord na die wêreld, wat “in die begin” deur Hom tot stand gekom het én oor Sy koms na sy eiendomsvolk, sy eie mense (Johannes 1:9-11): “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.”

Uit die Proloog van die Evangelie volgens Johannes leer ons hoe waar dit is wat Antwoord 54 van die Heidelbergse Kategismus ons leer, naamlik dat die Seun van God “...van die begin van die wêreld af tot die einde toe...” vir Hom ʼn gemeente vergader.

Opsommend: wie die kerk nie vanuit haar noue band met Christus bekyk nie, maak die kerk tot ʼn menslike instelling. Maar wie die éénheid van Christus en sy gemeente raaksien en so daaroor praat, sien die wêreldwye betekenis wat dit het. Die kerk, dikwels deur mense verag en in haarself sonder enige heerlikheid, is deur God in Christus gestel as die brandpunt van die verlossing van die wêreld. Die kerk is God se oogappel!

3. Die Woonplek van God in die Gees🔗

Wanneer ons die regte sienswyse aangeleer het oor hoe ons oor die kerk moet praat, verstaan ons ook hoe ʼn groot en alles-beslissende rol die Heilige Gees, die Derde Persoon van die heilige Drie-eenheid, in die kerk het.

Want ons Hoof, ons Bruidegom, ons Herder, ons Koning is ná die hemelvaart by sy Vader, maar sy belofte is en bly waar: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” (Johannes 14:18). Dit het geblyk dat hierdie belofte waar is toe Christus die ‘ander Trooster ... die Gees van die Waarheid” (Johannes 14:16-17) vanaf die Vader gestuur het. Vergelyk wat Petrus sê in Handelinge 2:33: “...en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het.” Daarom is die kerk “ʼn woning van God in die Gees” (Efesiërs 2:22).

Hierdie Heilige Gees gaan van Christus uit, en bind ons ook weer aan Christus. Vergelyk Johannes 16:14: “...omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” Hierdie “Gees van God” (Romeine 8:9,14; 1 Korintiërs 3:16 en Efesiërs 4:30) word dan ook die “Gees van sy Seun” (Galasiërs 4:6) en die “Gees van Christus” genoem (1 Petrus 1:11 en Romeine 8:9). Hierdie Gees van God en van Christus is baie naby aan ons, sy gemeente, tot versterking en bemoediging. Romeine 8:16: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” en Hy rig ons geloofsaandag aanhoudend op Christus en op die groot Toekoms, Openbaring 22:17: “En die Gees en die bruid sê: Kom!

Ek som op: die Gees, wat in Christus se gemeente kom woon het, leer die gemeente die sienswyse van die geloof. Die Gees laat die gemeente oor haarself praat vanuit haar band met hierdie Christus.

sluier

4. ʼn Bevrydende Sienswyse🔗

Uit die voorafgaande drie punte kan ons nou een gemeenskaplike gevolgtrekking maak:

Is dit nie bevrydend om oor die kerk te kan praat – alleen, uitsluitlik en altyd weer nuut vanuit die sienswyse wat die Skrif van ons vra en dit so vir ons moontlik maak: ons praat oor die kerk vanuit die Christus, die Seun van God. Dit is bevrydend, en laat ons daarvoor oplet dat ons oor die kerk praat terwyl ons:

  1. met geloofsoë vir Christus in die hemel gewaar. Juis met die oog op ons gesprek oor die kerk moet ons die onderwysing van die apostel ter hart neem: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kolossense 3:1-2). Daar skyn hemelse lig oor die kerk op aarde.

  2. Maar wanneer ons die hemel, waar Christus is, in ons ‘visier’ het, dan sien ons ook die eenheid van die geskiedenis van hierdie wêreld. Buite Christus en buite die geloof om, kan ons die eenheid nie sien nie. Maar wie Christus sien, Hy wat gestuur is om uit die gevalle menslike geslag sy gemeente te vergader, het ʼn ‘algehele oorsig” oor die geskiedenis ontvang: ‘van die begin van die wêreld tot haar einde’ vergader Hy vir Hom ’n kerk! Die eenheid van die geskiedenis lê vas in die eenheid van Christus se kerk-versameling!

  3. Maar hierdie sienswyse gee ook vir ons sekerheid oor die toekoms en ʼn heerlike toekomsvisie: die bruilof van die Lam kóm! God se verkiesende liefde deur sy Seun is ons waarborg, en hierdie toekoms van die kerk is op Golgota verwerf: die kerk “wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Handelinge 20:28)