Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Bybel in 'n "fundamentalis" se hande

Wanneer die gebruik van die Bybel ter sprake kom, word daar gewoonlik een of ander tyd gepraat van die "fundamentalisme". Baie duidelik word dan gesinspeel op 'n groep mense wat 'n verkeerde siening van die Bybel het en die Bybel op 'n verkeerde manier gebruik. En dikwels kom dit as 'n skok om iemand te hoor sê: Gereformeerdes gebruik die Bybel tipies soos die fundamentaliste! Wat nou? Wat ons te doen staan, is om seker te maak wat die Fundamentalis werklik is en om te kyk of die skoen ons werklik pas.

Waar kom die Fundamentalisme vandaan?🔗

Die Fundamentaliste is nie 'n sekte of 'n kerk wat op hulle eie staan nie. Dit is 'n naam wat vroeg hierdie eeu deur kritiese teoloë uitgedink is om hulle opponente mee te beskrywe. Die kritiese teoloë, het veral die idee verkondig dat die Bybel 'n gewone feilbare menseboek is wat boonop die geskiedenis maar swak weergee. Hierdie kritiese standpunt het natuurlik heelwat teenstand vanuit die kerke ontlok. Die antwoord van die kritiese teoloë was om hulle opponente te bestempel as Fundamentaliste.

So het die benaming "Fundamentalisme" ontstaan. Maar, soos ons sal sien, dit het nie daarby gebly nie.

Wat sê die Fundamentaliste?🔗

Aanvanklik is die Fundamentaliste beskryf as mense wat glo:

  • dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is;
  • dat Jesus Christus uit 'n maagd gebore is;
  • dat Jesus Christus werklik God is;
  • dat Christus in ons plek versoening vir ons sondes gedoen het;
  • dat Hy werklik in die geskiedenis liggaamlik uit die dood opgestaan het;
  • dat Hy weer kom.

Hierop sal ons almal dadelik antwoord: as dit is wat Fundamentaliste glo, dan is alle Gereformeerdes inderdaad Fundamentaliste. En nie net Gereformeerdes nie, maar omtrent almal wat werklik Christus in die geloof omhels, is dan Fundamentaliste.

Ja, hierdie beskrywing skeer Gereformeerde en Sewendedag Adventiste oor dieselfde kam; dit jaag Baptis en Charismatikus in dieselfde kraal. En dit deug nie. Al waarvoor dit deug is vir 'n handige etiket wat die kritiese teoloë kan hang om die nek van al hulle opponente. En so het dit gekom dat die Gereformeerde teologie vandag steeds gebrandmerk staan as "Fundamentalisties".

Werklike verskille tussen Gereformeerdes en Fundamentaliste🔗

Dit is duidelik dat die bostaande beskrywing van die Fundamentalisme nie voldoende is nie. 'n Deegliker omlyning is nodig. Hierdie omlyning het gekom uit 'n debat in Amerika (en in 'n mindere mate ook Engeland) tydens die vyftigerjare van hierdie eeu. Dit het veral gedraai om die Amerikaanse Evangeliese groepe, beter bekend as die "Evangelicals". Hierdie groepe se siening en gebruik van die Bybel is met verloop van tyd in Amerikaanse kringe uitgesonder as die tipiese Fundamentalisme. Ons kan dan praat van die Amerikaanse Fundamentalisme.

Die Fundamentalisme in die Amerikaanse sin van die woord is dan iets waarmee ons as Gereformeerdes glad nie kan saamgaan nie, soos uit die volgende blyk:

  • Die Fundamentalisme sê dat die Bybel woord vir woord deur God gedikteer is. Die taal van die Bybel is dus 'n Goddelike taal, verhewe bo gewoon menslike taal.
    Hierteenoor sê ons as Gereformeerdes dat die Bybel wel 100% Woord van God is, maar dat dit Hom behaag het om sy Woord 100% deur mense te gee, met gebruikmaking van daardie mense se eie styl en taal en woordkeuse en omstandighede. Hy het sy Woord dus gegee nie deur te dikteer nie, maar wel deur te inspireer.
  • Die Fundamentalisme sê dat die Bybel foutloos is. Dit is dus onmoontlik dat dieselfde gebeure op twee plekke in die Bybel verskillend weergegee word.
    Hierteenoor sê ons as Gereformeerdes dat die Bybel eerder onfeilbaar is. Daar kom op sekere plekke wel geografiese, matematiese en historiese oneffenhede voor (bv. volgens Num. 25:9 het daar 24 000 Israeliete in die woestyn gesterf; volgens 1 Kor. 10:8 was hulle 23 000), maar steeds bly dit die absolute betroubare Woord van God, waarin Hy Homself en sy werke onfeilbaar aan ons openbaar.
  • Die Fundamentaliste beskou die Bybel se woorde as tydloos. Wat daar geskrywe staan, geld netso vir alle tye as vir destyds. Waarskynlik is dit 'n reaksie teen die kritiese teologie wat die woorde van die Bybel as tydgebonde beskou.
    Hierteenoor sê ons as Gereformeerdes dat die Bybel nóg tydloos nóg tydgebonde is, maar dit is tydgerig. God het dit wel in 'n bepaalde tyd onder bepaalde omstandighede laat opskryf, en daarom dra dit die stempel van daardie tyd. In 2 Timoteus 4:13 vra die apostel Paulus dat Timoteus sy reismantel en die perkamente vir hom moet bring. Vandag gebruik ons nie meer reismantels en perkamente nie. In ons tyd sou die apostel miskien gevra het vir sy warm jas en vir 'n hergebinde uitgawe van die Ou Testament. Nogtans, te midde van die tydgerigtheid van die woorde, leer ons almal daaruit dat die Here die apostel selfs aan die einde van sy lewe so begenadig dat hy nog dink aan die instandhouding van sy liggaam, en veral aan die studie van die Woord van die Here.
  • Fundamentaliste gebruik elke Bybeluitspraak asof dit op dieselfde vlak staan. Ook dit is waarskynlik in reaksie teen die kritiese teoloë wat sekere dele van die Bybel waarmee hulle ongemaklik is, wil uitskakel asof dit nie deel van die Woord van God is nie.
    Hierteenoor sê ons dat alles wat in die Bybel staan Woord van God is, sodat ons niks daarvan mag weglaat nie; maar tog kan ons nie alles in die Bybel lees asof dit op een en dieselfde vlak staan nie. Die sesde gebod "Jy mag nie doodslaan nie" (Eks, 20:13) en die opdrag aan Samuel: "Vul jou horing met olie en gaan heen" (1 Sam. 16:1) is altwee woord van die Here, maar nie op dieselfde vlak nie. So ook is die woorde: "Jesus het in die skuit geklim en oorgevaar" (Matt. 9:1) en: "Jesus is opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God" (Mark. 16:19) albei gesagvolle mededelings van wat Jesus gedoen het, maar beskryf nie gebeure van gelyke openbaringsinhoud nie.
  • Verder word gesê dat die Fundamentalisme op outoritêre manier volgelinge probeer dwing om almal 'n bepaalde verklaring van die Skrifte te onderskryf.
    As dit wel die geval is, verskil ons as Gereformeerdes ook hierin van die Fundamentaliste. Ons glo dat ons slegs voor God mag buig en gehoorsaam moet wees aan sy Woord. Ons eie eksegese het dus gesag net in die mate wat dit die Bybel getrou naspreek. Ons beskou onsself gebonde aan die belydenisskrifte, nie omdat hulle in hulleself gesag besit nie, maar omdat ons oortuig is dat hulle die Bybel getrou naspreek.
  • In die laaste plek word Fundamentaliste daarvan beskuldig dat hulle gekant is teen die resultate van die moderne wetenskap en hardkoppig bly vasklou aan ou uitgediende tradisies.
    Hierteenoor is Gereformeerdes alles behalwe anti-wetenskap. Ons weet hoe noodsaaklik dit is om die Bybel wetenskaplik te bestudeer en doen ten volle en van harte daaraan mee. Ons is egter ook daarvan oortuig dat die wetenskap dienaar moet bly. Daarom verwerp Gereformeerdes enige Skrifgebruik wat die wetenskap gelyk aan die Skrif of oor die Skrif wil aanstel.

Ons stryd teen Skrifkritiek en Fundamentalisme🔗

Ons Gereformeerde beskouing van die gesag van die Bybel en ons hantering van die Bybel moet dus nie deur ander mense met die (Amerikaanse) Fundamentalisme verwar word nie. Ons is nie Fundamentalisties nie en wil dit ook nie wees nie. Wie Gereformeerdes en Fundamentaliste onder dieselfde sambreel probeer toemaak, maak 'n reuse fout. Veel eerder moet gesê word dat ons 'n fundamentele beskouing en gebruik van die Bybel het - die grondslag (fondament) van alles wat ons doen, is die Bybel as Woord van God. Terselfdertyd moet ons as Gereformeerdes onsself in hierdie opsig ondersoek: huisves ons nie dalk verskuilde Fundamentalistiese oortuigings nie? Indien wel, sal ons onsself daarvan moet suiwer, omdat sulke oortuigings nie by Gereformeerdes tuishoort nie.

Aan die ander kant moet ons ons nie laat ontsenu deur kritiese teoloë wat die etiket van Fundamentalisme al te gemaklik om ons Gereformeerde nekke hang nie. Ons moet onthou dat dit baie makliker is om strooipoppe op te rig en af te skiet as om iemand werklik en met oortuiging te weerlê. Ons moet maar net vreesloos aanhou om ons Gereformeerde oortuigings oor die Bybel uit te dra en die Bybel met die volle moed van ons geloofsoortuigings te bestudeer en te gebruik.

Die apostel Paulus het aan die destydse gemeente in Filippi geskrywe: "Julle moet in een gees vasstaan en saam stry vir die evangelie, en julle in geen opsig laat afskrik deur die teenstanders nie".

Hierdie woorde het hy onder inspirasie van God die Heilige Gees geskrywe aan die Filippense, wat merendeel uit oud-soldate bestaan het en uit praktiese ervaring beslis sou begryp het wat "vas-staan" en "saam stry" en "afskrik deur teenstanders" werklik beteken.

Maar vir ons, wat soveel jare later lewe en wat miskien niks met die militêre lewe te doen het nie, kom hierdie vermaning met dieselfde Goddelike krag en gesag as destyds.

Tegelyk tenoor Fundamentalis en Skrifkritikus sal ons bly vasstaan, in die waarheid van ons belydenis, wat in alle eenvoud en opregtheid die heilige Goddelike Woord naspreek.