4 bladsye.

Die Bybel oor die Bybel

2 Bybels🔗

Die Sirkel🔗

Is dit nie vreemd nie? Jy gaan nadink oor die gesag van die Bybel en dan begin jy jou afvra wat die Bybel oor homself sê. En dit nie alleen nie. Nee, jy is by voorbaat al van plan om dit deurslaggewend te laat wees. Jy erken ook byvoorbaat al die gesag van wat die Bybel oor sy eie gesag sê.

Beland ’n mens nie so in ’n sirkelredenering nie? Kan jy as argument aan mense sê: “Ek glo die Bybel, omdat die Bybel self om geloof vra?” Dit is tog nie ’n argument nie!

In elk geval beskou baie mense dit nie meer vandag as ’n argument nie. Hulle sien dit as outoritêr, as jy jou op die Bybel beroep vir jou geloof aan die Bybel. Hulle wil argumente hoor wat nie aan die Bybel self ontleen is nie, argumente wat hulle op hul waarde kan skat.

Is daar nie sulke argumente nie? Natuurlik ja. Ook mense wat nie in die Bybel glo nie, moet toegee dat die Bybel ’n indrukwekkende boek is, ’n grootse erfenis van die mensdom. Hoe oud is die Bybel nie. Duisende jare gelede is die eerste dele al geskryf! Watter pragtige literatuur, wat ’n aangrypende geskiedenis, wat ’n wysheid! En bowenal: hoe dikwels het die Bybel nie al sy waarheid bewys nie! Selfs blindes kan voel dat die dinge want daarin voorspel word, gebeur, sê artikel 5 van die Neder­landse Geloofsbelydenis. Die profesieë van die Ou Testament oor die ballingskap en die bevryding daaruit, die beloftes van Jesus oor die evangelieprediking aan die hele wêreld en oor sy gemeente, wat nie oorweldig sal word nie en nog meer: dit het alles waar geword.

Dus is daar genoeg argumente ten gunste van die Bybel. En tog! hierdie argumente is nooit deurslaggewend nie. Want ou, mooi, wyse boeke is daar meer van. Waarom sou ’n mens dan die Bybel moet kies? En die waarheid van die Bybel: ag, dit kan die mense ook bevraagteken. Wat het geword van die beloftes van Jesus dat Hy gou sou terugkom? Klop die verhale van die Bybel met wat die wetenskap alles ontdek het, oor die ontstaan van die wêreld en oor die ou geskiedenis? Staan daar nie dinge in die Bybel wat teenstrydig met mekaar is nie? So kan mens verder gaan. Wat argumente vir of teen die Bybel betref, is daar eindelose diskussie moontlik.

Daarom val die beslissing êrens anders. Ons glo die Bybel, omdat ons voor die gesag van God buig, wat in die Bybel tot ons spreek. Die Bybel sê self dat hy van God kom. En dit is die Gees van God wat ons daarvan innerlik oortuig. Ons herken in die Bybel die stem van ons Vader in die hemel: daarom glo ons onvoorwaardelik daaraan. Ons sien in die Bybel die gestalte van Jesus Christus, ons Heiland: daarom hou ons soveel van hierdie boek. Ons ervaar in die Bybel die krag van die Heilige Gees: daarom kan ons ons nie aan sy gesag onttrek nie.

Dus inderdaad: ’n sirkelredenering. Ons géé geen gesag aan die Bybel met ons argumente nie. Maar ons erken die gesag wat die Bybel vir homself opeis. Beslissend vir die gesag van die Bybel is wat die Bybel oor homself sê: dit is die sirkel.

sirkel in die lug

Maar tog, dit is geen bose kringloop nie. Geen sirkelredenering waarin jy jouself verstrik en vir die gek hou nie, en wat jy maar net gesaghebbend aan ander kan voorhou nie. Want hierdie sirkel is oop na bo, oop na God. Dit is Sy gesag wat op die Bybel afstraal. Ons glo in God, Vader, Seun en Heilige Gees. Daarom glo ons die boek, wat Hy aan ons gegee het en wat oor Hom spreek. Daarom roep ons ander op om na die boek te luister, in die hoop dat die krag van die Gees ook in hulle hart en lewe sal blyk.

Die Ysberg🔗

Wat sê die Bybel oor homself? As ’n mens daaroor praat, kom jy al gou by ’n paar tekste uit, waarin die Bybel uitdruklik oor homself praat. Ek dink dan met name aan 2 Tim. 3:16 en 2 Pet. 1:21. Ek wil in die volgende onderafdeling oor dié tekste praat.

Tog begin ek nie met die “standaard tekste” nie. Want dit is belangrik om goed te besef dat dié tekste nie meer is as net die kruin van die ysberg nie. Die Bybel praat byna nooit met soveel woorde oor homself nie. Dit is ook logies. ’n Boek het dit meestal nie oor homself as onderwerp nie. Só is dit ook met die Bybel. Daarom is daar maar ’n paar tekste wat spesifiek oor die Bybel praat.

Maar dan moet mens nie dink dat die Skrif maar iets onbelangriks is nie. Want onder die paar tekste sit daar waarlik ’n hele ysberg. Orals vind mens die veronderstelling dat die Skrifte van God kom. God laat Hom nie net ken deur sy woorde en sy dade nie. Hy sorg self daarvoor dat Sy openbaring te boek gestel word.

Dit sien ’n mens byvoorbeeld by die “skryfbevele” wat herhaaldelik in die Bybel staan. Moses kry die bevel om die woestynreis van die volk Israel te beskryf (Num. 33:2; vgl. Eks. 17:14 oor Amalek). Jeremia moet al sy profesieë in ’n boekrol (laat) skryf, en dit tot twee keer nadat die goddelose koning Jojakim die eerste rol verbrand het (Jer. 36). Johannes op Patmos kry van Christus die bevel om sy visioene op skrif te stel (Open. 1:11). Kennelik vind God dit baie belangrik dat sy dade en sy woorde skriftelik vasgelê word, om aan tydgenote en die nageslag deurgegee te word. Dit is selfs so belangrik, dat daar aan die einde van die Bybel ’n ernstige waarskuwing staan om niks, maar dan ook niks aan die geskrewe toe te voeg of weg te laat nie (Open. 22:18,19 vgl. Deut. 4:2; 12:32).

Maar ook as die “skryf” heeltemal nie genoem word nie, speel dit op die agtergrond saam.

H. Bavink sê is sy “Gereformeerde Dogmatiek” dat baie profesieë wel seker nooit uitgespreek is nie, maar bestem was om gelees en oordink te word: “De meeste zyn met zorg, zelfs met kunst bewerkt en toen reeds door hun vorm voor het schrift bestemd te zyn”. (Gereformeerde Dogmatiek; deel I, bl. 359). As jy in die Hebreeuse Bybel kyk, sien jy dat die profesieë baie dikwels die vorm van gedigte het. Dit is kunsprosa, of poësie. Dit wil sê dat die skriftelike vaslegging onverbreeklik daarby hoort. Die “so spreek die Here” van die profete dui nie alleen op hul woorde nie, maar ook deeglik op hulle geskrifte!

Dit blyk dan ook uit die Nuwe Testament. Met hoeveel eerbied gaan die Here Jesus byvoorbeeld met die Heilige Skrif om. Mens sou ’n hele skriflêer aan die hand daarvan kon skryf! Dink maar aan die versoekings in die woestyn. Elke keer sê die Here: “Daar staan geskryf” (Matt. 4:4, 7, 10). Met dié woorde oorwin Hy die duiwel: Hy hanteer die swaard van die Gees, dit is die Woord van God (Ef. 5:17). Dieselfde wapen gebruik Hy byvoorbeeld in sy diskussie met die Sadduseërs oor die opstanding (Matt. 22:29-31) en ook dan is dit deurslaggewend. Maar natuurlik gebruik die Here die skrifte nie net in die stryd nie. Inteendeel, Hy gebruik hulle veral positief: Hy toon aan hoe die skrifte van Hom getuig (Joh. 5:39; Luk. 4:21). So vorm dit sy identiteitsbewys. Maar dit kan net omdat hulle gesag en hul waarheid oor Hom vasstaan.

Jesus se volgelinge het op dieselfde spoor verder gegaan. In die prediking van Petrus en Paulus aan die Jode staan die Skrifbewys sentraal: dit blyk uit die boek Handelinge. In die briewe is dit nie anders nie: daar word steeds weer vanuit die Skrif geargumenteer. Want daarin klink die stem van God. Natuurlik, Dawid het Psalm 2 gedig. Maar die eerste Christelike gemeente bely: “U, Here God, het dit deur die Heilige Gees by monde van ons vader Dawid, U kneg, gesê” (Hand. 4:25 vgl. byvoorbeeld ook Heb. 3:7 en 4:7).

boekrol

Ook die geskrifte van die Nuwe Testament blyk trouens in die gesag te deel. Let maar op hoe Paulus altyd weer sy apostelskap, sy roeping deur God benadruk: hy spreek maar nie uit homself nie, maar namens God (baie nadruklik bv. in Gal. 1:1). As Petrus later oor Paulus se briewe skryf, reken hy hulle sondermeer by die “Skrifte”: hulle dra dieselfde gesag (2 Pet. 3:16 vgl. ook 1 Tim. 5:18) waar ’n teks uit die Ou Testament en één uit die Nuwe ingelei word met die woorde: “net soos die ander Skrifte”.

Dit is die gesag wat die kerk erken het, toe sy al hierdie boeke ontvang het as “Heilig en Kanoniek” (N.G.B. art. 5). Dit was nie maar ’n paar tekste wat haar daartoe gebring het nie, ’n paar tekste waarvan jy kan sê dat dit anders uitgelê kan word nie. Maar dit was die kragtige getuienis van die Heilige Gees, wat in die Bybel klink. Dit is so oortuigend, ons kan nie daarvan weg kom nie.

Die “inspirasie”🔗

"Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid (2 Tim. 3:16). Paulus skryf hier ongetwyfeld aan Timótheüs oor die Skrifte van die Ou Testament (dit was immers “die heilige Skrifte”, wat Timótheüs van kindsbeen af geken het, vs 15). Maar ons het so pas gesien dat die Nuwe Testament daarmee ooreenstem wat afkoms en gesag betref. In die “Nieuwe Vertaling” van die Nederlandse Bybel Genootschap roep Paulus Timótheüs op om by die Skrifte te bly. Maar as hy daarna nie meer die nuttigheid van die Skrifwoorde sou beklemtoon nie dan sou hy Timótheüs in die duister gelaat het: watter Skrifwoorde is dan wel deur God ingegee? Dit is meer logies om dit so te vertaal, en dit stem ook meer ooreen met die Grieks: “Elke Skrifwoord is deur God ingegee en nuttig...” (vgl. ook die Statevertaling).

Elke Skrifwoord is dus “deur God ingegee”; jy sou ook kan vertaal: “deur God geadem”. Waaraan dink jy, as dit gaan oor “die asem van God”? Natuurlik aan die Heilige Gees. Die Bybel gebruik vir die Gees woorde wat letterlik “asem” of “wind” beteken. Paulus wys hier dus die werk van die Heilige Gees in die oorsprong van die Skrif aan. Die pragtige van hierdie teks is dat die oorsprong dan onmiddellik verbind word met die karakter van die Bybel. Waarom kan jy soveel met die Bybel doen, on­derrig, weerlê, verbeter, opvoed? Omdat die krag van God se Gees in die Bybel woon. Die Bybel is die boek van die Gees. Hy gee die Boek aan ons. Maar nie omdat ons dit daarna self moet verklaar nie. Hy werk nog altyd deur die boek. Wie die Bybel lees, kom in die kragveld van die Gees. Wie aan die Bybel gehoor gee, ontvang die gawe van die Gees.

“Want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek”. (2 Pet. 1:21). Gaan dit wel oor die Bybel? Dit gaan tog nie oor die skryf van boeke nie, maar oor die profetiese uitsprake? Laat ons maar na die vorige vers kyk. Vers 21 gee immers die rede vir wat Petrus in vers 20 sê. Dit gaan daaroor “dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitleg is nie”. Dus dit gaan wel deeglik om die Skrif. Dit gaan om die manier waarop ’n mens dit moet uitlê. Jy mag nie jou eie gedagtes inlees deur tekste aan te haal nie. Want ... (vs 21): agter die Skrif staan nie alleen mense nie maar die Heilige Gees self. Hy het die mense “gedryf”.

“Gedryf” is ’n baie sterk woord. U ken wel die verhaal van Paulus se skipbreuk. As die skip deur die wind “meegesleep” is, dan gebruik Lukas dieselfde woord: “en toe die skip meegesleep is en nie teen die wind kon seil nie” (Hand. 27:15, 17). Petrus gee hier dus die magtige werk van die Heilige Gees aan. Sekerlik, dit was mense wat gepraat het soos profete en van wie ons die woorde in die Skrif lees. Maar moenie vergeet nie: die Gees het hulle in diens geneem, het hulle beheers. Daarom vra die uitleg van die Skrifte diepe eerbied vir die werk van die Gees. Dit kom van God self.

seilskip en wind

Dit, ten minste, sê die Bybel oor homself. Daarmee kom ek weer aan die begin van my verhaal. Die getuienis van die Bybel oor sy eie oorsprong en gesag is duidelik genoeg. Dit kom maar daarop aan of ons dit wil aanvaar. Wil ons in die sirkel beweeg? Dan sal ons voel hoe God se asem oor ons stryk. Dan sal ons merk wat die Bybel met ons kan doen: hy bring ons op die weg na volmaaktheid. Want daarom het God hierdie pragtige boek aan ons gegee: “sodat die mens van God volkome kan wees vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:17)

Besprekingspunte🔗

  1. Op watter manier getuig die Heilige Gees in ons hart dat die Bybel van God kom?
  2. Wat beteken dit vir die Skrifgesag as Paulus in 1 Kor. 7:25 onderskeid maak tussen 'n "bevel van die Here" en "my mening?"
  3. Gaan die eie bydrae van die Bybel skrywers nie verlore nie as 'n mens beklemtoon dat hulle deur die Heilige Gees gedryf is?

Literatuur🔗

  1. R.H. Bremmer, In gesprek met oudere en nieuwere theologen (reeks Bij-tijds geloven). Kampen 1991 (hoofdstuk II, "Is het gereformeerd belijden aangaan­de de Heilige Schrift verouderd?).
  2. J. van Bruggen, Wie maakte de bijbel? Kampen 1986
  3. A.G. Knevel e.a. (red). "Het gezag van de Bijbel" (reeks Bijbel en exegese, 3). Kampen (1987)
  4. C. Trimp, :"Heilige Geest en Heilige Schrift" in: J Kamphuis e.a. "Hoe staan wij ervoor? Actualiteit van het gereformeerd belijden". Barneveld (1992)