Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die Bybel se nie presies nie - wat nou?

Die eeue-oue probleem van Bybelverstaan klop die afgelope ruk weer sterk aan ons Gereformeerde deur. By die afgelope Nasionale Sinode is heelwat oor-en-weer gedebatteer oor wat die Bybel hieroor of daaroor sou sê. Oor allerlei kwessies soos die Nagmaal en die plek van die vrou is daar weer deputate aangewys om studie te doen.

Die rede? Oor hierdie netelige kwessies sê die Bybel nie presies wat ons moet doen nie, en daarom is daar meningsverskil.

Die kerk kom gedurigdeur voor vraagstukke te staan waarop ons 'n antwoord in die Bybel soek, maar nie 'n presiese klinkklare antwoord daarin kry nie. Dink maar aan vrae soos: "Behoort ons net tot die Vader te bid, of ook afsonderlik tot Christus en die Heilige Gees?"; "Mag daar kollektes onder die erediens plaasvind?"; "Is bidure verkeerd?" en: "Mag ons vrye Christelike liedere in die erediens sing?" Op vrae soos hierdie kan niemand in die Bybel 'n teks aanwys waar daar 'n direkte antwoord op die vraag verskaf word nie.

Selfs nie eens oor 'n saak waaroor daar deesdae weinig dispuut in die kerke bestaan, naamlik die kinderdoop, vind ons 'n direkte Skrifuitspraak (iets soos: "Julle moet julle kinders laat doop") nie. Wat staan ons dan te doen as ons met sulke vraagstukke na die Bybel gaan en nie direkte antwoorde kry nie?

Nie die Bybel oorvra nie🔗

In die eerste plek moet ons besef dat daar sekere vrae is waarop die Bybel nie 'n antwoord gee nie. Dit is so, bloot omdat die Bybel nie bedoel is om op alles 'n antwoord gereed te hê nie.

Eenvoudige voorbeelde hiervan is: die Bybel sê nie (en wil ook nie sê) hoe oud die aarde is nie; die Bybel sê nie (en wil ook nie sê) volgens watter stelsel 'n land regeer moet word nie. Dit sê wel wie die Skepper van die aarde is en dit sê wel wat die roeping van elke landsowerheid is. Maar ons moet daarteen waak om die Bybel te óórvra met vrae waarop dit nie 'n direkte antwoord wil gee nie.

Die oortuiging dat die Bybel op alles en nog wat ’n antwoord moet voorsien, is tipies aan 'n rigting wat bekend staan as die Biblisisme. Dit hou nie met die doel van die Skrif rekening nie. Die Bybel is deur God gegee om Homself aan ons te openbaar, Sy wil aan ons bekend te maak en ook aan ons te verkondig die saligheid wat ons in Christus Jesus het (vgl. Art. 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis). Maar wie allerlei wetenswaardighede uit die Bybel wil uitpers loop gevaar om die Skrif te laat buikspreek.

Nie die Bybel inperk nie🔗

Uit vrees daarvoor om die Bybel te oorvra, is daar weer die neiging om die Bybel te onderskat. Dit vind ons by diegene wat sê dat as die Bybel nie 'n direkte antwoord op 'n vraagstuk gee nie, die saak onbeslis oopgelaat word.

Hiervolgens durf die kerk nie bindende besluite neem oor sake soos die liturgiese verloop van die erediens oor die kerksang of oor die manier waarop ons die sakramente onderhou nie. Die argument is dan: daar waar nie 'n direkte Skrifuitspraak is nie, kan ons nie 'n bindende besluit neem nie.

Vreemd genoeg is hierdie manier van argumente nog steeds in die vaarwater van die Biblisisme. Dit vra immers na 'n direkte Skrifuitspraak vir elke saak om bindend te mag wees. Juis hierdie rigting in die Biblisisme eindig gewoonlik by anti-konfessionalisme, uit huiwering om meer te sê as wat die Bybel sê, reduseer dit die Skrifboodskap tot hoogstens die sake wat ons in die 12 artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis bely. Alles meer as dit, word gesê, is onseker en kan dus nie bindend wees nie

Binne reformatiese kring word hierdie vorm van Biblisisme dikwels gehandhaaf sonder om die Belydenis opsy te skuif. Maar wat dan gebeur, is dat die Christelike vryheid tot hoofsaak van ons Christelike lewe verhef word. Indien die Bybel nie 'n direkte uitspraak oor 'n aangeleentheid gee nie, word geredeneer, kan ons in die vryheid wat ons in Christus het, self beslis wat geldig is en wat nie. Hierdie manier van dink ontkom egter nie aan die Biblisisme se inperking van die Skrif nie.

Nie 'n slawementaliteit nie🔗

Die tragiek agter die Biblisistiese manier van Bybelverstaan, is dat dit in 'n poging om die Here nougeset en getrou te gehoorsaam, juis in ontrouheid verval. 'n Mens kan dit vergelyk met 'n werknemer wat die opdragte wat sy baas vir hom gee, slaafs volgens die letter nakom - niks minder nie, maar ook niks meer nie. So 'n werknemer het 'n slawementaliteit. Hy het nog nie geleer om die wil van sy baas so te verstaan dat hy dit kan uitvoer sonder dat hy direk daartoe beveel word nie.

In Christus het ons dan ook meer as slawe van die Here geword. Ons is sy kinders. As kinders behoort ons ons Vader se stem so goed te ken dat ons weet hoe om tot sy behae op te tree, sonder dat Hy ons in die Bybel 'n direkte opdrag daartoe gee.

'n Bekende teoloog het dit so gestel: "Al het ons vir 'n bepaalde saak nie 'n spesifieke teks in die Bybel nie, het ons darem nog die hele Bybel!" Hoe meer ons die Bybel lees, hoe duideliker sien ons daarin raak nie net die direkte opdragte wat die Here ons gee nie, maar ook die minder opsigtelike openbaringslyne wat soos goue drade daarin vervleg is.

Kom ons gebruik 'n beeld wat die Here self in sy Woord gee. In 2 Petrus 1:19 skryf die apostel Petrus dat ons op die Woord moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn. Met dié beeld word aan ons verduidelik hoe die Bybel lig gee op al ons lewens-vraagstukke. 'n Lamp wat in die donker skyn, sê nie presies waar en hoe jy moet loop nie, maar in die ligstrale wat dit gee, kan jy in eie verantwoordelikheid sien waar jy behoort te loop en waar nie.

Wie dan sy oë vir die ligstrale van die Woord toeknyp, asof hy slegs op die direkte instruksies van die Woord wil handel, sal nie op die pad van geloofsgehoorsaamheid aan die Here kan vorder nie.

Hoe gemaak dan met sake waaroor die Bybel nie duidelike uitsprake gee nie? Te midde van allerlei verskille oor hoe ons die Bybel moet gehoorsaam, is dit noodsaaklik dat ons hierop akkoord gaan: aan die direkte opdragte wat die Here ons in die Bybel gee, ag ons onsself gebonde. Maar die eer van die Here vra ook meer as dit. Dit vra dat ons ook die stem van ons Herder sal ken, dat ons oë geoefen sal wees om in die lig van die Woord ook sy wil op alle lewensterreine raak te sien. En as ons sy stem nog nie duidelik genoeg kan hoor nie, sal ons onsself net verder moet inoefen om dit te kán hoor. Want in alles wil ons Hom behaag. So verskil 'n kind van 'n slaaf.