Bron: Wegwijs. 4 bladsye.

Die Dood: Straf op die Sonde

vrou by graf

‘Die dood is ʼn harde neut’, het iemand geskryf. Dit is so. Geen mens ontkom daaraan nie. Vroeër of later word elkeen daarmee gekonfronteer.

Hierdie konfrontasie veroorsaak pyn omdat bande deurgesny word en omdat diegene wat sterf alles moet agterlaat en loslaat. Dié wat agterbly moet alleen verder gaan met die leegheid van die gemis.

Hoe moet ʼn mens dit hanteer?

Dit hang af van die vraag hoe jy die dood tipeer. Is die dood iets wat by die mens se lewe hoort, in die sin dat mense sterflik is, en dat die dood daarom onlosmaaklik ʼn deel van die menslike bestaan is? Of is dit nie so nie?

In die begin: lewe!🔗

Op grond van wat die Bybel ons oor die begin van die skepping leer, en dus ook oor die begin van die menslike bestaan hier op aarde, moet ons sê dat die dood nie by die skepping hoort nie. Die dood hoort ook nie by die menslike lewe nie, want in die begin was daar alleen lewe!

Die hele skepping, nl. die plante, diere en mense was vol lewe gewees. Alles en almal leef met mekaar in ʼn verbondenheid. Dit is tog die tipering van die lewe, soos die Here God dit gemaak het, nl. om saam-te-lewe. Alles leef met mekaar in harmonie. Die mens staan ook nie op sy eie, los van die skepping, of los van God nie. Hy leef in ʼn onderlinge verbondenheid.

Die eerste mense was aan mekaar verbonde deur God en in ʼn verbondenheid met God. So alleen kon hulle lewe, as hulle by God sou bly. Ons noem dit ʼn ‘verbond’. God het met Adam ʼn verbond aangegaan en aan hom die belofte van die ewige lewe gegee, onder die voorwaarde van gehoorsaamheid. Die lewe kon alleen met God gelewe word.

Om ‘alleen te lewe’ is dus eintlik ʼn innerlike teenstrydigheid, as ons dink vanuit die lewe soos dit in die paradys was.

Dood en sonde(val)🔗

Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood.’Romeine 5:12a

Die dood hoort nie by die skepping nie, maar het later deur die sonde van die eerste mense, Adam en Eva, in die wêreld gekom. Die aard van dié sonde was dat hulle hul besluite sonder God wou neem. Sonde kan veral getipeer word as ‘opstand’, want jy wil selfstandig wees en jou losmaak van alle bande.

Die straf op die sonde is die dood. Dit kan veral getipeer word as: sonder-God-wees. Die dood is dus ʼn heel ‘gepaste’ straf op die sonde. Wil jy alleen wees? Goed, jy sal alleen wees en alle bande sal verbreek word.

hande met stof

Adam en Eva het dit dadelik opgemerk. Na die sondeval het hulle nie meteens dood neergeval nie, maar hulle het wel ‘doodgegaan’, omdat hulle nie meer ‘saam’ was nie, maar afsonderlik. Dít het hulle onmiddellik agtergekom: die een sien die ander as iemand wat teenoor hom/haar staan, en wat nie vertrou kan word nie. Dis hoekom hulle hulleself wou beskerm, deur vir hulle skorte te maak van vyeblare te maak. Toe die Here God na die tuin toe gekom het, het hulle na nog meer beskerming as ʼn paar vyeblare gesoek en vir God weggekruip agter die struike tussen die bome.

Dat die mens onder die vonnis van die dood moes lewe, blyk nie alleen in die onderlinge verhouding nie, maar ook in die verhouding tot die skepping. Met swoeg en sweet sou die mens sy brood uit die aarde moes haal. Hierdie selfde aarde sou aan die einde die mens se graf word: ‘stof is jy en tot stof sal jy terugkeer’. Die lewe word ʼn voortdurende sterwe, in verskeie opsigte. Om te sterwe is nie maar net ʼn oomblik waarop een mens se lewe hier op aarde ophou nie, maar dit is ook ʼn aanhoudende ‘proses’ wat die hele lewe lank plaasvind, nl. die afbreek (en soms ook aftakeling) van liggaam en gees gedurende al die jare hier op die aarde.

Hierdie straf geld egter nie alleen vir die eerste mense nie, maar ook vir hulle nakomelinge. Hulle beleef dit almal.

God is die God van die lewe🔗

Die enigste ligpunt in Genesis 3 kom van bo af. God self kom terug en laat sy mense nie los nie. Hy laat hulle voel wat die gevolge van hul eie selfstandige keuse is, nl. die dood. Hy laat hulle egter nie los nie, maar maak die toekoms oop. Eendag sal die slang (die duiwel) en die dood vernietig word en sal die lewe oorwin. Adam het die boodskap verstaan en noem sy vrou ‘Eva’, wat beteken ‘moeder van alle lewe’. So maak God die geskiedenis moontlik. ʼn Geskiedenis van sonde en dood, maar tegelyk ʼn geskiedenis van genade en lewe. Die laasgenoemde is alleen in die geloof te sien, want hier op aarde sien ons feitelik net aftakeling en sterwe. Die lewensweg het vir elkeen ʼn doodsweg geword. Maar jy mag weet dat daar meer is, nl. lewe en vrede, alleen as jy na God luister.

Dood en lewe🔗

In die Ou Testament word beide lyne duidelik. ‘Tog heers die dood in die tyd van Adam tot Moses’ (Romeine 5:14). In Genesis 5 vind ons ʼn wederkerende refrein: ‘daarna sterf hy.’ Dit geld vir die lyn van Kain, maar ook vir die mense in die lyn van Set.

Die eerste stuk grond wat Abraham as eiendom gekry het in die land wat God hom beloof het, was ʼn begraafplaas (!) met ʼn grafspelonk.

Dit is die een lyn. Maar daar is ook ʼn ander een. Jakob wil in hierdie spelonk, by sy voorgeslagte, begrawe word. Josef wil nie hê dat sy beendere in Egipte begrawe word nie, maar dat dit bewaar sou word, sodat dit saamgeneem kan word as die volk weer uit Egipte na Kanaän toe sou vertrek (Genesis 50:25; Hebreërs 11:22). Hy kyk verder as alleen maar hierdie lewe.

spelonk

Dis nie so maklik om aan te dui wat die Israeliete in die tyd van die Ou Testament geweet en gedink het oor die lewe ná die sterwe nie. Dit was vir hulle vir ʼn lang tyd nie so helder as wat dit nou vir ons vandag is nie. Nie dat ons nou alles weet nie, maar tog weet ons nou heelwat duideliker dat ons wanneer ons sterwe, na die Here God toe gaan.

Aan die eenkant was daar die sterwe, en word daar gepraat van die doderyk as die plek waar mense heengaan nadat hulle gesterf het. Maar tegelyk was daar ook die geloof dat God nie laat los nie. Ook die doderyk is in Sy mag. Psalm 139:11,12 praat van die diepste duisternis waar jy nie aan God kan ontkom nie, aangesien die doderyk ook binne sy bereik is.

Ander psalms, soos Psalm 16:10; 30:4; 49:16; 86:13, praat van die nie afgee aan die doderyk of gered word uit die doderyk. Sommige verklaar dit só dat die Psalmdigter uit ʼn lewensgevaarlike bedreiging gered is. Maar ook dan is die manier van praat wel heel beeldend, en kan jy jou afvra of daar nie tog meer kennis en geloof is nie. Wie glo is veilig by God, vir ewig!

Dood in die wetgewing van Moses🔗

ʼn Paar voorbeelde:

Deuteronomium 14:3-21a, waar gehandel word oor wetgewing oor wat geëet mag word.

ʼn Lys met rein en onrein diere, is met die eerste oogopslag nogal willekeurig. Tog kan jy daarin wel ʼn paar lyne ontdek.

Om met die voëls te begin: Watter voëls word onrein genoem?

  1. Die roofvoëls: Hulle lewe van ander diere wat hulle doodmaak. Hulle lewe dus van die dood.
  2. Die aasvreters: Hulle maak nie dood nie, maar lewe wel van vleis van dooie diere. Ook hulle lewe van dood en ontbinding.
  3. Andere word onrein genoem vanweë die plek waar hulle woon: woestyne en    moerasse; woeste, rotsagtige, nat grond. Kortom, onherbergsame plekke. Plekke waar eintlik nie gelewe kan word nie. Daar is ʼn samehang tussen die woestyn, die duiwel en die dood. Vergelyk wat Christus in Matteus 12:43 sê: “Wanneer ʼn onrein gees uit ʼn mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na ʼn rusplek”. Dit is in ons kultuurwêreld moeilik voor te stel, maar vir die Israeliete was dit heel werklik dat jy nie oral kan lewe (en bly lewe!) nie. Daarvan bly jy weg.

By visse sien ons dat die visse onrein is wat geen vinne of skubbe het nie. Dit is dikwels visse wat glibberig is en nie mooi is om na te kyk nie, soos bv. die bloublasie of die seekat, wat weersinwekkend is. God se ‘kos-wet’ is nie ʼn biologiese handboek nie, maar geënt op die daaglikse, sigbare lewe.

Dit sien jy ook by die soogdiere. Die onrein diere is dié wat ongesplete hoewe het, of dié wat nie herkou nie. ʼn Ongesplete hoef is veel sterker as ʼn gesplete hoef: dit is ʼn dodelike wapen. Daarin kan daardie diere vergelyk word met die roofvoël. Diere wat herkou is dikwels planteters, en dié wat nie herkou nie is dikwels roofdiere of andersins vergelykbaar met aasvoëls, wat allerhande walglike voedsel eet. Dan is alles nie duidelik nie, want die haas is by voorbeeld nie ʼn herkouer nie, maar maak bewegings wat sterk daarop dui. God se wet gaan uit van die menslike waarneming.

En die boodskap is: bly weg uit die buurt van die dood, want daar wil Ek, die Here, julle God, niks mee te doen hê nie, want Ek is die God van die lewe!

Deuteronomium 14:1-2: Wetgewing oor rougebruike.

Dit is verbode: Om in rou die liggaam te kerf, of om die hare op die kop af te skeer.

In daardie kultuur was daar ʼn aantal gebruike by dié wat rou:

ʼn Mens skeur sy klere;
strooi as op sy kop;
trek ʼn soort sak aan as liggaamsbedekking (‘in sak en as sit’!);
sny sy eie liggaam met ʼn skerp voorwerp, sodat daar bloed uitkom;
skeer sy hare op sy kop af.

Dis almal is uitinge van diepe verdriet en verslaenheid.

God verbied in hierdie reël alleen die laaste twee vorme. Die ander vorme is wel toelaatbaar, en wat ons ook dikwels in die Bybel teëkom. Dus is rou op sigself nie verbode nie! Jy mag verdriet hê as jy met die mag van die dood gekonfronteer word.

in sak en as

Maar daar is wel ʼn grens aan rou. Jy mag nie aan jou liggaam sny nie. Om jou liggaam te sny beteken letterlik dat die lewe nie meer die moeite werd is nie. Jy wil liewer by die dooies wees. Liewer dood as lewe! Dit is ʼn uiting van totale vertwyfeling. En eintlik word daarmee gesê dat die dood die laaste woord het.

Die hare op jou kop mag jy nie afskeer nie. Die hare is ʼn sieraad. Dit kan ook ʼn bewys van krag wees (Simson, die Nasireër) en ook ʼn bewys van vryheid. Die haarlok was ʼn teken van die vrye mens. By krygsgevangenes en slawe word die hare afgesny. Dit is nóg so. Dink maar aan die konsentrasiekampe, waar iemand beroof word van die sieraad van sy liggaam en van sy identiteit. Mense gaan lyk na mekaar, terwyl hulle eintlik al dood is. Dis normaal om in jou rouproses al jou sierade af te lê, maar die grens is bereik by jou eie liggaam, want dan sê jy daarmee dat jy self nie verder hoef te lewe nie. Weer dui dit daarop dat die dood die laaste woord het!

Dít mag nie gebeur nie, want ‘jy is deel van die volk wat aan die Here, jou God, gewy is. Hy het jou uitgesoek, om anders as al die ander volke op die aarde, sy kosbare eiendom te wees’ (v.2).

Israel is God se kosbare eiendom. Sy skat! En Hy is suinig daarop.

Dood🔗

Omdat ‘dood’ in verskillende betekenisse gebruik word, naamlik ‘dood’ in die sin dat nie meer asemgehaal word nie; om gestorwe te wees, en ‘dood’ in die betekenis van sonder God lewe, maak ons in die gereformeerde leer wel die volgende onderskeidinge:

Geestelik dood: ʼn Bestaan sonder God;

Ewige dood: Om vir ewig sonder God te bestaan. In die Bybel word dit ook ‘die tweede dood’ genoem;

Liggaamlike dood: Die afbreek van die aardse lewe en die oorgang na die lewe in die ewigheid.

Die laaste (liggaamlike dood) kan gesien word as ʼn gebeure wat op ʼn bepaalde oomblik afspeel nl. die oomblik wanneer iemand sterf. Maar dit kan ook opgevat word as ʼn proses: die min of meer deurlopende afbreek van allerlei liggaamselle. Hierdie twee hoef nie teenstellings te wees nie, maar vul mekaar aan. Die mens is sterflik en merk die afbreek van die aardse tentwoning (die liggaam, 2 Korintiërs 5:4) dag vir dag op, tot op die oomblik dat die hart ophou met klop en die breinaktiwiteit tot stilstand kom.

Vrae🔗

Lees Jesaja 38:9-20 en Psalm 16.

Doderyk🔗

Soek in ʼn konkordansie of op die internet, via die Online Bybel na tekste oor die doderyk. Lees ʼn aantal tekste en bespreek in klein groepies die onderstaande vrae:

  • Watter beeld het Israel van die dood en die doderyk gehad?
  • Is daar iets in te lees van ʼn toekomsverwagting? Hoe word dit onder woorde gebring?
  • Hoe kyk jy uit na die toekoms en wat verwag jy daarvan?
  • Watter plek het die Here Jesus in jou toekomsverwagting?

Paasfees🔗

Van ouds af is Paasfees die belangrikste Christelike fees. Is dit vir jou ook so? Waarom of waarom nie?

Elkeen skryf sy/haar reaksie op ʼn vel papier.

Laat elkeen sy reaksie lees en bespreek dit met mekaar.

Praat ʼn paar minute per persoon.