Bron: Kompas. 3 bladsye.

Die doodstraf

tou - galg🔗

Inleidend🔗

Die debat oor die doodstraf is op die oomblik baie aktueel in SA. En dit is verstaanbaar. Die onlangse vlaag van wreedaardige aanvalle op veral vrouens en kinders laat die emosies hoog loop. Tydens Radio Sonder Grense se program “Monitor” het die luisteraarsvraag ʼn paar weke gelede gehandel oor die wenslikheid al dan nie van die doodstraf. Die reaksie was oorweldigend; 92 000 mense het ingeskakel (2 500 reaksies was voorheen die rekord). 99% van die respondente het gesê dat die doodstraf weer ingestel moet word.

Dit wil voorkom asof misdadigers vrye teuels het; asof hulle maar kan voortgaan met roof, verkragting en moord sonder om gevang te word! En die meerderheid van dié wat wel gevang word kom baie lig daarvan af as gevolg van ʼn oorlaaide en oneffektiewe regstelsel (Na raming kom net ongeveer 10% van alle geweldsmisdaad by strafoplegging uit).

Baie wetsgehoorsame burgers glo dat daar nie genoegsame afskrikmiddels vir hierdie misdadigers is nie. Daarom wil hulle hê dat die doodstraf heringestel moet word. Die regering skop egter handeviervoet vas. SA het die mees liberale grondwet ter wêreld en in so ʼn samelewing is daar geen plek vir die mensonterende en wreedaardige doodstraf nie.

Teenargumente🔗

Teenstanders van die doodstraf maak heftig beswaar teen die “oog vir oog” argument wat voorstanders van die doodstraf gebruik. Een skrywer noem dit selfs “’n oerdrif wat opgeteken staan in ou Bybelse verhale, mites van die godedom en die wêreldgeskiedenis” (Beeld 20/08/03). So word die doodstraf gesien as ʼn uiting van primitiewe wraak. Die sondige mens hou nie van wraak en vergelding nie. Veel belangriker is die regte van die mens, aldus Amnesty International: “Almal het reg op lewe” (Artikel 3 Handves van menseregte 1948). Hierdie reg op lewe is absoluut en daarom kan geen argument die doodstraf regverdig nie. Dit is duidelik ʼn humanistiese gedagtegang. Maar dieselfde redenasie word geopper deur mense wat die Bybel as uitgangspunt gebruik. Niemand, so redeneer hulle, het die reg om iemand anders se lewe te neem nie. In die Ou Testament was die doodstraf ʼn aanvaarbare wyse om die reg te beskerm, maar in die Nuwe Testament staan sake anders. Ons moet ons naaste liefhê soos onsself, ons moet vergewensgesind wees en vol sagmoedigheid.

Daar is ook mense wat meen dat die doodstraf té finaal is. Dit kan nie ongedaan gemaak word nie. Die regstelsel is nie foutloos nie en indien iemand verkeerdelik tereggestel word, kan die fout nie reg gestel word nie.

Bybelse perspektief🔗

Die debatte rondom die doodstraf is dikwels baie emosioneel. Dit kan ook moeilik anders wanneer jy sien hoe die slagoffers en hulle naasbestaandes deur geweldsmisdade getraumatiseer en baie keer vir hulle lewe lank geskend is. Wat is ons mening as Christene oor hierdie saak? Hoe reageer ons? Min van ons sal waarskynlik met plakkate voor die parlement gaan betoog. Maar is ons gesprekke nie ook dikwels meer gedryf deur emosies as deur wat God sê nie? Wat sê Hy in sy Woord oor die doodstraf?

Daar is veral 2 tekste wat aandag verdien:

Genesis 9:6 “Hy wat die bloed van ʼn mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak”. Die beeld van God wees bestaan daarin dat Hy die mens aangestel het om oor die skepping te heers, dit te bewerk en op te pas (Genesis 1:28). Verder behoort die mens die deugde van God te weerspieël. Dit is ʼn gebod van God; wie hom aan die mens as beeld van God vergryp, moet daarvoor boet. Hierdie bepaling is voor die ontstaan van Israel as volk gegee en is daarom universeel en vir alle tye en volke bedoel. Genesis 9:6 handel hoofsaaklik oor die sogenaamde bloedwraak. Hiervolgens was familielede verplig om die gewelddadige dood van ʼn geliefde te wreek in ʼn tyd waar die regstelsel nog nie behoorlik ontwikkel was nie. Daar is verskeie tekste in die Ou Testament waar ons lees dat die doodstraf ook vir die volk Israel van toepassing was (Vgl. Eksodus 21:12, Levitikus 24:17 & Numeri 35:16-21). Die Bybel is dus positief oor die doodstraf in die Ou Testament. Maar wat van die Nuwe Testament? Is alle Ou Testamentiese wette vervul in Christus? Mag ons die doodstraf vandag nog as ʼn aanvaarbare straf sien?

Romeine 13:4 lees soos volg: “Want die owerheid is ʼn dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ʼn dienaar van God, ʼn wreker om die een wat kwaad doen, te straf”. Die gelowiges mag hulself nie wreek nie (Romeine 12:19). Bloedwraak is nie meer geoorloof nie. Die owerheid as onpartydige instansie is nou aangestel om die slegte dade te straf en só die orde te handhaaf. Die uitspraak dat die owerheid die swaard dra, kon vir die mense in Rome net een ding beteken, en dit is dat hy die reg het om met die dood te straf. Die swaard is in daardie tyd juis vir dié doel gebruik (Vgl. Jakobus se dood in Handelinge 12:2). Die “swaard” van die owerheid is simbool van straf en dit sluit die doodstraf in. Daarby stel Paulus dit duidelik dat die owerheid sy gesag by God gekry het. Ook die bevoegdheid om die swaard te gebruik, om die doodstraf op te lê, het die owerheid van God ontvang. Ook daarin is hy dienaar van God.

Paulus sê nog meer: die owerheid dra die swaard nie verniet nie. Hy het nie slegs die bevoegdheid om kwaaddoeners te straf nie, hy het ook die verantwoordelikheid en plig om dit te doen. As die owerheid iemand wat straf verdien, nie werklik straf nie, kom sy verantwoordelikheid as dienaar van God in gedrang.

Daarmee probeer ons nie sê dat die doodstraf altyd in alle gevalle opgelê moet word nie. In die Ou Testament is daar verskeie voorbeelde hiervan. Kain het vir Abel doodgeslaan; ons weet nie waarom God sy lewe gespaar het nie. Moses het ʼn Egiptenaar doodgeslaan en tog is hy nie daarvoor gestraf nie. Miskien het hy nie bedoel om moord te pleeg nie en dat dit eerder as strafbare manslag beskou moet word? Koning Dawid pleeg owerspel en moord. Vir beide misdade kon hy met die dood gestraf word. Hy is wel gestraf maar nie met die dood nie.

swaard van owerhied🔗

Wanneer wel en wanneer nie?🔗

In die Ou Testament was die doodstraf van toepassing op ongeveer 20 oortredings wat in 4 kategorieë verdeel kan word:

  1. Moord
  2. Religieuse misdade (Godslastering en afgodery)
  3. Seremoniële misdade soos Sabbatsontheiliging
  4. Morele misdade (egbreuk, bloedskande, menseroof)

Israel was ʼn teokrasie; staat en kerk was een. Vandag is dit nie meer so nie. Ons glo dat die Mosaïese wette met die koms van Christus vervul is. Daarom is die doodstraf nie meer van toepassing op die sogenaamde religieuse, seremoniële en morele misdade nie.

Moord is egter ʼn perd van ʼn ander kleur. Ons het reeds gesien dat die universele gebod van Genesis 9:6 relevant is vir alle volke en tye. Moord moet met die doodstraf gestraf word juis omdat dit ʼn misdaad is wat die mens as beeld van God skend.

Myns insiens laat dit ons wel met ʼn dilemma; alhoewel die Mosaïese wette vervul is met Christus se koms is hulle tog aan ons oorgelewer tot lering. Wat leer die Skrif ons aangaande die ander kategorieë halsmisdade? Watter straf behoort bv. toegedien te word by verkragting? By so ʼn gruwelike misdaad word die mens as beeld van God tog ook geskend! Sou ons samelewing nie ʼn baie beter plek gewees het nie indien die doodstraf op meerdere misdade van toepassing was? Dit is interessant om daarop te let dat die doodstraf nog wel van toepassing is op bogenoemde misdrywe in die meeste Moslemlande.

Gevolgtrekking🔗

Dit is die regering se taak om ʼn ordelike samelewing daar te stel om sodoende die lewe en vryheid van sy burgers te verseker. Ons het reeds gesien dat die Bybel positief praat oor die doodstraf. Daarom behoort daar in ʼn gesonde samelewing plek te wees vir die doodstraf.

Eerstens vanweë die vergeldingsmotief. As iemand gewelddadig lewe en ander mense die lewe ontneem, is dit niks anders as regverdig dat daar ook op dié wyse teenoor hom opgetree sal word (Vgl. Matteus 7:2).

Dan is daar ook die voorkomingsmotief. Baie geweld en doodslag kan voorkom word indien die doodstraf as afskrikmiddel gebruik word. ʼn Laaste belangrike oorweging is die beskerming van die onskuldiges. Daar is ʼn beginsel in die reg wat die beskuldigde die voordeel van twyfel gee. En dit is korrek. Niemand behoort veroordeel te word sonder behoorlike bewyse nie. Maar dit mag nooit gebeur ten koste van die onskuldige slagoffer nie. Ons leef in ʼn tyd waar almal praat van menseregte, maar ʼn mens vra jouself soms af waarom die “regte” van misdadigers in baie gevalle beter beskerm word as die regte van die onskuldige slagoffer.

Die Here het die regering die opdrag gegee om wet en orde te handhaaf. Hy het die doodstraf gegee, nie om ontslae te raak van ʼn paar slegte mense nie, maar om die lewe van onskuldiges te beskerm.

Voorbede🔗

Laat ons daarom bly bid dat die regering mag insien hoe goed God se wet vir die samelewing is. Laat ons hulle bly oproep om die doodstraf met wysheid te begin gebruik om sodoende ons land ʼn veiliger plek te maak, sodat “ons ʼn rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (1 Timoteus 2:2).

Bronne:🔗

  • Dr J Douma, Ethiek en Recht, 1990.
  • Rev W Pouwelse, Like living stones, 1985.
  • Rapport van studiedeputate oor doodstraf, GKSA sinode 1994.