Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die evangelie gee perspektief op die geskiedenis

Die Afrikaanse kerke word dit steeds ten laste gelê dat hulle hulle nie destyds in woord en daad teen apartheid beywer het nie. In 'n onlangse artikel in die dagpers (Beeld, 21 Junie: 10) verkwalik prof. Gerrie Snyman van UNISA spesifiek die GKSA oor sy "gebrek aan historiese bewussyn". Hy reken dat die gebrekkige historiese bewussyn die versoeningsproses daarvan weerhou om "die geweld en diskriminasie wat nog inherent aan die Afrikaner se kultuur is, op die tafel te sit". Hierdie bewerings vra vir kommentaar.

Oor prof. Snyman se beskrywing van die Afrikaner se kultuur gaan ek nie kommentaar lewer nie. Die leser kan maar self uit die verloop van sake in ons land oordeel of die geweld en diskriminasie wat plaasvind voor die deur van die Afrikanervolk gelê kan word. My kommentaar gaan eerder oor prof. Snyman se opmerkings oor die kerk.

As bewys daarvan dat die GKSA net binne die "konvensies van die Christelike teologie besig is" sonder om "simpatie te hê met die slagoffers van immoraliteit", verwys prof. Snyman na verlede jaar se Hervormingsdagverklaring deur die professore van Potchefstroom. Volgens hom is die situasie vergelykbaar met Duitse teoloë soos Bultmann en Barth wat tydens die Tweede Wêreldoorlog nooit oor die Duitse skuldgevoel geskryf het nie maar "aanhou skryf het oor die Bybel asof niks gebeur het nie". En dit terwyl die "Groot Slagting" van die Tweede Wêreld-oorlog "eintlik 'n breuk in die wêreldgeskiedenis skep".

Wat prof. Snyman eintlik sê, is dat die kerk die spreekwoordelike viool speel terwyl Rome aan die brand is. Hierop sou 'n mens kon vra: Waar brand Rome vandag? Moet ons nog steeds bly omkyk en bly vaskyk teen apartheid asof dit steeds die brandende vraagstuk van ons tyd is? Vra maar vir die nuwe geslag jongmense en hulle sê onomwonde dat apartheid nooit deel van hulle was nie en dat hulle geen erg het in die ouer garde se pogings om weer in die dooie kole van die geskiedenis te probeer vuur aanblaas nie.

Wat by hulle brandend is, is sake soos immoraliteit, liefdeloosheid, die onreg van regstellende aksie en die ongebreidelde misdaad en moorde in ons samelewing (vgl. onlangse uitsprake in die pers deur Heleen Mulder, SSR-voorsitter van die PU vir CHO).

As die kerk dan nie die foute van die verlede wil herhaal nie, moet hy by hierdie vraagstukke van ons tyd betrokke raak en die lig van die evangelie daaroor laat skyn.

Geen "historiese bewussyn" nie? Die taak van die kerk is juis om op te tree vanuit 'n historiese bewussyn wat baie dieper en verder as maar net die onlangse geskiedenis gaan. Die groot breuk in die wêreldgeskiedenis was nie die Tweede Wêreldoorlog van sestig jaar gelede nie, maar die koms van Jesus Christus tweeduisend jaar gelede. Sy kruisdood en opstanding het alles radikaal verander en laat ons met totaal nuwe oë na die hede en na die toekoms kyk. Wie in geloof aan Christus se soendood vashou, kan weer opstaan uit die ashoop van sy sonde. Wie na Christus se hemeltroon opkyk, kan leef in die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Wie vorentoe kyk na sy wederkoms, het weer hoop in hierdie hooplose wêreld.

As die kerk dan sy roeping uitleef om die boodskap van Christus in hierdie wêreld te verkondig - soos die professore van Potchefstroom in hulle Hervormings-dagverklaring in alle nederigheid probeer doen het - is dit nie 'n teken van historiese bewusteloosheid nie. Inteendeel, dit wys dan juis aan die wêreld hoe verlede en hede bymekaar uitkom. Die evangelie van Jesus Christus bring immers perspektief in die besef dat alles uiteindelik in God sin maak.