Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die gereformeerde belydenis in die 21e eeu

Ons jongmense worstel nie met dieselfde probleme as die wat ons ouer geslag besig gehou het nie. En tog is dit maar dieselfde probleme. Net in 'n ander gedaante. En met elke nuwe gedaante word die probleme groter, en ook groter die worsteling. Daarom word daar van elke nuwe geslag nog groter paraatheid en vaardigheid as van die vorige geverg. Dit geld ook vir die handhawing van die Skrifwaarhede wat ons bely.

Elke geslag het die taak om die waarheid van die evangelie na buite te verkondig, maar ook na binne te verdedig, ja, ook die verdediging van die waarheid binne die Christendom is 'n taak wat die kerk van die begin af opgelê is. In Openbaring 2:20 lees ons die vermaning van Christus aan die kerk in Thiatire omdat hulle mense toegelaat het om valse dinge te leer. Van toe af, deur die eeue heen, lê Satan hom daarop toe om verwarring in die kerk te saai deur valse leringe te verkondig. Elke keer kom hy met 'n nuwe strategie. Elke keer 'n nuwe gedaante. Daarop moet elke nuwe geslag bedag wees.

Die twintigste eeu: Modernisme🔗

Die stryd van die Christendom na binne is in die twintigste eeu gekenmerk deur die aanslae van 'n denkstroom wat bekend staan as die Modernisme. Die Modernisme is 'n uiters kritiese benadering wat die Bybel op allerlei maniere bevraagteken. Dit sê dat ons nie die Bybel moet verstaan soos dit is nie. Die boodskap van die Bybel is nie in die teks nie maar êrens daaragter. 'n Mens kan nie deur bloot die Bybel te lees, by die werklike boodskap daarvan uitkom nie. Geleerde teoloë moet dit eers vir jou uitlê voor jy by die boodskap kan uitkom.

Teen hierdie beskouing het ons as gereformeerdes vir die grootste deel van hierdie eeu gestry, veral omdat die "geleerde teoloë" dikwels allerlei indrukwekkende argumente ingevoer het om die Bybel iets anders te laat sê as wat daar staan. So was daar teoloë wat die Bybel as 'n mite afgemaak het, ander wat dit as een groot stuk simboliek beskou het, ander weer het die Bybel gesien as die weergawe van verskillende mense (Bybelskrywers) se sienings oor God. Die lys van argumente is lank. Maar almal kom daarin ooreen dat hulle skepties staan teenoor dit wat in die Bybel geskrywe staan.

Diegene wat hulle teen hierdie Bybelskeptisisme verset het, is dikwels afgekraak en geëtiketteer. So ook is die gereformeerdes afgemaak. Maar deur die genade van God het die stryd voortgeduur. Dit kon nie anders nie. Die gereformeerde belydenis het ons daartoe gedring om God op sy Woord te neem soos Hy Hom in die Bybel aan ons bekend maak. Die waarheid van sy Woord en die werklikheid van sy openbaring moes verdedig word.

Die een-en-twintigste eeu: Postmodernisme🔗

In die laaste jare van die twintigste eeu lyk dit egter of die aanslag van binne 'n nuwe gedaante aanneem: dié van die Postmodernisme. Vir die Postmodernistiese teoloë is die Modernisme nog te behoudend. Post-moderne teoloë weier om te aanvaar dat daar enige verband tussen die Bybel en die werklikheid kan bestaan. Die Bybelskrywers, so sê hulle, het 'n werklikheid geskep wat glad nie bestaan nie. Die Christendom bestaan eintlik uit mense wat aangeleer is om te dink en te praat van 'n God, 'n nie-bestaande werklikheid. Die Bybel, so skryf Aichele ('n postmoderne teoloog), is nie eens 'n mite nie — dit is een groot fantasie!

Dit is duidelik dat die Postmodernistiese teologie inderwaarheid geen teologie kan wees nie, maar in geheel een stuk ongeloof wat onder die vaandel van teologie in die Christendom ingedra word. Die konsekwensies daarvan is 'n groot tragedie. Die Postmodernisme staan inderwaarheid skepties teenoor die hele werklikheid. Al werklikheid wat daar vir hulle oorbly, is iets wat selfs hulle nie kan ontken nie: die dood. Hulle erken dat die dood 'n mag is wat niemand kan ontvlug nie. Daarom is die finale eindpunt van die Postmodernisme die oortuiging dat die dood God is.

Daarmee is die sirkel voltooi. Eers is God dood verklaar, nou word die dood tot God verklaar. Van die bewering dat God nie bestaan nie, is gevorder tot die bewering dat die dood — juis die laaste vyand van God (vergelyk 1 Kor. 15:26; Open. 20:14) - dat hy God is. Die Postmodernisme baan dus die weg om na die vyand toe oor te loop.

Handhawing van die waarheid🔗

Dit is dus duidelik dat die nuwe geslag 'n nuwe stryd in die gesig staar, waarvoor hulle deeglik toegerus sal moet wees. Die argumente wat teen die Modernisme gegeld het, sal nie meer geldig wees teen die Postmodernisme nie. Ons sal betyds moet regstaan om die aanslag af te weer. Die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys (V.C.H.O.) het juis verlede week tydens 'n beraad die Postmodernisme in diepte bespreek. Ons moet sorg dat die nuwe geslag gereformeerdes ingelig is oor wat teoloë sê en dink.

Maar tog, ten spyte van wat die Postmodernisme beweer, het die werklikheid en die waarheid nie verander nie. God verander nooit nie, en sy Woord bly vas tot in ewigheid (1 Pet. 1:25). Daarom is ons belangrikste wapen steeds dié wapen waarmee die Here sy kerk deur die eeue verdedig het, sodat dit staande gebly het. Dit is die wapen van ons belydenis. Die jong geslag gereformeerdes moet dus meer as ooit toegerus word met 'n deeglike kennis van die Skrif en die belydenis. Alleen so sal hulle die aanslae van die Post-modernisme kan afweer.

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat die gereformeerde belydenisskrifte nie uitgediende dokumente vir die een-en-twintigste eeu sal wees nie, maar 'n pilaar van vastigheid. Daarin moet die nuwe geslag onderlê word. Deeglike kategese en volgehoue Kategismusprediking sal onontbeerlik wees. Dan kan die nuwe geslag die waarheid handhaaf en uitdra. Ja, by die genade van God sal ons ook diegene wat hulle deur die Postmoderne dwaling laat meesleur, kan terugbring tot die belydenis van die waarheid van God se woord.

Die woorde van die apostel Petrus staan ‘n mens hierby helder voor die gees: "Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op julle hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit julle vastigheid nie" (2 Pet. 3:17).