Bron: Die Kerkblad, 1987. 2 bladsye.

Die Kloof tussen Kansel en Kateder Onderweg na ’n  Gereformeerde Skrifbeskouing

 🔗

preekstoel🔗

Daar Bestaan Glo ’n Kloof Tussen die Kansel en die Kateder🔗

Die professor maak in sy lesings gebruik van die histories-kritiese metode van Bybelondersoek. Dit hou in: Vrae oor die egtheid en historisiteit van verskeie Skrifgedeeltes.

Die predikant verkondig daarenteen van die kansel af dat die Bybel die betroubare en gesagvolle Woord van God is.

Oor hierdie kloof het (prof.) Ferdinand Deist ’n boek geskryf om oor hierdie spanning te handel. Hy reken ’n oplossing lê in ’n Gereformeerde Skrifbeskouing, omdat dit die enigste manier sou wees om die aangeduide vertrouenskrisis te oorbrug. So ’n poging is lofwaardig, juis omdat ’n kloof tussen kansel en kateder rampsalig vir die kerk en dodelik vir die teologie is. Daarom moet ons ernstig op Deist se poging ingaan.

Die Christus-Analogie🔗

Die manier waarop Deist te werk gaan om sy Skrifbeskouing aan sy lesers te verduidelik, sal elke Gereformeerde teoloog en lidmaat direk aanspreek. Hy trek ’n parallel tussen Christus (die vleesgeworde Woord) en die Bybel (die Skrifgeworde Woord). Dit is in die teologie al dikwels gedoen. Die bekende dogmatikus van Aix-en-Provence (Frankryk), Paul Wells, het in sy proefskrif aan hierdie parallel groot aandag gewy. Hy het daarop gewys dat ons so ’n parallel met die grootste omsigtigheid moet hanteer.

Deist is wel uiters versigtig in sy hantering van hierdie parallel en hy beklemtoon met nadruk dat ons natuurlik van die Bybel nie dieselfde dinge kan sê as van Christus nie. Die Bybel is nie ons middelaar nie. Die analogie wil ons net leer dat soos Christus, behalwe die Seun van God, ook ’n egte mens was, so is die Bybel as Woord van God ook ’n eg menslike boek. Deist kom dan tot die konklusie dat die Bybel hoewel ’n deur-en-deur menslike boek, tegelykertyd ook die Woord van God is. Dit is volledig die Gereformeerde spoor en ons kan hartlik met hom saamstem.

Die Pad Byster Geraak🔗

Maar Deist gaan heeltemal van die pad af as hy sy Skrifbeskouing na aanleiding van die Christus-analogie verder ontwikkel. Dit blyk uit twee dinge. Hy beklemtoon die menslikheid van die Bybel so ontsaglik sterk dat die Goddelike karakter op die agtergrond kom. Deist reken dat die Bybel ’n ‘doodgewone’ boek is en daarom kan ’n mens die Bybelse literatuur nie anders as enige ander literatuur bestudeer nie. Dus: die Bybel moet bestudeer word volgens die metode van historiese kritiek.

Dit blyk dat Deist in sy boek onvoorwaardelike vertroue in die resultate van die kritiese Bybelwetenskap het. Hy sien self die dilemma raak: Ons het die belydenis omtrent die onfeilbaarheid van die Bybel. Ons het ook die empiriese gegewens wat duidelik daarop dui dat die Bybel talle probleme bied.

Deist besef self maar al te goed dat hy met sy geweldige waardering van die resultate van die moderne Bybelwetenskap van die pad af raak, en dat hy die Bybel as die gesagvolle Woord van God gaan verloor. Daarom spring hy weer terug op die Gereformeerde pad deur te stel dat “ons nog steeds ons belydenis oor die betroubaarheid van die Bybel kan bely en terselfdertyd met erns kan kennis neem van die resultate van Skrifnavorsing” (p. 53).

Ferdinant Deist

Maar hoe is die Bybel tog betroubaar? Wel, ten spyte van al sy gebreke, is die Bybel ’n betroubare gids na God toe!

Is die Bybel wel Werklik die Woord van God?🔗

Die boek toon verder ’n duidelike huiwering om die Woord van God en Heilige Skrif sommer met ’n blote gelykteken aan mekaar te verbind - want dan maak jy van die Bybel ’n boek van orakels. Nee, dan laat hy hom liewer deur Karl Barth lei. Sonder om Barth se hele denkpatroon oor te neem, vereenselwig Deist hom tog met Karl Barth se siening op die Bybel deur te stel dat die Bybel die Woord van God word (p. 72). Want so alleen kan jy bly onderskei tussen die Bybel, die menslike geskrif wat jy met jou vinger kan aanwys, en die Woord van God wat uit en deur daardie boek aan die woord kom.

Voorlopige Balans🔗

Op sy aangeduide pad na ’n Gereformeerde Skrifbeskouing wil Deist die resultate van die historiese kritiek nie prysgee nie. Die probleme wat navorsing uitgewys het en die metode wat die moderne Bybelwetenskap ontwikkel het, staan vir hom onomstootlik vas.

Niemand kan ontken dat die moderne Bybelwetenskap waardevolle dinge aan die lig gebring het nie. Met groot vrug kan elke Gereformeerde eksegeet gebruik maak van daardie resultate. Maar die resultate moet wel krities beoordeel word. Die rede is dat die beginsels waarvolgens die histories-kritiese metode werk, ten ene male onaanvaarbaar is. Die Skrifbeskouing agter die historiese kritiek bots immers met die Bybel self. Die groot vraag is daarom: Staan iemand wat die prinsipiële uitgangspunte van die histories-kritiese metode van Bybelondersoek aanvaar, wel werklik in die Reformatoriese tradisie?