Bron: Wegwijs. 4 bladsye.

Die Nagmaal in Vier Belangrike Woorde

nagmaal

In hierdie artikel wil ek vier punte behandel wat van belang is by ons nadenke oor die Nagmaal. In volgorde is die vier punte:

  • Die Nagmaal as gedagtenis;

  • Die Nagmaal as verkondiging;

  • Die Nagmaal as gemeenskap; en

  • Die Nagmaal as verwagting.

1. Die Nagmaal as Gedagtenis🔗

“Doen dit tot My gedagtenis.”

Met hierdie – en ook die ander woorde – (“die brood is My liggaam” en “hierdie beker is die nuwe testament in My bloed”) het die Here Jesus sy boodskap van verlossing op ʼn ongeëwenaarde wyse saamgevat. Meer as ʼn lang preek en meer as ʼn indringende brief, wil hierdie woorde aan ons die kern van die evangelie aandui. Maar wat beteken ‘gedagtenis’? Wat beteken ‘gedenk’?

‘Gedenk’ is ʼn woord wat ons al uit die Ou Testament ken. Dit beteken meer as ‘herinnering’. By ‘gedagtenis’ moet eerder aan ʼn monument gedink word. So het die klipstapel by die Jordaan ʼn blywende monument gevorm, wat herinner het aan die intog in die beloofde land (sien Josua 4:4-9, 20-24). Dit is ʼn klipstapel wat God se dade van bevryding blywend in die geheue inprent. Ook die altaar wat die stamme oorkant die Jordaan neergesit het (Josua 22:10, 26), is ʼn monument van trou en toewyding, en ʼn blywende herinnering en gedenkteken wat dieselfde taal praat, met een altaar as getuienis van ʼn blywende toewyding aan God.

Ek dink vervolgens aan Psalm 111:4: “Hy sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie. Genadig en barmhartig is die Here”.

Die gedagtenis – ʼn monument – herinner aan die dade van die Here God. Die monument bring by die volk van God ʼn blywende herinnering hoe goed en naby die Here is.

As die Here Jesus sê: “doen dit (die breek en eet van die brood, die drink van die wyn en om danksegging uit te spreek) tot my gedagtenis”, beteken dit dat die brood en die beker wat jy in jou hande neem en wat jy proe, ʼn monument vir Hom is.

Dit is nie so dat jy deur die brood te eet en die wyn te drink, as’t ware vir God aan Christus herinner nie, so asof jy God aan sy Seun wil herinner nie. Dit is juis die omgekeerde: dat God, deur hierdie besondere tekens, ons daaraan herinner wat Christus gedoen het. Die Nagmaal is ʼn monument wat ons aan Christus se opregte liefde en trou herinner, en ons ook daarvan verseker. Dit is nie ʼn monument uit die gryse verlede nie, wat jy so af en toe liefkosend en met vertedering bekyk en sê: ag, kyk wat het in daardie tyd gebeur, nie. Nee, dit is ʼn monument wat vandag sy duidelike taal praat en ʼn kragtige getuienis gee, waarby jy nie verby kan kom nie.

monumens

2. Die Nagmaal as Verkondiging🔗

Die uitspraak van Paulus in 1 Korintiërs 11:26 is bekend: “Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom”. Die woord ‘verkondig’ kan ook beteken ‘aankondig’, iemand wat ‘goeie nuus’ bekend maak.

Ek glo dat hierdie uitspraak ʼn toevoeging is van Paulus. Dit is nie meer ʼn aanhaling van ʼn letterlike woord uit die mond van die Here nie, soos in verse 24 en 25. Paulus, gelei deur die Gees wat hom inspireer, ken aan die handeling van eet en drink die betekenis toe van ‘verkondig’. Paulus weet wat verkondiging is! Hy het dit tallose kere gedoen tydens sy reise. Vergelyk Handelinge 13:5; 15:36; en 17:3, 23. Hy het daaroor in sy briewe geskrywe: 1 Korintiërs 2:1; Filippense 1:17, 18; en Kolossense 1:28. Op elke plek word feitlik dieselfde woord gebruik.

Paulus stel dit hier dat dié eet en drink ʼn verkondiging is. Dit is moeilik om te sê of die apostel daarmee bedoel dat die handeling op sigself ʼn verkondiging is, of dat hy hier dink aan die woorde wat by die handelinge gesê is. Albei is moontlik. Ek self dink meer aan die eerste: die handeling van breek, eet en drink is ʼn verkondiging.

Nagmaalviering is immers Christusverkondiging. Daarom is ek van mening dat dit nie korrek is nie om ʼn teenstelling aan te bring tussen die verkondiging van die Woord, aan die een kant, en die viering van die Nagmaal andersyds. Die amptelike verkondiging van die Woord, die proklamasie van die heil, bly noodsaaklik.

Hoe kan ʼn mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?Romeine 10:14

ʼn Nagmaalsviering sonder verkondiging van die Woord, hang in die lug. Maar om kortweg te sê dat die toename in die viering van die Nagmaal ten koste van die Woord is, is ook nie ʼn sorgvuldige wyse van praat nie.

In Art. 35 van die Nederlandse Geloofsbelydenis staan dié mooi sin:

Ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging ʼn heilige gedagtenis aan die dood van Christus, ons Verlosser, onderhou en belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens doen.

Hierby verwys art. 35 na 1 Korintiërs 11:26. Ons bywoning van die Nagmaal is ʼn openbare handeling: ʼn belydenis van ons geloof en die verkondiging van die dood van ons Here, as die enigste grond van ons heil. Daarom is dit belangrik om die belydenis sigbaar te maak, deur op te staan van jou sitplek af en na vore te tree, sodat elkeen dit kan sien en hierdie woordlose verkondiging kan hoor: “Ek glo in Jesus Christus, my Heiland, wat gesterwe het en wat leef”.

3. Die Nagmaal as Gemeenskap🔗

Hierdie aspek is die mooiste en die diepste van die Nagmaal, nl. die gemeenskap met Christus (en daarom ook onderlinge gemeenskap, waarop ek nie nou verder op ingaan nie).

Die beker van danksegging, waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?1 Korintiërs 10:16

Ek herinner aan die sterk woorde van die Here Jesus self, soos opgeteken is in Johannes 6, veral verse 52-56): “My liggaam is die ware voedsel, en My bloed is die ware drank. Wie My liggaam eet en My bloed drink, bly in My en Ek in hom.” (verse 54 en 55).

In 1 Johannes kom ons herhaaldelik die gedagte teë van die ‘bly in Christus’ (sien 1 Johannes 2:5-6; 2:24-25; en 3:6, 24). Ek wil ʼn verband sien tussen die gedagte van die ‘bly in Christus’ en die Nagmaal. Deur te eet en te drink, ontvang ons die tekens van Christus se liggaam en bloed in ons liggaam. Nooit word ons méér één met Christus nie, en nooit word dit voelbaarder of tasbaarder as by die Nagmaal nie.

Ek dink hier altyd aan dít wat Paulus in Efesiërs 3:17 en 18 skryf: dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gehuisves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek … liefde wat ons verstand te bowe gaan.

Die liefde van God, wat die kennis te bowe gaan, ‘ken’ ons daar waar Christus Homself aan ons gegee het, in die tekens van brood en wyn.

Bybel met kruis

Hierdie onderrig van die Bybel word deur die belydenis onderstreep. Hierbo het ek art. 35 NGB genoem. Ek gaan die artikel weer gebruik:… “So waarlik as wat ons die sakramente ontvang en in ons hande hou en dit met ons mond eet en drink, en dit daarna ons lewe in stand hou, net so werklik ontvang ons vir ons geestelike lewe, in ons siele, deur die geloof – dit is die hand en mond van ons siel – die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser, om ons geestelike lewe in stand te hou.”

Christus “doen immers in ons alles wat Hy vir ons, deur hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en al is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werking van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is”.

Dit is ook mooi hoe Sondag 28 van die Heidelbergse Kategismus hierdie dinge in woorde uitdruk.

Vraag en antwoord 76 behoort tot die mooiste van ons gereformeerde belydenis:

Vraag: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink.

Antwoord: Dit beteken nie slegs om met ʼn gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie. Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word, dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is…

Hier praat die kategismus die huwelikstaal van Adam in Genesis 2: ‘Vlees van my vlees’. Hierdie dinge word voltrek as ons die dood van Christus gedenk, vier en verkondig. Ons het nooit ʼn dieper gemeenskap met Christus, deur die geloof, as wanneer ons sy liggaam en bloed saam ontvang nie.

Daarom is die gemeenskap met Christus die hart van die Nagmaalsviering. Daarom het die Here hierdie teken aan ons gegee.

4. Die Nagmaal as Verwagting🔗

Ons geniet aan die Nagmaalstafel ʼn voorsmaak van die oorvloedige vreugde wat Christus toegesê het. Ons sien met groot verlange uit na die bruilofsmaaltyd van die Lam, wanneer Hy die wyn met ons nuut sal drink in die koninkryk van sy Vader. Daarom mag ons bly wees en ons vreugde uitleef en Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam is aan die kom.

In hierdie paar sinne uit ons verkorte Nagmaalsformulier word belangrike Bybelse aspekte saamgevat. Eerstens was dit die Here self wat by die instelling van die Nagmaal by die Paasmaaltyd gesê het: “Van nou af sal ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink”. (Matteus 26:29).

Wanneer Paulus die Korintiërs onderrig oor die betekenis van die Nagmaal, sê hy:

Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here tot dat Hy kom. 1 Korintiërs 11:26

En oor die ‘bruilof van die Lam’ skryf Johannes in Openbaring 19:6-10, waarin ons die woorde hoor:

Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.

bruilof

Ek herinner ook aan die kere dat die Here Jesus in sy onderrig die verwagte groot toekoms vergelyk met ʼn koninklike bruilofsmaal, of woorde van ʼn soortgelyke strekking.

Die volmaakte het nog nie gekom nie. Ons mag egter nou reeds die taal van die bruilof gebruik (vlees van sy vlees, been van sy gebeente), as dit oor die Nagmaal gaan. Nou reeds geniet ons die gemeenskap met Christus. Maar dit is ʼn gemeenskap-in-geloof, waarin ons nog nie in aanskoue en in die volle werklikheid die Here ken nie, en Hom ook nog nie aanraak en die brood en die beker uit sy hand ontvang nie. Elke Nagmaalsviering is vir ons ʼn oefening in die geloof. Is daar by ons nog ʼn lewende verwagting dat Jesus besig is om te kom? Elke Nagmaal is nodig, om ons verwagting op Christus te vestig (vergelyk die ‘so dikwels’ van 1 Korintiërs 11).

Die genoemde vier gesigspunte dui aan hoe onmisbaar die Nagmaal is vir ons geloofslewe. Daarom mag ons verwag dat ons deur die sakrament van die Nagmaal in ons geloof versterk sal word.