Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Die Swaard as Snymes

swaard

Kom dit by swaarde, is die gereformeerdes in Suid-Afrika dadelik in 'n warbos. Die beeld van 'n swaard, wat by Paulus ontleen word (uit Rom. 13:4 "want hy dra die swaard nie verniet nie..."), word dikwels gebruik om staatsmag en staatsplig mee aan te dui. Hierdie jaar is weer verkiesingsjaar; ongelukkig gaan die meeste gereformeerdes hulle nie kwel oor die noodsaak van 'n gereformeerde staatsleer nie. Al waaroor hulle uitsluitsel wil hê is of hulle gaan stem en dalk vir wie of teen wie.

Hierdie gebrek aan ywer om 'n ware gereformeerde staatsleer tot uitvoering te bring het verskeie oorsake. Daar is verskillende reaksies van Christene as dit by staatsake kom. 1

Hierdie reaksies val in drie uiteen:

Die Swaard Begrawe:🔗

Die piëtistiese benadering word al hoe gewilder onder gereformeerdes. Dis die ou volstruis benadering wat net sielerus in die HEMEL wil hê. Dis mense wat bly is dat Christus red, maar wat die res van die wêreld (in ons geval die "nuwe" Suid Afrika) grotendeels aan die satan oorlaat, veral nou die ANC regeer. Hierdie Christene kruip weg in die kerk (omgewing) met uitsprake soos: "die wêreld is boos en die duiwel los"; om die beeld van die swaard hierop toe te pas — die Christene begrawe die swaard en beskou die politiek as vuil, iets waarmee 'n opregte gelowige niks behoort te doen te hê nie. Die mense beskou dit as onrealisties en 'n mors van (sending) tyd dat ons 'n gereformeerde staatsleer in werking stel in Suid Afrika. Vir mense wat moedeloos is oor die landsituasie word die piëtisme 'n handige verskoning om alles in die kerk te doen en niks in die koninkryk van God nie.

Hierdie mense gaan ook nie in die verkiesing stem nie. Die motief? Hulle wil groei in heiligmaking.

Die Swaard op die Kansel🔗

Die tweede benadering is die Konstantynse benadering tot die staatkunde wat sê dat die kerk en staat baie naby mekaar staan, soveel so dat die een eintlik as deel van die ander gereken word. Hier moet sending met die swaard gedoen word. Die kerkhoof is ook die politieke hoof en moet toesien dat God se saak bevorder word. Dit is uit en uit 'n Roomse siening waar die pous, as Christus se stadhouer op aarde, ook die hoof van die state van die wêreld is. Hierdie siening het, in aangepaste vorm, ook baie aanhangers onder die gereformeerdes — veral as art. 36 N.G.B. verkeerd verstaan word asof die staat die Woordbediening moet reël. Hulle wil die swaard ook op die kansel hê.

Hierdie groep mense hoop heimlik op 'n groot (finale) oorlog wat in die land sal uitbreek of 'n staatsgreep waar die wil van God dan in Suid-Afrika met militêre mag toegepas sal word.

Die Geleende Swaard🔗

Derdens is daar die "koninkryk van God" benadering of paradigma. Hierdie mense erken dat God die Skepper en Hoof is van alle dinge en wil stem sodat die gelowige 'n rol speel om God se wil in die staatkunde na vore te bring. Hulle stem in dat daar twee ryke is, Babel en Jerusalem, wat in stryd is met mekaar en dat daardie stryd regoor elke lewensverband op aarde strek. Die koninkryk van God is vir hierdie groep rigtinggewend. Hulle wil stem sodat die koningskap van Jesus Christus in die staatsryk erken word.

gat grawe

Die groep mense wil dus beïnvloedend op die politiek inwerk. Dit is mense wat druk uitoefen dat Christelike norme en waardes 'n plek in die staatslewe kry. 'n Groot deel van hierdie groep ondersteun óf individuele menseregte óf universele volksregte as die vergestalting van God se wil vir die staatslewe. Hulle erken die gebrokenheid van die lewe en die herstellende krag van God. Alhoewel hulle Christus se regering erken, werk hulle nie met spesifiek Christelike denkmodelle nie. Hulle werk dus met geleende swaarde. Dit is mense wat vir Christene gaan stem, sonder om seker te maak dat dit wat daardie Christene voorstaan, werklik God se wil is.

Hoewel die laaste benadering baie meer sê oor Christus se Koningwees as die ander twee benaderings bly daar tog enkele gebreke.

Wat moet Ons met die Swaard maak?🔗

  • Ons durf dit nie begrawe nie, want dan ontken ons dat Jesus Christus Here is van die geskiedenis en dat Hy sê het oor alles in sy skepping.

  • Ons mag die swaard nie kansel toe dra nie, want waar die kerk en die staat so naby aan mekaar staan vind daar altyd verwêreldliking van die kerk en verdraaiing van die evangelie plaas. 2

  • Die staat eis sy pond vleis van die kerk, in ruil vir amptelike beskerming en bevordering.

  • Ons mag ook nie tevrede wees om heidense staatsmodelle af te stof en op te dis as gereformeerd net omdat ons 'n koninkrykperspektief het nie. Die swaard mag nie by die heidene of aan die heidene geleen word nie. Ook by die staatsfilosofie bly sogenaamde waarheidsmomente maar 'n onding.

Waarom Verward🔗

Waarom is dit so dat gereformeerdes, wat gewoonlik so helder oor sake dink, so verward is oor die swaarde? In die gereformeerde wêreld in Suid Afrika moet die oorsaak gesoek word by Abraham Kuyper. Hy gebruik die beeld dat die swaard 'n genesingmiddel is, 'n soort skalpeermes, 'n snymes van 'n dokter. Hy sê ook die swaard is soos 'n spalk aan 'n gebreekte been. Kuyper sê dat die staatsidee nie deel van God se skeppingsgedagte is nie en ondenkbaar is in die koninkryk van God. "Die staatsidee is 'n uitvloeisel van die mens se sondige bestaan."3   Die staat is vir hom iets wat net na die sondeval tot stand gekom het en wat slegs daarop ingestel is om die sonde te keer en af te weer.

Hiermee het Kuyper 'n besliste invloed op die gereformeerde denke oor die staatsleer in Suid-Afrika gehad. Dit is ironies dat twee groepe mense wat polities direk teenoor mekaar staan, maar albei die koninkryk van Godsbenadering volg, juis hulle wortels in Kuyper vind.

Hierdie punt behoort nader omskryf te word. Binne die gereformeerde kerke, waar die Koninkryk-van-God-benadering gevolg word, is daar twee opponerende groepe.

Aan die een kant is die wat volksregte voorstaan en hulle beroep op God se skeppingsordening van verskeidenheid en eenheid. Hier vind hulle steun by Kuyper se pluriformiteitsteorie oor die kerk. Prof. Willie Jonker toon aan 4 dat hier in Suid-Afrika wel 'n eensydige beklemtoning van Kuyper voorkom maar tog is sy invloed sigbaar, veral in verband met volkereverskeidenheid. Gereformeerdes het dit nie net op die kerk betrek nie, maar ook hierdie siening van Kuyper op die staats- en volkerelewe gaan toepas, iets waarvoor Kuyper self nie pa sou wou staan nie.

Aan die ander kant vind ons gereformeerdes wat menseregte voorstaan as die duidelikste verwerkliking van God se liefdesgebod. Hierdie mense weet dat menseregte nie van huis uit, uit die Skrif en kerk kom nie, maar is tevrede om menseregte aan te wend juis omdat die staat as 'n tipe "nood samelewingsverband" gesien word op die voetspoor van Kuyper. Smit beweer 5 dat Kuyper meer tuis sou wees by die demokratiseringsproses in Suid-Afrika as by die vorige groep. Die staat is vir hulle nie iets wat regtig gereformeer behoort te word nie, want al wat die staat moet doen is om die sonde (en veral liefdesverbreking) teen te staan, en daarvoor werk menseregte net so goed.

Die staat hoef nie spesifiek Christelik ingerig te word nie, solank daar darem net 'n arm is wat vir die gereformeerdes ook leefruimte voorsien. Die staat word in negatiewe terme verstaan. Die staatslewe het nie 'n positiewe UNIEKE Godsgehoorsame karakter nie. Al wat die owerheid moet doen is om die sonde in te perk. Met hierdie siening van die staat, as iets waaroor jy net negatief moet dink, is weer die invloed van Kuyper sigbaar.

doktersmes

Dit is ook hier waar Kuyper se achilleshiel lê. Hy staan die soewereiniteit in eie kring voor: geen verband moet 'n ander verband voorsê nie. Tog trek hy die staat voor wat as skeidsregter moet toesien dat die sonde van grensoorskreiding van een verband oor 'n ander nie plaasvind nie. 6  Die koninkryk van Godsbenadering wat uitmond in menseregte aanhanging word beïnvloed deur Kuyper se siening van die staat as genesingsmiddel, as die dokter se snymes wat net die kwaad moet uitsny. Schilder maak die stelling dat hier nie net die unieke van die samelewingsverbande prysgegee word nie, maar inderdaad word ook die unieke van die Christelike geloof aangetas.

Maar is dit regtig so dat die staat net die negatiewe moet weer? Natuurlik dit ook, soos wat ons in art. 36 van die NGB bely, maar is dit die hele prentjie? Kom ons neem 'n ander voorbeeld om hierdie saak te belig. Paulus verkondig dat die huwelik daar is om die sonde van hoerery te weer ("daarom moet elke man sy eie vrou hê), maar dit beteken nie dat die huwelik net 'n sondeweringsmiddel is nie. Daar is baie positiewe aspekte van die huwelik wat ook belangrik is.

Schilder verskil dan ook op hierdie punt van Kuyper 7 Schilder sê: "Sou daar werklik sonder die sonde geen staat moontlik wees nie? Kuyper meen dat die lewe vanuit 'n volkome teokrasie nooit in staatsvorme tot openbaring sou kom nie, want die staat het 'n mediese karakter. Dit is as't ware 'n dwangbuis. Die staat is 'n begrip en 'n werklikheid waar dit gaan om die kwaad te rem. Kuyper praat selfs van 'n chirurgiese faktor. Die staat moet as abnormale verband optree. Dit is 'n verband wat na die sondeval deur die groot Geneesheer ingestel is ... Sou daar in 'n paradystoestand 'n departement van buitelandse sake geen taak hê nie? ... Kuyper sien alleen maar negatiewe faktore ... As die staat die volkslewe moet reël op 'n bepaalde wyse, dan moet daar in die staat ook 'n positiewe element wees". Tot sovêr Schilder.

Dit is hier waar die debat oor 'n gereformeerde staatsleer in Suid Afrika behoort te begin. Daar is 'n nood voor. Om mense te oortuig dat die staat hervorm behoort te word. Wat verwag God van geredde hemelburgers wat ook landsburgers is? Die swaard is nie net soos 'n dokter se snymes nie — soos wat Kuyper beweer nie. Die staat behoort grondig ge­reformeer te word. Dit beteken meer as volksregte, meer as menseregte. Dit gaan oor die Koning Christus se reg op alles in sy skepping — ook die staatslewe in Afrika.

Endnotes🔗

  1. ^ vgl. DJ Morphew se boek South Africa, the powers behind - understanding the complex forces at work, 1989:20-22, Struik Christian Books
  2. ^ Vgl. Van den Berg, 1983:22, Die Middeleeue, Butterworth
  3. ^ Vgl. Kuyper se Antirevolutionaire Staatkunde, I gl 7:97 
  4. ^ In die Skriflig, 1989, 23:91, p. 12-23 "Die pluriformiteitsleer van Abraham Kuyper
  5. ^ In die Skriflig, 1989, 23:91 p. 45-55., "Abraham Kuyper en volksideologie onder die Afrikaners" 
  6. ^ Vgl. Schilder, De Kerk-college dictaat, 1942:100  
  7. ^ vgl. ibid.: 102