Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Die Toetsing van die Profesie

Bybel

Uit die Nuwe Testament self is dit duidelik hoe noodsaaklik dit is dat profesie getoets word. In Hand. 21:10-11 lees ons dat die profeet Agabus uit Judea van die Heilige Gees 'n openbaring ontvang het oor die lyding wat Paulus te wagte was. Hy profeteer dat Paulus deur die Jode gebind sal wees en in Jerusalem sal sterf. Maar die apostel is deur die Romeine gevange geneem en sterf in Rome. Wat blyk nou daaruit? Die openbaring wat die profeet ontvang, kom van God af, maar die interpretasie was van homself en was verkeerd.1

'n Belangrike punt by die toets is die rol van die vrou in die gemeente. Paulus het volgens 1 Kor. 11:5 geen beswaar daarteen dat 'n vrou in die gemeente bid of profeteer nie. Tog kry ons die indruk dat die apostel in 1 Kor. 14:34 die vrou die swye oplê. Is dit 'n absolute verbod? Daar is baie verklaarders wat die swyggebod so absoluut opvat. 2  Sommige ander ontwyk die probleem deur uit Skrifkritiese oogpunt 1 Kor. 14:33b-36 as 'n vreemde teks te beskou. Ons moet die oplossing elders soek. Dit is meer voor die handliggend dat die apostel die vroue wat wel mag profeteer, nie toelaat om die profesie te toets nie. Die toets of weeg van 'n profesie is 'n leeraktiwiteit en dit staan Paulus nie toe aan vroue nie, volgens 1 Tim. 2:11 ev.

Aksentverskuiwing🔗

Saam met die verskuiwing van die openbaringsprofeet na die gemeenteprofeet vind daar in die Nuwe Testament nog 'n ander verskuiwing plaas. Met betrekking tot die profesie sien ons hoe die aksent verlê word vanaf die persoon na die Woord. In die latere geskrifte van die Nuwe Testament lees ons minder van die profete en meer van die profetiese Woord. Petrus praat van die profetiese Woord wat baie vas is (2 Pet. 1:19) asook die profesie van die Skrif (2 Pet. 1:20). In die eerste plek bedoel Petrus die geskrifte van die Ou Testament, maar hy plaas die briewe van Paulus onder dieselfde noemer (1 Pet. 3:16). Die apostel Johannes bind ook die profesie aan die Woord. Hy skryf in Op. 1:3 oor die "woorde van die profesie" en in Op. 22:7, 10, 18, 19: "die woorde van die profesie van hierdie boek". Tussen die profeet en sy boodskap het nou die Woord ingeskuif. In die beginperiode van die kerk was die patroon: openbaring van God — profeet. Na die afsluiting van die kanon het dit geword: God — Woord van God — profeet.

Ook voordat die kanon afgesluit was, word die profesie in die vroeë kerk nie as 'n volkome onfeilbare instansie beskou nie. Hier tree duidelik die verskil met die charismatiese beweging na vore. Daar verwag hulle nog steeds by die profesie 'n direkte inspraak van die Heilige Gees. Profesie word beskou as openbaring en dit moet noodwendig lei tot 'n minimalisering van die Woord van God.

Blik uit die Kerkgeskiedenis🔗

In die loop van die kerkgeskiedenis is daar verskillende pogings aangewend om die openbaringsprofeet weer in ere te herstel. Die Montanisme van die tweede eeu het daartoe 'n poging aangewend. Hierdie beweging was 'n protes teen die verwêreldlikte amptelike kerk. Daar wou teruggekeer word na die geesdrif van die eerste gemeente. Montanus het voorgegee om 'n nuwe en hoër openbaring te bring naas en bo die van Jesus en die apostels. Lede van sy beweging spreek in tale en profeteer. Die profesie word beskou as 'n nuwe openbaring naas en selfs soms bo die Bybel.

In die tyd van die hervorming het die wederdopers opgetree. Hulle wil die verworde volkskerk deur binding aan 'n streng heiligheidsideaal reinig en terugbring na die apostoliese toestande. Vandaar kom ook die groot aandag vir die profesie. Kenmerkend van hierdie beweging was 'n sekere minagting vir die Bybel en 'n oordrewe belangstelling vir profesie. Daar word 'n direkte inspraak van die Heilige Gees gesoek. In die sewentiende eeu kry ons weer 'n sterk opbloei van profesie by die Kwakers in Engeland.

profeet

In ons tyd tref ons by die charismatiese beweging dieselfde simptome aan. Die doop met die Gees as 'n tweede ervaring is nodig. Kenmerkend daarvan is die spreek in tale en 'n belangrike newe-verskynsel is die profesie. Maar dan profesie wat die karakter dra van goddelike openbaring naas die Bybel, los van die Bybel en soms selfs bo die Bybel. Die profeet ontvang direk van die Gees 'n besondere openbaring.

Siening van die Reformatore🔗

Die hervormers het aan die een kant die uitwasse van die profesie van die Wederdopers afgewys, maar andersyds baie aandag geskenk aan die gawe van profesie. Hulle het veral aandag gevra vir die gemeente-profete. Sowel Luther as Calvyn verbind die profesie met die uitleg van die Bybel.3  Profesie is geen nuwe openbaring nie, maar 'n nuwe verstaan van die openbaring soos ons dit in die Skrif vind. Ook is dit 'n verstaan van die tekens van die tye in die lig van die Woord van God. Profesie is volgens hulle 'n besondere insig in die Woord met as doel 'n konkrete toepassing in die situasie van vandag. Die hervormers was bang vir mense wat sê: "Die Heilige Gees het met my gepraat..." of "die Here het dit aan my geopenbaar".

Calvyn beskryf enersyds die profesie as die regte verstaan van die Skrif en die besondere gawe om dit uit te lê. Maar andersyds lê Calvyn by sy bespreking van die profesie meer nadruk op die toepassing van die Skrif as op die verklaring daarvan. Hy tref 'n duidelike onderskeid tussen leraar en profeet. Die leraar bewaar en propageer die gesonde leer, sodat die suiwerheid van die godsdiens in die kerk bewaar bly, terwyl die profeet bekwaam en ervare is in die bekendmaking van die wil van God.

Wat die beoefening van die gawe van profesie betref, gee die Switserse teoloog Ulrich Zwingli ons baie inligting. Hy het gepleit vir 'n nuwe beoefening van die profesie in die gemeente en wel op grond van 1 Kor. 14:25-33. Zwingli pas dit self toe wanneer hy in 1525 aangestel word in Zürich om die onderwys te behartig. 'n Gedeelte van die Skrif word deur middel van openbare lesings behandel en daarna deur die aanwesiges beoordeel. Oorspronklik was dit bedoel om die predikante te bewapen teen die Wederdopers, maar later word dit uitgebrei tot verklaring van die Skrif en daarna beoordeling deur die gemeente. Zwingli laat nie die gemeentelede toe om die Bybel te verklaar nie, maar hulle kry wel die geleentheid om dit te beoordeel volgens 1 Kor. 14:29.

Hierdie profesieë het soos 'n veldbrand oor Europa in die kerke van die reformasie uitgebrei. Dit word aangetref in Genève, in die vlugteling-gemeentes in Duitsland, Engeland, Frankryk, Skotland en Nederland. 4 Daar ontwikkel langsamerhand selfs verskillende modelle van hierdie profesie.

Die vroeë Puriteine beoefen onder die regering van koningin Elisabeth van 1563-1576 die sogenaamde "prophesying" totdat dit verbied word. Dit was daar 'n tipe profete-skool. Predikante het bymekaar gekom; soms kon die publiek saam luister. Die profesie is beoefen in wat ons vandag sou noem 'n gemeentelike byeenkoms, dus nie in die erediens nie. Ten spyte van alle onderlinge verskille het dit basies gegaan om Bybeluitleg en dan veral die konkrete toepassing daarvan.5

Volgens á Lasco was die doel van die profesie om die gesonde leer in die gemeente te bewaar, die gemeente teen die valse leer te bewapen en die leereenheid onder die gelowiges te handhaaf. Maar helaas het hierdie vorm van profesie maar 'n kortstondige lewe gehad. Spoedig het dit in 'n soort lidmaat-katkisasie verander.

Voetius het in 1628 op die sinode van Leiden 'n rapport laat dien sodat die profesie, of soos hy dit genoem het die "konferensies of oefeninge" volgens die gereformeerde opvatting gereglementeer kan word.

Kuyper het in sy Encyclopaedie aan hierdie saak aandag geskenk. Hy beskryf die profesie as die mede-werksaamheid van die lede van die kerk. Dwaling van die kansel af sou beter afgeweer kon word indien die gemeente beter hulle plig hiertoe verstaan.

In Suid-Afrika het die bekende volksdigter, Bybelvertaler en teoloog, J.D. Du Toit (Totius) 'n sterk pleidooi gelewer vir die vernude instelling van hierdie vorm van profesie.

Endnotes🔗

  1. ^  Vgl. Grudem, W.A. 1982, Gift of prophecy in 1 Corinthians
  2. ^ Vgl. Grudem, W.A. 1982, Gift of prophecy in 1 Corinthians
  3. ^ Vgl. Luther en Calvyn se kommentare by 1 Kor. 12:28
  4. ^ DuToit, DJ 1977, Die sestiende-eeuse 'profesie'. Versamelde werke, deel 6
  5. ^ Vgl. Lloyd-Jones, DM. 1987, The puritans