Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Weg na Ware Eenheid

twee puzzel stukkies🔗

Misverstande🔗

Daar is nogal misverstande oor die gemeenskap van die heiliges. Ons gaan na dieselfde kerk, ons hoor dieselfde preek en ons sit aan dieselfde nagmaaltafel en daarom is ons een. Ook in die ekumeniese beweging, waar baie klem gelê word op die eenheid van kerke, word dikwels gewys op die nagmaalviering. Wanneer daar interkommunie is, wanneer kerke gesamentlik die nagmaal gebruik, dan is hulle een.

Hoe belangrik dit ook al is om na dieselfde kerk te gaan, om dieselfde preek te hoor en om aan dieselfde nagmaaltafel te sit, en hoe dringend noodsaaklik dit is dat kerke van dieselfde belydenis een word, al hierdie noodsaaklike en belangrike sake gee nog nie die ware eenheid, die gemeenskap van die heiliges nie. Organisatoriese, formele of kerklike eenheid — hoe belangrik ook al — is nog nie dieselfde as die gemeenskap van die heiliges soos die Bybel dit vir ons aandui nie. Ons kan met ander mense na dieselfde kerk gaan en saam die nagmaal gebruik, sonder om waaragtig één te wees.

Die Gebed van Christus om Eenheid🔗

In die hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 het Christus om eenheid gebid. Die eenheid wat Jesus van sy Vader afbid, is van besondere gehalte: "Dat almal een mag wees, net soos U, Vader, in My en Ek in U, dat hulle ook in Ons een mag wees" (vers 21). Die eenheid wat Christus soek vir sy dissipels en vir sy kerk, is nie alleen 'n eenheid van gedagtes, van wêreldbeskouing of van godsdienstige oortuiging nie. Die eenheid van die gelowiges, die gemeenskap van die heiliges, moet van dieselfde aard as die eenheid tussen Christus en sy Vader wees.

Hoe is dan die eenheid tussen Christus en sy heilige Vader? Dit is die eenheid in die liefde. Soos die Vader Christus liefhet en soos Christus sy Vader liefhet, so moet ons mekaar liefhê. Die liefde wat die ware gemeenskap bewerk, word deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort (Rom. 5:5). Die Heilige Gees is die Bewerker van die gemeenskap van die heiliges. Hierdie gemeenskap is nie iets onsigbaars nie. Dit is 'n saak van die hart, maar dit is ook 'n saak van die hand. Dit kom in ons dade uit. Dit blyk uit die woorde van Christus: "sodat hulle volkome een kan wees en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het" (Joh. 17:23). Uit die gemeenskap van die heiliges moet die wêreld kan aflees dat Christus die Gestuurde van die Vader is. Die eenheid tussen Christus en die Vader moet hom in die gemeenskap van die heiliges in die kerk weerspieël. So 'n eenheid is van baie groot betekenis vir die sendingwerk en die evangelisasie-arbeid van die Kerk. Die gemeenskap van die heiliges moet daar wees as 'n sigbare prediking, as die daadprediking van die kerk.        

Die Pad na die Eenheid🔗

Die Bybel wys ons ook baie duidelik die pad na die gemeenskap van die heiliges. Die gemeenskap van die heiliges is maar nie alleen 'n gawe nie, dit is ook 'n opgawe. Die gemeente groei uit Christus (Kol. 2:19), maar die gemeente groei ook na Hom (Ef. 4:15). Christus is uitgangspunt maar ook einddoel van die geestelike groei.

pad

Die Heilige Gees is die Bewerker van die gemeenskap, maar ons moet ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar (Ef. 4:3) en die gelowiges moet ook toegerus word tot die gemeenskap tot die eenheid van die geloof (Ef. 4:13). In die bekende hoofstuk van Efésiërs 4 wys Paulus op twee dinge wat van besonder groot belang is in verband met die gemeenskap van die heiliges. En hierdie twee dinge — wat in 'n onlosmaaklike verband met mekaar staan —  moet deur ons beoefen word om te kom tot die rykste ontplooiing van die gemeenskap van die heíliges in die kerk.

  • In die eerste plek wys die apostel op die waarheid.  Ons moet in liefde die waarheid betrag (vs. 15a). Ons kan hierdie woorde ook soos volg vertaal: terwyl ons in liefde die waarheid uitvoer of volbring. Paulus bedoel dat die Woord van God, wat die waarheid is, ons gehele lewe, ons denke en ons dade moet beheers. Die gemeenskap van die heiliges het sy diepste wortels in die Woord van God. Waar die lewe in al sy fasette deur die Bybel beheers word, daar kom die gemeenskap van die heiliges tot ontplooiing.

  • In die tweede plek wys Paulus op die geestelike groei. "Terwyl ons ... in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus" (vs. 15b). Hierdie tweede saak staan in 'n noue verband met die eerste. Waar in liefde die waarheid betrag word, daar kom 'n geestelike wasdom.

Die  gelowiges moet groei, opgroei in Christus. Ons moet groei in die geloof, sterk word in die hoop, oorvloedig  wees  in  die  liefde. Verdeeldheid onder gelowiges, twiste in die gemeente, konflikte tussen lidmate is dikwels 'n bewys van geestelike onvolwassenheid. Dit gaan in die kerk van die Here soos in 'n  huisgesin. Wanneer die kinders nog klein  is, dan baklei hulle met mekaar. Gedurig is daar maar allerlei rusies en onenigheid. Maar namate hulle groter word, word hulle ook wyser. Die rusies verdwyn en daar kom 'n goeie kameraadskap. Daarom skrywe die apostel ook in Efésiërs 4 dat ons nie meer kinders moet wees nie (vs. 14). Die groei tot die volwassenheid wat die Nuwe Testament so sterk beklemtoon, is  die   groei  in  die heiligmaking. Daarom skrywe Paulus in Efésiërs 4, nadat hy op die geestelike groei gewys het, oor die Christelike   heiligmaking   (vss.17-32).

In 'n ou kerkgebou in Duitsland staan op die muur die volgende spreuk: "Reinheit gibt Einheit", reinheid bewerk eenheid.

Gemeenskap en Ekumene🔗

Dit is 'n smartlike saak dat die kerk van die Here verdeel en verskeur is. Die verdeeldheid van kerke met dieselfde belydenis is sonde voor God en dit breek ook die werfkrag van die kerk.

Die ekumeniese beweging beywer hom om die verdeeldheid tussen kerke op te hef. Daar word gestrewe na interkommunie, na gemeenskaplike nagmaalsdienste, na kanselruil en na gemeenskaplike konfessies, maar die ervaring, die geskiedenis van die ekumeniese beweging het geleer dat dit maar 'n moeisame poging bly om kerke te verenig. Die vraag kan dan ook gestel word of die ekumeniese beweging met al sy pogings om die kerklike verdeeldheid op te hef op die regte pad is.

Dit lyk vir ons dat wat geld vir die gemeenskap van die gelowiges in die plaaslike kerk ook van toepassing is op die gemeenskap tussen kerke wat verdeeld is en wat geskeie van mekaar lewe. Die waaragtige eenheid tussen kerke kan nie georganiseer word nie, net so min as 'n huwelik of 'n gesinseenheid net georganiseer kan word. Dit moet ook groei.

fietswiel

Vir die eenheid tussen kerke wat verdeeld is, is die beide punte van Paulus, die betragting van die waarheid en die geestelike groei, van allesbeslissende belang. Wanneer Paulus in die briewe aan die Efésiërs en aan die Kolossense die geestelike groei in sy totaliteit, in sy alomvattendheid wil weergee, dan skrywe hy oor die groei na die volheid. Die volheidsgedagte is besonder prominent in hierdie twee briewe waar Paulus handel oor die kosmiese aspekte van die heilswerk van Christus. Die woord volheid, wat besonder ryk van inhoud is, beteken onder andere magsvolheid, die alomvattende mag, die dominium of magsgebied van Christus. Die gemeente moet volgens Paulus groei na die volheid (Ef. 4:13). Dit beteken dat elke gelowige en ook die gemeente in sy geheel steeds meer onder die alomvattende genadeheerskappy van Christus moet kom. Die lewe van elke gelowige en ook die kerklike lewe moet volledig onder die mag en die heerskappy van Christus kom. Blykens Efésiërs 4:13 word deur Paulus die groei na die volheid onlosmaaklik verbind met die groei na die eenheid. Hier lê die oplossing van die ekumeniese vraagstuk. Daar waar gelowiges en waar kerke hulle onvoorwaardelik stel onder die heerskappy van Christus, daar kom onvermydelik 'n groei na die ware eenheid. Dit gaan met kerke soos met die speke van 'n wiel: hoe digter die speke by die naaf kom hoe digter hulle aan mekaar is.

Dus: hoe nader kerke aan Christus die Hoof kom, hoe nader kom hulle ook aan mekaar. Die eerste gebod van die wet van die ekumene is: groei na die volheid, bewerk groei na die eenheid.