Bron: Die Oes, 1969. 3 bladsye.

Die Werkers in die Sending

sending

In ons land is ons met betrekking tot die sending in 'n besonder bevoorregte posisie. Ons situasie vertoon baie ooreenkoms met die toestand van die eerste Christelike kerk in die dae van die apostels en die apostoliese vaders. In die tyd van Paulus en Petrus, van Ignatius en Polycarpus was die sendingveld rondom die kerk. Die kerk het toe midde in die sendingveld gelê. Die verbindingslinie tussen kerk en sendingveld was besonder kort. By ons is dit dieselfde. Die sendingveld is rondom die kerk.

Spontane Aksie🔗

Wanneer ons in die sendingboek by uitnemendheid, die Handelinge van die Apostels gaan kyk na die begin van die sending, dan is dit besonder treffend dat daar in die eerste plek die spontane aksie van die lidmate van die kerk was – die nie-amptelike sendingaktiwiteit van die gelowiges. Ons lees dit in Hand. 8:4 en Hand. 11:19. Die werkwoord verkondig, wat Lukas in Hand. 8:4 gebruik, word deur hom spesiaal gebruik vir nie-amptelike predikers. In Hand. 11:10 word nog eenvoudiger gesê: hulle het die Woord van God gespreek, en dit is ook 'n uitdrukking om die spontane, missionêre aktiwiteit van die lidmate aan te dui. Dit blyk dus dat die sendingwerk in die Nuwe Testament begin het met spontane aksies en dat hulle nie eers gewag het vir die sendelinge nie.

Daar het wel amptelike sendelinge gekom. Hulle het egter nie in die eerste plek gekom om spontane sendingaktiwiteit van die gemeentes te ontketen en te organiseer nie, maar veel meer omgekeerd: om die spontane aksies wat daar was te stimuleer, te sentraliseer en te intensifieer. Dit sien ons besonder duidelik by die groot sendingfiguur uit die Nuwe Testament, die apostel Paulus. Wanneer ons let op die sendingaktiwiteit van die apostel Paulus, dan sien ons in hom die beeld van 'n veldheer, 'n generaal wat met 'n leër op mars is om die mag van sy Koning uit te brei in die wêreld. Waar 'n generaal is, daar is stafoffisiere, veldkornette, soldate. So was dit ook by Paulus. Hy was nie 'n sendeling wat alleen uitgegaan en heeltemal op sy eie gewerk het nie. Kenmerkend vir sy sendingstrategie was juis dat hy op sy sendingreise telkens opnuut mense ingeskakel het in die sendingwerk.

Ons gaan dikwels van die gedagte uit dat daar eers 'n amptelike sendeling moet wees wat die sendingwerk kan aanvaar. Deur hom kan dan ook die spontane sendingaktiwiteit van die lidmate van die kerk gestimuleer word. In die Nuwe Testament sien ons egter veel meer die omgekeerde. Eers is daar die spontane sendingaksie van die lidmate en dan kom die sendeling en hy gaan dit verder stimuleer en uitbou. 'n Duidelike voorbeeld vind ons in Korinthe. Paulus vind in daardie stad 'n Joodse egpaar Aquila en Priscilla wat bekend geword het om hulle toegewyde arbeid in die diens van die Here (Hand. 18:2). Deur hulle bemiddeling word Apollos ingeskakel in die sendingwerk (Hand. 18:24-27). In die briewe van Paulus lees ons 'n hele aantal name van mense wat deur Paulus nader getrek is en deur hom ingeskakel is in die sendingwerk. Ons hoor van Urbanus (Rom. 16:9), Artemas (Titus 3:13), Demas (2 Tim. 4:10), Crescens (2 Tim. 4:10) en baie ander.

Nou is dit besonder belangrik om te sien dat Paulus sy eie sendingwerk en ook die werk van sy medewerkers altyd in verbinding gebring het met die kerk. Doel van Paulus se arbeid was stigting van die kerk van die Here. Uit gestigte gemeentes en ten behoewe van gemeentes wat gestig moet word, het Paulus sy manne, sy medewerkers gesoek.

In ons huidige situasie is dit dus so dat ons as kerk, wat geroep is tot die arbeid van die sending, die medewerkers ook in die kerk moet soek. Die sendeling kan soos Paulus sy medewerkers rekruteer uit die gelowiges op die sendingveld wat tot bekering gekom het. Maar ons kan ook soos Paulus ons medewerkers soek onder die lidmate van die sendende kerk. In ons geval dus kan 'n kerkraad wat oortuig is van sy sendingroeping en wat voel die werk moet gedoen word, probeer om 'n “inheemse” helper te kry wat iewers deur 'n sendeling opgelei is en wat bekwaam is om sy eie mense te leer. Maar dit moenie die eerste poging wees nie. Ons kry by Paulus ook sterk die indruk dat hy veral met sy eie mense gewerk het: Jode, volksgenote, medegelowiges uit sy eie kerk om dit in ons woorde uit te druk. Dit beteken dat ons ook maar moet begin met in ons gemeentes ons eie mense op te roep vir die werk en in te skakel in die werk. Gebrek aan fondse behoef daarom nooit 'n rede te wees vir 'n kerkraad om nie met die sendingwerk te begin nie. As daar maar net mense is, en hulle is daar! Hulle moet net geroep word. Hulle moet ingeskakel word.

sendelinge

Die Helpers🔗

Wanneer daar nou gevra word watter tipe mense Paulus spesiaal gesoek het om te stimuleer en te aktiveer tot die sendingwerk, dan kan geantwoord word: mense wat die Here hartlik liefgehad het, mense wat besiel was met 'n brandende liefde vir die Here en die uitbreiding van sy koninkryk. Paulus noem hulle my medewerkers (2 Kor. 8:23), ook wel my medestryders of wapenbroeders (Fil. 2:25; Phil. :2). Op 'n ander plek noem hy hulle jukgenote (Fil. 4:3). Maar die mooiste benaming is medeslaaf (Kol. 1:7; 4:7). Met 'n versamelnaam word hulle ook wel aangedui as die helpers van Paulus.

Is die helper die evangelis, soos Paulus byvoorbeeld Timotheus aandui (of liewers: sy werk aandui) (2 Tim. 4:5)? Helper dek 'n baie ruim en 'n groot veld. Die dissipels word bv. helpers van Jesus genoem. Ook Paulus en Apollos word so aangedui. Hierdie begrip wys besonder sterk op die ondergeskiktheid van die persoon. Verder gaan dit in hierdie woord ook om 'n binding aan die persoon in wie se diens die helper staan. 'n Helper is vir iemand die orgaan van sy wil, aldus Rengstorf.

Daar was ongetwyfeld 'n groot verskeidenheid onder die helpers van Paulus: Jode en Grieke, manne en vrouens, geleerdes soos Lukas en ongeletterdes. Ek wil egter in verband met hierdie geleentheid wys op een bepaalde tipe medewerker van Paulus, nl. die ouderling.

Een van die vereistes vir die ouderling wat in die pastorale briewe genoem word, is die bekwaamheid om te onderrig (1 Tim. 3:2). Hulle moet manne wees wat bekwaam sal wees om ook ander te leer (2 Tim. 2:2). Wie is die ander? (Grieks: hoi heteroi). Met die ander word hier onder meer bedoel die buitestaanders, die ongelowiges, die heidene. Die ander moet geleer word, en dit sluit in: hulle moet vermaan en weerlê word (Grieks: parakalein en elenchein). Hier word dus met name gewys op die sendingaktiwiteit. In die ou kerk was dit so: eers moet iemand aktief aan die sendingwerk deelgeneem het en dan kan hy ook gekies word om in die gemeente as ouderling op te tree. Ons keer dikwels die Bybelse orde om: eers moet iemand ouderling wees en dan vra ons hom om ook behulpsaam te wees by die sending. Volgens die Nuwe Testament is dit eerder omgekeerd: hulle wat spontaan in die sending gewerk het, word later ook geroep om in die gemeente leiding te gee.

In die jong kerk was daar baie van die lidmate wat behulpsaam was by die verbreiding van die Evangelie. Paulus het hom daarby aangesluit. Die spontane arbeid het hy positief waardeer. Hy het dit aangemoedig, gestimuleer. In elke gemeente wat hy gestig het of waar hy kom het hy mense gesoek en gevind wat hom kon bystaan in die sendingwerk. Ook het hy gesentraliseer. Hy het die spontane arbeid aan die plaaslike gemeente as 'n sentrum gebind. Die helpers wat hy groet in sy briewe bevind hulle in plaaslike gemeentes: Epafroditus in Filippi, Archippus in Kolosse, Tichikus in Efese, Titus op Kreta en so kan ons maar voortgaan. Hulle moet preek en leiding gee aan die gestigte gemeentes. In die derde plek het Paulus die spontane sendingarbeid van sy helpers ook baie verdiep.

hulp sending

Praktiese Wenke🔗

Die eerste ding wat ons uit die Nuwe Testament kan leer is dus dat ons in die gemeentes nie met die sendingwerk moet wag tot die fondse of die sendeling daar is nie. Die roeping tot die sendingarbeid lê daar vir elke gemeente. Ons is in die bevoorregte en verantwoordelike posisie dat die sendingveld baie naby is. Ons moet daarom begin met die sendingwerk. Hier lê 'n ernstige, goddelike roeping vir elke kerkraad en elke gemeente.

Tweedens kan ons uit die Nuwe Testament leer dat daar werkers moet wees in die sending en dat die werkers, die helpers in die gemeente, gesoek en gevind moet word. Wanneer dit 'n saak van ernstige gebed word, dan sal die Here die mense vir u wys en vir u gee. En u sal verbaas wees watter verborge, sluimerende kragte daar in elke gemeente is.

In die derde plek moet daardie spontane arbeid van lidmate deur die kerkraad gestimuleer en geaktiveer word. In navolging van die kerk in die eerste eeue lê hier 'n groot taak vir die susters van die gemeente. In die begin van die Christelike kerk het die Christenvrou die Evangelie aan die heidenvrou gepredik. Ons susters het vandag ook baie moontlikhede en geleenthede. Dit moet net benut word, en onder die seën van die Here sal dit slaag.

Ten vierde wanneer die spontane arbeid van die werkers onder leiding van die kerkraad en ook veral deur die besielende voorbeeld van die broeders van die kerkraad uitbrei dan is die tyd daar dat 'n sendeling beroep word om verder die leiding te neem en die werk nog verder uit te bou altyd weer met inskakeling van die lidmate van die kerk.

Onder leiding van die besondere amp moet die algemene amp van die gelowiges weer tot ontplooiing en ontwikkeling gebring word. In die kerk word vandag so baie klem gelê op die besondere amp dat die algemene amp van die gelowiges nie tot sy reg kan kom nie. Die besondere amp in die kerk is ook daar om die amp van die gelowiges te stimuleer en te aktiveer. Met betrekking tot die sending kan dit gedoen word en dit het 'n wonderlike uitwerking op die geestelike lewe van die gemeente.