Bron: Die Kerkblad, 1990. 2 bladsye.

Dirk Postma Na 100 Jaar

kerk Rustenburg

Sy naam is onherroeplik aan die ontstaan en voortgang van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika verbind. In die geskiedenis is daar selfs gepraat van “Postma se kerk”. Sy naam is soms selfs gelaster. Maar in sy tyd is hy ook as ’n nederige, getroue, toegewyde dienskneg van die Here, erken. Vir die manne en vroue wat op 11 Februarie 1859 die stap geneem het om die Gereformeerde Kerk Rustenburg te stig asook al daardie gemeentes wat destyds op die­selfde grondslag ook in die Vrystaat en die Kaapkolonie ontstaan het, was Postma een wat deur God gestuur was in hulle geestelike nood.

Op 28 Desember 1890 het professor Dirk Postma in die tuig gesterf en op die bekende Burgersdorp is hy begrawe. Taai soos die besembosse van daardie omge­wing, was hy ook die taaie stryder vir die oorlewing van die Gereformeerde waarheid op die bodem van ons ge­liefde vaderland. En na 100 jaar kom daar vandag in 1990 die vraag: Het Postma se werk vandag nog vir ons betekenis?

Postma se Leer🔗

Met die Algemene Kerkvergadering wat vanaf 10 Janu­arie 1859 te Pretoria plaasgevind het, moes ds. Postma as afgevaardigde van die Christelike Gereformeerde Kerk in Nederland oor sy kerkleer ondervra word. In sy rapport aan hierdie kerk, skryf hy die volgende: “Gevra na ons leer, het ek voorgelees uit ons eerste en laaste Sinode op daardie punt. Oor my gehegtheid daaraan, het ek vertel hoe ek deur God se genade daarin van my jeug af gelewe het, selfs onder die bittere vervolging in Nederland en dat ek met so ’n hart na hulle gekom het.”

Hierdie leer was natuurlik die leer van die Skrif volgens die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Neder­landse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Postma se ‘gehegtheid daar­aan’ het konsekwent sy lewe lank in Suid-Afrika geblyk. Hy het dit hartstogtelik bely. In sy preke, maar ook in alle kerklike aktiwiteite, in katkisasies, op huisbesoek, in vergaderings, ja oral, het hy hierdie Belydenis as die suiwere vertolking van God se Woord uitgedra.

En daarmee is die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in ’n geskiedenis van meer as 100 jaar gevorm en opge­bou. Neem hierdie belydenis weg, of begin om dit af te water, en die bestaansreg van die gemeentes kom in gedrang. Die betekenis vir ons vandag is onbereken­baar. Die gewetensvraag 100 jaar na Postma se dood word selfs skerper: Staan ons nog steeds onverskrokke by hierdie belydenis?

Postma se Diens🔗

Na die dwingende besluit van die Algemene Kerkver­gadering oor die sing van gesange in die erediens, het vyftien manne die vergadering verlaat en onder andere die volgende in hulle brief geskryf: “Ons wens om as ’n Vrye Gereformeerde Kerk ooreenkomstig die leer, tug en diens van die vaders, soos wat dit te Dordrecht in die jare 1618 en 1619 in hulle nasionale sinode bely is, te bestaan...”

Postma se standpunt oor die diens in die kerk, is al­reeds by hierdie vergadering en baie keer in die open­baar duidelik uitgespel. Die Gereformeerde erediens is volgens bepaalde beginsels ingerig. Die prediking van God se Woord het sentraal gestaan. Die sakramente moes soos Christus dit ingestel het, bedien word.

Dirk Postma

Die sing van die Psalms in die erediens het natuurlik in die brandpunt van die konflik gestaan. Maar ook die sing van gesange “waarvan die teks in die Bybel gevind word” (Postma se tweede punt oor hierdie saak), het hy as ‘die veiligste weg’ geag.

Dit is waarin die kerke in die sing van Skrifberymings gelei is. Daarin is Postma se standpunt vandag nog steeds aktueel. Daarby was die eenvormigheid van die liturgie in al die gemeentes vir hom uiters belangrik en het hy ‘nuwerwetse idees’ met die erediens teengestaan. Uiter­like vertoon moet nagelaat word en die Woordbediening moet altyd sentraal staan, sonder dat die aandag afgetrek word.

Postma se Tug🔗

Met tug word hier veral die kerkregering bedoel. Dit was juis die Gereformeerde Belydenis wat die vaders tot ’n suiwer kerkregering gedwing het. Die betrokke vyftien man het ook in hulle brief hulle standpunt gestel dat hulle na die Dordtse Kerkorde, ‘gewysig in sover ons teens­woordige omstandighede dit vorder’, terugkeer. Hieroor het Postma in genoemde Kerkvergadering verklaar: “Oor die kerkregering het ek voorgelees uit die Kerklike Handboekie van ons voorberig en van die ou voorrede wat daarop volkome duidelikheid gegee het.” Dit was die kerkregering volgens die Dordtse Kerkorde.

Hierdie standpunt het vir destyds teen die agtergrond van die kollegialisme (gemeentes word deur bestuurslig­game van bo-af geregeer), ’n hele nuwe kerkbegrip in Suid-Afrika gebring. Die eenvoudige vraag, “wat is die kerk?”, is van toe af anders op die katkisasies beant­woord. Die plaaslike gemeente is ’n komplete, selfstan­dige kerk.

In die wyse van kerkregering het die vaders na 1859 so sterk by die Dordtse Kerkorde gestaan, dat hulle selfs Postma se wysigings later getemper het. Postma se be­tekenis lê egter daarin dat hy in die begin die fonda­mente reg gelê het en vandag gebruik ons nog steeds die Dordtse Kerkorde met vrug.

Postma se betekenis vir die Gereformeerde Kerke van­dag? Dit is onberekenbaar. Ook sy betekenis vir die Christelike onderwys, kan moeilik oorskat word. Dink byvoorbeeld aan die PU vir CHO wat vanuit die inrigting waar hy die leiding gehad het, gegroei het.

Dit is in alles dus geen eienaardigheid dat ons getrou aan die Skrif ook hierdie dienskneg van God se werk in herinnering roep nie (Hebreërs 13:7). Sy werk het in die teken van die kerkreformasie gestaan. En daarom kom die uitgawe van hierdie Kerkblad ook juis op ’n datum na aan Hervormingsdag. 100 Jaar na Dirk Postma se sterwe, spreek die geskiedenis steeds tot ons. God self spreek uit die geskiedenis tot ons:

Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan...  Deuteronómium 6:5-7