Bron: Hammanskraal Teologiese Skool Jaarblad. 3 bladsye.

Dryf Handel met Jou Pond

Lees Luk. 19:13

Dit is vir my 'n groot voorreg om by hierdie geleentheid voor u op te tree. U ontvang vandag erkenning vir die werk wat u in die afgelope jaar gedoen het. Dit is aangenaam vir u Meester en vir uself wanneer Hy sê: "Mooi so, goeie dienskneg ... Jy was in die minste getrou.." (Luk. 19:17).

Ons moet hierdie gelykenis sien teen die agtergrond van die gebeure wat daartoe gelei het dat Jesus dit vertel het. Hy was op pad na Jerusalem. Dit was sy laaste reis na sy laaste Paasfees. Voor wag Getsémané, Gabbata en Golgota. Hy gaan om te ly en te sterwe.

Sy dissipels verwag egter iets anders. Ons lees in vers 11 dat hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hulle verwag dat Jesus sou gaan om op die troon van sy vader Dawid te sit. Dan sal Hy die Romeine uit die land verdryf en dan volg die koninkryk van God op aarde. Dit sal ʼn ryk sonder moeite en nood en verdriet wees — ʼn ware vrederyk op aarde.

Omdat die dinge anders sal wees as wat die dissipels verwag, vertel die Here hierdie gelykenis aan hulle. Nie alleen sy kruisdood sou hulle voete onder hulle uitslaan nie. Nee, ook die eeue wat kom en gaan sal vir sy volgelinge moeilik wees. Hy het, soos Hyself in vers 12 sê, na ʼn vér land gereis om vir Hom ʼn koningskap in ontvangs te neem en dan kom Hy terug. Jesus sinspeel hier duidelik op sy hemelvaart en wederkoms.

Hy het opgevaar na die hemel. Sy kerk is nog op aarde. Ons wag dat Hy weer moet kom. Dan eers word sy koninkryk in krag en heerlikheid gevestig op die nuwe aarde onder die nuwe hemel. Intussen leef Jesus se volgelinge op aarde. Die wêreld en sy nood tref ook die kerk. Hulle word selfs gehaat en vervolg en doodgemaak omdat hulle in Jesus glo. Dit is en bly anders as wat sy dissipels daardie dag naby Jerusalem verwag het. Onder sulke omstandighede kan Jesus se volgelinge moed verloor en naderhand nie meer weet waarheen of hoe nie.

Om sy volgelinge te help vertel Jesus hierdie gelykenis van die ponde aan hulle. Die koning, wat weggaan, roep tien van sy diensknegte en gee aan elkeen van hulle ʼn pond met die opdrag: "Dryf handel daarmee totdat ek kom."

Die Here Jesus ken ons. Hy weet ons kan gou moedeloos word. Ons kan swaarkry om te glo, omdat ons Hom nie sien nie en dit lyk asof Hy ook nie in die wêreld regeer nie. En nou wil Hy aan ons werk.

Hoekom Gee Hy vir Ons Werk?🔗

Ek dink die groot rede hiervoor is dat ʼn mens nie kan help om aan iemand te dink, wanneer jy vir hom werk nie. Vroeg in die môre gaan jy na jou baas se huis toe. Jy gaan vra vir hom: "Wat moet ek vandag doen?" Terwyl jy werk oordag dink jy altyd maar of die baas tevrede sal wees. Jou baas loop saam met jou in jou gedagtes. Dit is asof hy by jou is. En as jy vanaand klaar is met die dag se werk, gaan vertel jy aan die baas. Jy gee verslag van jou werk.

En as ons nou só dink aan die baas op aarde, hoe dan van ons Here in die hemel? Ek werk vir Hom — daarom vergeet ek Hom nie. Hy is altyd by my en loop met my saam. Ek vra elke môre van Hom wat ek vandag moet doen en dat Hy by my moet bly. En vanaand kom ek weer vir Hom vertel van my werk en my versuim en waar ek gestruikel het. En ek dink die mens wat vir die Here werk, het nie baie moeite met kleingeloof en twyfel nie. Jy sweet al die dinge uit in die werk wat jy vir Hom doen.

Maar nou sê die Here dat ons moet werk met die pond wat Hy aan ons gee. (Ons sou miskien sê die rand). Wat kan die pond wees? Ons moet nou ook onthou dat hierdie gelykenis anders is as die gelykenis van die talente. Daar het elkeen nie eweveel gekry nie. Die een kry vyf en een twee en die ander man net een talent. Een mens het meer talente as die ander een. In dié opsig is alle mense nie gelyk nie.

Hier, by die ponde kry elkeen eweveel. Die kind kry net soveel soos die grootmens. Ek en jy kry presies net soveel, soos Paulus en Luther en Calvyn. Die een kry nie meer as die ander nie.

Nou vra ek weer: "Wat is die pond?" Wat het elke Christen eweveel ontvang van die Here? Dr. Helmut Thielicke sê: "Elkeen van ons kan sê: Ek is ʼn kind van God." Dit ontvang ons almal gelyk. Ons kan ook aansluit by ons Kategismus in Sondag 12: Hy vra: "Waarom word jy ʼn Christen genoem?" En dan antwoord hy: "Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is en daardeur deel het aan sy salwing, sodat ek sy Naam kan bely, myself as ʼn lewende dankoffer aan Hom kan toewy, met ʼn vrye en goeie gewete in hierdie lewe teen die sonde kan stry om hierna in ewigheid saam met Hom oor alle skepsele te regeer."

Ek dink dit is ʼn mooi omskrywing van die pond wat ons almal ontvang het. Elkeen kan sê: "Ek is ʼn  Christen. Ek is gesalf met die Heilige Gees. Daarom moet ek werk vir die Here. Ek moet werk met my naam en my naam is 'Christen' of 'Kind van God'."

Dit is goed dat ons daaroor dink by ʼn geleentheid soos hierdie. Ons dink aan werk wat gedoen is. Die werk van die jaar wat verby is. U het gestudeer. U het geluister na professore en hulle opdragte uitgevoer. U het sukses behaal want u het geslaag in u eksamens.

Maar nou is die groot vraag waarvoor hierdie gelykenis ons stel: "Het ek gewerk met my pond? My pond is my naam. En my naam is 'Christen' of 'Kind van God'." En nou is die vraag wat ons elke dag moet vra: "Werk ek met my naam? Werk ek as Christen en as Kind van God? Sal my Here vir my kan sê: 'Mooi so, goeie dienskneg . Jy was in die minste getrou.' "

Wanneer die Kategismus vir ons sê wat dit beteken om ʼn Christen te wees, dan sê ons hy praat van die amp van die gelowiges. Die Nuwe Testament praat egter nie van "ampte" nie, maar van "dienste". En dit beteken maar net dat ʼn Christen nooit ʼn baas is nie — hy is altyd ʼn dienskneg van Jesus Christus. En ons dien Jesus Christus nie alleen wanneer ons bid of sing of kerkhou nie. Ons dien ook wanneer Hy na ons toe kom, soos Hyself sê, as "een van hierdie kleintjies.." Jy dien Jesus Christus in die mense wat na jou toe kom. Jy dien Hom wanneer jy hulle dien — brood en water en klere gee . Maar jy dien Hom veral as jy elke mens wat op jou pad kom die brood uit die hemel en die lewende water gee. En dit beteken maar net dat jy hom moet vertel van Jesus en sy koninkryk. En dit help niks om dit alleen met jou mond te sê nie.

Jou hele lewe moet elke dag net één ding sê en dit is: "Jesus Christus is my Koning. Hy is die Verlosser van die wêreld. Hy het gekom om te soek en te red die wat verlore was."

Dit is hoe ons ons pond moet gebruik. Ons moet ons Christen-naam gebruik, sodat mense ons Koning Jesus kan sien en na Hom toe kom. Dit beteken dat ons ook in ons daaglikse gewone werk getrou moet wees oor die minste. Ek moet ook hard studeer, want ek werk vir Koning Jesus.

Ek wil darem net wys op nog ʼn trekkie in die gelykenis wat vir ons van baie groot belang is. Jesus sê nie: "Hier is vir jou ʼn pond. Dryf nou handel daarmee en Ek sal vir jou ʼn deel van die wins gee," nie. Nee, Hy sê niks van wins of salaris nie. Hy gee net die pond — Hy belowe niks.

In die koninkryk van die hemel werk ʼn mens nie om vir jouself wins te maak nie. Jy staan nie met jou werkskaartjie by die kantoor en sê: "Hier baas. Ek kom vra geld—ek het gewerk" nie. Nee, jy werk maar net, omdat jou koning so gesê het. Jy werk omdat jy Hom liefhet. Jy werk omdat Hy jou verlos het. Jou werk elke dag sê maar net "Dankie Here!"

O ja, jy is bly as daar wins is. Jy is bly as mense aan jou Koning die eer gee. As mense na jou Koning Jesus toe kom en voor Hom kniel. Jy is saam met die engele in die hemel bly oor een sondaar wat hom bekeer. Hoe kan dit ook anders.

Die Koning sê nou: "Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede." Ja, agterna is daar tog betaling. Die man word beloon vir sy werk. Ons almal sal eendag verbaas wees oor hoe goed ons Koning is. Ons sal nie weet wat om te doen as ons sien wat Hy alles vir ons gee nie. Ek dink dit is een rede waarom die Bybel vir ons só min sê van die hemelse heerlikheid. Ons sal tog nooit kan begryp voordat ons daar kom nie.

Maar elke getroue dienskneg wat werk met sy pond, vind hier op aarde al uit hoe goed sy Here is. Hy maak ons bly. Hy maak ons gelukkig. Ons sien hoe Hy ander mense verlos wat ons na Hom toe bring en ons is só bly en gelukkig soos mense nooit anders in die wêreld kan wees nie. Ek dink ons kry hier al tien stede of meer wanneer ons maar net sien hoe één ander mens die Here dank dat hy verlos is.

Elke bedienaar van die Woord van God ken hierdie vreugde. En dit is ʼn beloning uit die hand van ons Koning. Ek het in my lewe baie gepreek en baie met mense gepraat uit die Woord van God. Ek kan vertel van baie dinge wat my bly gemaak het. Daar is egter twee dinge wat vir my meer werd is as om aangestel te wees oor tien stede. Ek wil u daarvan vertel.

Eén keer het ek in die hospitaal ʼn vrou gaan sien. Ek het vir haar gelees uit Jes. 43. Ek het dit verduidelik en toegepas en gebid. Toe loop ek. Dit was laat in die aand. Toe ek haar die ander dag weer gaan sien, vertel sy aan my wat gebeur het. In die bed langs haar het ʼn ander vrou gelê, wat ek nie ken nie. Ek het ook nie gekom om vir haar te lees en bid nie. Sy het maar net saam geluister. Toe ek weg is, het sy gesê: "Die dominee het nie vir jou gekom nie, maar vir my. Ek glo ook nou in die Here." Die anderdag môre is die vrou dood. Die Here het my na haar toe gestuur en ek het nie geweet nie. Ek het gedink: Daar  is  nou  een   mens   in   die   hemel  wat my eendag welkom sal heet.

Die ander ding wat ek wil vertel, is van die man wat ʼn klein seuntjie vermoor het. Hy het in die gevangenis gekom as ʼn man wat gehang moet word. Daar het ons — ds. Droomer en ek — met hom kennis gemaak. Hy het binne-in die tronk belydenis van geloof afgelê. En toe kom die dag dat hy gehang moes word. Ek het saam met hom geloop na die galg. Hy het geloop en sing. Sy laaste woorde aan my was: "Dankie ds. dat u my na die Here Jesus gelei het. Sê vir my familie, hulle moet naby die Here bly. Ek gaan as oorwinnaar."

Dink julle nie dat ʼn mens maar net predikant kan word om dit te ondervind nie?

Maar ek moet afsluit. Daar is nog die man wat sy pond in sy sakdoek toegedraai en weggebêre het. Hy gebruik dit nie nou nie, maar hy bêre dit om dit eendag te gebruik. Hy weet die Koning sal eendag kom en dan sal hy vir Hom sy pond teruggee.

Hierdie man is ʼn slim man. Hy dink ek moet darem die pond vat. Ek moet darem die naam vat. Ek moet darem by die mense bekend wees as ʼn Christen. Maar ek draai my naam toe in my sakdoek en bêre dit weg. Ek is nie só dom om vir die Here te werk vir niks nie. Maar ek is slim genoeg om eendag vir die Here te sê: ek het darem aan die kerk behoort. Die mense het gesê dat ek ʼn  Christen is.

Maar dan vind hy sy fout te laat uit. Die ding staan hier dat ons ook goed daarna moet kyk. Die Here is baie goed. Hy gee ons alles verniet. Maar Hy maak ons ook anders. Hy maak ons sy diensknegte. En die man wat die Here nie wil dien nie — al dra hy ook die naam van Christus— sal uitvind dat hy homself en die Here wou mislei. Hy staan met leë hande.