Bron: Die Kerkblad 1995. 2 bladsye.

Ewolusionisme: Op pad na 'n utopie?

Wanneer daar van evolusionisme gepraat word, dink die meeste van ons onwillekeurig aan 'n teorie dat die mens van 'n soort aap afstam. Natuurwetenskaplikes sal egter gou wees om te sê dat dit 'n wanvoorstelling is. Die teorieë van die evolusionisme is darem nie so eenvoudig nie.

Nog 'n wanvoorstelling waarteen ons moet waak, is om te dink dat die evolusionisme net tot die terrein van die dierkunde beperk is. Die basiese idee van die evolusionisme dat daar in alles 'n ontwikkeling van die "laere" na die "hoëre" plaasvind, is ook op talle ander gebiede sigbaar: ook op maatskaplike gebied, in die sielkunde, selfs op die terrein van die godsdiens.

Vooruitgangsoptimisme🔗

Op maatskaplike gebied duik die evolusionisme lankal reeds op in die gedaante van die vooruit-gangsoptimisme. In kort kom dit neer op die geloof dat die mens altyd beter toegerus word om immer hoër hoogtes te bereik. Hierdie optimisme word gevoed deur 'n ongeskokte vertroue wat mense in die wetenskap en die tegnologie het. Met die twee afgelope wêreldoorloë het die vertroue wel 'n effense terugslag beleef, maar die "wonders" van die moderne natuurwetenskap en tegnologie het die mens weer 'n inspuiting van selfvertroue gegee. Uit die mond van 'n rekenaar-tegnikus hoor ek nou die dag: "Noem enigiets wat jy wil, en die rekenaar kan dit doen. Vir die rekenaar is niks meer onmoontlik nie."

Hierdie laaste woorde laat 'n mens skrik want dit klink skrikwekkend naby aan die woorde van die engel Gabriël toe hy Jesus se geboorte aangekondig het (Luk. 1:37): "Vir God is niks onmoontlik nie". Die genoemde rekenaartegnikus se woorde was waarskynlik nie só bedoel nie. Maar die feit bly staan dat die moderne mens 'n vaste vertroue het in sy eie vermoë om tot groter hoogtes te ontwikkel. Dit is net 'n kwessie van tyd, word geglo, voor ons alle siektes te bowe gekom het, alle verskille in die wêreld bygelê het, alle besoedeling van ons planeet beëindig het, alle tekorte van die mensdom aangevul het.

Op die rug van hierdie vooruitgangsoptimisme ry die New Age-beweging met sy idee van 'n nuwe wêreldorde. Die mens het nou die era van stryd en verdeeldheid ontgroei en gaan nou 'n nuwe era van eenheid en harmonie binne. Daarmee word nog 'n akkoord op die hartsnare van die moderne mens met sy vooruitgangsgeloof gedruk: ons is besig om ons pad te vind na 'n wonderlike utopie.

Evolusionisme in die godsdiens🔗

Selfs in die godsdiens word die evolusionistiese vooruitgangsgeloof ingedra. Dit word verduur selfs deur gelowiges wat andersins heftig teen die gedagte van evolusionisme gekant is. Op verskillende vlakke vind 'n mens tekens daarvan.

In gesprekke oor die herkoms van die Bybel is daar baie teoloë wat aanvaar dat die teks van die Bybel 'n groeiende teks was. Dit het begin by 'n evangeliekern, waarvandaan die vroeë kerk dit met verloop van tyd ontwikkel het tot die Bybel wat ons vandag het. Die Bybel is dus nie, soos ons in artikel 3 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely, die Woord van God wat Hy vir ons laat opteken het nie, maar dit is die produk van "gemeente-teologie". Hierdie Skrifbeskouing loop hand aan hand met die idees van die evolusionisme.

In gesprekke oor die gesag van die Bybel word dikwels gesê dat die Bybel 'n tydgebonde boek is. Die eise van die Bybel kan nie meer vir die moderne mens geld nie, want ons is baie verder ontwikkel as die mense van die Bybelse tyd. Die Bybel, so word dikwels gesê, bied vir ons in baie opsigte "oorbruggingsuitsprake", dit wil sê uitsprake wat vir die mense destyds gegeld het net om hulle "oor die brug" te help. Maar ons, die moderne mens, het nou aan die anderkant van die brug opgedaag. Daarom is ons nie meer aan sulke uitsprake gebonde nie. Waar die "anderkant van die brug" is en wie besluit of ons nou wel daar gearriveer het, word nie gesê nie.

Dit word bloot aanvaar in die vooruitgangsgeloof van die evolusionisme.

Daar is selfs diegene wat reken dat ons nou só ver gevorder het dat ons die Bybel glad nie meer nodig het nie. Paul Davies, die skrywer van "God en die nuwe natuurkunde", skryf dat die hedendaagse wonders van die tegniek bewys dat dit vir die mens beter is om die natuurwetenskaplikes se wêreldbeeld te vertrou as dié van die Bybel. Vir Davies vorm die natuurwetenskappe 'n sekerder pad na God, as die godsdiens. Hierdie standpunt berus op 'n evolusionistiese mensbeskouing waarvolgens die mens nou só ver ontwikkel het, dat hy sy eie godsdiens kan skep.

Die "ontwikkelde" mens steeds maar sondaarmens🔗

Met die mens wat sy eie godsdiens skep, is ons natuurlik nie 'n tree verder as die afgodery van die Ou Testament nie. Jesaja skryf al van hulle (Jes. 40:19): " 'n Beeld word deur 'n ambagsman gegiet en deur 'n smid met goud oortrek en met silwerkettings versier. Wie te arm is vir so 'n offer aan sy god, kies hout uit wat nie vrot nie . . ." So het ook die ou heidense beskawings uit hulle waarneming van die natuur vir hulleself gode geskep. Die mens wat vanuit die natuurwetenskaplike waarneming van die natuur, sonder die Bybel, wil besluit wie God is, het dus geen tree gevorder nie.

Dit is wel waar dat God Homself in sy skepping openbaar. So sing ons in Psalm 19 en so bely ons in artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Ons weet egter ook dat die mens deur die sonde só stompsinnig geraak het, dat ons God nie meer uit sy werke kan ken nie. Daarom het God in sy genade sy Woord vir ons gegee sodat ons Hom kan ken soos Hy Hom aan ons openbaar.

Die punt is dat alle mense aan die sonde onderworpe is. As ons van 'n inherente vermoë van die mens wil praat, dan moet ons sê dat hy die inherente vermoë (die natuurlike geneigdheid) het tot die sonde. Ons het egter nie die inherente vermoë om vanself die sonde te bowe te kom nie. Net God het die krag en die mag om ons daarvan te verlos. Dit doen Hy in sy Seun Jesus Christus deur die kragtige werk van die Heilige Gees.

Eskatologiese in plaas van evolusionistiese perspektief🔗

In plaas van 'n evolusionistiese uitkyk op die mens en die wêreld, moet ons dus 'n eskatologiese perspektief hê. Dit wil sê dat ons die geskiedenis van die mensdom moet sien as iets wat in God se hand is en wat Hy volgens sy Raadsplan lei na die doel wat Hy gestel het. God het ons gemaak, met 'n doel. Ja, in hierdie lewe gee Hy aan ons elkeen 'n besliste roeping. Daartoe maak Hy ons bekwaam (Ef. 2:10).

Maar Hy het ons nie net vir hierdie wêreld bestem nie. Na die dood ontvang ons van God die heerlikheid, 'n heerlikheid baie groter as die immer ontwykende utopie wat die mensdom op aarde sonder God probeer bereik. In die opstanding gee God vir die gelowiges 'n herskepte liggaam (1 Kor. 15). Ook sal Hy die huidige wêreld herskep tot 'n nuwe aarde onder 'n nuwe hemel (Openb. 21:1-4). Daar sal Hy alles wees in almal.