2 bladsye.

Geloof is nie Vanselfsprekend nie

In die Centraal Weekblad het prof. Dr. K. Runia onlangs oor geloof geskryf. Vandag is dit moeilik om met God te wandel. Maar vroeër was dit ook nie vanselfsprekend nie:

As hy terugdink aan sy jeug en aan die ouerhuis waarin hy groot geword het, dan het hy die idee dat geloof nie vir sy ouers heeltemal so moeilik was nie. Hulle het op God, wat hulle met ’n opregte hart gedien het, vertrou. Dit kon hy hoor as sy vader gebid het, wat hy by al drie maaltye gedoen het. Hy het gewoon met God soos met ’n groot vriend gepraat.

Dit het die kinders op skool ook gemerk. ’n Paar jaar gelede het een oudleerling gesê: “My geloof het ek menslikerwys te danke aan jou vader. Die manier waarop hy elke môre die Bybelse verhale vertel het, het my altyd bygebly.” Moeder was baie meer gelate, maar Runia twyfel nie daaraan dat ook sy op God vertrou het nie.

Wandel met God🔗

Sy ouers het iets geweet van “wandel” met God. Dit is ’n term wat ons verskeie kere in die Bybel teëkom. ’n Mens wandel in die reël met iemand wat jy goed ken en tydens die wandeling kom allerlei dinge ter sprake.

“Wandel met God” was iets wat God in die oog gehad het vir die mens wat Hy as laaste van alle lewende wesens geskape het. Dit sien ons duidelik in Génesis 3:8. Op die moment het Adam en Eva al van die verbode vrug geëet. En dan staan daar dat hulle plotseling “die stem van die Here God gehoor het terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie”. Dit sou wel elke dag gewees het. Maar hierdie keer is dit die dieptepunt: Hulle het agter die struike in die tuin weggekruip, want hulle durf nie meer voor die Here te staan kom nie.

Later lees ons van Henog dat hy met God gewandel het. (Gén 5:22,24) Ons lees dit ook van Noag. (Gén 6:9)

Hoewel die term in hulle geval nie genoem word nie, mag ons dit wel aanvaar dat Abraham en Sara ook met God gewandel het. Moses word die “vriend” van God genoem. Ons lees van hom: “Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig, soos 'n man met sy vriend spreek.” (Eks 33:11)

Probleme🔗

Die wandel met God beteken egter nie dat dit in die lewens van die mense alles rosegeur en maanskyn was nie. Dit staan nêrens in die Bybel nie. Abraham en Sara moes jarelank wag voordat hulle die vervulling van die belofte mog sien: die seun wat hulle op ’n hoë leeftyd; ons mag wel sê op te hoë leeftyd, gekry het. Moses moes veertig jaar lank as herder met die kuddes van sy skoonvader Jetro deur die woestyn swerf voordat hy geroep is om na Farao te gaan en die vryheid van sy volk op te eis. En aan die einde van die tog deur die woestyn, wat ook veertig jaar geduur het, mog hy nie self die beloofde land binnegegaan het nie!

Mense wat met God wandel, ervaar net soos alle ander mense ook verlies en verdriet, pyn en stres. Runia se ouers het dit ervaar toe hulle een van hul kinders, ’n meisie van vyf, verloor het. Die sussie wat hy self nooit geken het nie, is na ’n ander halwe dag aan ’n siekte dood. Dan kom daar ’n geweldige spanning in die wandel met God. Dan kom die waaroms. Dan kan dit selfs gebeur dat ’n mens heeltemal niks meer van God se nabyheid merk nie. En tog bly jy ook dan op Hom vertrou.

Dit word pragtig aangegee in Psalm 23 wat begin met die mooi woorde: “Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie, na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel.” Dit lyk wel asof daar nie ’n enkele wolkie aan die hemel is nie. Maar dit is nie waar nie, want ’n bietjie later sê die digter: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: U stok en U staf dié vertroos my.” Hierdie woorde beteken nie dat alles maklik gaan nie. Inteendeel, hier is ’n dal van “doodskaduwee”. Dan sien jy niks. Dan kom dit suiwer op geloof aan: en tóg is Hy daar!

Blind vir God se teenwoordigheid🔗

Intussen groei die getal van mense wat heeltemal niks meer by die woord “god” ervaar nie sienderoë. Vandag groei daar ’n generasie op, nie net buite die kerk nie, maar ook binne die kerk, wat geen idee meer het van wat hulle hul by die woord “God” moet voorstel nie. Daarom ervaar hierdie mense ook niks van God nie. Soms sê ons dit so: hierdie mense het geen verwysingsveld meer om die aanwesigheid of nabyheid van God op te merk nie. Wat dit betref is hulle net soos mense wat blind is, hulle merk daar niks van nie.

Antenne🔗

Wie God glad nie ken nie, sal Hom ook nie in lewe teëkom nie. Hy het geen antenne daarvoor nie. Daarom is geloofsopvoeding so belangrik en moet ons daarmee begin as ons kinders nog baie klein is. Juis dan staan hulle dikwels oop vir die werklikheid van God. Natuurlik gaan dit ook hier nie net om verstandelike kennis nie. As dit die kern van die geloof sou wees, sou dominees en professore in die teologie die beste gelowiges wees! Maar ook predikante en teoloë word voortdurend aangeval in hulle geloof. Ook vir hulle kom dit neer op vertroue.

Eén snaar🔗

Die vertroue rig hom op die hart van die geloof: dat ons op God kan reken. Of, soos Kohlbrugge dit op ’n keer gesê het: “Glo is om God vir ’n eerlike man aan te sien.” Hy laat jou nie in die steek nie, hoe sleg die omstandighede ook al is. En dit kan inderdaad sleg wees. Soms staan die werklikheid van ons lewens so haaks op God se beloftes, dat dit onsinnig lyk om daaraan vas te hou. Calvyn sê in dié verband: “Dan het ons niks anders as die naakte beloftes nie.” Ek kan dit ook só sê: dan het ons net één snaar oor op die viool van ons lewe en op dié een snaar kan ons maar een melodietjie speel: die melodietjie van “en tog”. En tog hou ek my vas aan Sy beloftes, want ek is daarvan seker dat Hy nie die werk wat sy hand eenmaal begin het, laat vaar nie.