Bron: Waarheid en Dwaling. 5 bladsye.

Gesag in die Krisis

skepping

In die internasionale kragspel – dit is die staatkundige feite van die dag – behoort die kwessie van gesag benader te word vanuit die hemelvaart van ons Here Jesus Christus. Die hemelvaart is nie net 'n feit wat slegs vir die kerk geld nie. Die hele wêreld is daarby betrokke. Want wat beteken hemelvaart? Niks minder nie as dat God die gesag in hierdie wêreld gestel en gevestig het, naamlik die oppergesag van Jesus Christus. Nie net die kerk ontvang 'n koning in Christus nie, maar ook die ganse wêreld word onder Hom gestel. Hy ontvang immers 'n Naam bo alle name.   Hy sit nou aan die regterhand van die Vader op die troon. Hy word tot Here en Christus gemaak.   Hy word met heerlikheid en eer gekroon. Hy moet nou as Koning heers totdat alles onder sy voete gestel is. Hy is tans die Koning van die konings en die Here van die here. So spreek die Skrif onder andere oor sy hemelvaart. Met hierdie paar verwysings is dit duidelik dat God op hemelvaartsdag die oppergesag van Christus in die wêreld gevestig het.

Alles Onder Een Gesag🔗

Christus het Self ook bely dat alle mag, (alle "exousia") in die hemel en op die aarde aan Hom gegee is. Hy het met sy opvaart in die hoogte sy volmag, sy gesagsbevoegdheid, afgekondig as onbeperk in die hemel en op die aarde. Hy het dié mag gekry, se Paulus, sodat Hy alles aan die Vader sou onderwerp. Sodat Hy alles in almal sou wees. Daarvan is die Skrif vol. Wat daar op die Olyfberg gebeur het, in alle stilte, in die klein kring van die dissipels, sou vandag geen koerantberig haal nie. Dit het die aandag van beide Pilatus en die Sanhedrin ontgaan. Maar hoe stil en klein en sonder gerug dit ook al was, raak dit die hele wêreld.

Op daardie moment het die Menseseun op die wolke van die hemel die Oue van dae genader. Aan Hom word gegee heerskappy en eer en die koninkryk. Dit gebeur in die wêreld van die vier diere, sê die profeet Daniël. Dan word die troon van Christus in die wêreld gestel. Daarin staan reeds ander wêreldlike trone, wat almal aan Hom onderwerp word. Die maghebbers op die wêreldlike trone het daar niks van gesien en glad niks vermoed nie. Tog het dit gebeur. Dit is die effek van hemelvaart: daar word een wêreldgesag gevestig; die gesag van Jesus Christus.

Toe is Psalm 2 vervul: Ek het tog my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. God proklameer Christus tot sy Seun en bewillig al sy eise, want Hy gee Hom die heidene as sy erfdeel en die eindes van die aarde as sy besitting. Omdat op die hemelvaart Psalm 2 sy vervulling vind, daarom is dit nie meer net 'n aangeleentheid van die kerk nie.

Politieke Mag🔗

Omdat Christus na die hemel toe opvaar, word die vraag dringender as ooit: "Waarom woed die heidene en bedink die volkere nietigheid?" Die aanspraak van God op alle owerhede en gesagdraers is beslister en dringender as ooit tevore: "Wees dan nou verstandig, o konings; ... Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie".   Alle trone is nou vasgekoppel aan die groot troon van die Seun. Alle volmag word nou vasgestel deur Hom uit sy eie gesagsvolkomenheid. Alle politieke mag is gestel in diens van Christus en sy ryk. Want Hy is nou die Owerste van alle konings van die aarde. Hulle mag ten opsigte van Hom is alleen maar diens. Hulle gesag is alleen onderwerping aan Hom. Hulle trone is die voetbank van sy voete.

voetbank

Rewolusie🔗

Geen enkele politieke bevoegdheid teenoor Christus kan ooit anders gekwalifiseer word as roeping, opdrag, mandaat nie. Dit is nie so dat die wêreldlike magshebbers 'n eie terrein sou hê met eie regte en aansprake en titels, naas die magsgebied van Jesus Christus nie. Hulle kan nie hulle bevoegdheid afbaken teenoor Hom, en nie hulle majesteit handhaaf en verdedig teenoor Hom nie, want elke majesteit kan hom voor Jesus Christus nie anders aanbied as dienend nie.   Dienaars van God is hulle sedert die hemelvaart van Christus Jesus, aan wie die Vader alle mag verleen ook op die aarde. Elke poging wat hulle aanwend om hulle gesag van Hom af los te wikkel, en om hulle terrein af te grens teenoor sy terrein, en om doelstellings te gee aan hulle gesag los van Christus se mandaat – elke sodanige poging is reeds rewolusie teen Christus Jesus, en 'n verloëning van sy hemelvaart.

Swaarde van Christus🔗

Daar is 'n wêreldlike swaard, wat anders is as die geestelike swaard. Maar die wêreldlike swaard is net so goed die swaard van Jesus Christus, en staan eweneens in diens van sy ryk. Wie daardie swaard mag hanteer, is volstrek gebonde aan die bevel van Hom wat die enigste Koning van die kerk is, en nie minder Koning van alle konings is nie. Omdat die swaardmag deur Christus se hemelvaart bepaal en gekwalifiseer word, is elke gesagskrisis nie slegs 'n politieke kwessie nie, maar 'n religieuse stelling-inname teenoor die Christus aan die regterhand van die Vader.

Die Owerheid vanweë die Sonde?🔗

Die heilsfeit van Christus se hemelvaart moet by ons nadink oor die gesagskwessie aandag ontvang. Bestaan die owerhede net vanweë die sonde? In die raamwerk van A Kuyper se 'algemene genade'-teorie word die owerheid na die sondvloed, in God se verbond met Noag, ingestel. Vele mense aanvaar dit so. Die swaard van die owerheid word dan gesien as al die weldade waardeur God in sý 'algemene genade' die voortgang van die geskiedenis beveilig en die voortgang van 'n draaglike menslike samelewing verseker.

Teenoor hierdie opvatting sê ander dat die owerheidsgesag in die skepping gefundeer is. Hulle bring 'n belangrike aspek van hierdie gesag na vore. Alle mag – ook politieke mag – lê in die skepping veranker. Die owerheid ontvang volgens hierdie siening die swaardmag na die sondeval.

Tog is die twee bogenoemde menings, dat die owerheidsgesag na die sondeval of in die skepping gefundeer is, onvolledig. Die gevaar dreig dat 'n mens in beide gevalle die gesagskwessie staties beskou. Die gesag van die owerheid is dan in die een geval die handhawing van die skeppingstruktuur en in die ander geval die kontinuering van die natuurverbond. In beide gevalle bly dit egter 'n ope vraag waartoe God die gesag van die owerheid daarstel en handhaaf.

Ryker Belydenis🔗

Mense wat in 'n 'algemene genade'-skema dink, sê: Die gesag wat in die skepping gegrond is en nader deur die Noagietiese verbond gekwalifiseer word, is 'nog steeds' daar; die wêreld sit 'nog steeds' in dieselfde raam as vroeër geklem. Die stroom van die lewe vloei 'nog steeds' deur die bedding wat God destyds gegrawe het. Op die terrein van die 'algemene genade' bly alles oud.  Die nuwe wat God tot stand bring, is beperk tot die terrein van die 'besondere genade'. God bewerk iets nuuts in die verlossing van sy volk, in die geboorte, sterwe en verhoging van Christus.

Volgens die 'algemene genade'-teorie het daar sedert die dae van Noag op die terrein van die algemene genade wesenlik niks verander nie, terwyl God op die terrein van die besondere genade van krag tot krag voortgegaan het. Indien dit so sou wees, kan die huidige geslag oor die owerheid niks meer sê as wat Noag en sy gesin bely het toe hulle uit die ark gekom het nie, terwyl ons geloofsbelydenis intussen baie ryker is as Noag s'n.

Ons belydenis het nie bly vassteek by die sondvloed nie. Ons bely die voortgang van Gods werke onder meer op Goeie Vrydag, Hemelvaart en Pinkster. Die kerk met sy hele belydenis is ver verby die stadium van God se verbond met Noag.  Dit geld ook van ons belydenis oor die amp van die owerheid.

ark van Noag

God verrig wesentlik een werk in hierdie wêreld. Hy bou in alle tye aan die oprigting van sy onbeweeglike koninkryk. Dit doen Hy ook reeds toe Hy Noag uit die ark laat kom het en 'n verbond met hom sluit. Hierdie verbond het as inhoud voedselwette, afwisseling van seisoene en die swaardmag. Met die reënboog as seël baan die Here die weg na die vleeswording van die Woord. Dit was nie God se bedoeling om die wêreld op die na-die-sondeval se peil in stand te hou nie.  Hy baan die weg na die koms van die Middelaar, om in Hom die hele skepping te verlos en alle dinge byeen te vergader.

God kontinueer in sy verbond met Noag die wêreld van die beweeglike dinge. Hy stel die swaardmag daar ter wille van die dinge wat nog sou kom. Hy skakel alle gesag in vir sy bou van die nuwe Jerusalem. God stel trone daar en Hy reik swaarde uit, totdat Christus op die dag van hemelvaart die troon bestyg. Hy ontvang alle mag, ook die mag oor die aardse magte. Sedert sy hemelvaart deel Hy die swaarde uit en staan alle owerhede, juis met hulle swaard, onder sy bevel, sodat Hy ook deur die diens van die owerhede alle dinge aan die Vader sal onderwerp.

Ter Wille van Verlossing🔗

Die owerheid is dus daar terwille van die verlossing. God se bedoeling met die owerheid is nie die kontinuering van hierdie wêreld nie. Nee, die owerheid is daar met die oog op die bou van die toekomende wêreld. Alle gesag is opgeneem en ingeskakel in God se eskatologiese heilswerk. So dikwels as God iets nuuts doen, is dit nie maar iets nuuts net vir sy volk nie, maar iets nuuts ook vir alle aardse magte. Alle owerhede is betrokke by die dinamiese ingryp van God tot verlossing. Hulle word deur elke nuwe daad van die Here nader gekwalifiseer. Elke voetstap van Christus, elke trap wat Hy in sy verhoging bereik, raak die owerheid direk.

Omdat Christus se werke elkeen aangaan en sy volmag vandag die werk van alle owerhede beheers en bepaal, kan Paulus in Romeine 13 – in die groot raamwerk van die evangelie van Christus – die kwessie van die gesag aan die orde stel. In die eerste hoofstuk van Romeine staan die tema van die brief. Paulus skaam hom nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo. Want die geregtigheid van God word in die evangelie geopenbaar.1 Dit is die boodskap waarmee Paulus na Rome kom. As hy in hoofstuk 13 die vraagstuk van gesag en gehoorsaamheid stel, dan doen hy dit alleen vanuit die verlossingswerk van Christus Jesus. Dan is ook die owerheid daar ter wille van die besondere genade.

Nie Net vir Christene🔗

Die Here openbaar nie sy genade vir sy kerk en daarbenewens 'n 'algemene genade' vir elkeen nie. Nee, Christus het alle mag in die hemel en op die aarde, oor alle mense in al hulle ampte. Op grond van Christus se mag oor alles en almal sê die apostel: 'Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is'.2 Dit is nie net 'n gebod vir christene nie, maar vir alle mense. Christene en ongelowiges behoort hulle almal aan die owerheid te onderwerp.

Die Here maak in Romeine 13 geen onderskeid tussen christelike en nie-christelike owerhede nie en Hy skryf hier nie 'n bepaalde staatsvorm voor nie. Dit gaan net oor bestaande magte, oor alles wat in Paulus se tyd exousia heet. Die Griekse woord exousia wys op 'n hoër instansie wat gesag verleen en op 'n norm waaraan gesagsdraers moet beantwoord. Owerheidsgesag is dus 'n geskenkte volmag en 'n geleende reg. Hierdie mag is mag om te beveel, kragtens 'n bevoegdheid wat God verleen het.3

Dit gaan in Romeine 13 nie oor 'n instansie wat homself opwerp en 'n sekere magsinstrument tot sy beskikking het om sy mag te laat geld nie, maar dit gaan oor die reg, die mag en die plig wat die owerhede van God ontvang. Regeringsvorms en titels bly hier buite beskouing. Net dit word beklemtoon: Alle sodanige exousia is deur God verorden. Of hulle dit weet of nie weet nie, of hulle dit erken of nie erken nie, die feit is en bly dat alle sodanige mag van God is.

kroon

God beveel alle mense, ongeag of hulle dit aangenaam vind of nie, om hulle aan die mag wat Hy daargestel het, te onderwerp. Die owerheid is ampsdraer van God. Hy wat hom teen die mag versit, weerstaan die instelling van God.4 Daaraan verbind God sy oordeel. In Romeine 13 word die vraagstuk van die gesag tot religie verhef. Owerheidsgesag is nie maar 'politiek' nie. En gehoorsaamheid daaraan is nie maar net 'n buiging voor die sterk arm van die gereg uit vrees vir straf nie. Dit is 'n gewetensaak.5

Goed en Kwaad🔗

As Paulus oor die magte skryf, gaan dit nie oor hulle regte en titels nie, maar oor hulle roeping. Hy skryf nie oor wat hulle kan en mag doen nie, maar uitsluitlik oor wat hulle moet doen.6 Hulle is daargestel tot vrees vir diegene wat kwaad doen, en tot lof van almal wat goed doen.7  Dit sê Petrus ook: tot bestraffing van die kwaaddoeners en tot lof van die goeddoeners.8 God gee aan die owerheid die swaard.9 Die owerheid dra die swaard nie verniet nie, nie sonder sin en doel nie. Hy is die wreker om die kwaaddoener te straf.

Owerhede het mag met 'n opdrag. God dra hulle op om die regsorde te handhaaf.  Hulle moet die ontwikkeling van die kwaad met geweld teenstaan. Nie met hulle eie geweld nie, maar met die geweld van God. Hulle moet straf met die swaard toepas. Dit is nie hulle straf nie, maar die straf van God. Hulle het die opdrag en mag om selfs lewens te neem, omdat God in bepaalde gevalle die lewe wil stilmaak. Verder moet hulle die goeddoeners nie net beskerm nie, maar ook eer. Die goeddoeners behoort lof van die owerhede te ontvang.10 Dit beteken: Die owerheid behoort hulle lewe tot glorie te bring, tot eer in die naam van God.

So moet hulle die weg vir die Here Jesus baan. Owerhede heet 'liturge', dienaars van God. Hulle vervul 'n diens vir die koms van sy ryk. Hulle is dienaars van God, ook in die hantering van die swaard. Van watter God is hulle dienaars? Van die God van die skepping, sodat hulle die lewe wat God geskape het, kan bewaar? Of van die God van die 'algemene genade', sodat hulle die ontplooiing van die menslike samelewing moontlik maak? Sê die apostel nie dat ons vir die owerhede moet bid, sodat ons 'n rustige en stil lewe mag hê nie?11

Hy sê dit inderdaad. Maar daarmee omlyn hy juis skerp die taak van die owerheid. Owerhede moet die moontlikheid van 'n rustige en stil lewe daarstel en handhaaf. Hulle moet met hulle geskenkte mag die lewe teen die geweld en die verwarring wat van buite kom, beskerm, en so ook 'n lewe wat nie van binne-uit verteer word, moontlik maak.12 Alles wat van buite af die orde en veiligheid kom versteur en daarmee ook die innerlike rus bedreig, moet teengestaan word.  Die voorbidding vir die owerheid lê in lyn met die opdrag aan die owerheid om die kwaaddoeners te bestraf en lof te gee aan die wat goed doen.

Eerste Gebod🔗

Wat beoog die Here met die roeping van die owerheid? En watter God is dit wat hulle aanstel? Paulus sê: Bid vir konings en hooggeplaastes, want dit is goed een aangenaam vir God, ons Verlosser. Daar is maar een God. Hy wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Daar is ook net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.13 Paulus fundeer die gebed vir die owerheid op die eerste gebod: Daar is maar een God, die God van die ganse aarde. Hy is nie maar die God van skepping en voorsienigheid nie, maar God, die Verlosser, die God wat in sy soewereine verlossingswil die saligheid van die wêreld soek, en wat die verlossing in Jesus Christus, die enigste Middelaar, bewerk.

Omdat daar een God is en een Verlosser, moet in die hele wêreld die weg vir Hom berei word. In sy groot verlossingsplan ontvang die owerhede hulle eie beperkte taak. Om te preek is nie hulle werk nie. Hulle roeping is wel om die basis te lê vir die prediking. God, ons Verlosser, wil die wêreld bring tot 'n lewe van godsaligheid en eerbaarheid. Dit doen Hy deur die prediking van die evangelie. Hy roep die owerhede om die vloer te lê waarop die kerk die evangelie kan verkondig. Hulle moet reg handhaaf en onreg straf. Hulle moet oor orde en veiligheid waak, want dit is die lewensvoorwaarde vir die prediking.

swaard

God is Verlosser. Daarom skakel Hy die owerheid in om die preekstoel met die swaard te beveilig. Hy wil dat die owerheid die swaard hanteer ter beveiliging van orde, sodat daar plek kom vir godsaligheid; tot handhawing van rus, sodat die lewe in eerbaarheid kan opbloei. Met die wêreldlike swaard moet die weg oop gehou word waarop Christus kom met sy geestelike swaard waardeur ons die verlossing verkry.

Die owerheid het 'n ander liturgie as die kerk, maar is nie in 'n minder mate liturg van Christus nie. Sy swaardmag-bediening is diens van God wat in Christus die wêreld kom verlos. Daarom is die doodstraf en die regverdige oorlog instrumente van die ewige lewe, eskatologiese verlossingskragte. Hulle ontleen hulle betekenis aan God wat die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan  hê.14 Doodstraf en oorlog, wat humaniste as die teendeel van liefde beskou en daarom verfoeilik vind, word vir ons in die Skrif geopenbaar as instrumente van God wat die verlossing van die wêreld soek en bewerk, instrumente op die weg waarop Hy sy diepste liefde bewys.

Endnotes🔗

  1. ^ Romeine 1:16-17. 
  2. ^ Romeine 13:1. 
  3. ^ Vgl. C Kittel. Theol. Wórterbuch zum Neuen Testament, deel 2, oor  exousia
  4. ^ Romeine 13:2.
  5. ^ Romeine 13:5.
  6. ^ Vgl. A Schlatter. Gottes Gerechtigiceit,1935
  7. ^ Romeine 13:3.
  8. ^ 1 Petrus 2:14. 
  9. ^ Romeine 13:4. 
  10. ^ Romeine 13:3.  
  11. ^ 1 Timotheus 5:1-2.
  12. ^ Vgl. MR Vincent,  Word studies in the NT, deel 4, 1946. 
  13. ^ 1 Timotheus 2:3-5. 
  14. ^ Johannes 3:16.