3 bladsye.

Geskok in die Bybel?

geleerdheid

Die woorde van Festus aan Paulus in Handelinge 26:24 – “Jou groot geleerdheid bring jou tot kranksinnigheid”, het my nog altyd laat wonder. Ek weet uit kommentare dat Festus waarskynlik daarmee bedoel dat die dinge wat Paulus so pas daar gesê het, die dinge oor die opstanding uit die dode, so vêrgesog en ingewikkeld is dat dit vir gewone mense na kranksinnigheid klink.

Maar hierdie woorde laat ’n mens tog ook wonder oor die mens se grote slimmigheid. Selfs al kom dit uit die mond van ’n heiden, lyk dit tog of daar in Festus se woorde iets van ’n waarskuwing opgesluit is: Pasop, ’n mens kan so slim geleerd raak dat die eenvoudige waarhede van die Bybel vir jou onaanvaarbaar of selfs onverstaanbaar word.

Prof. Vroom oor die Bybelse Gesag🔗

In ieder geval is ons eie woorde dikwels ’n bewys dat die moderne mens se geleerdheid na sy kop toe gaan. Opmerkings in ’n onlangse artikel in die Nederlandse Gereformeerd Theologisch Tijdschrift (1993, bl. 88 e.v.) is ’n goeie voorbeeld hiervan. Die artikel gaan oor die gesag van die Bybel, en is geskryf deur ene prof. dr. H.M. Vroom. ’n Afrikaanse weergawe van sy woorde (bl. 92) is soos volg:

Dit sou beter gewees het as mense in die verlede nie soveel nadruk op onwrikbare sekerheid gelê het nie... Die gereformeerde steilheid en stelligheid het ’n aweregse uitwerking gehad toe dit blyk dat alles nie so vas staan as wat ons gedink het nie. Baie mense is van die kerk vervreem omdat hulle dit nie kon verwerk dat die gesagvolle aanvaarde geloofswaarhede ten dele mensewerk is nie. Opvattings wat met groot seker­heid as die gereformeerde, ja as Christelike waarheid gepreek is, blyk vir verandering vatbaar te wees. Eers het die slang gepraat en het die skepping in ses dae plaasgevind ... Maar later is (dit) herroep. Die slang het nie gepraat nie en die skepping, so het dit later duidelik geword, het nie in ses dae plaasgevind nie...

Hierop sê prof. Vroom dat as gereformeerdes nie altyd so ’n hoë premie op die onfeilbare gesag van die Bybel geplaas het nie, die skok-effek nou minder sou gewees het, noudat die ware feite aan die lig kom.

Wat die professor skryf, kom daarop neer dat die moderne wetenskap nou gegewens aan die lig gebring het wat die mat onder die voete van die Bybel uittrek. Die Bybel praat nie met soveel gesag as wat ons altyd gedink het nie.

As die Drade begin Uitrafel🔗

Die konsekwensies hier­van reik ver. As aan die een punt van die Skrifgesag be­gin torring word, lê die los drade binnekort orals rond. Kort voor lank spreek die Skrif nie meer gesagvol oor buitehuwelikse seks, oor homoseksualisme, oor burgerlike ongehoorsaamheid en oor die taak en die roeping van die kerk nie. As die Bybel eers deur die we­tenskap aan ’n aanvaarbaarheidstoets onderwerp moet word voordat ons kan glo wat daarin staan, dan het die wetenskap ons nuwe Kanon geword. Uiteindelik beland ons in die situasie dat dit vir die kerk ’n verleentheid word om te glo in die liggaamlike opstanding van Christus, ja om selfs aan die bestaan van God te glo – want die wetenskap kan dit nie bewys nie. Hierteenoor weet ons, juis op gesag van die Skrif, dat geloof anders werk. “Geloof,” hoor ons in Hebreërs 1, “is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Geloof vra dus nie wetenskaplike bewyse nie. Anders sou dit nie meer geloof wees nie.

Skrifgesag nie van Bewyse Afhanklik nie🔗

Boonop is die “wetenskap­like bewyse” wat dan nou die Skrif sou weerlê – onder meer oor die ontstaan van die heelal – nie so wetenskaplik as wat allerweë aanvaar word nie. Juis daarom beplan die redaksie van Die Kerkblad binnekort ’n tema-uitgawe wat juis weer die aansprake van die evolusionisme en die groot-ontploffingsteorie onder die vergrootglas gaan sit.

oerknal

Maar intussen is daar een belangrike saak wat ons nie uit die oog mag verloor nie. Dit is naamlik dat ons nie met verkeerde vrae na die Bybel toe kan gaan nie. Juis wanneer ons die Bybel wil gebruik as handboek vir allerhande historiese en geografiese wetenswaardighede, byvoorbeeld om uitsprake te gee oor hoe oud die aarde is, gaan ons straks teleurstellende antwoorde kry. Nie omdat die Bybel onbetroubaar is nie, maar omdat ons van die Bybel verwag om te sê wat dit nie wil sê nie. As ’n mens ’n verkeerde meetstok gebruik, moet jy nie geskok wees as die meting op die ou einde nie reg is nie.

Alles in ag genome kan die resultate van die natuurwetenskap nooit gebruik word as ’n maatstaf waaraan ons die betroubaarheid en gesag van die Bybel wil meet nie. Wie hom daarmee wil besig hou, mag dalk vind dat sy groot geleerdheid hom tot groot verwarring lei. Want geloof, ware geloof, kom uiteindelik vanuit ’n eenvoudige hart wat gewillig buig onder die krag van die Heilige Gees en wat kinderlik na God luister.

 Ek loof U, Vader,

het ons Here Jesus gesê,

dat U hierdie dinge verberg het van wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.Matthéüs 11:25