Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Gewetensbinding

Tydens die afgelope Sinode (van die Gereformeerde kerke) is daar by verskeie geleenthede teen die gevaar van gewetensbinding gewaarsku. Veral in die besinning oor hoe die Nagmaal gevier moet word, het gewetensbinding dikwels ter sprake gekom. Dit lei tot die vraag: Wat is gewetensbinding nou eintlik?

Gewete🔗

Nêrens in die Bybel kom 'n mens die woord "gewetensbinding" teë nie. Wel lees ons van die mens se gewete (bv. Hand. 23:1; 1 Kor. 10:25-29). Oor wat alles onder "die gewete" verstaan kan word, sou geleerde mense 'n lang psigologiese of filosofiese diskussie kon voer. So iets sou egter nie in hierdie rubriek pas nie. Daarom trek ons hier slegs enkele lyne vanuit die Bybel.

In die Nuwe Testament word die gewete aangedui met die Griekse woord suneidesis. Letterlik beteken dit "saam-weet". 'n Mens sou dus kon sê dat jou gewete 'n wete is wat nie op sy eie staan nie, maar wat saam met iets anders staan. Dit is aan iets gebind. 'n Gewete wat aan niks gebind wil wees nie word gewetenloosheid.

In sy doktorale proefskrif (Das Gewissen, 1925) het wyle professor HG Stoker oor die mens se gewete gesê (p. 257): "Waar die gewete praat, hang dit saam met daardie waarhede wat vir die individu as hoogste en absolute waarhede geld". Die Christen se gewete word dus bepaal deur die waarhede wat hy in die geloof as hoogste en absolute waarhede omhels. En dit is die Skrifwaarhede.

'n Goeie en 'n Slegte Gewete🔗

Bostaande beskouing klop met wat ons in die Bybel verder van die gewete lees. In die Bybel lees ons dikwels van 'n goeie gewete (bv. Hand. 23:1; 1 Tim. 1:5) en van 'n slegte gewete (Titus 1:15; Heb. 10:22). Volgens 1 Timoteus 1:5 gaan 'n goeie gewete gepaard met 'n rein hart en standvastige geloof (vgl. ook 1 Tim. 1:19 en 3:9).

"'n Goeie gewete", sê dr. C Bouma ter verklaring van 1 Timoteus 1:5, "is 'n gewete wat getuig dat die persoonlike verhouding met God goed is, sedelik goed, en in die bepaalde saak aan die norm van God se wet beantwoord".

Dit beteken dat 'n mens 'n goeie gewete het as jy weet dat jou optrede nie indruis teen dit wat God in sy Woord jou beveel nie. 'n Slegte of besoedelde gewete, daarenteen, ontstaan wanneer jy iets doen wat jy weet indruis teen dit wat God in sy Woord beveel.

Goeie Gewetensbinding🔗

Die gelowige se gewete is dus wel gebind - in die geloof aan die Woord van God. Dit is 'n goeie binding. Teen binding van gewete aan God se Woord mag ons geen beswaar hê nie. Trouens, 'n kenmerk van 'n goeie gewete is juis dat dit gebind is aan Gods Woord.

As Gereformeerdes sou ons dit nog fyner kon omlyn: 'n goeie gewete is om innerlik gebonde te wees aan die Skrifwaarheid soos ons dit in ons belydenisskrifte omhels (vgl. prof. G C Berkouwer, Het  Dogma  der  Kerk,  p. 27)

Elke belydende lidmaat verklaar by sy belydenisaflegging dat hy sy gewete aan die Gereformeerde belydenis bind. Op die vraag: "Is dit u voorneme om deur die genade van God in hierdie leer tot die einde van u lewe standvastig te volhard?" kom die geloofsantwoord: "Ja, met my hele hart".

Dieselfde binding vind ons by ouers wat hulle kinders laat doop, en by ampsdraers wat in hulle amp bevestig word. By die ondertekeningsformulier van ampsdraers verklaar hulle hulleself gebonde aan dieselfde belydenis.

In die openlike verklaring by meerdere kerklike vergaderings stel ons dit in soveel woorde as 'n gewetensaak: "Ons omhels van harte en met 'n goeie gewete die Formuliere van Eenheid ..." Dit is 'n goeie gewetensbinding. Teen hierdie gewetensbinding durf ons nie beswaar hê nie.

Indien die kerke dan by so 'n meerdere vergadering (bv. sinode) op 'n sekere optrede ooreenkom wat nie met die Skrif en belydenis in stryd is nie, dan is almal daaraan gebonde. Dit is dan 'n goeie binding.

Slegte Gewetensbinding🔗

Daar is egter ook 'n slegte gewetensbinding. Dit is naamlik wanneer jy of enigiemand jou aan optrede verbind wat jy in jou gewete weet teen die Skrif en belydenis indruis. Teen sulke gewetensbinding moet ons altyd waarsku en waak.

'n Voorbeeld van slegte gewetensbinding vind ons in ons eie geskiedenis, by die afskeiding van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in 1859. In sy Gids vir Kerkgeskiedenis (1992, p. 215) skryf professor V E d'Assonville: "Sonder dat die Gesange volgens die Bybel getoets is, is lidmate se gewetens gebind asof dit 'n Belydenis van die Gereformeerde kerk is". En verder (p. 223): "Die Gesange is sonder die toets van die Bybel op die beswaardes afgedwing. Dit was gewetensbinding".

Gebondenheid en Gewetensbinding🔗

Ons moet dus versigtig wees om al te gemaklik iets waarop die kerke in meerdere vergadering ooreenkom as (slegte) gewetensbinding te beskou. Kragtens ons kerkverband is ons gebind (gebonde) aan besluite wat wel die toets van die Skrif en die belydenis kan deurstaan. Dit is 'n gesonde gebondenheid. Daaraan bly ons gebonde totdat ons oortuigend kan aantoon dat dit in stryd met die Skrif en belydenis is.

Mag ons egter bewaar word daarvan dat ons as kerke mekaar se gewetens sou wou bind aan sake wat nie die toets van Skrif en belydenis kan deurstaan nie. As Gereformeerdes bly ons uitgangspunt: Sola Scriptura - deur die Skrif alleen. Mag ons gewete in die geloof onwankelbaar gebonde bly aan hierdie Skrif. Daarin bring ons aan God die eer toe.

Die afgelope Sinode van die GKSA het 'n beskrywingspunt van die hand gewys waarin gevra is dat die GKSA hom sal uitspreek oor sy aanspreeklikheid vir wat onder die stelsel van afsonderlike ontwikkeling of apartheid op polities-maatskaplike terrein in die verlede gebeur het. Daarop het die dagpers heftig gereageer, as sou die GKSA 'n gulde geleentheid laat verbygaan het om ook skuld te bely oor apartheid.

Dr. Neels Smit dui aan dat die beskrywingspunt in werklikheid vir 'n politieke skuldbelydenis gevra het. Daarin het die pers die Sinodebesluit verkeerd vertolk.

Die foutiewe vertolking deur die pers is juis 'n bevestiging dat die Sinode 'n wyse besluit geneem het. As die Sinode sou besluit het om wel aan die beskrywingspunt gevolg te gee, sou die pers dit eweneens vertolk het as dat die GKSA nou ook begin saamsing in die koor van politieke skuldbelydenisse wat so kenmerkend van ons tyd is. En so iets pas nie by die kerk van die Here nie.

Die pers-argument dat die GKSA relevant sal bly in die Nuwe Suid-Afrika net as dit politieke skuldbelydenisse maak, berus op 'n geweldige misverstand. Dit is naamlik 'n misverstand oor wat die kerk werklik is.

Die kerk is nie 'n organisasie wat met ander organisasies in die samelewing om status en aansien moet meeding nie. Die kerk is nie 'n vereniging wat met mooi uitsprake mense en groepe mense moet probeer paai nie.

Die kerk is die liggaam van Christus, wat sy opdrag van die Here self ontvang, naamlik om sy evangelie in 'n verlore wêreld te verkondig en sy koninkryk te dien. Solank die kerk aan hierdie opdrag getrou bly, is dit relevant - in enige tydsgewrig en omstandighede.

Daarna het die GKSA gestreef in die ou Suid-Afrika. Daarna moet dit bly streef in die nuwe Suid-Afrika. Sou ons ons deur watter mooiklinkende politieke argument ook al laat verlei om die wêreld te begin napraat, dan het ons daar en dan ons relevansie verloor.