Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

God eis geen dankbaarheid

Wanneer die evangelie (blye tyding) van God se weergalose vrye genade verkondig word, is mense se reaksie soms soos volg: “Ja, dit is alles waar en ’n mens wil die genade geensins tekortdoen nie, ..  máár .. daar moet tog óók ’n appèl op die mens gemaak word om vrugte van dankbaarheid voort te bring. Daar moet tog ’n nuwe lewe na vore kom - anders…”

Die “lei van ’n nuwe lewe” word gesien as ’n noodsaaklike uiting van dankbaarheid, waarsonder niemand God sal sien en die ewige lewe binnegaan nie. Dit is hoe sommige preke klink met die gevolg dat mense die erediens verlaat met ’n diepe gevoel van twyfel, onsekerheid en skuldgevoelens. Die vraag is: waar dít gebeur – word daar dan nie júís aan die genade tekort gedoen nie? Menige preek word min of meer soos volg ingeklee: Die eerste deel van die preek word gewy aan ’n uiteensetting van wat God ons alles genadiglik in Christus skenk. Maar, vir ingeval dit te goed klink om waar te wees, kom daar ’n keerpunt in die preek vanwaar voorts verkondig word hoe ons God dankbaar móét wees ten einde wérklik Sy kinders te wees. Die gevolg hiervan is dat in menige kerkganger se gedagtegang die volgorde net mooi omgekeerd is: “indien ek nie méér dankbaarheid bewys as wat tans die geval is nie, sal ek moontlik Sy genade vir ewig verbeur.” Op hierdie manier word dankbaarheid ’n verpligting wat jou net meer en meer onseker maak, want wánneer is “genoeg” nou “genoeg”? Jy weet gewoon nooit wanneer jy dankbaar genoeg is en wanneer jou lewe nuut genoeg is nie. Geen wonder dat vele gelowiges worstel met ’n kroniese gevoel van “tekortskiet” nie! Van die vreugde van die Blye Boodskap kom daar weinig tereg. Die eienaardige ironie is dat  hoe skuldiger die prediker ’n mens laat voel, hoe meer “geseënd” ag mense dié soort prediking.

Wat die saak kompliseer is die feit dat gereformeerdes van kleins af die driedeling van die Heidelbergse Kategismus ken (Sondag 1 HK). Hiervolgens moet ’n mens drie dinge weet om salig te leef en te sterf. Dit is: Hoe groot my sonde en ellende is en hoe ek daarvan verlos is en derdens hoe ek die Here vir só ’n verlossing dankbaar moet wees. Let op die moet. Daardie moet staan in die Nederlandse hersiene uitgawe sedert 1986, maar staan skynbaar nie in vorige uitgawes nie. Die Afrikaanse weergawe in ONS GLO bevat ook die moet. Vóór 1986 het die Nederlands gelui: “ hoe ik Gode voor zulke verlossing zal dankbaar zijn.” Wie die verwysingstekste by Vraag & Antwoord 2 HK nalees, sal opmerk dat nie in een van die Skrifgedeeltes dankbaarheid gevrá word nie – dus word dit geensins as ’n gebod of voorwaarde gestel nie.

Natuurlik beteken dit nie dat die verloste mens óndankbaar sal kan/wil lewe nie, maar dit beteken dat die Bybel vanuit ’n ander hoek teen die saak aankyk. Die Bybel sny nie die dankbare nuwe lewe uit die hout van ’n resultaat-van-die-genade wat in die gelowige se lewe as prestasie manifesteer nie. Tewens, die Bybel gebruik keer op keer ’n ánder woord wanneer daar ’n appèl op die mens gemaak word. Nie dankbaarheid nie, maar geloof. Die Bybel gebruik nie die teenstelling dankbaar/ondankbaar as vertrekpunt nie, maar die teenstelling geloof/ongeloof. Byvoorbeeld: Waarom kon die volk nie die beloofde land binnegaan nie? Was dit as gevolg van ’n gebrek aan dankbaarheid of ’n gebrek aan geloof? Hebreërs 4:2 gee die klinkklare antwoord. Die Here verwyt hulle juis hulle ongeloof (Deut 1:32). Israel se verkeerde verstaan en omgaan met die Wet was ook die gevolg van ongeloof en nie ondankbaarheid nie (Rom 9:32). Wanneer gelowiges positief volgens God se wil leef (dankbaarheidslewe/ nuwe lewe) word gesê dat hulle dit uit geloof doen (Hebreërs 11). Wat God vra, is geloof wat op die belofte van die evangelie (die vrye toesegging van Sy genadige verlossing op Golgota) vertrou. Geloof kleef aan die vrye genade vas. En dit sál tot dankbaarheid en ’n nuwe lewe en goeie werke lei , maar nêrens word hierdie vrug ’n nuwe kriterium nie.

Wanneer die Wet die “reël vir dankbaarheid” genoem word, is dit nie die bedoeling om van die Wet ’n graadmeter van dankbaarheid te maak nie. Dan word die evangelie omvorm tot ’n stuk wettisisme. Hoe dikwels word die evangelieverkondiging verwar met wettisisme – en dit onder die vaandel van dankbaarheid. Hoe moet die begrip “Wet-as-reël-vir-dankbaarheid” dan verstaan word? Die Wet dui die weg, die pad, aan waarlangs die lewensvrug van die geloof tot uiting mag kom. In en deur die evangelieboodskap spreek God ons volkome en ewig vry op grond van Jesus se dood en opstanding. Wie hierdie vryspraak hoor én glo (aanvaar), SAL lewensvrug begin vertoon. Dit is die Gees se werk. Die Wet dui die konkrete praktiese weg aan waarlangs hierdie Geesvrug tot uiting moet kom in die gelowige se lewe. Maar die Wet is geen meter wat die kwaliteitsgehalte van Geesvrug (dankbare nuwe lewe) toets en waarvolgens die gelowige goedgekeur of afgekeur word nie. Daarom dien dit geen goeie doel vir ’n gelowige om hom/haarself te verknies oor die graad van dankbaarheid wat in sy/haar lewe sigbaar is nie. Sodoende word die aandag op die mens-en-sy-innerlike gefokus en weggedraai van Christus af. Nee, waartoe die Skrif ons oproep is om altyd weer die belofte van die evangelie – naamlik dat ons vrygespreek is op grond van Christus se offer -  voor oë te hou en gelowig dááraan vas te kleef. Gevolglik sál die lewensvrug van dankbaarheid na vore kom – in die volle gees van die Wet. Dit doen die Gees.

(Hierdie artikel is gebaseer op ’n artikel deur ds. B Luiten wat in die tydskrif  De Reformatie verskyn het op 10 September 2005 )