2 bladsye.

God se Geregtigheid en Goedertierenheid

Die Bybel spreek op ʼn boeiende en veelsydige manier oor God se geregtigheid. Ouer mense sal met die gedagte vertroud wees dat geregtigheid beteken dat God elkeen gee wat hom toekom. Dit wil sê: loon aan wie goed doen en straf aan wie kwaad doen. Hierdie invulling van die woord geregtigheid gaan terug na Griekse wysgere en na die Romeinse reg. Geregtigheid is dan die vergeldende geregtigheid, ten goede en ten kwade. Omdat ons almal sondaars is, bly vir mense net geregtigheid ten kwade, dus die straffende geregtigheid, as enigste betekenis oor.

Dit sal vir baie ʼn verrassing wees dat die Bybel ook anders oor geregtigheid spreek. Veral Luther het dit as ʼn bevrydende verrassing ervaar. God se eisende, veroordelende en straffende geregtigheid het hom geestelik doodgedruk. Daar was geen ruimte om te lewe en asem te haal nie. Hy weet hy is verlore en bly verlore. Daardie eensydige invulling van geregtigheid pas nie as ons in die Psalms ʼn digter hoor smeek om redding en bevryding juis met ʼn beroep op God se geregtigheid (bv. Psalm 7:12). Dieselfde tref ons aan in Psalm 31:2, terwyl die digter in vers 10 bid om genade! Geregtigheid kan nie beteken 'ek het dit verdien dat U my red' nie. Ek het reg daarop, want ek het U wet geheel volbring. Beide Psalms laat ʼn toon van ootmoed en die smeek om genade hoor. Ons kan in hierdie (en ander) Psalms nie regkom met 'my redding is my reg' nie. Tog word op God se geregtigheid gepleit. Wat kan dit dan beteken?

Geregtigheid van God wil sê dat Hy handel na Sy gegewe woord. Hy is trou aan wat Hy beloof en gedreig het. Beide behoort tot God se geregtigheid. God is die regverdige Regter (Psalm 7:12). Niemand wat lewe is voor God regverdig nie (Psalm 143:2). Daar is heelwat plekke in die Bybel waar geregtigheid inderdaad op die te verwagte straf en vergelding sien. Ons noem enkeles: Psalm 11:5-7; Jesaja 5:10; 10:21; 59:16-18 en met name Daniël 9, waar Daniël skuld bely voor die volk; veral vers 7. God se geregtigheid staan as regverdige vergelding teenoor al wat Israel verkeerd gedoen het. Die oordeel van die ballingskap is te wyte aan God se regverdige oordeel. Israel kan God geen onreg verwyt nie. God is ook in Sy gerig regverdig (sien vs. 4-14). Die hele gedeelte is ʼn erkenning van God se reg om Israel te behandel soos God gedoen het. Die HEERE het straffende geregtigheid aan Israel betoon. Daar is egter ook ʼn ander kant aan God se geregtigheid. Hierbo het ons verwys na Psalm 31 en 71. In Psalm 98:2, 3 lees ons: 'Die Here het sy heil bekend gemaak, sy geregtigheid voor die oë van die nasies geopenbaar. Hy het gedink aan sy goedertierenheid en sy trou aan die huis van Israel; al die eindes van die aarde het die heil van onse God gesien.' Hier staan geregtigheid sinoniem (ʼn woord met dieselfde betekenis) met heil. Juis in verband met heil en geregtigheid word herinner aan God se goedertierenheid en trou. Geregtigheid beteken hier dat die HEERE aan die woord van Sy genade gedink het, aan sy belofte van trou − dwars deur Israel se ontrou heen. Ook in Jesaja 46:13 is geregtigheid en heil sinoniem. In Jeremia 23:6 word oor die regverdige Spruit uit David se huis gespreek. Hy is die messiaanse Koning. Hy dra die naam 'die Here ons geregtigheid.' Hoekom juis die naam? Omdat Hy die Emmanuel is wat ook Jesus genoem word, 'want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos' (Matteus 1:23 en 21). Daarom lees ons dat die Koninkryk van die Messias gegrondves sal wees op reg en geregtigheid (Jesaja 9:6). Tenslotte, die woord geregtigheid word in die meervoud gebruik. Daarmee word dan gewys op die verlossende dade van die God van Israel. Samuel gebruik die meervoud om te herinner aan alles wat die HERE in Israel se geskiedenis tot verlossing van Sy volk gedoen het (1 Samuel 12:7). Ons kom die uitdrukking in die Nuwe Testament veral teë as geregtigheid van God in die briewe van Paulus (Romeine 1:17; 3:21,22). Ons mag hierdie uitdrukking in die lyn van die Ou Testament opvat. Dit gaan oor God se heilbringende geregtigheid. Paulus spreek oor God se geregtigheid steeds in verband met die werk van Christus, met Sy dood en opstanding. Dan kry 'geregtigheid van God' ʼn toegespitste betekenis. 'Geregtigheid Gods' wys daarop dat God sondige mense regverdig verklaar. Ons het hier te doen met die heil waarvan die Ou Testament spreek. Geregtigheid van God sien op die heil wat God bring. Nou word as vervulling van die Ou Testament daardie heil nader aangedui. Dit is heil wat deur Christus verwerf is en in Sy naam ons toegereken word. Dit is by Paulus baie spesifiek die regverdiging deur die geloof. Op ʼn pragtige manier kom hier die heilsboodskap van die Ou Testament tot sy ontplooiing en volle vervulling. God Self sorg kragtens sy geregtigheid daarvoor dat ʼn sondaar regverdig (gereken) word.

Die uitdrukking 'geregtigheid Gods' kry dan twee kante: die heilsinisiatief ooreenkomstig Sy belofte vanaf die paradys, dwarsdeur die hele Ou Testament. Die uitdrukking bevat ook die regverdig vir God gereken word om Jesus ontwil op grond van God se geregtigheid. Die vervulde belofte van God se geregtigheid het as inhoud die aan sondaars toegerekende en so geskenkte geregtigheid. Paulus sê: 'Hom het God voorgestel in sy bloed as ʼn versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God − om Sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is' (Romeine 3:25, 26). In my bydrae aan die 'Beknopte Gereformeerde Dogmatiek' het ek in hierdie verband gespreek oor die Christologiese en tegelyk oor die heilshistoriese vervulling van God se geregtigheid in die Ou Testament. As samevatting van die bostaande sê ons: Wat God se geregtigheid inhou, kan ons alleen in die Bybel lees en aan die Bybel ontleen. Die beide aspekte van God se handel: nl. om die kwaad te straf en self die inisiatief te neem tot verlossing, vorm die inhoud van God se Woord. Daarom is hierdie tweevoudige inhoud ook die inhoud van God se geregtigheid. Vir die Nuwe Testamentiese spreke oor geregtigheid as straf verwys ons na 2 Tessalonisense 1:5-8 en Openbaring 16:5-7, veral die slot van vers 7:

Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele.

God se straffende geregtigheid is hier ʼn bevestiging van God se waaragtigheid. Sy hou ook direk verband met Sy almag.

Dit sal duidelik wees dat die hele Bybelse boodskap deurtrokke is van God se geregtigheid. Ons kan dit nie breër uitwerk nie. Ons noem enkele punte wat in die Bybelse boodskap sentrale punte is. God straf die sonde en sondaars. Hy doen dit met tydelike en ewige strawwe, soos die kategismus in Sondag 4 sê. Die ewige oordeel oor mense is nie in stryd met Sy geregtigheid nie, maar is uitdrukking daarvan. Ook in die geskiedenis van die wêreld, van volke en enkelinge word God se geregtigheid na haar oordelende kant openbaar. Dit werp lig op moeilike vrae in verband met God se voorsienigheid. Ons sê nie − sien bo − dat alle vrae so opgelos word nie. Ons sal egter God se straffende hand uit die geskiedenis nie kan of mag wegvee nie. Ook in die leer van die verlossing en daarmee in God se sorg vir die heil word God se straffende geregtigheid openbaar. Mens kan jou die kruis van Christus is nie indink buite die geregtigheid van God in haar eisende en straffende gestalte om nie. Die hele verlossing draai om die tweevoudige inhoud van God se geregtigheid. Wie geregtigheid alleen opvat as liefde, as verlossing buite die gerig om − soos vele doen − trek die boodskap van verlossing en gerig uit die Bybelse verbande. Erger nog: hy doen tekort aan God se geregtigheid en ook aan ander volmaakthede. Immers, ook God se almag en God se goedheid word dan van die tweevoudige inhoud van geregtigheid gestroop. Die tweevoudige inhoud vind ons in al God se deugde.