Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Goud uit Dordt

Predikante, kerkraadslede en lidmate (van die meeste gereformeerde kerke) het voor die HERE ‘n gelofte afgelê dat hulle die inhoud van die Dordtse Leerreëls onderskryf as ten volle in ooreenstemming met die Woord én dat hulle álles wat daarmee strydig is, sal beveg en verwerp. Die vraag is tot watter mate die inhoud van die Dordtse Leerreëls bekend is aan diegene wat hierdie gelofte afgelê het? Tot watter mate is hierdie kosbare goud al ontgin en is dit ‘n deurslaggewende faktor in gelowiges se daaglikse geloofslewe en in leraars se prediking en pastoraat? Of gebeur dit in die praktyk dat die inhoud van Dordt deur allerlei interpretasieverskille kragteloos gemaak word? Binne sommige NG kringe word daar deesdae koorsagtig geveg vir die aanvaarding van ‘n vierde belydenisskrif (Belydenis van Belhar), maar hoe kan so iets gebeur indien daar oënskynlik nie eens volstrekte eenheid bestaan oor die Drie Formuliere van Eenheid nie en (byvoorbeeld) die Dordtse Leerreëls deur meningsverskille kragteloos gemaak word?

Die inhoud van die Dordtse Leerreëls laat in werklikheid nie veel ruimte vir interpretasieverskille nie, want dit spel die Evangelie van genade op ‘n helder verstaanbare manier uit. Wie dit gelowig en onbevange lees, kan nie anders as om die oneindige troos van die Blye Boodskap klinkklaar te hoor nie. Die Leerreëls adem juis ‘n sensitiewe pastorale gees in teenstelling tot die kille rasionele styl waarvan dit soms beskuldig word. Dit is die oogmerk van hierdie artikel om aan te dui hoe gereformeerdes die Bybel verstaan wat betref sekere kernaspekte van die evangelieboodskap soos dit in die Dordtse Leerreëls bely word. Die bedoeling is dat die leser die teks van die Dordtse Leerreëls byderhand sal hou en self alle verwysings lees.

Volgens die Dordtse Leerreëls verstaan gereformeerdes die Evangelie soos volg ...

  1. ... Die realiteit van die erfsonde is die hartklop van waaruit die Blye Boodskap verstaan word. (hfste 1:1, 2:8, 3/4:2, 3/4:3, verwerping van dwalings 3/4:1). Alle mense het hulleself in Adam skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Die mens het homself – in Adam en deur eie skuld – van God vervreem en in die verderf gaan dompel (3/4:1). God het nie sommige mense bestem vir die verderf nie! Die hele menslike ras het in Adam self gekies om verderf toe te gaan. Wat God dus in alle regverdigheid moes doen, was om die mens te laat bly op hierdie selfgekose weg. Hy sou niemand veronreg het indien Hy almal in die sonde en onder die vloek sou laat bly nie (1:1). Dit sou absoluut regverdig wees.
  2. ... Die sondeval het die algehele verdorwenheid van die mens (3/4:3, verwerping van dwaling 3/4 :4) asook die algehele verdorwenheid van die gevalle mens se wil (verwerping van dwaling 3/4 :3) tot gevolg gehad. Die gevalle mens het geen begeerte om met die Here te leef nie. Hy kies die ongeloof. Die gevalle mens het wel ’n vrye wil, maar dit gebruik hy om slegs die ongeloof te kies! Geen mens volhard in ongeloof omdat die Here dit vir sommige so bestem het nie. Dit is die mens se vrye keuse in sy geestelike doodsheid kragtens die val (Ef. 2: 1e.v.). Dit sou mens nie verbaas indien die Here in Sy regverdigheid die ganse menslike geslag sou laat bly op hul selfgekose pad-na-die-verderf nie. Niemand verdien iets anders nie.
  3. ... In Sy verregaande en onverklaarbare genade het God egter besluit om nie almal in die selfgekose verderf te laat bly nie, maar om vir Hom ‘n bruid te versamel vanuit alle nasies. Voor die skepping reeds (1:7) het Hy besluit om, vanuit die hele mensdom - van wie almal ewe verlore is - vir Hom ‘n bruid uit te kies vir wie Hy sal salig maak (1:7, verwerping van dwaling 1:1). Dit beteken nie dat Hy diegene verkies het van wie Hy vooruit gesien het wie Hóm sal kies nie (1:9, verwerping van dwaling 1:5), maar die verkiesing is die oorsaak van die geloof. Geen menslike daad of hoedanigheid is ’n voorwaarde tot die verkiesing nie (1:10). God het nie sekere voorwaardes (bv. geloof, bekering, vroomheid) verkies, waaraan voldoen moet word en wat Hy met die ewige lewe beloon nie (verwerping van dwaling 1:3). Die motivering agter die verkiesing lê glad nie by die mens nie, maar slegs in God se liefde (1:10). Niemand verdien dit nie, daarom kan niemand Hom beskuldig van onreg nie. Slegs Sy genade kan aanbid word. Die ongelowiges sou maar te dankbaar wees dat hulle verbygegaan is, want hulle verkies die dood en heg geen waarde aan geestelike dinge nie (3/4:15). Die gelowiges kniel egter in diepe verwondering voor God, wetende dat hulle verlossing ten volle aan Sy verbysterende verkiesende genade te danke is (1:18).
  4. ... God het dus werklik by sommige verlorenes verbygegaan in Sy verkiesing – soos dit Sy reg is en soos wat Hy in elk geval by álmal móés verbygegaan het in Sy regverdigheid (1:15, verwerping van dwaling 1:8). Niemand verdien beter nie. God is aan niemand die saligheid verskuldig nie.
  5. ... Christus is as Middelaar gegee om die uitverkorenes onfeilbaar salig te maak. Slegs die uitverkorenes is deur die Vader aan Christus gegee (1:7). Hoewel Sy kruisdood genoegsaam is om alle individuele mense te red (2:3), is slegs die uitverkorenes daardeur effektief met God versoen (2:8). God het Sy Seun na die kruis gestuur met die vaste besluit om sekere mense daadwerklik met Homself te versoen (verwerping van dwaling 2:1). Christus het dus slegs vir die uitverkorenes gesterf en húlle sodoende met God versoen (verwerping van dwaling 2:7). Dit is onwaar dat álle mense in die versoening opgeneem is (verwerping van dwaling 2:5). Dit is onwaar dat God eintlik aan álle mense die versoening – wat deur Christus bewerk is – wil gee, maar dat dit van die gevalle mens se vrye wil afhang of hy dit wil aanneem of nie (verwerping van dwaling 2:6). Die gevalle mens se gewaande “vrye wil” beslis nie oor die heil nie, want hy beskik nie oor ’n vrye wil nie (3/4:3). Om te beweer dat God aan die gevalle mens alles voorsien wat nodig is, maar dat dit afhang van die mens om sy plig te doen, is om die Woord grondig mis te verstaan (verwerping van dwaling 5:2). So asof die mens homself kan bad omdat God die waslap, seep en rugborsel voorsien het! Dit is onwaar dat God net die middele wat tot geloof kan lei aan álmal geskenk het, maar dat die mens kan kies om dit te gebruik of nie (verwerping van dwaling 3/4: 5). Indien dit so sou wees, sou dit in beginsel impliseer dat óf niemand óf almal gered kan word (verwerping van dwaling 2:3). Dit is in stryd met byvoorbeeld Jes. 53:10. Christus het nie net die moontlikheid geskep dat mense gered kan word – mits hulle dit verkies - nie. Nee, Hy het mense effektief met God versoen. Wie? Almal wat die Vader aan Hom gegee het (2:8, Joh. 17:2). Die Herder lê immers Sy lewe vir Sy skape af (Joh. 10:11). Elkeen wat die Vader aan die Seun gegee het, sál na Hom toe kom (2:8, Joh. 6:37). Só vas en seker is die gelowige se verlossing.
  6. ... Dit sou nie beteken dat die uitverkorenes, wie Christus met God versoen het, outomaties buite-om die geloof in die heil deel nie. Wat God beloof het, moet geglo word, anders word God tot leuenaar gemaak. Die versoening wat Christus bewerk het, word deur die geloof ontvang en dit lei tot bekering. Wie glo dat hy/sy op Golgota verlos is, sál omdraai na God toe. Tog is die geloof nie die mens se aandeel in die redding nie! Die mens werk nie saam met God om gered te word nie (verwerping van dwaling 3/4:9). Dit is nie so dat God se genade en die mens se vrye wil saamwerk (verwerping van dwaling 3/4:9) in die verlossing nie – so asof die genade slegs ‘n hulp (ligte aansporing) is vir die mens om in beweging te kom (verwerping van dwaling 3/4:7). Geloof is nie iets wat God aan die mens se wilskeuse aanbied nie (3/4:14). Geloof is nie díé één dingetjie wat die mens moet doen om God se guns te verkry nie (verwerping van dwaling 2:4) – dit sou beteken dat geloof ‘n stuk wetsgehoorsaamheid (2:4) is wat beloon word. Die mens word nie deur wetsgehoorsaamheid (voorwaardes waaraan voldoen moet word) gered nie (3/4:5). God gee nie die ewige lewe as beloning vir iemand se bekering nie, want dan is bekering wetsgehoorsaamheid.
  7.  ... Geloof is slegs die middel waarmee die versoening wat rééds volmaak bewerk is, ontvang word. En die gevalle mens besit nie die vermoë om dit te ontvang nie (Joh. 6: 44,63,65). Die geloof is nie ‘n vermoë wat God aan alle mense gee en wat die mens slegs moet gebruik nie (3/4:14). Inteendeel: God skep letterlik die geloof in die gevalle mens deur middel van die hoor van die evangelie. Die prediking is die primêre instrument wat die Here gebruik (5:14), maar ook die sakramente en die tug (3/4:17). Hy oorwin letterlik die mens se hart al pratende. Op hierdie manier is die geloof ‘n gawe van God (1: 5-6). Hoe dikwels word gedink dat geloof ‘n gawe is omdat God die vermoë om te glo aan alle mense géé – maar dan lê die beslissing uiteindelik by die méns om te kies om daarvan gebruik te maak of nie. Nee! Die hef is nooit in die méns se hand nie. God skenk die geloof deur dit letterlik in te gee/in te stort in die uitverkorene se lewe (3/4:14, verwerping van dwaling 3/4:6) en dit doen Hy deur die aanhoor van die Woord (3/4:17). Hy buig letterlik die gevalle hart om tot geloof (1:6). Die mens word nie gered op grond van geloof nie, maar wel langs die weg van geloof. Dit lê dus nie in die gevalle mens se eie mag om wedergebore te word of sy eie wedergeboorte te weerstaan nie (verwerping van dwaling 3/4: 8).
  8. ... Die gelowige kan dus absoluut seker wees van sy verlossing, uitverkiesing én volharding. Christus sal nie een van diegene wat die Vader aan Hom gegee het, verlore laat gaan nie, maar hulle almal uit die dood laat opstaan (Joh. 6:39). Let op: Christus doen dit! Die sekerheid lê veranker in Christus en Sy verdienste. Wie in Hom glo, mag seker wees van sy/haar uitverkiesing, want God het mense in Christus verkies (Efes 1:4). Dit is nie nodig om te soek na allerlei tekens wat op die verkiesing sou dui nie (5:10). Nee, wie ook al die prediking van Christus hóór, mág onmiddellik glo. Wie op Christus se verdienste alleen vertrou, hét die sekerheid van die verkiesing en die sekerheid van volharding in die geloof. Niemand wie die Vader aan Christus gegee het, sal verlore gaan nie (verwerping van dwaling 1:6, verwerping van dwaling 5:3). ‘n Gelowige kan nie uitval uit God se hand nie (5:6, Joh. 10:28). Die gelowige kan nie die wedergeboorte verloor nie (verwerping van dwaling 5:8). Die volharding is nie afhanklik van voorwaardes waaraan die gelowige moet voldoen nie, maar is die vrug van die uitverkiesing (verwerping van dwaling 5:1). Ten spyte van stryd en die aanvegtinge van die sondige natuur (5:11), bewaar God Sy kinders (5:7, 1 Kor. 1:8) d.m.v. Sy genademiddele – die Woord en die sakramente (5:14) en Hy sluit die gelowige se kindertjies by Sy genadeverbond in en beskou hulle as heilig (1:17). ‘n Mens sou kon dink dat hierdie verruklike sekerheid die gelowige onverskillig, sorgeloos of hoogmoedig sal maak. Juis die teendeel is waar: dit is juis die aansporing tot méér toewyding, dankbare goeie werke en wederliefde (1:13, 5:12, verwerping van dwaling 5:6).

Hiérdie blye nuus moet steeds met heilige ontsag in elke gemeente verkondig word (1:14).