Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

(Kerk)verband en verheerliking

Kerkverband is vir baie in Suid-Afrika ‘n saak van ‘n mistieke onkenbare “onsigbare kerk”. Eenheid tussen kerke word nie altyd verstaan as ‘n saam leef met mekaar in ‘n kerkverbandelike liggaam nie. Ek kies doelbewus om hier van “liggaam” te praat omdat ek oortuig is dat die beeld van die liggaam vir die plaaslike kerk wat deur Paulus in 1 Korinthiërs 12 gebruik word, nie sonder betekenis vir die lewe in die kerkverband is nie. Niemand van ons ontken dat daar in die kerk baie onsigbaar is nie. Ons kan dadelik dink aan die onderlinge liefde vir mekaar, ons liefde vir ons Here en ons gelowige vertroue op Hom. Dit alles word wel heel konkrete werke van liefde en vrug van geloof wat elke dag gesien kan word!

In die kerke is daar nog meer wat sigbaar is - die eredienste, onderlinge saamkom en saamleef, diensbaarheid aan mekaar neem heel sigbare vorms aan; kerklike vergaderings, nagmaaltafels waaraan uit een beker gedrink en van een brood geëet word. Dit beteken nie dat ons ‘n keuse maak om eerder te praat van ‘n “sigbare kerk” nie. Behalwe dat die Skrif nie só oor die kerk praat nie, lei dit hopeloos te maklik tot statiese denke oor die kerk. Ek bedoel maar net om daarmee te sê dat mense hulle dan weer gaan verkyk aan wat ons so maklik “my kerk” noem. Só word die oë afgetrek van Christus wat verheerlik moet word in die eenheid binne ‘n kerkverband.

Dit laat my dink aan Jesus se bekende gebed in Johannes 17. Baie mense lees dit as dié skrifgedeelte oor kerklike eenheid. In ‘n sekere sin is dit ook. Maar dit gaan nie in die eerste plek in daardie gebed om kerk en kerkeenheid nie. Christus bring self in daardie (hele) gebed sy eie werk as Middelaar na die Vader. Sy hele gebed staan in die teken van die eerste woorde : “Vader, die uur het gekom; verheerlik U Seun, sodat U Seun U ook kan verheerlik -…”. Dit laat ons al reeds nadink oor die implikasie van sy gebed om die eenheid van die kerk in die lig van die Vader wat die Seun verheerlik en die verheerliking van die Vader deur die Seun !

Kerkverband is ‘n saak van ‘n genadegeskenk van God in sy Seun vir ons. Kerkverband wat op geloof gebaseer is, is ‘n beantwoording van ons Middelaar, Jesus Christus, se gebed deur ons Vader in die hemel. Juis daarom is ‘n verband tussen kerke nie iets wat ons moet “maak” of “skep” nie. Dit is een van die baie mooi geskenke en gawes wat ons saam met Christus kry. Gemeenskap van die heiliges/gelowiges is die saam deel aan al die skatte en gawes van Christus (vgl. H.K. Sondag 21).

Kerkverband is iets wat ons “ontdek” wanneer ons oë van geloof oop is om die werk van Christus ook by ander raak te sien. Dan weet ons, ons is een bruid met een Bruidegom. Want ons eenheid lê in Hom. In ons een geloof in Hom. Daarom kan Paulus in die konteks van kerkeenheid praat oor een liggaam (vgl. Ef. 4:4). En in een liggaam is daar die een Gees, soos ons geroep is, een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.

Kerkverband is die heerskappy van Een oor almal…en dit is ‘n genadeheerskappy deur Hom wat opgevaar het na die hemel en nou hier op aarde in sy een kerk gawes gee (Ef. 4 : 4 – 16). Kerkverband is nie ‘n saak van “sigbaar” of “onsigbaar” nie. Dit is ‘n saak van geloof in Christus wat self bid vir die eenheid en Homself daarvoor oorgegee het in die hande van die Vader aan die kruis. En ons weet dat die Vader Hom altyd verhoor. Jesus bid hierdie gebed aan die eerste nagmaaltafel. Die vrug van die gebed van Jesus sal dan ook heel konkreet (sigbaar!) moet word aan een nagmaaltafel. Kerklike eenheid is nooit enigiets minder as ‘n saam eet aan die een tafel van hulle wat geheilig is in die Here se waarheid nie - sy Woord (evangelie) is die waarheid (Joh. 17 : 17).