Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Kom Saam met Ons

oog

Op ʼn vorige geleentheid het ek betoog dat jy nie noodwendig God se eenheid voorop moet stel nie. Begin deur Vader, Seun en Gees elkeen te ken. Sien dan vervolgens hoe harmonieus hulle saamwerk. En erken so dat daar tussen hierdie drie Persone eenheid is.

Op hierdie geleentheid het ons ook genoem dat ʼn preek wat oor die Heilige Gees gegaan het, vir sommige mense nie so interessant was nie, want dit het veel meer oor die Gees self gegaan en nie oor wat Hy in ons doen nie.  Ons is dikwels meer geïnteresseerd in wat God vír ons doen as in wié Hy is. Verbeel jou dat jy in ʼn verhouding vir jou ‘maat’ sê: ek is baie geïnteresseerd in jou beroep, jou hobbies, jou mening en wat jy vir my kan beteken. Maar wie jy regtig is, dit beteken nie so veel vir my nie. Ek het geen behoefte om diep in jou oë te kyk nie. So iets pas nie in ʼn liefdesverhouding nie!

So is dit ook by die HERE. As jy van Hom hou, dan is jou blik nie gerig op wat jy alles van Hom kan kry nie, maar dit is juis gerig op wie Hy is. Dan maak dit jou diep gelukkig om God ‘diep in die oë te kyk’. Om God te ken is om te lewe (Joh. 17:3).

Ons is in hierdie artikel weer besig met ons verhouding met God. Met dit wat ons daarin ervaar, al dan nie. Met die kwaliteit van die verhouding self.

Dit is heilsaam om jou in jou verhouding met God volledig op Hom te konsentreer. Om Hom te ken as Drie-Enige sal ons verhouding met Hom prakties baie goed doen.

Egosentries?🔗

Ek het ʼn keer gehoor dat dit vir iemand onuitstaanbaar was dat God op soek is na Sy eie eer.

Dit sou inderdaad egosentries wees as die HERE ʼn eensame enkeling was, ʼn Allah. ʼn Moslem het eenkeer vir my verduidelik hoekom jy Allah met soveel oorgawe moet dien: want Allah is trots… So ʼn eensame enkeling kan slegs vir homself lewe. In so ʼn geval sou God net ʼn eisende God wees.

Maar die HERE is ʼn God wat gee. God se eer funksioneer slegs in die weg van die Drie-Eenheid. Dit is die Vader, die Seun en die Gees se eer. Nie een van hulle is egosentries op hulself gerig nie. Maar die Vader verheerlik die Seun. En die Seun die Vader. En die Gees verheerlik albei. Al drie gee. Juis as ʼn God wat gee, kom die HERE tot sy eer.

En Hy betrek ons daarin. Die Vader se liefde vir die Seun is ook vir ons. En die liefde van die Seun vir die Vader wil deur ons gaan. En die Gees leer ons om Albei lief te hê.

Om God so te ken neem dadelik alle afstandelikheid weg. Dat God gedien wil word, gee nie ʼn koue gevoel nie. In Homself tintel Hy van lewe en liefde.

Dit hou ook verband met die punt waarop mense soms totaal tou opgooi: die eis van die verbond. Ek moet so baie dinge doen! Al sê ʼn mens 100 maal vir mekaar dat dit nie ʼn plig is nie, maar ʼn saak van liefde, en dat God dit self in jou werk, kom dit nogtans nie so oor nie. En die rede hiervoor het ten diepste te make met jou Godsbeeld. Wat sien jy as jy aan God dink: ʼn Eisend of ʼn gewende God?

Gereformeerde Geloofsbelewing🔗

Tegelykertyd blyk dit dat hierdie gewende God nie Iemand is wat maar net oor Hom laat loop nie. Hy is nie ‘sag’ soos wat dit soms onder mense genoem word nie. Ook so ʼn God bly ʼn eensame enkeling. Verleë oor kontak met mense. Dan begin ʼn mens al gou te praat van God se lyding en swakte.

Bybellees

God gee liefde, Hy is op soek na ʼn verhouding. Maar Hy het ons nie daarvoor nodig nie. Vader, Seun en Gees het mekaar. Hou daarom tegelykertyd vas aan God se indrukwekkende hoogheid en sy hartverwarmende liefde! So iets werk deur in jou geloofsbelewing. Die beeld van ʼn  ‘eensame enkeling’ maak jou tot ʼn bang Christen met ʼn pligte-geloof. Afstand sonder nabyheid. Of tot ʼn verwaande religieuse persoonlikheid. Nabyheid sonder afstand. Om God te ken as Vader, Seun en Gees leer ʼn mens die regte sfeer:  Afstand en nabyheid tegelykertyd. Diep onder die indruk van sy hoogheid en diep geraak deur sy liefde. Dit tipeer van vroeg reeds die Gereformeerde geloofsbelewing teenoor ander vorme. In hierdie verband gebruik die Kategismus byvoorbeeld die woordkombinasie ‘ontsag en vertroue’. En die Bybel ken die samehang van ootmoed en blydskap, en die pragtige uitdrukking ‘vrees van die HERE’.

Herkenning in Jou Lewe🔗

Om God te ken soos Hy is, is ʼn voorwaarde om Hom op te merk in jou lewe. As jy Hom nie ken nie, dan sny jy byvoorbaat kanse af om Hom te ontmoet.

Die doopsformulier leer dat die drie Persone elk hul eie beloftes maak. Vanuit hierdie feit kan jy die lewe in die verbond onder verskillende invalshoeke leer sien, en die verhouding met God in die middel van die lewe laat funksioneer. So iets is nie onbelangrik in ʼn tyd waar dit vir ons moeilik is om te sien dat die HERE aan ons lewe verbonde is nie.

Die Vader bied sy sorg as skepper wat nog regeer. Hy gee die goeie en gebruik die kwade. Jy soek en vind afhanklikheid, leiding en geborgenheid. Met hierdie invalshoek is die lewe vol van die lewende persoon van die Vader.

Die Seun belowe versoening van skuld en bevryding. Dan leer jy om onder sy oë om te gaan met sonde en skuld, angs en eensaamheid, met die gebrokenheid in die lewe.

Die Gees belowe nuwe lewe, krag om te stry, geloof en groei. So leer jy om die lewe met sy stryd teen die sonde, neerlae en oorwinnings, twyfel en sekerheid, geloofsvrug en geestelike honger te sien as lewe deur die Gees.

Die veelsydigheid van hierdie een God help jou om die bont bestaan te ervaar as die een lewe met God. Dit laat jou gebedslewe verdiep. En die Sondag se liturgie. Dit gee rigting aan jou lofprysing.

Eenheid🔗

Iemand het ʼn keer die speelse opmerking gemaak dat die Drie-Enige God as ’t ware Psalm 122 in die mond neem:  Kom saam met ons, en doen wat ons doen (Nederlandse beryming: kom ga met Ons en doe als Wij). In Joh. 17 vra Jesus dat sy volgelinge een moet wees ‘soos Ons een is’ (vgl. ook 1 Joh. 4:17). Ons verhouding moet iets wys van die liefdesgemeenskap tussen Vader, Seun en Gees.

Om God so te ken is byvoorbeeld belangrik in die huwelik: twee mense word één deur liefde. Ook vir die gemeenskap van die heiliges: verskillende lede, tog een liggaam. Dink ook aan die eenheid van die kerk. ʼn Mens neem dit gou getalsmatig en formeel op, maar dit gaan oor die inhoudelike gemeenskap in die waarheid, danksy die bindmiddel van die liefde.

mense saam bid

Dit is selfs vir ons kultuur belangrik. Die Westerse mens verloor eers sy geloof in God en toe in homself. So verloor hy ook die eenheid van die lewe. Mense lewe los van mekaar. Volke skuil hulle agter nasionalisme. Kritici van die huidige wetenskap verwyt die universiteit dat dit ʼn ‘multi-versiteit’ geword het. ʼn Chaotiese veelheid van beelde en informasie illustreer hoe versnipper ons kultuur is. Dit is dan ook nie vreemd dat mense psigies disintegreer nie.

Baie soek die eenheid hartstogtelik terug. Wys ons vir hulle die weg? Om God te ken soos Hy is: Drie-Enig. En om Sy appèl op te volg: Kom saam met Ons, en doen soos Ons doen.

Ons is dikwels meer geïnteresseerd in wat God vír ons doen as in wié Hy is.

Juis as ʼn God wat gee, kom die HERE tot sy eer.