Bron: Kompas, 2011. 3 bladsye.

Matteus 4:2-4 - Op die Mespunt van Ekonomiese Versoeking

Lees: Jakobus 1:1-18 Teks: Matteus 4:2-4

ekonomie

Die eerste versoeking waarmee Satan die Here Jesus in die woestyn voorgelê het, raak die ratwerk van die ekonomie. Daar is geen kos nie. Satan bevraagteken die Here Jesus se versorging. Hy maak aantreklike voorstelle om vinnig-vinnig van knaende broodgebrek ontslae te raak.

Versoeking in die ekonomie is iets wat elkeen van ons in die gewone dingetjies van die alledaagse lewe raak. Want soos wat Christus versoek is, versoek die duiwel die navolgelinge van Christus. Satan plaas vraagtekens oor ons manier van besigheid doen. Hy stel lokvalle waar dit kom by die ontvang en besteding van ons maandelikse inkomste. Hy is by waar ons ons spaargeld belê. Ons hoor die listige stem van die versoeker: wat die Skrif oor ekonomie sê, is outyds, onbelangrik, nie relevant nie. Die eerste woorde van die vierde gebod waar God ons beveel om ses dae hard te werk, het niks te sê oor produktiwiteit, werkywer, Bruto Binnelandse Produk en stakings nie. En die laaste woorde van die vierde gebod oor rus op die sewende dag is nie van toepassing in ʼn maatskappy waar fabrieke sewe uit die sewe dae moet produseer en winkels vir die gerief van die bevolking geen dag hulle deure mag sluit nie. Die agste gebod oor diefstal is irrelevant. Jy moet nou nie opsigtelik iemand anders se geld vat nie. Moet net nie uitgevang word as jy steel nie. Onthou die goue reël in die ekonomie: sorg vir jouself. Wáár finansies ook al ter sprake kom, praat die duiwel saam.

Ons Verlosser en Saligmaker weet wat dit is om in tye van broodgebrek deur Satan aangeval te word. Hy het daardie sataniese aanvalle deurstaan en gebreek. Hy het sy volk daarvan verlos sodat ons nie langer aan Satan sal toegee nie.

Kritieke Oomblik🔗

Die Skrif leer ons dat Jesus, nadat die Heilige Gees Hom die woestyn ingelei het, 40 dae en 40 nagte gevas het. Gedurende daardie tyd van eensaamheid en vas het Hy innige gemeenskap met God beoefen. Jesus vas om Homself vir sy ampswerk voor te berei. Hy is só intens met sy Vader besig dat inneem van brood en water agterweë bly. Sy liggaamskragte neem af.

Toe het die versoeker na Hom gekom. Toe Jesus met basiese nood in sy lewe worstel, toe Hy die hongerpyne voel, toe is die duiwel daar. Tipies Satan. As die ekonomie op ʼn laagtepunt is, as mense sukkel om te oorleef, as geld min is en die uitgawes baie, dan begin die vrae. Wat nou? Waarheen? Vanwaar sal daar hulp kom?

Maar nou skryf die apostel Jakobus in hoofstuk 1 van sy brief: Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge verval. Dit is amper moeilik om te volg wat Jakobus skryf. Moet ons bly wees omdat die duiwel ons versoek? En dit terwyl versoeking dikwels kom as jy in die put sit? Ja, sê Jakobus. Maar dan moet jy die versoekings binne die groter geheel van die lewe sien. Let op jou Verlosser in die woestyn. Op watter oomblik word Hy deur Satan versoek? Nádat Hy gevas het, nádat Hy innige gemeenskap met sy Vader beoefen het. Nou moet blyk wat daardie gemeenskap met die Vader in praktyk beteken.

Die hongerpyne wat die Here Jesus ervaar is in die eerste plek ʼn beproewing deur sy Vader. Die Vader kyk hoe sy Seun in die dorre woestyn optree, hoe Hy as Verlosser enduit gehoorsaam sal wees. Dit doen die Vader met ons ook. Hy toets ons geloof op baie maniere. Hy laat ons die afgelope jare deur diep waters gaan. Toenemende werkloosheid, hoë lewenskostes, lae pryse vir goedere. Hoekom? Ons weet nie. Vir menige hoekom-vraag kry ons geen antwoord nie. Belangriker is die vraag: waartoe, met die oog waarop, waarheen? Wat is die doel van swaarkry? Daaroor het ons wel duidelikheid. Jakobus skryf: sodat die beproewing van julle geloof lydsaamheid sal bewerk. Sodat ons deur al die swaarkry geslyp sal word, in die ware geloof sal vasstaan en nie sal val nie.

inkopies

Binne hierdie raamwerk word die oomblik van Satan se versoeking betekenisvol. Hy lê ons gewoonlik voor as die nood hoog is. Hy kom met sy skelm vrae as spanning jou opkeil, as kragte min is. Maar weet dan dit: Satan versoek, die oomblik wanneer die Vader beproef. Satan kyk of hy met swaarkry die gelowige van God kan losmaak. Die vraag is: wie is hierin die grootste? Die antwoord hierop is bekend. Die oomblik van versoeking, hoe swaar dit ook al mag wees, word tog ʼn oomblik van vreugde. Want ons sien hoe die Here ons vorm en skuur en boetseer en slyp. Hy bewerk lydsaamheid in ons geloof.

Maar dan moet ons nie rondkyk en dink: hoekom moet ons altyd swaarkry terwyl ander mense dit so maklik het nie? Dit is dinge wat die duiwel jou wysmaak – asof jy die enigste mens is wat dit so swaar het. Vra eerder: Vader, U het hierdie pakkie op ons pad gesit; gee genade om dit te dra, en gee genade aan ander om hulle pakkie te dra. Leer ons om raak te sien dat U beproef, terwyl Satan met sy wrede versoeking by is. Leer ons om duidelik en helder tussen dié twee te onderskei en nie moedeloos te word nie.

Paradys – Woestyn🔗

Die ooreenkoms tussen die eerste versoeking van Satan in die woestyn en die manier waarop hy Adam en Eva in die paradys versoek het, is ooglopend. Satan se versoeking in die paradys het met ʼn vraag begin. Is dit ook so dat God gesê het: julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? ʼn Listige vraag, want God het duidelik gesê dat Adam en Eva van al die bome mag eet; net die boom van kennis moet hulle uitlos. In die woestyn kom Satan met dieselfde taktiek. Daar word weer ʼn vraag gestel. Jesus, as U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. Dit klink nie soos ʼn vraag nie. Intussen hang die vraagteken lewensgroot bo-oor die versoeking. Satan weet baie goed dat Jesus Christus die Seun van God is. In die Jordaanrivier, met die doop, is dit opnuut bevestig. Tog vra hy: Jesus, is dit so dat U die Seun van God is? Die dieperliggende vraag is: kan dit waar wees? Kan die Seun van God waarlik honger ly? Is dit hoe die hemelse Vader na sy Seun omsien? En julle, Christene van vandag: julle wat bely dat julle aangenome kinders van God is: hoe verklaar julle die agteruitgang in julle omgewing, die vermindering van inkomste, die noodwendige verlaging van lewenstandaarde? Laat dit jou nie wonder nie? Dit moet jou laat dink. Enige regdenkende mens sal begin vrae vra. Watter sin maak geloof in so ʼn Vader?

Nee wat, Jesus: sê liewer dat hierdie klippe brode word. As dit dan wel so is dat U die Seun van God is, reken op eie kragte, help Uself. U het mos onbeperkte mag, gebruik dit dan. U kan in ʼn oogwink van U hongerpyne verlos word. Gryp net in!

Julle, Christene van 2011: dit geld vir julle ook. Wat is die sin daarvan om in tye van finansiële verknorsing krampagtig aan ʼn hemelse Vader vas te klou? Dink ʼn slag aan jouself in die harde werklikheid van jou bestaan. Dit is jou lewe hierdie: jou geld, jou goed, jou toekoms. Jy werk hard vir jou inkomste. Jy het elke rand en sent daarvan verdien. Gebruik dit soos jy wil. Koop die mooi artikel wat jy so lank al begeer of gaan hou rustig vakansie, bederf jouself behoorlik. Moet veral nie met jou swaarverdiende geld iets vir iemand anders doen nie. Elke maand ʼn bydrae vir die kerk as teken van dankbaarheid? Ag nee, hoe kan jy dankbaar wees vir ʼn Vader wat jou so beproef? En dan word daar boonop gevra vir ʼn offer vir die diakonie, vir die versorging van arm mense? Laat die armes vir hulself sorg. Buitendien: versorging van armes is ʼn bodemlose put. Jy sal gee en gee, daar kom geen einde aan nie.

Satan se versoeking in ons ekonomiese bestaan is geslepe. Dit begin met vraagtekens, met twyfel. Is God werklik jou Vader? Is dit hoe Hy sorg en omgee? Dit eindig in blatante aansporing tot sonde. Skuif God en jou naaste eenkant. Moenie jouself langer bind aan sy wil vir jou lewe nie. Maak soos jy wil. Tree op na eie goeddunke en doen dit ter wille van jouself.

Brood en Brood🔗

Maar Jesus het Satan geantwoord: Daar is geskrywe – die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. ʼn Reguit, presiese antwoord. Die eerste wat van Jesus se antwoord opval, is dat Hy nie met Satan redeneer nie. Jesus Christus loop geen enkele tree op die pad van duiwelse versoeking saam nie. God se Vadersorg in Christus se aardse lewe word geen besprekingspunt op die agenda met Satan nie.

brood

Teen Satan se godslasterlike versoeking gaan die Skrif kragtig oop. Daar is geskrywe in Deuteronomium 8, in die wetboek van die Here: Die mens sal van brood alleen nie leef nie. Die volk Israel het die inhoud van hierdie woorde uit ervaring leer ken. Hulle was vir 40 jaar lank in die woestyn. Die kos wat hulle uit Egipte saamgeneem het, het al gou opgeraak. Toe het hulle geleer wat dit beteken om te leef van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. Die Here voorsien ʼn ander vorm van daaglikse brood as waaraan hulle al die jare gewoond was. Die volk moet manna, engelebrood (panis angelicus – Psalm 78), eet. Hulle moet besef dat hulle totaal afhanklik van die manna is. Hulle moet in hulle ekonomiese voortbestaan geheel en al en onvoorwaardelik op God vertrou. Dag na dag.

Daardie vertroue spreek die Here Jesus in die woestyn ook uit. Terwyl Hy honger is en Satan Hom versoek om sy Goddelike krag te misbruik, sê Jesus nee! Kos, brood is nommer twee in die lewe; die wil van die Vader is nommer een. Eers moet God gehoorsaam word, eers moet sy koninkryk gesoek word – dan sal die res, ook kos, bygevoeg word. Satan probeer die vraag na brood tussen Jesus en sy Vader inskuif. In sy antwoord wys Jesus die boosheid en valsheid daarvan uit. Wat beteken die hele wêreld se kos en rykdom as jy nie erken dat dit van die Vader kom nie?

Op dié manier word elke sataniese versoeking in die ekonomie weerlê. Besef altyd dat jy kind van God is en laat Satan jou nooit wysmaak dat dit te betwyfel is nie. Ook in die ekonomie geld die waarskuwing: ken jou swakheid en die duiwel se geslepe krag.

Moenie toegee aan die druk van die samelewing nie. As miljoene ander geen erg aan God se gebod het nie, is dit nie vir God se kinders ʼn rede om saam te swem in die breë stroom van verderf nie. Inteendeel, dit is ons roeping om altyd terug te val op ons verlossing in Hom. Christus ken versoeking met brood. Hy wys die antwoord op versoeking aan: terug na die Skrif, na gehoorsaamheid aan God.