Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Matteus 8:5-13 - Sy Verlossingsmag Oortuig 'n Heiden

farieseërs

Matthéüs wou met sy evangelie beskrywing die Joodse volk oortuig dat Jesus van Nasaret die langverwagte Messias is.

En veral hier in hoofstuk 8, met die wonders wat hy beskryf, wou Matthéüs die Jode laat sien dat die BEVOEGDHEID waarmee die Here Jesus opgetree het, Messiaanse bevoegdheid was.

In die Bergrede het Hy hulle geleer soos een wat gesag het (Matt 7:29).

Maar hierdie selfde gesag openbaar die Here direk daarna ook in die wyse waarop Hy mense vrymaak van melaatsheid en siekte en duiwelbesetenheid.

Hy is die KNEG van die HERE (Jes 53) wat ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra het (Matt 8:17).

Jes. 9:1 het verder gesê dat die Messias vir ‘die volk wat in duisternis wandel’ en ‘die wat woon in die land van die doodskaduwee’, d.w.s. die mense van Galilea, wat as “bekvelders” beskou is, ’n groot lig sou laat sien. Hier in Matt 8 laat Matthéüs sien hoe dit inderdaad gebeur, by name in Kapernaüm.

Jesus word daar genader deur ’n heiden, ’n offisier, in Kapernaüm in diens van Herodes Antipas, die viervors, om sy kneg, verlam en in hewige pyn, te kom gesondmaak. Lukas 7 sê: die heidense offisier het nie self na Jesus gekom nie. Hy het die oudstes van die sinagoge met sy smeekbede na Jesus gestuur. Daar was ’n uitnemende verhouding tussen hierdie man en die plaaslike Joodse bevolking. Selfs die kerklike outoriteite het ’n prag­tige getuienis oor dié bevelvoerder gegee: ‘....hy het ons volk (ons volk = God se volk) lief en het self die sinagoge vir ons gebou.’

Hierdie heiden het toegesien dat die Jode ’n plek gekry het waar die wet en die profete gereeld aan hulle verduidelik kon word.

En soos hy buite sy huis opgetree het, so het hy blykbaar ook binne sy huis op­getree: soveel moeite vir ’n slaaf! Hy wou hom in die lewe hou!

Die offisier se versoek aan Jesus was ongewoon.

Ondanks sy offers vir die Jode was daar nog altyd ’n diep kloof tussen Jode en nie-Jode (vgl Petrus en Cornelius, hfst 10). Van kleins af is dit uit die Thora vir jou as Joodjie ingeprent dat ’n Jood hom nie aan ’n heiden mag verontreinig nie. Juis dit moes die hoofman laat huiwer het om self na Jesus te gaan, want hy was goed op hoogte.

Ook die oudstes van die sinagoge, vriende van die offisier, het besef dat dit ’n ongehoorde ding is dat ’n Joodse rabbi by ’n heiden aan huis sou kom. Daarom dat hulle so naarstig by Jesus aandring dat Hy die hoofman moet help. Hulle sê: ‘Hy is dit werd dat U dit vir hom doen’.

romeinse soldaat

Kyk, teen hierdie agtergrond verstaan ons dat Jesus vra:

“Ek … sal Ek hom kom gesondmaak?” Ek, wat ’n Jood is? (vgl ook die Kanaänitiese vrou: Sy moes hoor dat die Messias in daardie tyd nog nie vir heidene beskikbaar was nie). Die voorregte van die verbond, en die Messias van die verbond, was net vir die ‘verlore skape van die huis van Israel’ (Mt 15:24). Jesus se antwoord is vir die hoofman ’n groot teleurstelling, ’n swaar beproewing na hy soveel vir hierdie volk gedoen het!

Dit demp egter nie sy geloof nie. Vir God en sy verbond en vir hulle komende Messias het hy respek leer kry. En in Jesus het Hy iets gesien van die Jode se God se verlossingsmag. Daarom sy antwoord: ’Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net ’n woord en my kneg sal gesond word.’ Die hoofman erken dat die seën vir die volk van God en nie vir hom is nie. Hy is ’n heiden. Hy is onrein. Selfs sy eie Joodse vriende betree nie sy huis nie. Hoeveel te meer durf Hy Hom wat van God gestuur is, onder sy dak ontvang?

Tog glo hy dat die Here Jesus mag het oor lewe en dood en dat Hy tog ook iets van daardie rykdom van die verbond wat Hy vir sy volk bestem het, aan die heidene sal gee. Die Here Jesus het daarvoor die gesag en bevoegdheid. Net soos hyself gesag het om sy onderhoriges te stuur tot bepaalde opdragte, so is dit ook met die Here Jesus. Hy glo dat Christus met die mag beklee is om alle kragte wat siekte en dood bring, met ’n enkele bevel te gebied om die hulle slagoffer vry te laat. Spreek net ’n woord, Here, en my kneg sal gesond word, sê hy. ’n Pragtige getuienis oor die mag van Christus en oor die mag van sy woord, die teenoorgestelde van die voormanne van die Sinagoge van Kapernaüm s’n. Hulle het gesê dat Jesus die hoofman moes help omdat hy dit werd is. Mens proe daarin iets van die Farisese hoogmoed.

Die man wat hom verdienstelik maak, het reg op God se guns. Hy is dit werd! Hulle het soveel van God ontvang maar, intussen so min verstaan dat dit alles onverdiende genade is. Die hoofman egter voel homself totaal niks werd in God se oë, maar hy het ’n absolute vertroue op Christus se mag en Christus se woord. Hy glo dat daardie mag en daardie woord ook die afstand tussen die Jode en die heidene kan oorbrug. Hy glo dat iets van die verlossingsheerlikheid van Christus sy kneg van die dood kan red.

Daaroor verwonder Jesus Hom: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ’n groot geloof nie gevind nie.”

Dit is nie ’n pluimpie in die hoofman se hoed nie, maar roem in die Vader se werk. Want dat daardie offisier se oë oopgegaan het vir die Christus se sending en vir die mag wat sy Vader Hom verleen het, dit het sy Vader in die hemel gedoen. Want Hy gee die geloof. Hy laat iemand vertrou op die mag van die Messias en op die krag van sy Woord. Selfs in Israel het die Here dit nie gevind nie.

’Groot geloof’ beteken nie ’n groter dosis geloof as ander s’n, in kwantitatiewe sin nie, asof die man se geloof soveel kragtiger as ander s’n sou wees nie, maar ’n geloof wat so ontvanklik is vir die Christus en sy werk. Die Here sien in die man reeds hoe die koninkryk van God in hierdie wêreld deurbreek en nie by die grense van Israel stop nie, Hy sien die duisende buite Israel wat wel in God se koninkryk sou ingaan as die Israeliete aan wie die verbond en die Godsregering toegesê was, nie luister nie. Ja, die geloof van hierdie man getuig daarvan hoe vele heidene saam met die aartsvaders dieselfde geloof deel en dieselfde gemeenskap sal smaak.

Daar staan letterlik dat die baie wat sal kom van ooste en weste, saam met Abraham en Isak en Jakob sal ‘aanlê’ in die koninkryk van die hemele.

Dit is die beeld van ’n koninklike maaltyd, van die innigste gemeenskap.

maaltyd

Want by so ’n maaltyd het die gaste op mekaar se bors gelê en eet. So ook Jesus en sy dissipels aan die Paasmaaltyd.

Deur die geloof wat bely dat die Christus mag ontvang het om die lewe te herstel, word ook heidene ingelyf in God se koninkryk en kry hulle deel aan dieselfde gemeenskap met God as Abraham, Isak en Jakob. Dié gemeenskap mag hulle reeds hier op aarde hê, maar ook ewig op die nuwe aarde. Ja, die geheime van die koninkryk van die hemele het vir die bevelhebber oopgegaan, nl. deur genade alleen (hy het homself onwaardig geag) en deur die Woord alleen....

Christus is nie meer op aarde nie. Sy pad het oor Gólgota gelei na die Paasmôre en Hemelvaart en Pinkster. Hy toon nie meer sy Messiaanse volmag in die genesingswonders soos van die hoofman se kneg nie. Nee, maar Hy het intussen alle mag in hemel en op aarde ontvang. En daarmee kom Hy na ons in sy woord vandag. En daarmee gee Hy genesing, ja volle heil vir ons ganse bestaan. Die vraag is: Vind Hy by ons die ware geloof in Hom as ons volle Redder en Saligmaker?