Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

'n Alternatiewe evangelie

Dalk klink die volgende bekend: “Om ’n Geesvervulde Christen te wees, moet jy eers:  jouself opoffer, die Here in jou lewe innooi, die eie-ek afsterwe, die beheer van jou lewe aan die Here oorgee, Jesus koning in jou hart laat wees, jou eie-ek van die troon van jou hart afhaal, ophou om self jou lewe te beheer, God toelaat om Sy goddelike lewe deur jou te lewe en Hom toelaat om álles binne-in jou te wees.”

Vir baie mense klink hierdie eise waarskynlik heel vroom en Bybels. In werklikheid is dit ’n alternatiewe (valse) evangelie omdat die evangelie hier tot wet/reëls verander word waar Jesus in Sy geboorte, lyding, kruisiging, dood, begrafnis, opstanding, hemelvaart en verheerliking, ’n rolmodel word wat deur die gelowige nageboots moet word. Veral binne gereformeerde kerke wat deur die post-reformatoriese “evangeliese” bewegings beïnvloed is, speel hierdie gehoorsaamheidseise ‘n groot rol en het dit die plek van die ware evangelie tot só ’n mate vervang dat die meeste mense dít as evangeliese waarheid aanvaar. Binne die Suid-Afrikaanse konteks geld dit veral vir die NG Kerk, wat baie sterk deur die “Andrew Murray-lyn” beïnvloed is.

Volgens dr. Andrew Murray (1828 – 1917) het die Reformasie (16e eeu) slegs aan die regverdigmaking-uit-genade aandag gegee, maar nie aan die “leer oor die inwoning van God in die mens” nie. Dit was die werk van post-reformatoriese evangeliese bewegings om die gebrekkige bediening van die reformatoriese kerke aan te vul deur die leer van Geesvervulling-deur-eenwording-met-God (deelkry aan die natuur en heiligheid van God) aan die orde te stel (Die Gees van Christus, pp 5-6).

Die essensie van hierdie bygeloof is dat die mens Godgelykvormig (een met God in Sy heiligheid) moet word op die model van Jesus. Murray stel dit eksplisiet: “Om heilig te wees is om Godgelykvormig te wees.” (Geheilig in Christus, p.10). Die wyse waarop dit plaasvind is deur Jesus as rolmodel na te boots deur, soos Hý gesterf het en begrawe is, jou eie-ek en eie-lewe te kruisig en te begrawe. Namate die mens dit kan regkry om hom/haarself te ontledig, leef God Sy volheid in en deur hom/haar uit.

Om een met God te wil word (met Hom te identifiseer) is egter die hartklop van die moedersonde (Gen 3: 4-5). Hier vind ons dus die vrug van Murray se alternatiewe evangelie: om die moedersonde te doen in die Naam van Jesus en sonde as gehoorsaamheid uit te leef deur Jesus as alternatiewe wet na te volg!

Dit is interessant om te sien op watter wyse Murray hierdie alternatiewe “evangelie” (die evangelie as wet) laat ontvou in sy geskrifte. Hy maak van die evangelie ’n voorbeeld van wat ons as mense moet wees en doen: ons moet soos God wees. “Om soos Christus te wees, is om soos God te wees.” (Geheilig in Christus, p.10). Hier volg enkele voorbeelde:

Eerstens word Jesus se ontvangenis en geboorte ’n voorbeeld van wat ons moet wees. Volgens Murray het Jesus (as mens) Gód vir ons vertolk en Sy Godheid vir ons sigbaar gemaak (Geheilig in Christus, p.10). Die doel van Sy menswording was om God in menslike vorm in Sy lewe en dade uit te beeld sodat ons dit ook kan doen deur middel van gehoorsaamheid en nederigheid. Jesus stel die voorbeeld en maak dit vir die mens moontlik. “Langs hierdie weg kom ons tot gemeenskap van die liefde, gelykvormigheid en heerlikheid van God.” (Geheilig in Christus p. 15). Dit is iets totaal anders as wat die kerk in Sondag 14 van die Heidelbergse Kategismus oor Jesus se geboorte bely. In Sondag 14 bely ons dat Jesus ons sonde met Sy heiligheid en onskuld voor God bedek. Daaraan het ons deel slegs deur in Sy geboorte te glo. Die gelowige is dus heilig en onskuldig voor God slegs deur geloof in Christus se geboorte.

Tweedens die lyding van Christus. Volgens Murray ly Jesus nie plaasbekledend onder die oordeel van God nie, maar Hy ly deur Sy selfgekose selfvernedering en dit word vir die gelowige die model om ook soos Hy te wees in nederigheid. “Die kruis, die dood en die graf waartoe Jesus Homself verneder het, was Sy pad na die heerlikheid van God. En hulle is ook ons pad. Nederigheid beteken die prysgee van die eie ek en die inneem van die plek van volkome nietigheid voor God.” (Nederigheid pp. 61, 64). Die lyding van Christus het dus beteken dat Hy Homself, as mens, geminag het voor God – aldus Murray. Só moet die gelowige ook doen. Jesus word dus ’n nuwe wet en die eis tot selfveragting word die manier om God se heerlikheid deelagtig te word. Volgens Sondag 15 HK het Christus se lyding egter beteken dat Hy plaasbekledend onder die toorn van God gestaan het sodat die mens wat Hom daarvoor vertrou, vir ewig vry is van God se toorn. 

Derdens die kruisiging en sterwe van Christus. In die twee boekies “Die krag van die bloed” en “ Die bloed van die kruis”, beskryf Murray sy siening op breedvoerige wyse. Hy bring die sterwe van Jesus in verband met die heiligheid van God wat die gelowige deelagtig kan word. (Krag, p. 45). Die begeerte van die mens om één te word met God in Sy heiligheid, word verwesenlik deur die pad te stap wat Jesus in Sý sterwe gestap het, naamlik die weg van opoffering. “Die enigste weg na die lewe van God is die weg van die opoffering van die eie lewe.” (Bloed, p.28). Die kruisiging en sterwe van Christus is – volgens Murray – nie eerstens plaasbekledende werk nie, maar dit is ’n “teken” en ’n “weg” wat die mens moet navolg deur sy eie “wil” en “self” op te offer soos Jesus gedoen het. “Die kruis is deur die bloed van Jesus geheilig tot ’n altaar waarop ons vir God ’n heilige en aangename offer kan word.” (Bloed, p.37).

Vierdens word die opstanding, hemelvaart en regering van Christus – in Murray se denke – die poort vir die mens om deel van die lewe en persoon van God te word. Jesus open dus, deur Sy opstanding en verheerliking, vir die mens die weg om die moedersonde (om soos God te wil wees) as ware godsdiens te beoefen! Dit is die konsekwensie van hierdie tipe teologie. Murray stel dit eksplisiet: “Sy Gees het uit Sy natuur, soos dit in die opstanding en hemelvaart verheerlik was, voortgekom as die Gees van Sy menslike lewe, verheerlik in die vereniging met die Goddelike, om ons deelgenote te maak van alles wat Hy persoonlik gewerk en verkry het, ja, deelgenote van Homself en Sy verheerlikte lewe. Kragtens Sy versoening het die mens nou ’n reg en ’n seggenskap op die volheid van die Goddelike Gees, en die feit dat Hy in Homself ’n nuwe heilige menslike natuur volmaak het om ons ontwil, kon Hy nou meedeel wat vroeër nie bestaan het nie – ’n lewe wat meteens menslik en Goddelik is.” (Die Gees van Christus, p. 37).  Jesus se opstanding en verheerliking word dus ’n model van dinge wat die mens in hom/haarself tot stand moet laat kom. Die gelowige moet dit in homself verwesenlik ten einde ’n Geesvervulde Christen te word.

Om Jesus na te doen in Sy heilswerk is egter niks anders as bygeloof nie, waar Jesus ’n goddelike model word vir hoe die mens moet maak om ’n wáre gelowige te wees.  Volgens Murray moet die gelowige Jesus se geboorte, lyding, kruisiging, sterwe en begrafnis naboots deur die self op te offer, ’n algehele oorgawe te maak, God in te nooi en die eie-ek af te sterwe. Daarnaas moet Jesus se opstanding, hemelvaart en verheerliking nageboots word deurdat die gelowige aan God die beheer van sy lewe gee, Jesus Koning in die hart laat wees, die eie-ek van die troon afhaal en nie meer self te wil heers nie. Dit alles lei tot ’n beter godsdiens as om net gewoonweg Christen te wees. Naas die evangelie is daar ’n beter en voller vorm van godsdiens beskikbaar – om met Jesus as rolmodel, één met God te word.

Die fundamentele dwaling in hierdie bygeloof is dat die werking van die Wet en Evangelie omgedraai word. Die evangelie word nou ’n stel nuwe reëls in die plek van die 10 gebooie: jy moet niks wees nie, jy moet jou eie-ek en lewe opoffer, jy moet alles aan God oorgee, jy moet Jesus koning van jou lewe maak, ensovoorts. Jesus het immers dit alles gedoen deur Sy geboorte, lyding, sterwe en opstanding. Op hierdie manier word Jesus voorgestel as alternatiewe wet en moet Hy deur die mens nageboots word om óók te sterf en begrawe te word, met géén sekerheid dat dit óóit goed genoeg gedoen is nie. Dit word ’n meedoënlose meester wat die mens tot waansin kan dryf.

Hierteenoor verkondig die Woord (en op voetspoor van die Bybel, die belydenisskrifte) aan ons die soete troos van die ware evangelie waarvolgens Jesus nie vir ons ’n wet is nie, maar die evangelie self: Hy doen vir ons en is vir ons wat ons nooit self sal kan doen of wees nie. En wat Hy plaasbekledend vir ons doen, word deur God aan ons toegereken. God sluit mense gewoon net daarby in. Dit is wat “plaasbekledend” beteken. Alles wat Jesus doen, doen Hy in ons plek en ons deel in die vrug van Sy werk sonder dat ons Hom iets hoef na te doen, maar net omdat Hy ons inreken by Sy werk. Die appèl van die evangelie is dat ons dit net mag glo en aanvaar. Op hierdie wyse deel die gelowige in God se heiligheid – omdat dit hom/haar toegereken word op grond van Christus se plaasbekledende werk en nie omdat die mens Godgelykvormig probeer word deur gehoorsaamheidseise na te kom nie.

In ’n gereformeerde gemeente word lidmate nie opgeroep om aan allerlei eise te voldoen ten einde die “ware godsdiens” te smaak nie. In ’n gereformeerde kerk word die evangelie verkondig (aangekondig) dát God die mense ingesluit het by Christus se plaasbekledende heilswerk (solus Christus) en dat élkeen wat dit glo (sola fide) ten volle daarin deel het en dus voor God heilig, onskuldig en vergewe is.