3 bladsye.

'n Gesprek oor Kerkgeskiedenis

Eie aard van kerkgeskiedenis🔗

Kan kerkgeskiedenis objektief benader word, of is ʼn bepaalde uitgangspunt nodig?

Die aard van kerkgeskiedskrywing gaan saam met die eie aard van die kerk. Die geskiedenis van die kerk is essensieel anders as die geskiedenis van ʼn politieke party of van ʼn tekstielfabriek. Die kerk is immers op ʼn baie direkte wyse skepping van God, deur die Woord en deur die Gees. Dit is nie ʼn gemeenskap net ‘van benede’ nie: Christus is die Hoof daarvan  en die Heilige Gees is die lewende God wat daarin woon.

Dit verg versigtigheid van die historikus. In die eerste plek versigtigheid teenoor God. ʼn Mens sou dalk, in menslike ligvaardigheid en verbeelding, dit wat God se werk is, oordeel asof jy oor Hom regter kon wees.

Dit verg ook versigtigheid teenoor mense. Hulle kerklike doen en late is nie enkel ʼn produk van horisontale faktore en motiewe nie. Dit gaan om geloofshandelinge en geloofskeuses. Daarin is die mens nie sonder sondes en gebreke nie, en dus nie bo kritiek verhewe nie. Hy is wèl ʼn mens wat deur die krag van die Gees wil lewe en handel, en wat hom beroep op die Woord van God. As historikus kan jy nie by daardie geloof as kern van alles, en daardie beroep op die Woord, verbykom nie.

God se werk en die werk van mense is hier saamgevoeg. Dit verg geestelike onderskeidingsvermoë om nie wat eiewillige mensewerk is, as die werk van God aan te merk nie en om nie die werk van God se Gees as verkeerde mensewerk te bestempel nie. ʼn Goeie kerkhistorikus moet daarom self ʼn ‘geestelike’ mens wees, met ʼn oordeel wat deur die Gees van God verskerp is.

Dit lei tot ʼn bepaalde spanning. Spanning tussen geloof en wetenskap. Enersyds is kerkgeskiedenis die voorwerp van kritiese, en enigsins objektiewe, ondersoek. Andersyds is die kerkgeskiedenis ʼn bewegende stroom, waarin jy self eksistensieel en gelowig staan en jou posisie moet kies.

Die kerk met twee woorde🔗

‘Die kerk is op ʼn baie direkte wyse skepping van God’. Hierdie uitspraak kan kritiek uitlok. Iemand kan daarin hoor dat die kerk en kerkgeskiedenis onaantasbaar gemaak word, verhewe bo historiese studie en menslike beoordeling. Of dat dit ʼn domein is waartoe predikante-teoloë eksklusiewe toegang het.

Maar dit is nie daarmee bedoel nie. Oor die kerk moet mens altyd ‘met twee woorde’ praat. Aan die een kant – en dit is die beslissende een – is die kerk God se werk. Hy bring mense deur sy Woord en Gees tot geloof en liefde en saambinding. Hy, en niemand anders nie. Die kerk is God se bouwerk (1 Korintiërs 3:9). Hulle wat lidmate van die kerk is, hulle wat die liggaam van Christus vorm, is God se eie maaksel (Efesiërs 2:10). Uit Jode en Grieke is hulle tot een nuwe mens geskape (Efesiërs 2:15); ʼn nuwe skepping in Christus (2 Korintiërs 5:17). Die kerk op aarde is die kudde van die Goeie Herder, deur Hom uit die dood tot die lewe gebring. Sy is die bruid van Christus, deur Hom met sy eie bloed gekoop. ʼn Mens kan heerlike dinge daarvan sê.

Maar terselfdertyd is daar ook menslike handelinge. En dan nie net handelinge waarby mense as instrumente van God in die opbou van die kerk diens doen nie, maar ook stremmende en skadelike handelinge van sondaars, wat teenstrydig is met die opbou van die kerk. So is die kerkgeskiedenis die geskiedenis van die werk van God se Seun, die geskiedenis van die liggaam van Christus, maar altyd ook ʼn geskiedenis van sonde en gebreke, van dwaling en van misverstande.

Die kerk, met alles wat in haar afgespeel het, is dus nooit bo alle kritiek verhewe omdat dit dan nou kerkgeskiedenis is nie. Sekerlik nie! Die kerkgeskiedenis is ʼn werklike deel van ons mensegeskiedenis. Dit dra ook al die kenmerke van menslikheid en bestudeerbaarheid en beoordeelbaarheid, wat met die aardse en menslike saamgaan. Dit is ʼn geskiedenis binne ons bereik.

Maar hierdie ‘enersyds/andersyds’ beteken nie dat mens nou maar één van die twee eensydighede as jou uitgangspunt kan kies nie. Ons uitgangspunt is nie alleen die handeling van God, om so die kerk ʼn onaantasbare verskynsel te maak nie. Ons uitgangspunt lê ook nie alleen aan die menslike kant, om die kerk as ʼn suiwer horisontale gemeenskap te behandel, asof dit maar net mensegeskiedenis was, en daarmee gedaan nie.

Ons moet wel sê dat die Goddelike handeling in die kerk ʼn bepaalde oorwig het.  Die inwoning van God met sy woord en sy Gees vorm die hart van kerk-wees. Die Goddelike het in die kerkgeskiedenis ʼn ander plek as die menslike. Dit gaan nie oor twee gelykwaardige groothede nie. So het die geloof van mense ook ʼn ander plek as die sonde in die kerk. Altwee is daar. Maar die een (die geloof, wat uit God is) hóórt daar. Die ander (die sonde, wat uit die mens en uit die bose is) moet daar uit. Mens kan daarom nie alles wat, histories gesien, in die kerk plek het, oor een kam skeer nie. In die hele kerkgeskiedenis is daar ʼn tweeheid wat net in die geloof goed gesien en beoordeel kan word.

Die Skrif as maatstaf🔗

Om te kan sien en beoordeel, het jy as mens oë en oordeel nodig. Geloofsoë en geloofsoordeel. Dit kry jy net uit die Skrif.

Beoordeling van die kerkgeskiedenis moet steeds van God se openbaring uitgaan. Dit wil sê; noem goed wat God goed noem, noem kwaad wat God kwaad noem en laat adioforon bly wat volgens die Skrif adioforon genoem kan word. (ʼn Adioforon is ʼn middelmatige saak waarin ons mekaar nie mag veroordeel nie.)

Uit die Skrif leer jy welke lyne en motiewe jy in die geskiedenis sal teëkom. Waarheid en dwaling, gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid en alles wat verder volg. So leer jy die patroon sien waarmee jy rekening moet hou. In die negende gebod leer die HERE ons om die eer en goeie naam van ons naaste  na ons vermoë te verdedig en te bevorder. Mens kan kennisname en beskrywing van die verlede, ook van sonde en ellende van die verlede, met die oog op die hede en die toekoms, nie vermy nie. Maar die verhaling daarvan moet dan so geskied, dat mens met die naam en die eer van jou naaste verantwoordelik omgaan; dat jy aan hulle, hulle motiewe en hulle situasies reg laat geskied; dat jy jouself nie bokant hulle verhef, wetend dat jy self ook sondaar is, nie. Hierby kom, as toetsstene in afgeleide sin, die gereformeerde belydenis, die gereformeerde kerkorde en ander geldende ‘kerklike papiere’. By die hantering daarvan is Bybelse norme in gedrang, byvoorbeeld die plig om afgelegde beloftes na te kom.

Kyk mens na hierdie punte, is dit duidelik:

Die vrees van die HERE is die tug van die wysheid.Spreuke 15:33

‘Gewone’ historici en kerkhistorici🔗

‘Die geskiedenis van die kerk is essensieel anders as die geskiedenis van ʼn politieke party of van ʼn tekstielfabriek’; en by die beoordeling van dié geskiedenis moet jy jou uitganspunt in die Heilige Skrif neem. Dit is waar. Maar wat is die konsekwensies daarvan? Wie mag hulle dan nou met die geskiedskrywing van die kerk besighou? Kan ‘gewone’ historici dit op ʼn verantwoorde manier doen? Of word dit vir teoloë voorbehou? ʼn Paar opmerkings hieroor.

By die besig wees met kerkgeskiedenis is dit nie in die eerste plek beslissend of jy ʼn historikus dan wel ʼn kerkhistorikus is nie. Moet jy ʼn teoloog wees om goed oor kerkgeskiedenis te kan skryf? Ek dink nie so nie.

Dit is veel belangriker of jy in jou kerkbeskouing ʼn ‘geestelike mens’ is. Jy moet van goeie standpunte uitgaan. Jy moet die uniekheid van die kerk raaksien. En jy moet bereid wees om, by die beoordeling van die geskiedenis, die Skrif as maatstaf te neem. Dit verg kennis van die Skrif, geloof, wysheid, geestelike onderskeidingsvermoë. As jy die kerkgeskiedenis nie vanuit hierdie uitgangspunte behandel nie, word jou beskrywing nie daarmee heeltemal waardeloos nie, maar jy loop die risiko dat jy nie werklik deurdring in die onderwerp van jou studie nie; dat jy allerlei dinge nie goed deursien en verstaan nie; dat jy lyne verkeerd trek en motiewe verkeerd peil; en dat jy met ʼn minder of meer skewe beeld jou lesers op ʼn verkeerde pad lei.

Na my mening is hierdie uitgangspunte (God se werk en beoordeling op grond van die Skrif) nog nie by die ‘gewone’ historici onder ons so helder nie. Dr. R. Kuiper benadruk nogal sterk dat ons moeilik oor die geskiedenis kan oordeel. Om met die geskiedenis besig te wees, is vir hom ʼn ontmoeting, waarby jy jou oordeel maar moet opskort. In plaas van om alles te wil beoordeel, moet ons besef dat die geskiedenis óns omvat en aan óns vrae stel.

Deels is hierdie benadering herkenbaar. As jy met die kerkgeskiedenis besig is, mag jy nie op allerlei punte reeds vooroordele hê nie. Jy moet die gegewens uit die verlede sorgvuldig en langdurig op jou laat inwerk. En jy moet bereid wees om die beeld wat jy tot dan toe gehad het, te toets en aan te pas. Dit gaan immers by geskiedskrywing in die eerste plek daaroor om wat gebeur het en hoe dit gebeur het, goed en suiwer te beskryf. Daarby kom heelwat ‘goeie oordeel’ en ‘deur die Skrif gevoede oordeel’ te pas. Maar die uitdruklik eie beoordeling kom myns insiens in die tweede plek. Daarom gee ekself graag die eksplisiete evaluasie van ʼn verhaal aan die slot, in ʼn aparte paragraaf.

Maar om nie te beoordeel nie, om jou maar sistematies in die verlede onder te dompel en jou oordeel blywend op te skort, is myns insiens ʼn onmoontlikheid. ʼn Onmoontlikheid, omdat ons ook met die oog op ons besig wees met die verlede God se openbaring ontvang het; die Skrifte wat ons wysheid leer; ʼn lamp vir die voet en ʼn lig vir die pad. Juis deur by ʼn oop Bybel die geskiedenis te beskryf, dien ons die lesers van ons verhaal ten beste. Oor hierdie punt, dink ek, verskil die beskouings van gereformeerde historici en kerkhistorici nog, en dit sal goed wees as gesprek daaroor voortgesit word.