Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

'n Jaarlange fees

Met die afgelope Paasnaweek agter die rug, moet ons as gelowiges dankbaarheid uitspreek vir die feit dat daar in ons samelewing steeds ruimte bestaan vir die viering van die Christelike feesdae. Wanneer 'n mens egter na die kommersiële misbruik en die ongeluksyfers op ons paaie dink, kom die vraag op: bestaan daar in ons samelewing genoegsame begrip vir die eintlike betekenis van die Paastyd? En dié vraag lei tot die volgende vraag: stel ons (dit is die kerk, die gelowiges) in die samelewing 'n voorbeeld van wat die ware feeskarakter van hierdie dae behoort te wees?

Hierdie vraag het meer om die lyf as die kwessie of gelowiges ook "'n bietjie vir die Paasnaweek mag weggaan" of nie. 'n Heksejagtery en 'n oor-en-weer-loerdery oor die muur om te sien wie sy woonwa skelmpies na die Paasnaweek afpak, is die kerk immers nie waardig nie en pas allermins by die feeskarakter van die Pase. Die Paastyd is nie bedoel om die gelowiges met 'n lang lys van reëls en regulasies te belas nie.

Wat is dan die ware karakter van hierdie feestyd? Dit is tog dié van 'n opstandingsfees! "Jesus Christus het opgestaan!" is die boodskap wat die kerk oor Paastyd in die samelewing moet tuisbring. En om dit te kan doen, kan ons die boodskap nie bêre vir een keer per jaar êrens in Aprilmaand nie. Nee, vir die kerk is elke Sondag 'n opstandingsfees. Nie net die afgelope Sondag nie. Ook die komende Sondag en elke Sondag daarna.

Die eerste dag van elke week is immers die dag waarop die kerk van die Here deur die eeue heen Christus se opstanding gedenk. Reeds in die Nuwe Testament verwys die apostels na die eerste dag van die week as die "dag van die Here" (Hand. 20:7 ;1 Kor. 16:1; Open. 1:10). Dat die "dag van die Here" 'n feesdag is om sy opstanding te gedenk, was vir die vroegste gelowiges 'n uitgemaakte saak. Justinus Martyr, 'n kerkvader van die tweede eeu, het in een van sy geskrifte geskrywe dat Christene op die eerste dag van die week bymekaar gekom het, omdat dit dié dag was waarop God sy skeppingswerk begin het en omdat dit dié dag was waarop Jesus Christus uit die dood opgestaan het.

Ook in die twintigste eeu is elke Sondag tyd vir die Christelike kerk om die opstanding van ons Jesus Christus met blydskap te gedenk. Die gelowiges se plek is dus elke Sondag tussen die feesvierende skare. Sondag na Sondag. Want as ons stem in die loop van die jaar stil is, waarom sou iemand skielik in Aprilmaand na ons luister?

Dit kan ook gebeur dat iemand Sondae op sy plek is, maar sonder dat Sondag vir hom op sy plek is. Ek verwys na die geneigdheid om van die eerste dag 'n sewende dag te wil maak, om van die Opstandingsdag 'n Sabbatdag te maak. Gevolglik is Sondag vir baie mense 'n dag vol Farisese moets en moenies, 'n dag om sugtend en sleepvoetend met 'n lang gesig deur te bring. Sulke mense maak van Sondag inderwaarheid 'n Saterdag.

Jesus was Saterdag, op die dag van die Sabbat, in die graf. Die dissipels was bedroef. Die vroue het gehuil. Maar toe, op die derde dag, die Sondag, het Hy uit die dood opgestaan. Hy het die dood oorwin. Toe was dit nie meer tyd om te rou nie maar om te jubel! Die trane van droefheid het plek gemaak vir trane van blydskap. Die klaaglied het 'n loflied geword.

Om van Sondag 'n droewige dag te maak, is om 'n tree terug te gee, na die Saterdag, want dan staan ons weer en ween oor Jesus in die graf. Maar Sondag is die dag van jubeling vir die Nuwe Testamentiese kerk, wat met oorstelpende blydskap die oop graf sien en wat die opgestane Here in ons midde het: deur sy Gees woon Hy in ons midde en deur sy Woord praat Hy met ons. En vanuit Sondag gee ons dan telkens 'n tree vorentoe, na môre en oormôre, na die wederkoms en die voleinding van alle dinge. Die kerk is immers nie 'n weduwee wat by die graf bly staan en ween nie, maar 'n Bruid wat haar gereed maak vir die koms van die Bruidegom.

Die kerk wat regdeur die jaar leef vanuit die opstanding van die Here, is 'n voorbeeld vir die samelewing om te weet dat die Paastyd oor 'n ingrypende en aangrypende gebeurtenis gaan. Ja, Jesus Christus se opstanding uit die dood wás ingrypend: dit het die hele wêreldgeskiedenis verander; en dit wás aangrypend: tot vandag toe gryp sy Gees op kragtige wyse menseharte aan om nuwe lewe te gee aan 'n in-sonde-gestorwe mensdom! Ons is dankbaar vir 'n geleentheid soos die Paastyd - 'n tyd waarin ons die juigtoon met nog groter blydskap verder dra. Dit bly egter dieselfde eeue-oue en immer-nuwe juigtoon wat die kerk elke Sondag hoor en waaroor die Bruid haar verheug: waarlik, die Verlosser leef!