Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

'n Nuwe Hervorming? - ja en nee -

Stemme wat roep om 'n nuwe kerklike hervorming begin al harder in die samelewing opklink. Artikels en briewe in die dagpers asook in die kerklike pers spel dit uit. Van naderby bekyk, blyk dit egter dat nie almal dieselfde onder "hervorming" verstaan nie. Daarom is die stemme verdeeld, word die loopgrawe selfs beman.  Die gevolg is dat nog groter verwarring gesaai word.

'n Nuwe Hervorming op pad?🔗

In Beeld van 25 Januarie skryf prof. Piet Muller dat daar waarskynlik vir die Christendom 'n nuwe ingrypende hervorming voorlê, soortgelyk aan die groot hervorming van die 16de eeu. Hy koppel dit aan 'n "ongekende nuwe geestelikheid" wat wêreldwyd vaardig word, waarin mense nie meer tevrede is met die "verpersoonlikte (manlike) God" van die Bybel nie, maar eerder aanklank vind by die idee van 'n universele kosmiese Krag soos in die Star Wars-rolpente gepropageer word.

Ten opsigte van die Bybel voel prof. Muller hom tuis by die beweging wat in die VSA deur Robert Funk begin is onder die naam "Jesus-seminaar". In aansluiting by die apokriewe Evangelie van Thomas (wat uit die staanspoor deur die Christelike kerk as 'n valse geskrif verwerp is), beskou Funk se Jesus-seminaar die Bybel as 'n klomp mites wat valse voorstellings oor God maak.

Daarom voorspel prof. Muller dat die "Nuwe Hervorming" gaan wegbreek van die primitiewe Bybelse voorstellings van 'n Skepper wat "in die styl van imbongi's" geprys en besing wil word en van die onaanvaarbare en onbegryplike Bybelse "simbool” van Jesus se soenoffer aan die kruis.

Reaksie op prof. Muller se "Nuwe Hervorming"🔗

Vir enige regdenkende Christen is dit met die eerste oogopslag duidelik dat die "Nuwe Hervorming" wat prof. Muller bepleit, alles behalwe hervorming sal wees. Op sy beste sal dit neerkom op misvorming van die kerk, 'n wegskeur van die enigste bron van waarheid waarop God sy kerk gegrondves het: die Bybel.

Daarom is dit nie vreemd nie dat daar heftige reaksie op prof. Muller se artikel verskyn het. In die Algemene Kerkbode van 9 Februarie het ek self kortliks gereageer. Daar moet egter met waardering kennis geneem word van twee ander reaksies: 'n brief van dr. Louw Alberts en 'n uitgebreide kommentaarartikel van prof. Murray Janson.

Dr. Alberts skryf in Beeld van 31 Januarie kort en kragtig oor prof. Muller se sogenaamde Nuwe Her­vorming: "Lesers sal moontlik belangstelling toon vir die gegewens wat die artikel onder hulle aandag bring, maar die gevolgtrekkings vra om kommentaar. Eerstens: Die woord 'nuwe' is nouliks van toepassing. Daar is skaars 'n enkele gedagte of denkrigting waarna verwys word wat nie lankal gesê is nie. Tweedens: Die term 'hervor­ming' wat dan vergelykbaar sou wees met die Protestantse hervor­ming is, om die minste te sê, vergesog. Per slot van rekening het die Ebioniete en wyd verspreide gnostisisme van die tweede eeu gekom en gegaan. Mense soos Thomas Paine, Voltaire en Nietzsche se godsdiensbrulle het tot piepgeluide vervaag omdat enigiets wat teen die Koninkryk van God gerig is, uiteindelik sal verdwyn. So ook sal die Jesus-seminaar van 'n paar jaar gelede, en sy voortsettings, nie die koerantaandag wat dit ontvang, werd wees nie.

Die Christelike geloof hoef nie terug te deins vir kritiek nie, maar dan asseblief ordentlik gefundeerde en opbouende vrugbare kritiek wat tot seën sal wees vir die mensdom en nie sinlose twyfel en verwarring kweek nie."

In sy reaksie-artikel in Beeld van 13 Februarie wys prof. Janson verskeie historiese foute in prof. Muller se argumente uit:

  • Muller impliseer byvoorbeeld dat die Twaalf Artikels eers in die agtste eeu voltooi is, en daarom te laat ontstaan het om enige gewig te kan dra. Prof. Janson reageer hierop: "Maar die Nuwe Testament bevat reeds die basis van genoemde geloofsbelydenis en die grootste deel daarvan het al in die tweede eeu ontstaan." Prof. Janson skryf verder: "Om voorts die Ebioniete vandag as navolgingsgroep te wil gebruik, is regtig belaglik."
  • Muller gee te kenne dat die vraagtekens wat die Jesus-seminaar oor die Bybel plaas, 'n nuwe verskynsel is wat tot sy verwagte Nuwe Hervorming gaan lei. Prof. Janson antwoord: "Muller is skynbaar nie daarvan bewus dat die samestelling van die Bybelse kanon al van die vroegste tye af bevraagteken is en geen nuwe tema is, soos hy skynbaar wil beweer nie."
  • Prof. Janson skrywe: "Dit is ook nie waar (soos wat Muller beweer) dat Servet in Genève verbrand is omdat hy oor die kanon besorg was nie. Dit het grootliks gegaan oor die feit dat hy die Drie-eenheid ontken het."
  • Oor Muller se hoë waardering vir die apokriewe geskrifte, by name die Evangelie van Tomas, skryf prof. Janson: "Muller het by die genoemde seminaarmense gehoor dat die ontdekking by Nag Hammadi selfs as 'n keerpunt beskryf kan word. Sulke bewerings is byna tragies, want die waarheid is dat hierdie ontdekking, soos die een by Qumran, 'n strooivuur veroorsaak het wat gou uitgebrand en vandag weinig betekenis het."
  • Prof. Janson reageer ook op Muller se slaafse navolging van die Jesus-seminaar se siening oor die Evangelie van Thomas. Hy wys daarop dat die vroeë datum (50 n.C.) wat aan dié pseudo-Evangelie toegeken word, alles behalwe wetenskaplik bevestig is. Hy skryf: "In werklikheid is Thomas 'n tipies gnostiese produk (die gnostiek het die aarde, die liggaam - sowel as die vrou! - as inherent boos beskou), het veel later as die ander Evangelies ontstaan en is glad nie deur hulle gebruik nie."
  • Prof. Janson is van mening dat prof. Muller deur sy standpunte in vier opsigte met die evangelieboodskap breek:
  • "Eerstens het hy met 'n persoonlike God gebreek, en hy vind skynbaar meer aanklank by Obi-Wan Kenobi van Star Wars se woorde: "May the Force be with you".  Wat Christus kom doen het: om God tot by ons te bring, só naby dat ons Hom selfs Abba (Vader) kan noem ... dit geld nie meer nie. Die Skepper het ... net 'n onpersoonlike krag geword."
  • "Tweedens het Muller ook met Christus gebreek." Muller verkies om "Skrifkenners" te glo wat beweer dat Jesus 'n betreklik ongure lewe gelei het en geen wonders verrig het nie. Dieselfde mense beweer dat Jesus nie opgestaan het nie, maar dat sy liggaam deur wilde honde opgevreet is. "En om tot dit alles (en daar is nog veel meer) toe te stem, is skynbaar volgens Muller waarheen die 'Christelike geloof hom nou moet hervorm."
  • "Derdens het Muller ook met die gebed gebreek. Hy vra: 'Moet gebed nie eerder stilword-en-luister wees nie? Meditasie eerder as pratery?' Maar Jesus, wat self die Woord is en God met ons laat práát het, het ons terselfdertyd uitgenooi (en toegelaat) om deur Hom met die grootste vrymoedigheid met God te mag práát - oor die kleins moontlike sake op aarde."
  • "Vierdens het hy ook met die Skrif gebreek." Muller gaan hoog op oor die 22 stellings wat Robert Funk, die huidige Seminaarvoorsitter, gepubliseer het wat - selfs aangrypender as die 95 stellings van Luther - die komende hervor­ming inlui. "Maar besef Muller dat Luther s'n 'n hervor­ming was terug na God, na Je­sus Christus en sy soenoffer - die sentrale tema van die Nuwe Testament - na die genade en na die ware bedoelings van die Woord? By Funk is dit egter andersom."

Ware reformasie nodig🔗

Prof. Janson sluit sy artikel af met die versugting: "Die kerk van vandag het inderdaad behoefte aan 'n groter hervorming as Luther s'n."

Met hierdie opmerking van prof. Janson sou 'n mens van harte kon instem. Veral as 'n mens dink aan pogings deur kerke om meer aan­vaarbaar vir mense te word - sonder om eens te vra na wat vir God aanvaarbaar is. Dit kom na vore in ons gesprekke oor die prediking, die sakramente, kerksang, die inrigting van die erediens, en ook in die uitleef van ons Christelike beginsels. 'n Mens kan soms nie help om te wonder of beginsels dan net beginsels is vir so lank as wat dit ons pas of ons nie "voor die wêreld in verleentheid bring" nie.

Hervorming is dus nodig. Maar dan moet die ware hervorming terug na God en sy Woord wees. Lynreg teenoor prof. Muller se "hervorming" wat die Christendom van God en sy Woord wil weglei, moet die kerk in blywende hervorming altyd maar weer na God en sy Woord terugkeer. Selfs al is dit ongemaklik, selfs al haal ons daarmee die argwaan van andere oor ons.

As dit die gevolg van ware her­vorming is, weet ons dat dit nie ons optrede is wat die vyandigheid ontketen nie, maar die feit dat hulle uit die staanspoor Christus se vyande is.

Die eis om te hervorm beteken dat die kerk homself moet afvra: Is ons nog suiwer op die grondslag van die Woord van God? Of het ons ter wille van allerlei menslike oorwegings die rug begin draai op die Woord? Die kerk moet altyd reformeer, ja, maar ons vergeet maklik dat ware hervorming eerder inwendig as uitwendig is.

Ware hervorming is reformasie van die hart. As ons harte reg is, sal ons woorde en dade ook reg wees. Hierop het die Here Jesus ons self attent gemaak in Lukas 6:43: "Elke boom word aan sy vrugte geken."