Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

'n Tydgerigte boodskap wat altyd bly geld

Dikwels word daar, met reg, gewaarsku teen die gevaar dat ons nie die Bybel moet lees asof dit 'n tydlose boek is nie. Dit wat, sê maar, die apostel Paulus aan die Filippense geskryf het, kan ons nie sito-sito op die mense van die 21ste eeu oordra nie. In die Filippensebrief skryf Paulus byvoorbeeld oor die besondere innige band wat daar tussen hom en die gemeente in Filippi bestaan het (1:5), bedank hy hulle vir die geld wat hulle vir hom aangestuur het (1:10-18) en tref hy reëlings oor die terugkeer van Epafroditus na afloop van sy siekbed (2:25-30). Elke eerlike leser sal toegee dat sulke dele van die brief tog spesifiek gerig is tot die situasie van daardie tyd.

Dat al die ander Bybelboeke, net soos die Filippensebrief tydgerig is, is 'n feit wat in gereformeerde kringe algemeen erken word. Tydgerig, maar nie tydgebonde nie. Want al het Paulus sy briewe aan spesifieke gemeentes met spesifieke omstandighede geskrywe, was hy, soos elke ander skrywer in die res van die Bybel, 'n instrument in die hand van die Eintlike Skrywer, die Heilige Gees. En die Gees rig die Bybel op die gelowiges van alle tye. Daarom het die Gees toegesien dat Paulus en die ander skrywers só skrywe dat daardie tydgerigte geskrifte terselfdertyd God se altyd-geldende boodskap aan die mense van alle tye is.

Mense wat by die lees en bestudeer van die Bybel vergeet wie die Eintlike Skrywer is, kan nie verder sien as die tyd en omstandighede van die eerste geadresseerdes nie. Daarom kom hulle onvermydelik tot die gevolgtrekking dat die Bybel bloot produk van sy tyd is en in die omstandighede van 2000 jaar gelede vasgevang is. Of dat net sekere dele van die Bybel vir vandag bedoel is, terwyl dié dele waarmee hulle verleë staan (bv. die opstanding van Jesus, of dit wat Paulus oor die verhouding tussen man en vrou skryf, of oor homoseksualiteit skrywe) eintlik maar tydgebonde is. Wie die Bybel so lees, worstel met die vraag hoe sulke ou-ou boeke enigsins op ons betrekking kan hê. Hulle kom uiteindelik uit by die oortuiging dat die Bybel weinig meer doen as om vir ons te wys hoe die Christelike godsdiens van 2000 jaar gelede gelyk het.

As 'n mens die Bybel so gaan lees, dan kom jy onvermydelik by die gevolgtrekking uit dat die Christelike godsdiens wat in die Bybel beskryf word, 'n godsdiens van 2000 jaar gelede is, 'n uitgediende godsdiens wat in die 21ste eeu nog net deur dinosaurus-gelowiges nagevolg word.

Wie tot so 'n gevolgtrekking kom, maak egter 'n reuse-fout. Die evangelie waarop die Christelike godsdiens berus, is immers 'n boodskap wat nie in 'n bepaalde tyd vasgevang is nie. Dit bly altyd onveranderlik dieselfde. Dit gaan bo die tyd uit. Die Bybel is, om die woorde van prof. Christi Coetzee te gebruik, 'n "a!tyd-nuwe Boek in 'n ou-ou wêreld".

Maar om die onverwelkte varsheid van die Bybel raak te sien, moet 'n mens dit lees soos die eintlike Skrywer bedoel het dat ons dit moet lees. Ons kan dit nie lees asof alles presies so op ons eie tyd gerig is nie. Anders eindig ons straks by 'n "dinosaurus-teologie". Ons moet rekening hou met die feit dat elke Bybelboek op sy eie tyd gerig is; ons moet egter ook besef dat die Bybelboeke God se ewige onveranderlike boodskap aan die mense van daardie tyd in hulle eietydse idioom bring. So moet ons dit lees en verstaan. As ons by elke tydgerigte woord die Eintlike Skrywer se bedoeling raaksien, dan steek ons nie meer vas by dit wat Paulus, of Lukas, of Jesaja geskryf het nie, maar ons hoor die stem van die Here deur elkeen van sy diensknegte.

Daarom is dit moontlik vir elke gelowige om prontuit te verklaar: Die Heilige Gees het, toe Hy die Bybel 2000 jaar gelede laat opskryf het, óók die mens van die 21ste eeu in gedagte gehad. Die evangelieboodskap is ook vir óns bedoel; die implikasies daarvan om in Jesus Christus kinders van God te wees, geld ook vir óns. Die wonderlike gevolge van die kruis en opstanding van Jesus reik tot by ons hier in die 21ste eeu, en nog verder, tot op die dag wanneer die Here weer kom.

Ja, ook die belofte van die wederkoms was nie maar net vir die ore van die mense van ouds bedoel nie. Ook ons moet en kan leef in blye afwagting op die dag wanneer die Here sy beloftes waar maak. Heerlike beloftes, maar beloftes wat ook 'n skadukant het. Want Hy belowe ook dat dié wat nie in geloof aan die beloftes van sy Woord wou vashou nie - sou dit insluit diegene wat dit in die verlede wou vasvang of wat dit as uitgedien beskou? - nie toegang tot sy ewige Koninkryk sal verkry nie. Vir hulle wag die verdoemenis (Openb. 3:3). 'n Harde woord, maar wee die een wat dit vanweë die hardheid daarvan verwerp.

Kortom:  die  evangelieboodskap  waaraan  die  Christengelowige  vashou,  staan  vas  deur  alle  tye heen. Die waardes wat aan hierdie evangelie verbind is en wat God in die Bybel aan ons bekend maak, geld ewe kragtig vir die 21ste eeu as wat dit vir die 1ste eeu gegeld het. Dit is rede om God lewenslank te dank en te prys.