Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Navolgers van God

(‘n Betekenis van die Ou Testament vir ons heiliging vandag)🔗

Gebruik ons nog die Ou Testament wanneer ons besluite neem oor wat ons gaan doen en laat?  Laat ek dit anders stel: beskou ons nog die Ou Testament as relevant vir ons etiek as Christene?  Ek is bevrees dat ons lewens weinig indien enigsins nog gevorm word deur die Ou Testament.  Dit ten spyte van ons belydenis dat die hele Skrif van God vir ons nuttig is vir die onderwysing in die geloof (2 Tim. 3:16).  Nou kan ek al die protesstemme van baie lesers hoor: Maar ons beskou tog nog die wet van die Here vir ons as bindend; ons maak groot erns met die Tien Gebooie.

Ek wil graag kortliks aandag vra vir hierdie manier waarop ons dikwels omgaan met die Ou Testament en met name die “tien gebooie”.  My beswaar gaan hoofsaaklik daarteen dat ons die “tien gebooie” hanteer asof dit ’n tydlose, universele en abstrakte beginsel gee waaruit ons kan aflei hoe ons vandag moet leef.  Die Torah (waarvan die 10 gebooie ’n klein onderdeel vorm!) fokus verseker nie in die eerste plek op wette en gebooie nie.  Alle fokus is in die eerste plek op die Here self.  Die grootste aandag word gegee aan die vertelling van die manier waarop die Here sy volk uit genade gered het vanuit die ellende waarin hulle was. 

Die Ou Testament wil daarom ook nie in die eerste plek dat ons tien tydlose “beginsels” sal nakom nie, maar veel eerder dat ons optrede na die Here God self sal wys.  Trouens al sy gebooie en insettinge is maar net ’n weerkaatsing van wie en hoe Hy is.  Vandag wil die Here hê dat ons lewens (net soos dié van Israel)  ’n rigtingwyser sal wees na wie en hoe die Here is in sy onwrikbare trou aan sy volk wat Hy uitverkies het.  Israel moes laat sien hoe genadig die Here is deurdat Hy hulle van slawerny uit Egipte verlos het.  Sý karakter, sy wil, sý genade, sý trou, sý dade en sý doel moet vooropstaan in wat ons weerspieël in ons optrede. 

Ja, dan kom ons wel uiteindelik by die “gebooie en insettinge” uit, maar nie met ’n kortpad nie.  Ons doel is ook nie om by die gebooie uit te kom nie, maar by die Here self!  Sy gebooie kan ons nie verstaan los van en sonder die vertelling oor sy genadige redding van die volk nie.  Israel (en ons) se karakter word gevorm deur die vertellinge in geloof aan te neem oor God se verlossing en die lankmoedige en geduldige weg wat Hy met hulle gegaan het.  Soos ’n vader sy seun dra, het die Here vir Israel deur die woestyn gedra.

Ek wil dit graag demonstreer met ’n kort verduideliking van die uitdrukking “wandel in die weë van die Here” (Deut. 10 : 12 – 19).  Dit is ’n metafoor (“beeld” as u wil) waarmee die volk van die Here opgeroep word om die Here na te volg.  Nee, nie nabootsing nie!  Navolging beteken dat ons die Here volg op ’n pad waar Hy ons in voorgegaan het.  Die oë is noukeurig vasgenael op die voetstappe wat die Here voor ons uitgaan waarin sy goedheid, heiligheid en genade gesien word.  Israel moes die Here navolg deurdat hulle lewe as volk ’n sigbare afbeelding kon wees van die persoonlikheid (karakter) van die Here vir al die nasies tussen wie hulle gewoon het in die beloofde land.

Net te maklik kom ons uit by die gedagte van “gebooie” wanneer ons dink aan “die weë van die Here”.  Dan verloor ons sig op die Here self.  Die gebooie het natuurlik alles te doen met die karakter van die Here en is daarvan ’n afbeelding.  Maar wanneer ons die weë van die Here volg, volg ons in die eerste plek Hom self na.  Daarvan is die gebooie ’n verwoording in ’n spesifieke fase in die lewe van Israel in die beloofde land.  Die Here gee nie sy gebooie voordat die volk haar Verlosser in die woestyn by die berg ontmoet op pad na die beloofde land nie.  Die seën en die vloek van die verbond wat aan die gebooie en insettinge verbind word, is ook bedoel om in die beloofde land ervaar te word.  Dink byvoorbeeld aan die aanmoediging in die eerbied vir die vader en moeder wat gegee word : “sodat jy lank mag bly woon in die land wat die Here jou God aan jou gee”. 

In Deuteronomium 10 : 17 – 19 kry ons ’n mooi voorstelling van wat dit beteken om in die weg van die Here te wandel en op dié manier Hom na te volg.  Nadat die volk in vers 12 opgeroep is om in die weg van die Here te wandel, word dit heel konkreet gemaak in vers 19: “Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland”.  Die bedoeling is nie dat Israel hulle moeilike situasie moet onthou en dan simpatie vir die vreemdelinge moet kry nie.  Hulle moet eerder onthou dat die Here “’n welgevalle aan hulle vaders gehad het”, daarom het Hy hulle as vreemdelinge uit Egipteland gaan haal en as kinders behandel.  Die Here se genade en ontferming word ’n voorbeeld wat Israel moet navolg!

In die Nuwe Testament is dit natuurlik nie anders nie.  Dan word die navolging van God toegespits op navolging van Christus.  Hy sê dan ook dat Hy ons ’n nuwe gebod gee wat eintlik ’n ou gebod is, dat ons mekaar moet liefhê.  Maar dan nou “soos wat ek julle liefgehad het” (Joh. 13).  In die sogenaamde Bergrede word ons reeds opgeroep om volmaak te wees soos ons hemelse Vader volmaak is (Matt. 5 : 48).  Ook die apostel Paulus gebruik God self as die Een wat nagevolg moet word, wanneer hy die lewe van Christus se gemeente aan die orde stel: “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders” (Efes. 5:1).  Die toespitsing op mans wat hulle vroue moet liefhê soos Christus sy gemeente liefgehad het, is ewe belangrik as wat dit ’n aangrypende hoogtepunt is van die etiek en heiliging van die gemeente van Christus in die Nuwe Testament.  Daarmee kom alle navolging van die Here (Jahwe) vanuit die Ou Testament in ’n nuwe en aktuele en relevante lig te staan!!