Unpublished

3 bladsye.

Onderdanigheid van die Vrou

man en vrou

DIE huistafels is die naam vir verskeie dele van die Nuwe Testament. Daarin word oor verhoudinge tussen mense in die huis gehandel (bv. in Ef. 5:22-6:9; Kol. 3:18-4:1). So word man, vrou, kinders en slawe aangespreek en leiding oor die onderlinge verhouding gebied. Die algemene betekenis van hierdie gedeeltes binne die geheel van die NT is reeds bekyk en verder is op die man as hoof gelet. Nou moet nog op die posisie van die vrou gelet word.

Die onderdanigheid van die vrou staan in die huistafel van Efésiërs binne die raamwerk van die liefdevolle hoofskap van die man. Die getroude vrou is geroep om die man se hoofskap op haar beurt te erken. Hierdie onderdanigheid word aangedui met die Griekse woord hupotassomat, ’n kernbegrip wat herhaaldelik in die huistafels voorkom (Kol. 3:18; Ef. 5:22, 24; 1 Pet. 2:13; 3:1)

Die grondbetekenis van hupotassomai is: om te rangskik onder iets of om iets te orden. In ’n sekere tyd het hierdie werkwoord die betekenis gekry van militêre onderwerping. Flavius Josefus vertel van ’n inskripsie wat in die eerste eeu voor Christus in Egipte gevind is en wat as ’n sitaat van die bekende geskiedskrywer Menander van Efése aangedui word. Dit sê dat die Romeine die hele wêreld aan hulle onderwerp het (Bell. 2.361), en daarby word hierdie woord gebruik. Die bepaalde werkwoordsvorm (Part. perf. pass) hiervan het ’n gangbare woord geword vir mense wat aan ’n vreemde heerser onderworpe is. Ook is die woord onderdaan daarmee aangedui.

In die Here🔗

By die Jode het hupotassomai ’n mildere betekenis gehad. In die bekende brief van Aristeas, ’n offisier van die lyfwag van Ptolemaeus, word dit gebruik in die betekenis van ootmoedig wees (kyk Spr. 3:43).

Hierdie werkwoord is opgebou uit twee dele: die voorsetsel hupo en die werkwoord tasso of in ’n ander (mediale) vorm tassomai. L. Goppelt het daarop gewys dat ons as Westers denkende mense baie geneig is om op hupo die klem te laat val, sodat onderdanigheid of ondergeskiktheid sterk beklemtoon word. Maar, so sê Goppelt, in die Nuwe Testament val die klem op tassó of tassomaï. In hierdie woord sit die gedagte van orde (taxis) – daar moet orde wees. Die oproep in die NT tot onderdanigheid is nie gerig tot rebelle wat onderwerp moet word nie. Die gelowiges is juis wetsgehoorsame mense wat graag die orde wil erken en eerbiedig. Die mediale betekenis van die werkwoord wil veral aandui dat die mens hom na die bestaande orde moet voeg. In die huistafels van die NT gaan dit egter nie bloot om ’n erkenning van ’n bestaande samelewingstruktuur nie. Word die oproep tot onderdanigheid gehoor, dan staan die belangrike uitdrukking in die Here daarby (Kol. 3:18, 20; Ef. 5:22; 6:5). Gehoorsaamheid aan die meerdere: die man, die ouer en die meester, moet tegelyk gehoorsaamheid aan die Here wees (Kol. 3:24; Ef. 5:24; 6:5).

Die uitdrukking in die Here beteken dat die gelowiges (vroue, kinders, slawe soos hulle aangespreek word) in Christus begrepe is, dat hulle onder sy genade-heerskappy staan, dat hulle in die geloof aan Hom verbonde is. Onderdanigheid in die Here beteken dus dat die genoemde gelowiges vanuit hulle verbondenheid aan Jesus Christus teenoor hulle man, ouer of heer gehoorsaam is.

man en vrou

Die woord Here (Kurios) beteken dat Christus absolute heerskappy uitoefen oor hulle wat in Hom begrepe is, in Hom glo en Hom liefhet.

In Vrees🔗

Die huistafels verbind die onderdanigheid verder met die woord vrees. In die huistafel aan die Efésiërs skrywe die apostel; “Wees aan mekaar onderdanig in die vrees van God” (Ef. 5:21; kyk ook 1 Pet. 2:17; 3:2).

Vrees het hierdie betekenis van ontsag, eerbied. In die OT, waar hierdie begrip sy wortels het, beteken vrees nie angs nie. Díe uitdrukking vrees wys op die volmaakte liefde (W. ten Boom).

Die onderdanigheid wat in die Christelike huistafels van die vrou gevra word, is nie ’n angstige onderworpenheid nie. In daardie sterk patriargale tydperk was die gevaar wel besonder groot en aktueel dat die man hom as ’n despoot teenoor sy vrou kon gedra. Maar die Christelike huistafels bevat ’n korrektief wat dit vir die man onmoontlik maak om as ’n tiran in sy huis op te tree. Dit is dat die man wat ook vader en heer is en wat die patriarg in die oikos is, die opdrag kry om sy vrou lief te hê (Kol. 3:19; Ef. 5:25). Petrus wys ook daarop dat die man verstandig met sy vrou moet saamleef en aan die vroulike geslag as die swakkere eer moet bewys (1 Pet. 3:7).

Praktiese Onderdanigheid🔗

Die huistafels wys op twee plekke hoe die gelowige vrou haar onderdanigheid teenoor haar man prakties moet beoefen. Dit geld haar huis en die gemeente.

  • Die onderdanigheid van die vrou teenoor haar man is nie afhanklik van die man se regte beoefening van sy hoofskap teenoor sy vrou nie. Wanneer die man ongelowig is, aan die Woord ongehoorsaam is (1 Pet. 3:1), dan moet die gelowige vrou nóg aan haar eie man onderdanig wees.

So ’n gelowige lewenswandel in Christelike onderdanigheid het volgens die apostel Petrus so ’n groot krag dat daardeur die man vir die geloof in Jesus Christus en gehoorsaamheid aan die gebod van God gewen kan word. Die gebod van onderdanigheid bly dus van krag ook wanneer die man nié sy opdrag nakom nie. Dit beteken vir die gelowige vrou dikwels lyding. Petrus wys in sy brief dikwels op die bereidheid om te ly in elke situasie waarin ’n mens geroep word om as ’n getuie van Christus op te tree (1 Pet. 2:19; 3:14; 4:12, 13, 16).

  • In die huistafel in 1 Tim. 2:9-15 gee die apostel Paulus verskillende voorskrifte. Die hósautós (1 Tim. 2:9) verbind die voorskrifte vir die vrou met die voorgaande gedeelte waar dit oor openbare gebed handel (D. Guthrie), die “kerkgang” (H.N. Ridderbos). Ook 1 Tim. 2:11, 12 maak duidelik dat dit hier oor die onderdanigheid van die vrou in die erediens gaan: Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. Die in stilte wil sê dat die vrou nie aan die onderrig moet deelneem nie. Dit stem ooreen met 1 Kor. 14:33 waar Paulus skrywe dat die vrouens in die gemeente moet swyg. Die vrou moet haar laat leer (manthanetó) maar mag nie onderrig gee nie (didáskein). Ridderbos sê dat mens sonder vooringenomendheid hier die manthanein as teenhanger van didáskein moet opvat, dus haar laat onderrig deur diegene wat leer. Nou hoef didáskein nie vanself ’n amptelike funksie in die gemeente aan te dui nie, aangesien hierdie woord ook vir die opbouwerksaamheid van die lidmate gebruik word (kyk Kol. 3:16). Maar die woord wys hier tog op ‘n spesiale werksaamheid, waartoe nie elke gemeentelid bekwaam en geregtig was nie. (D. v. Swigchem).

Ons moet hier by onderrig gee dink aan die amptelike onderrig wat in die gemeente verrig word deur hulle wat in woord en leer arbei (1 Tim. 5:17). Dit bestaan in die ontvouing van die inhoud van die Evangelie en die gee van aanwysing vir die Christelike lewe. Dat hierdie onderrig gesagvolle lering is, blyk ook uit die opmerking van Paulus dat die vrou nie oor die man mag heers nie (1 Tim. 2:12). Die werkwoord authentein kom net een keer voor en kan beteken: sowel met gesag optree asook domineer. Hier het dit die betekenis van: met gesag optree. Publieke leerwerksaamheid van die vrou in die erediens gee aan die vrou gesag, outoriteit oor die man. Dit is volgens Paulus in stryd met die skepping (2:13). Die apostel gaan egter nog verder en hy beroep hom ook op die sondeval (2:14). Die vrou het haar laat verlei en daarom is haar die reg ontneem om haar as meerdere van die man te laat geld.

man en vrou

Die Groot Vraag is: Geld hierdie Onderdanigheidsposisie van die Vrou Vandag nog?🔗

H. Conzelmann is van oordeel dat Paulus se opmerkings oor die swye van die vrou in die gemeente in 1 Tim. 2:11 ontleen is aan die swyggebod in 1 Kor. 14:33-36 en dat daar weer sprake is van ’n invoeging wat selfs die gang van die argument onderbreek

Ander sien in Paulus se houding teenoor die vrou ’n oorblyfsel van sy rabbinistiese siening op die vrou (G. Fitzer).

Dan is daar diegene wat sê dat ons Paulus se spreke oor die ondergeskikte posisie van die vrou in die kerk moet sien in die lig van daardie tyd. Ons mag nie die situasie uit die eerste eeu na Christus op ons tyd oorplaas nie (C. Brown).

Die Vrou in die Kerk Vandag🔗

Dit is onweerlegbaar dat die Bybel in die huistafels oor die onderdanigheid van die vrou praat. Daar word egter nie ongekwalifiseerd oor haar onderdanigheid gespreek nie. Sy moet in die Here onderdanig wees. Haar geloofsverbondenheid aan Jesus Christus, wat Here is, is bepalend vir haar verbondenheid in liefde aan haar man.

Haar man is egter ook geroep om, in navolging van Christus en met Christus as voorbeeld, sy vrou te lei en te versorg en te koester. Hy moet sy hoofskap oor sy vrou in liefde uitoefen.

Die houding van die man word nie bepaal deur die optrede van sy vrou nie en die houding van die vrou word nie bepaal deur die optrede van haar man nie. Optrede van albei, die man as hoof en die vrou in onderdanigheid, word net deur die Goddelike gebod bepaal.

Hierdie uitsprake, sowel oor die man as oor die vrou, kom tot ons met Goddelike gesag. Ons kan nie sê dat ons hier slegs met tradisie-gesag, dus gesag op ’n manier soos die tradisie gesag het, te doen nie.

Dit is ook nie geoorloof om Paulus se spreke oor die onderdanigheid van die vrou in die erediens in die huistafel uit die Pastorale Briewe los te maak van ander uitsprake oor die onderdanigheid van die vrou in Efésiërs en Kolossense en 1 Petrus nie. Dit is onjuis om die uitsprake oor die onderdanigheid van die vrou in Efésiërs en Kolossense en 1 Petrus wel as gesagvol te aanvaar, maar om die uitspraak oor die posisie van die vrou in die erediens in 1 Tim. 2 as tydgebonde te beskou.

Ons aanvaar dat ons in alle huistafels in die NT, ook waar hulle oor die onderdanigheid van die vrou spreek, met die gesagvolle Woord van God te doen het. Daardie uitsprake vra derhalwe ook van ons nou gehoorsaamheid. Dit beteken dat die swyggebod vir die vrou in die erediens vandag nog geld en dat die vrou in die kerk nie op ’n gesagvolle wyse die Woord van God mag verkondig nie. Die imperatief (bevel) oor die onderdanigheid van die vrou is in die huistafels onlosmaaklik met die heilsindikatief van die sterwe en opstanding en Here-wees van Jesus Christus verbind.