Bron: Kompas. 3 bladsye.

Onthou van hoerery – etiek en seksualiteit

man en vrou

Dit wat Paulus aan die gemeente in Thessalonica oor hoerery skryf, herinner baie sterk aan die besluit van die apostels en oudstes in Jerusalem waarvan ons in Handelinge 15 lees. Die vraag wat daar beantwoord moes word, was wat wel en wat nie die wil van die Here is vir gelowiges wat nie-Jode is. Die gevolgtrekking aan die einde van ʼn lang oorleg was dat geen vereiste aan die gelowiges uit die heidense volke opgelê mag word wat nie noodsaaklik was nie (Handelinge 15:22). Die noodsaaklike verpligtinge was soos volg: “dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (15:29). Vroeë Christelike etiek vir ʼn Christelike lewe wat onderskei word van dié van die heidene.

1 Tessalonisense 4🔗

Dit was nodig om juis hierdie dinge te beklemtoon, omdat die verdraagsaamheid ten opsigte van diens aan ander gode en ʼn seksueel losbandige lewe so uitermate groot was in die Griekse kultuur van daardie tyd. Paulus en Barnabas kry hieroor ʼn brief wat hulle saamneem op hulle verdere reis na Antiochië. Dit klink asof hierdie besluit byna woordeliks ook aan die gelowiges in Thessalonika voorgehou is:

Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery.1 Tessalonisense 4:3

Ontsporings op seksuele gebied vind so maklik plaas.

In diens van die Here🔗

Hoe belangrik hierdie waarskuwings teen geslagsgemeenskap buite die huwelik ook al is, is dit nie die spits van die sewende gebod nie. Die sewende gebod is veel meer omvattend. Dit begin ook nie by misbruik van seksualiteit nie. Die sewende gebod het daarmee te doen dat ons ons geslagtelikheid, ons man- en vrouwees, in diens van Christus moet stel. Die groot sonde teen die sewende gebod pleeg ons daarom wanneer ons ons geslagtelikheid losmaak van ons diens aan die Here. In die Skrif is ʼn huwelik met ʼn ongelowige veel erger as ʼn sg. “moet-huwelik”! Huwelike waarin man en vrou nie één is in hul begeerte om die Here te dien nie, vorm gereeld die onderwerp van die apostels se pastorale sorg.

Is dit daarom nie vreemd dat ons heel ernstig kan voel oor ʼn sg. “moet-troue”, maar nie eers meer nadink oor ʼn jongman/-meisie wat ʼn verhouding het met iemand saam met wie hulle nie een is in hulle diens aan die Here nie? En dan dink ons nie aan verhoudings met iemand van buite die gemeente nie. Laat ons binne die gemeente begin en vra of ons nog iemand uit die gemeente as huweliksmaat neem omdat ek begeer om die Here saam met die persoon te dien. Wanneer Israel op pad is om die beloofde land in te trek, word hulle gewaarsku teen allerlei vorms van seksuele onreinheid. Maar staan die waarskuwing om geen huwelik te sluit met die seuns of dogters van die ongelowige inwoners van Kanaän, nie nóg sterker op die voorgrond nie? Die Here is vir ons liggame en ons liggame vir die Here (1 Korintiërs 6:19 e.v.).

Geheilig vir Christus🔗

Wanneer Paulus in sy eerste brief aan die Tessalonisense seksualiteit aan die orde gaan stel, herinner hy die gemeente aan “bevele (wat) ons julle deur die Here Jesus gegee het” (4:2). Elke gebod van God kom nou in die Naam en gesag van die Here Jesus na ons. Ook die sewende gebod: “Jy mag nie egbreek nie”. Christus wil geheel en al beslag lê op jou as mens.

ring in sak steek

Van die begin reeds het die Here die man en die vrou gemaak. Manlik en vroulik is ons gemaak. En dit was alles baie goed (Genesis 1:31). Waarom was dit alles so goed en mooi? Omdat man en vrou gemaak is om in diens te staan van die uitbreiding van God se koninkryk. En omdat die Here die twee so mooi gemaak het om by mekaar te pas. Hulle kon mekaar so goed help met die groot opdrag wat die Here hulle gegee het:

Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers daaroor.

Man en vrou in diens van God se koninkryk! Deur hulle as man en vrou op aarde te plaas, wil die Here iets van sy Koningskap in die hemel sigbaar laat word hier op die aarde. Hulle gaan mekaar daarin help, want hulle pas goed by mekaar.

Hulle pas só goed by mekaar dat hulle selfs liggaamlik een kan word. Die Here kom verbind selfs sy seën daaraan. Hulle kon vrugbaar wees en vermeerder onder die seën van die Here. Kinders is nie ’n las nie, maar deel van die seën van die Here. Om kinders te kry is ook nie maar net vir die aardigheid nie. So asof kinderloos bly net so ʼn goeie keuse sou wees nie. Die vrugbaarwees is ʼn konkrete OPDRAG van die Here. Want die Here verbind die heerskappy oor die skepping heel regstreeks aan die vrugbaarwees. So anders as wat ons vandag dikwels na die ontvang van kinders kyk – Adam en Eva heers oor die skepping deur óók vrugbaar te wees. Dikwels sien mense kinders ontvang as ʼn in-die-pad-staan van ons “eintlike” werk en loopbaan. Die Here bedoel egter kinders-kry as ʼn seën. Dit is nie om dowe neute dat die Here steeds die genadebeloftes aan die gelowiges ook verbind aan hulle nageslag nie:

Ek sal vir jou ʼn God wees … en vir jou nageslag na jou.

Geen ontmoediging nie, maar juis aanmoediging om kinders van die Here te wil hê.

Geen los artikel nie🔗

Maar hierdie verwekking van kinders is nie maar sommer ’n los artikel om te gebruik nie. Die plek vir hierdie opdrag om seksualiteit aktief uit te oefen, laat die Here nie aan Adam en Eva se goeddunke oor nie. Die uitleef van seksualiteit word deur die Here verbind aan die huwelik. Een man en een vrou. Daarvan lees ons in Genesis 2:18-24. Hier het ons nie net ’n beskrywing van hoe Adam aan sy vrou gekom het nie. Die beskrywing van die manier waarop Adam en Eva by mekaar uitgekom het, eindig met die algemene reël wat God vasstel vir álle manne en vroue: “Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” Lewenslank aan mekaar verbind. Hulle kom nie maar by geleentheid by mekaar nie. Hulle lééf saam; sáám dien hulle die Here en help mekaar.

Beskerming🔗

Ook die mens se geslagtelikheid is deur die sonde verniel en geplunder. Adam en Eva word skaam vir mekaar. Hulle word soos vreemdelinge vir mekaar. Ander, soos Lameg, word skaamteloos – hy neem vir hom twee vroue bloot vanweë hulle fisiese aantreklikheid. Na ʼn tyd van dikwels oordrewe skaamtegevoelens (preutsheid), leef ons vandag in ʼn tyd waar daar byna geen skaamtegevoelens meer oor is nie.

verliefdes

Die wil van God is heel anders. God se wil is ons heiligmaking (1 Tessalonisense 4:3). Hy wil dat ons ons sal onthou van hoerery. As ons God wil behaag (4:1), moet ons anders leef. Die Tessalonisense wat hulle van die afgodery bekeer het, moet hulle anders gedra op pad na die huwelik en daarin.

Nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie.1 Tessalonisense 4:5

Hiervoor gebruik die apostel Paulus ʼn uitdrukking wat vir ons heel vreemd mag klink en daarom ook vreemd vertaal is in ons Bybels. Ons sal dit waarskynlik as volg moet vertaal: “Elkeen van julle moet weet om sy skaamte (skeuos) te bewaar/beheer in heiligheid en eer” (vs. 4). Dit geld vir mans en vroue. Ons laat ons nie beheer deur ons geslagtelikheid nie, maar deur die wil van God.

Heiliging🔗

Nie hartstogtelike begeertes sal die eerste en laaste sê in ons lewens hê nie. Ons sal regeer word deur God se wil. Ek laat my nie beheer deur my “gevoel” vir die meisie of jongman nie. Dit kan wees dat ek heel sterk “gevoelens” vir iemand het, maar dit werklik nie MAG hê nie. Verliefde gevoelens is geen wet vir homself nie. Paulus se vermaning aan die Tessalonisense is: Ons vra en vermaan julle in die Here Jesus dat julle volgens die heiligheid wat God vra, sal leef.

Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.1 Tessalonisense 4:7

Teenoor dit alles staan God wie se wil vir ons op pad na en in die huwelik die heiligmaking is. Nie maar sommer ʼn huwelik nie. God wil ʼn heilige huwelik. Nie sommer ʼn huwelik “met iemand binne die kerk” nie. Maar ʼn heilige huwelik met ʼn jongman of -vrou binne die kerk. Die eerste vraag is nie of die ander ook in jou kerk is nie, maar of die ander ook saam met jou die heiligheid voor die Here begeer. Dan mag die ander dalk nog nie saam in een kerk wees nie, maar dan is die basis, die ENIGSTE basis, gelê vir alle verdere gesprekke oor ʼn toekomstige verhouding.