Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Romeine 8 - Die triomf kom eers later

Romeine 8 bly een van die mees diepsinnige en voortreflike gedeeltes wat ooit op skrif gestel is. Dit is eenvoudig onmoontlik dat die menslike natuur en logika óóit só iets sou kon bedink, want die inhoud gaan grotendeels lynreg téén die menslike natuur in. Dit is ongetwyfeld die openbaring van God – deur die pen van ’n gewone mens – Paulus. 

Aan die een kant roep die Apostel die wonderlikste dinge uit. Onder andere dat álle gelowiges – in hulle swakhede en stryde – erfgename van God is (v 17) en dat hulle só seker in die ewige heerlikheid sal deel, dat Paulus dit in die verlede tyd beskryf (v 30).  Maar aan die ander kant vind ons ook “harde” woorde in Romeine 8 – woorde wat die kerk liefs nie wil hoor nie. Hy sê naamlik dat – al ís die heerlikheid die gelowige se bestémming - die gelowige nie stryd, lyding en beproewing in die teenwoordige tyd vryspring nie. Soos Jesus se weg tot glorie via die kruis geloop het, so ook vir ons. Dit is strydig met ons logika. Ons logika sê dat Christus se huidige Koningskap aan die regterhand van die Vader díé implikasie moet hê dat die heerlikheid en glorie nóú reeds in ons ervaring sigbaar moet wees. Ómdat Christus koning in die hemel is, mag ons op krag, gesag en glorie aanspraak maak en dit proklameer oor mense, stede, lande en ook oor die bose. Dit gebeur deesdae dikwels tydens massa gebedsbyeenkomste. Dit is egter strydig met die apostoliese Christelike leer. Die Apostel se leer is dat – ómdat Christus Koning is en ons eindbestemming die heerlikheid is, ons in hierdie lewe bereid moet wees om die pad van die kruis te loop. Nie aanspraak maak op die glorie nie, maar eerder sug. Die glorie lê in die toekoms, maar in die teenwoordige tyd, sug ons. 

Paulus is dus absoluut realisties en eerlik oor die huidige stand van sake. Daaroor behoort ons dankbaar te wees. Ons behoort bly te wees dat hy so realisties praat van die teenswoordige lyding (v 18), die skepping wat aan verydeling onderworpe, verslaaf is en sug in pyn (vv 20-22). Ook die gelówiges sug (v 23). Die gelowige se hoop is nóú reeds sigbaar nie (v 24). Tewens, die gelowige is dikwels só swak, dat die Gees hom/haar help (v 26). Hierdie realistiese tekening van die teenswoordige wêreld en lewe, klop ten volle met ons daaglikse ervaring. Dit is nie ’n teologie van triomfalisme wat in krag en sukses roem nie.

Alhoewel Paulus ’n realistiese sig op die huidige lewe daarop nahou, kyk hy nie pessimisties na die toekoms nie! Die huidige lyding kan glad nie opweeg teen die heerlikheid wat God in die toekoms sal laat aanbreek nie (v 18). Alhoewel God die skepping aan verydeling onderwerp het, het Hy die belofte van hoop gegee (v 20).  Hierdie hoop is God se uiteindelike doel met alles. Maar, wie sal ’n verlange híérna koester indien God nie die teenswoordige lyding toelaat nie? Die versoeking waarvoor elke gelowige gedurig te staan kom is om hierdie wêreld sy/haar tuiste te maak. Daarom laat God dikwels die skaduwee van verganklikheid oor ons pad val. Lyding, stryd, beproewing en teenspoed is die instrumente wat God gebruik om die gelowige te laat verlang na ’n béter tuiste by Hóm. Deur middel van hierdie instrumente maak Hy die gelowige innerlik los van die teenswoordige wêreld om te lewe vanuit die hoop op die dag wanneer God sal openbaar wie Sy kinders was en die skepping bevry sal word (v 23). Hierdie hoop is ’n absolute sekerheid omdat die gelowige nou reeds die Gees as “eerste gawe” (deposito) van God ontvang het (v 23). En tog “sug” die gelowige steeds, gaan vers 23 voort. Weer eens: die menslike logika sou dit nooit só bedink nie. Óns sou skryf: Die gelowige leef vanuit die glorie omdat hy die Gees ontvang het en die sekere hoop op die toekoms besit. Tóg lei die Gees vir Paulus om te skryf: Die gelowige wat die Gees ontvang het, SUG!! Die glorie kom eers later. Die Gees het immers as eerste gawe (“first fruit”) gekom en nie as die volle oes nie! Die lewe uit die volheid van die Gees beteken daarom veel swakheid (v 26), maar juis daarom tree die Gees vir die gelowige in dat God se wil in sy/haar lewe uitgewerk sal word (v 27).

Dit is moeilik om die hartklop van die Apostel se gedagtegang te verstaan sonder begrip vir wát hy bedoel met iets soos “God se wil vir die gelowige”. Wát is die “goeie” waartoe Hy alle dinge laat meewerk (v 28)? Wat is God se uiteindelike doel met alles? Waarheen is Hy met Sy eiendom op pad? Die vermoede bestaan dat die antwoord in vers 29 te vinde is: Hy is besig om Sy kinders gelykvormig te maak aan die beeld van Sy Seun – dáártoe is hulle immers uitverkies! Die “goeie” waartoe Hy alle dinge laat meewerk in die gelowige se lewe, is die gelowige se Christusgelykvormigheid. Dit is ten diepste wat Paulus bedoel met die toekomstige heerlikheid: om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun. Hy is baie meer besorg oor ons Christusgelykvormigheid as wat Hy besorg is oor ons geluk en sukses. Uit God se perspektief is die huidige lewe ’n voorbereiding vir die uiteindelike heerlikheid sónder dat die volheid van die toekomstige triomf nou reeds gesmaak word. Hoe dikwels word die Christelike Geloof gesien as verál betekenisvol vir hierdie lewe, met ook iets vir die toekomstige lewe. Romeine 8 gee ’n totaal ander perspektief. Volgens Romeine 8 gaan dit verál oor die toekomstige lewe, met ook iets vir hierdie lewe. Hoe moet daar nie gewaak word teen ’n kerklike praktyk wat aan mense valse beloftes maak vir die teenswoordige lewe, in plaas van vaste beloftes vir die toekoms nie! Só seker is hierdie toekoms, dat dit reeds in die verlede tyd beskryf word (v 30c).