Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Tussen Maleagi en Matteus - vier eeue van stilte

As 'n mens die Bybel by Genesis oopmaak en begin lees, sien jy een van die grootste wonders van die geskiedenis voor jou ontplooi. Hoe verder jy lees, hoe duideliker word dit dat God, die Almagtige, van begin tot einde met die mens besig is.

Met Adam in die paradys wandel Hy in die aandwindjie, Hy red Noag te midde van 'n goddelose geslag. Met Abraham sluit Hy sy genadeverbond. Moses roep Hy uit die woestyn om sy volk Israel uit Egipte te verlos. Daarna lees ons van Josua, die rigters, Dawid, Salomo en die ander konings. Met hulle almal is God deurentyd besig. En wanneer sy volk ontrou raak, stuur Hy sy profete om hulle te waarsku.

Uiteindelik laat voer Hy Israel in ballingskap weg, en deur sy genade bring Hy hulle weer terug. Weer praat Hy met hulle deur sy profete. Die Ou Testament eindig dan by een van hierdie laaste profete: Maleagi - met die Here se belofte van die wegbereider wat sal kom soos 'n Elia (Mal. 4:5).

Maar daarna is dit of die groot swye aanbreek. Na Maleagi kom daar vir vier eeue lank geen woord, geen aktiwiteit, geen openbaring van God nie. So lyk dit. Want eers 400 jaar later, wanneer die priester Sagaria een môre op die uur van die gebed by die reukofferaltaar staan, verskyn die engel Gabriël en kondig die geboorte van die wegbereider aan (Luk. 1:8 e.v.). Maar tot dan toe doodse stilte.

Maar tog moet ons nie uit die stilswye aflei dat God Homself in die tyd onttrek het of Homself onbetuig gelaat het nie. Ons moet nie die fout maak om te dink dat God net daar waar groot en opspraakwekkende dinge plaasvind, aan die werk is nie.

Hierdie dure les het die profeet Elia eeue tevore al geleer toe hy in moedeloosheid in die woestyn onder ‘n besembos gaan lê het en gewens het hy gaan dood (1 Kon. 19). Hy was moedeloos omdat hy God se stilswye vertolk het as 'n bewys dat God Hom onttrek het.

Maar toe het God in 'n gesig aan Elia gewys dat ons Hom nie net in sterk stormwinde of in aardbewings of in 'n groot vuur of in watter skouspelagtige tekens ook al moet soek nie. God werk gewoonlik soos 'n fluistering in die windstilte (1 Kon. 19:12). Ongemerk, in die alledaagse verloop van sake, werk God dikwels met groot krag.

Hiervan is ook die vier eeue tussen Maleagi en Matteus 'n skitterende bewys. In hierdie tyd was daar geen stem uit die hemel, geen profeet, geen kragtige tekens nie. Maar tog was God steeds aan die werk, en dit met groot krag.

Trouens, hierdie tydperk was van onbeskryflike belang in die hele openbaringsgeskiedenis. Want dit was die tyd waarin God besig was om die wêreldtoneel voor te berei vir die koms van sy Seun. God was besig om die tyd vol te maak sodat die Messias in die volheid van die tyd kon kom om die koninkryk van die hemele weer te laat deurbreek.

Die vier eeue tussen Maleagi en Matteus was 'n tyd waarin God groot verskuiwings in die internasionale politiek laat plaasvind het. So het Hy daarvoor gesorg dat daar by die koms van Jesus Christus een wêreldtaal gevestig was Gevolglik is die verkondiging van die evangelie nie deur die groot verskeidenheid van tale in die wêreld belemmer nie. Ook het Hy gesorg dat die hele wêreld onder die Romeinse owerheid saamgesnoer was. Daardeur is die hele destyds bekende wêreld vir die apostels maklik toeganklik gemaak om die evangelie van Christus te kan verkondig.

Hieraan kan ons nog 'n lang lys toevoeg van wonderdade van voorbereiding wat God in die stilte van hierdie vier eeue verrig het.

God het Homself dus nie in die tussen-Testamentêre tyd onbetuig gelaat nie. Inteendeel, Hy openbaar Homself in dié tyd as die God wat alles volgens sy Raadsplan beskik en niks laat gebeur voordat Hy nie die tyd daarvoor laat vol word het nie.

Daarom pas dit dat elkeen wat erns maak met die studie van die Bybel as Woord van God, homself deeglik vergewis van wat God alles in die tydperk tussen die Ou- en die Nuwe-Testamentiese openbaring laat gebeur het.