Bron: De Reformatie. 4 bladsye.

Vader van die Begin Af

skildery van Rembrandt

Twee verskillende hande omarm die seun. Die een hand is grof geteken, sigbaar manlik. Die ander hand is fyn geteken, sigbaar vroulik. Ontferming met ’n vaderlike én ’n moederlike hand. Dit is duidelik sigbaar op die skildery van Rembrandt, “Die verlore seun”. Dit is nog steeds te bewonder in St. Petersburg. En met name deur Henri Nouwen weer geskilder in sy boek “Eindelik tuis”. Is dit tereg dat God die Vader ook met moederlike trekke geteken word? Bied dit ’n heilsame regstelling van menige vaderbeeld van God?

’n Falende vaderbeeld🔗

Soos ’n vader liefdevol sy arms om sy kind slaan, so omring God ons Vader ons met erbarming, want ons behoort aan Hom (Ps. 103:5). Vir wie ’n hegte band met sy vader het of gehad het, is dit ’n genot om dit te sing. Aan so ’n beeld heg jy baie waarde. Jy kan baie dinge vir jouself daaroor voorstel. Maar as die band nie meer daar is nie, of selfs nooit gewees het nie? Nare ervarings met aardse vaders kan groot moeite by die sing van hierdie psalm gee. Dit gee ’n kortsluiting as vaders tekort geskiet het. Nog worstel mense met outoritêre vaderbeelde. Nie op soek na ’n vader in gebondenheid nie, maar na verbondenheid: ’n vriend, ’n maat. En nou klink dit, nadat ’n mens hom ontdoen het van ’n vaderfiguur wat gesag uitstraal en hard optree: kan ons ons dit maar voorstel! Dit lyk asof ons vandag onderweg is na ’n vaderlose gemeenskap: wie is tog die man wat die vleis sny?

Daar gaan stemme op dat God as die Vader ’n eensydige beeld voorhou. As dit van hulle afhang, word die vaderbeeld omvorm tot ’n moederbeeld. Waarom nie van God as moeder praat nie? Kom woorde soos: liefde, warmte, geneentheid, geborgenheid, ontferming, medelye dan nie baie meer tot hulle reg nie? Asof hierdie eienskappe net aan moeders toegeskryf kan word. Asof daar ook glad nie ’n boekie oopgemaak kan word oor outoritêre en afwesige moeders nie!

Uit reaksie daarteenoor is daar ander wat dan maar onsydig oor God wil praat.

Is ons nie foutiewelik besig as ons ons vader- en moederbeelde op God projekteer nie? Veral in ’n tyd waarin die ervaring so sterk spreek, is dit belangrik om ag te slaan op God se openbaring.

Moederlik🔗

Dit kan moeilik ontken word. God die Vader praat oor Homself in moederlike beelde. Hy vergelyk Homself met ’n moeder wat troos (Jes. 66:13). En om aan te dui hoe heg die band is wat God met sy volk het: kan ’n vrou ook haar suigeling vergeet, sou sy haar nie ontferm oor die kind uit haar skoot nie? Al sou sy hom vergeet, Ek vergeet u nooit (Jes 49:15). Dawid dig vrymoedig oor die geborgenheid by God soos ’n gespeende kind by sy moeder (Ps. 131).

Weliswaar word God by voorkeur in manlike gestaltes beskryf. Hy word nooit aangespreek as Sy nie. Hy laat Hom nêrens Moeder noem nie. Maar dit neem nie weg dat Hy Homself met moederlike eienskappe kan laat teken nie. God is die Vader, maar ook op ’n moederlike manier! God beskik ook oor eienskappe wat ons, volgens ons kategorieë, moederlik sou noem.

ma en kind🔗

Veelsydig🔗

Die Vaderskap van God het ook niks met ’n seksuele bepaaldheid te make nie. God is nog man nog vrou. Hy is bogeslagtelik. Hy het dit volstrek verbied dat Hy uitgebeeld word, manlik of vroulik (Deut. 4:16-17). Veral gesien teen die agtergrond van godsdienste waarin naas ’n manlike ook ’n vroulike godheid vereer word. Vereer hulle nie in die Roomse Mariaverering naas God die Vader ook ’n verkapte godin nie? Moet Maria nie staan vir moederlike elemente nie? Dit kan wel moontlik so wees dat daar in die moedermaagd vergoeding gesoek word vir wat ’n mens in sy Godsgeloof kwytgeraak het. Dit geld nie alleen vir ’n dergelike Roomse tradisie nie. Elke eensydige manlike beeld van God vra om korreksie. God se Seun bring ons tot die oorspronklike terug. Hy het Hom laat ken (Joh. 1:18). Hy stel die unieke naam van sy Vader: jy sal niemand op aarde jou vader noem nie; want één is jou Vader, wat in die hemel is (Matt. 23:9). Hy is vader Skepper, onnoemlik veelsydig.

Vader Skepper🔗

So verwonderingswaardig is dit tog nie. Sou die Skepper van sowel man as vrou nie alle vaderlike en moederlike eienskappe verteenwoordig nie? Hy het alle goeie eienskappe in Homself. ’n Kind kan vra: waar kom God vandaan? Wanneer is God gebore? Dit is Hy nie. Hy is volstrek oorspronklik. Hy is self die Begin, die Oorsprong sonder oorsprong, die Bron sonder bron, waar alles en almal aan ontspring. Dit word alles in sy Vaderskap uitgedruk. Dit is die kenmerkende van sy Wese. Vaderskap is die wese van God. Hy is Vader van die begin af. Oorspronklik in die mees volle sin van die woord.

Sowel ons vaderskap as ons moederskap kom van Hom af. Vaders en moeders ontleen hulle eienskappe aan Hom (Ef. 3:15). Die eienskappe geld eers vir Hom en dan eers vir ons. Alle verwronge vader- en moederbeelde is slegte kopieë. Lelike soms afskuwelike karikature van sy Vaderskap. Maar God sy dank is daar vaders en moeders wat nog iets van Hom het, in hulle vader- en moederskap.

Nie nuut nie🔗

Die Vadernaam kom in die Ou Testament ± 15 maal voor, teenoor ± 170 maal in die Nuwe Testament. Dit is meer as tien keer soveel, terwyl die Ou Testament byna tien keer so groot is. Nou moet ons altyd oppas vir woorde tel om daarvolgens tot gevolgtrekkings te kom. Jy moet nie tel nie, maar opweeg. Buitendien kan die Vaderskap ook na vore kom, sonder dat die woord “Vader” gebruik word. Byvoorbeeld as Israel “my seun” genoem word ... (Hos. 11:1). Die aanroep van God as Vader kom ook in baie sentrale tekste voor. Soos in die lied van Moses, wat die Volkslied van Israel genoem is: is Hy nie u Vader, wat u geskape het, wat u gemaak het en toeberei het nie (Deut. 32:6)!

Wanneer Jesus die Vadernaam gebruik, is dit nie nuut nie. Dit is nie opvallend dat Jesus, Vader, sê nie. Ook die Jode het hulle daarop beroep: ons het een Vader, God (Joh. 8:41)! Maar hulle het aanstoot geneem aan die manier waarop Jesus oor God die Vader gepraat het. So vertroud, so intiem, so reguit en vrylik. Asof Hy by God in- en uitgeloop het. Asof Hy self van God af gekom het. Asof Hy ’n verhouding met God gehad het soos niemand anders nie. Asof dit sy eie, persoonlike Vader was. Dit het aanstoot gegee. Sy manier van praat oor God as Vader was ongekend. God se Seun het egter nie gemaak asof nie. Dit was regtig só. En dit het nie onopgemerk gebly nie.

Abba🔗

Daar is wel gedink dat die Here Jesus die eerste was om vertroulik “Vader” vir God te sê. Dit sou blyk uit die word “abba”. ’n Aramese woord uit dié dae “Abba” sou in die omgangstaal of brabbeltaal so iets beteken as “pappa”. So intiem en vertroulik sou geen mens met God durf praat het nie. Dit sou onthutsend en skokkend gewees het. Maar ondersoek het uitgewys dat die woord “Abba” baie gebruiklik was vir die vadernaam, ook vir volwassenes. Tog moes die gebruik ’n diep indruk gelaat het by manne soos Petrus, wat dit Hom hoor roep het (Mar. 14:36). Sodat dit onvertaald gebly het om die betekenis te kan proe. Dit het in Getsémane in die uiterste nood geklink: Abba! In groot emosionaliteit geuit. Dit getuig blykbaar van diep persoonlike betrokkenheid. En tegelyk ’n oorgawe aan Hom wat die leiding het en hou. Intiem, betrokke, afhanklik en aanhanklik. “Abba” is in die mond van Jesus ’n woord waarin ’n unieke verhouding gestol het.

hand volwassene en kind🔗

Die Seun!🔗

Die Here Jesus het telkens opnuut gepraat vanuit Sy verwantskap met die Vader. Inderdaad ’n unieke verhouding. Hy praat vanuit sy volstrekte intimiteit met sy Vader. Hy is nie net ’n seun nie, Hy is dié Seun. Hy wat aan die boesem van die Vader is. God die Vader is die oorsprong van Jesus self: God uit God! Hy is van goddelike oorsprong. Van oorsprong: die gemeenskap tussen God en die Woord (Joh. 1). Hy is allereers Vader van sy Seun. ’n Ondeurgrondelike misterie.

Deur hierdie band word die hele wêreld gedra. Hy het Hom laat ken (Joh. 1:18). Tog bly dit opmerklik dat Jesus nooit sê: onse Vader nie. Behalwe dan in die manier van aanspreek in die gebed wat Hy ons geleer het. Hy bly onderskeid maak. Hy sê telkens: u Vader in die hemel. En: “Ek gaan op na my Vader en u Vader” (Joh. 20:17). Hy benadruk sowel die gemeenskaplike, as die onderskeid. Hy staan blykbaar in ’n ander verhouding tot sy Vader as ons.

Sy Vader het Hom gestuur. Sy Vader staan agter Hom. Hy deel alles met sy Vader. Die Vader en Hy is een. Soos die Vader, so die Seun. Wanneer ek Jesus sien, sien ek die Vader (Joh. 14:7). As ek Hom hoor, hoor ek sy Vader. As ek iets van God wil weet, hoef ek maar na Hom te kyk en te luister. Hy het die Vadernaam laat ken soos nooit tevore nie. Hy het aan die naam Vader ’n enorme verdieping gegee. Dit is nie oordrewe om te stel, dat dit ’n samevatting is van Jesus se hele onderwysing nie.

Van oorsprong Vader🔗

Die Here Jesus het die kring baie wyd getrek, toe Hy gesê het: “u Vader laat sy son opgaan oor goed en kwaad, regverdiges en onregverdiges” (Matt. 5:45). Calvyn het in verband met die gebed ons opgeroep, om in die “onse” van die Onse Vader alle mense wat op die aarde lewe in te sluit. Want ons weet nie, so sê hy, wat God oor hulle besluit het nie. Dit bly van oorsprong sy mensekinders. Kinders van een Vader was ons almal. Christus bring ons terug na ons oorsprong uit die Vader Skepper! Niemand is sonder Vader nie. Mens jy is gewil. Vader het jou op die aarde geplaas.

As dit so gestel is, kan elkeen nie Vader sê nie? Kinders van een Vader is ons almal. Ek kry ’n ontroerende gediggie van ’n jong Koerdiese egpaar onder oë: praktiserende Islamiete. Hulle het (weereens) ’n baba verloor, enkele ure na geboorte. Radeloos van verdriet dig hulle die volgende: “Ons het ’n voëltjie in die hande van God, hande wat aan haar ’n hartjie geskenk het, ’n hartjie wat nie vir ons mag klop nie: dit is in die milde Vaderhand genestel.”

Hoor jy hier nie oorspronklike grondtone nie? Hulle is ook in baie ander godsdienste te hoor. Daarmee druk hulle ’n absolute afhanklikheid van hulle god uit, en tegelykertyd respek en vertroue. (Vergelyk die sinsnede uit ’n Sumeriese himne: “Koning, barmhartige Vader, in wie se hand die lewe van die hele aarde is”)

Aangenome🔗

God se seun het ook aan ons duidelik gemaak, dat ons van huis uit geen kind van God meer is nie. “Almal wat Hom aangeneem het, het Hy mag gegee om kinders van God te word (Joh. 1:12)!” Ons kan nooit voluit “Vader” sê, los van God se Seun nie. Ons sê dit net in verbinding met Hom. En wat het die Here Jesus vir mense gesê wat bewus buite Hom om “Vader” vir God gesê het? En daarmee ook nog op hulle bors geslaan het: ons het God as Vader!? Skokkend genoeg: julle het die duiwel as vader (Joh. 8:44).

kruis

Niemand kan voluit “Vader” sê as deur die Seun nie. Dit blyk ook in die briewe van Paulus. Dit is die Gees wat ons laat sê: Abba, Vader (Rom. 8:15)! Die Gees van Christus gee ons die vrymoedigheid, om saam met Christus te roep. Daardie woord “Abba” met ’n persoonlike lading en uit ’n intimiteit gesê. In plaas daarvan dat die Jode sê: ons het die alleenreg om God Vader te noem, is dié reg juis uitgebrei. Deur elke mensekind mag dit in geloof gesê word: Abba, ons Vader (Gal. 4:6). Hei­dene, eers nie die volk van God nie, kom in die huis van Israel se Vader tuis. Ons het ver van die huis af weggeraak, ver van Vader verwyder. Christus het gekom om ons weer terug te bring na ons wortels toe. Om mensekinders weer te laat aansluit by die Bron.

Christus laat “Vader” sê. Dit was op sigself nie nuut nie, maar wel baie oorspronklik. Maar dit kry ’n reuse verdieping. Hy het die Vadernaam in sy oerbetekenis bekend gemaak. Hy lê jou die unieke Vadernaam in die mond. Jy kry goddelike toestemming om saam met Jesus “Abba” te sê. Die naam is duur gekoop, omdat Hy self vir ons verwydering gaan sterf het. Wie tot God wil nader, kan nooit meer sonder die Vadernaam kom nie. God is op sy eer gesteld. Hy laat dit nie oor aan die stemming van sy kinders, hoe hulle Hom aanspreek nie! Hy wil as Vader aangespreek word.

Bevoorreg🔗

Ons sê Vader, in verbinding met God se Seun. Nie as gas nie, maar as kind met Hom en terwille van Hom. Hy leer ons van huis uit sy taal, en sy spraak, en ons lees dit van sy lippe af. Die Gees eien dit van binne af aan jou toe en onderwys jou net so lank, totdat jy saam met Christus durf sê: Abba! Deur die geloof alleen, via die lewende band met Christus, mag jy dit met reg sê. Hy staan in ’n ander verhouding tot sy Vader as ons, maar Hy laat ons ten volle daarin deel. Jy word nie minder gereken as kind nie. Hy laat jou deel in sy intimiteit.

God se Gees maak jou die taal eie en leer jou die taal van Huis uit: Hy getuig met ons gees, dat ons kind van God is. Gedra jou dan ook as kind! En nie as slaaf nie (Gal. 4:7)! ’n Slaaf is nie vry nie. ’n Slaaf staan op die loonlys. ’n Slaaf werk homself op en moet sy posisie verdien of waarmaak. Hy wil presteer, en hy gaan vroeër of later weg. Jy kan jouself in die posisie van ’n kind soos ’n slaaf gedra! Dan kan jy nog net so hard roep dat jy kind is, maar dit was Ismael ook.

’n Seun hoef nie sy posisie te verdien of waar te maak nie, hy is kind aan huis. ’n Bevoorregte posisie. Dit is die vryheid van God se kinders. Dit is nie vryblywend nie. Vader kyk jou ook daarvolgens aan. Kind! Hy stel jou verantwoordelik. Moet Hom nie buite jou lewe hou nie, deel alles met Hom, durf onder Sy oë kom. Kyk Vader as’t ware reguit in die oë. Hy ken elkeen van die begin af. Soos ’n moeder liefde­vol haar arms om haar kind slaan, omring God ons Vader (!) ons met erbarming, want ons is Syne. Hy sal eendag soos ’n moeder alle trane van ons oë afvee, met sy Seun voor oë.