Bron: Die Kerkblad 1995. 2 bladsye.

Van Goeie Vrydag tot Sondag: van dood tot lewe

Verlede week is die dood van die Shellhouse-slagoffers met groot demonstrasie herdenk. Vroeër het andere weer die dood van Chris Hani herdenk, ook met groot ophef. Die moorde op hierdie mense word vandag nog onthou en herdenk deur mense wat hulle as politieke martelare beskou en ophemel.

En volgende week herdenk ons saam met Christene wêreldwyd die dood van Jesus Christus. Ook Hy is vermoor, op die mees blatante en skaamtelose manier denkbaar, met die skyn van 'n regverdige verhoor en teregstelling. Pilatus, die regter wat Jesus verhoor het, het Hom heeltemal onskuldig bevind. Nogtans het hy hom so deur dreigemente van die Jode laat intimideer, dat hy Jesus onskuldig laat teregstel het!

Die gekruisigde Jesus nie 'n blote martelaar nie🔗

Wat het ons aan die dood van Jesus Christus? Maar net nog 'n moord op 'n onskuldige mens? Nog 'n slagoffer van omstandighede? Net nog 'n politieke martelaar? Allermins! Jesus is wel, soos die profeet Jesaja sê: "soos 'n lam ter slagting gelei" (Jes. 53:7). Maar nie as slagoffer van omstandighede nie. In Johannes 10:18 hoor ons Hom sê: "Niemand neem my lewe van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af”. Wat op Golgota gebeur het, was immers so deur God beplan! By herhaling het Jesus sy dissipels daarop gewys dat Hy oorgelewer en doodgemaak moes word (byvoorbeeld Matt. 16:21; Luk. 24:7). Dit moes gebeur want dit was die weg waarlangs God besluit het om ons sondeskuld weg te neem.

Jesus aan die kruis was dus nie 'n willose slagoffer nie, maar die Christus wat die opdrag van die Vader noukeurig uitgevoer het tot op die punt waar Hy kon sê: "Dit is volbring!" Dit is volbring: die straf, die toorn, die vloek van die sondaarmens is gedra. Die skuld is ten volle betaal. Toe Jesus daardie Vrydagmiddag begrawe is, is saam met Hom ook God se toorn oor ons sonde begrawe.

Op Goeie Vrydag herdenk ons dus nie die dood van 'n martelaar nie, nie 'n politieke martelaar nie, selfs nie eens 'n Christen martelaar nie. Op hierdie dag dink ons met dankbaarheid aan hoe Jesus Christus volgens God se genadige wilsbesluit Homself gewilliglik vir ons oorgegee het. Deur sy dood het Hy die straf op ons sonde gedra en ons skuld voor God betaal.

Van Golgota na die leë graf🔗

Goeie Vrydag laat staan ons by die graf van Jesus. As dit al was, was Goeie Vrydag 'n uitsiglose gebeurtenis. Maar die werk van Christus eindig nie in die graf nie. Van die begin af het Hy bekend gemaak dat Hy sy lewe aflê om dit weer te neem (Joh. 10:7). Op die derde dag het Hy weer lewend uit die graf opgestaan. Ook dit herdenk ons met vreugde oor die Paasnaweek. Op Sondag staan ons dus steeds by die graf, maar dan by 'n leë graf.

Maar hoe staan ons by die leë graf van Christus?  Met blydskap? In verwondering? Of dalk verleë?

Die mensdom verleë met die opstanding🔗

In die Bybel lees ons hoe mense van die begin af verleë gestaan het met die oop graf van Jesus Christus. Die Joodse owerpriesters het die wagte omgekoop om die leuen te versprei dat die dissipels Jesus in die nag kom steel het, skryf Matteus (28:13). Die Emmausgangers kon maar net nie die droefheid van Goeie Vrydag afskud nie en het kopskuddend geloop en redekawel oor wat die leë graf tog kon beteken, skryf Lukas (24:12-24). Selfs Thomas, een van Jesus se klein dissipelkring, wou eers sien en voel voor hy bereid was om te glo, skryf Johannes (20:24-29). Toe Paulus jare later die Atheners van die opstanding vertel, het hulle hom uitgelag (Hand. 17:32).

Vandag nog staan mense verleë met die opstanding van Jesus Christus. Ongelowiges verwerp dit summier as wetenskaplik onmoontlik en daarom as 'n mite. Wetenskaplikes probeer dit weg redeneer as dat Jesus slegs 'n skyndood beleef het. Liberale teoloë vergeestelik die opstanding asof Christus bloot in die harte van gelowiges sou "opgestaan" het.

God maak egter in sy Woord aan ons bekend dat Jesus Christus inderdaad self liggaamlik uit die dood opgestaan het. "As Christus nie opgewek is nie," skryf Paulus aan die Korintiërs, "dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof" (1 Kor. 15:14). Met sy opstanding het Christus die bande van die dood deurbreek. Daarmee het Hy ook vir ons die pad deur die graf na die opstanding en die lewe oopgemaak (Joh. 11:25; 1 Kor. 15:12-58).

'n Verkondiging van die groot dade van God🔗

Wat ons dus tydens die drie dae vanaf Goeie Vrydag tot Sondag gedenk, is die drie dae waarin God die grootste wending in die geskiedenis van die mensdom aangebring het. Slegs hulle wat die betekenis van die gekruisigde en opgestane Jesus Christus verwerp, of wat daardeur koudgelaat word, bring hierdie feesdae deur asof dit betekenisloos sou wees.

Die ware Christendom, daarenteen, en daarom ook ons, Gereformeerde Christene, bring hierdie dae deur met die innige geloofsvreugde wat daarby pas. Daardeur word ons eie geloof weer sterker. Daardeur gaan daar 'n getuienis van ons uit na 'n mensdom wat met die leë graf verleë staan.