Bron: Kompas, 2010. 3 bladsye.

Vroulike Ouderlinge?

vroulike predikant

In sy boek The Elder, Today’s Ministry Rooted in All of Scripture (2009) bespreek dr Cornelis van Dam die vraag of die bevestiging van vroulike ouderlinge, soos dit deesdae in verskillende kerklike groeperings gebeur, Bybels verantwoord is.

Die hedendaagse gelykheidskultuur het ʼn probleem daarmee dat vroue geen ouderlinge mag wees nie. Nou kan ʼn mens die vraag stel: is die uitsluiting van vroue uit die amp – soos dit klaarblyklik in die Bybel gebeur – net ʼn uiting van die destydse kultuur, wat daarom nie noodwendig vandag ʼn norm hoef te bly nie? Word die gawes van vroue nie as gevolg daarvan in die kerk onderwaardeer nie?

Belangrik is om te kyk wat die Skrif self meedeel. Die Skrif maak byvoorbeeld duidelik dat die rituele wette insake die tempeldiens iets van die verlede is (Kolossense 2:16-17; Hebreërs 9:1-10:18). Daarenteen bly die tien gebooie en die onderliggende bevel om God en jou naaste lief te hê, steeds van krag. Dit geld ook vir die skeppingsinstellings, soos byvoorbeeld die huwelik. Dit is opvallend dat die apostel Paulus ten aansien van die amp van ouderling terugverwys na die skeppingsinstelling wanneer hy oor die posisie van vroue in die kerk skryf.

Ons sal kortliks na enkele gedeeltes uit die Nuwe Testament kyk in hierdie verband:

1 Timoteus 2:12-13: "Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva."

Sommiges beweer dat hierdie spesifiek vir die gemeente in Efése gegeld het, waar daar moontlik ʼn aantal vroue was wat baie oningelig was. Dit was dan nie Paulus se bedoeling om vroue permanent die swye op te lê nie, maar om hulle te laat onderrig, sodat hulle ook later self onderrig kon gee. Ook word beweer dat die feit dat Paulus dit so uitdruklik moes stel, ʼn aanduiding is dat Timoteus onbewus daarvan was dat vroue nie oudstes mog word nie. Hierdie argumentering is nie oortuigend nie, aangesien daar geen aanduidings is dat daar in Efése ʼn klomp oningeligte vrouens (meer as die mans) was, wat as gevolg daarvan valse leer versprei het nie. Die bevel om haar stil te hou is nie gebaseer op ʼn gebrek aan kennis nie. Die apostel baseer sy verbod op die feit dat Adam eerste geskape is en toe Eva. Dit geld as ʼn universele reël, wat direk gebaseer is op die skepping. Dieselfde kan ook oor 1 Korintiërs 14:33b-35 gesê word. Hoe moet ons hierdie tekste dan wel verstaan? Per slot van rekening lees ons in die Bybel dat daar ook van vroue verwag word om in die kerk te bid, te profeteer en te sing, ens. (1 Korintiërs 11:5 & 14:26). Aan die ander kant is hierdie swyggebod ook belangrik, aangesien dit meer as een keer herhaal word. Hierdie gebod maak slegs sin binne die raamwerk van die skeppingsorde waarna Paulus verwys, dat die man die hoof van die vrou en die gesin is. Ook in die kerk moet dit in ag geneem word.

1 Korintiërs 11:3-16: In hierdie gedeelte maak Paulus duidelik dat ʼn vrou verplig is om ʼn hoofbedekking te dra. Ook hier verwys die apostel terug na die skepping. Nou kom die vraag op hoekom ons minder ernstig is oor hierdie bevel, terwyl Paulus dit ook op die skepping baseer. Hoekom maak ons nie deesdae ʼn punt daarvan dat ʼn vrou ʼn hoed/kopdoek moet dra om haar hare te bedek nie, terwyl ons wel sterk daaroor voel dat ʼn vrou nie ʼn oudste kan word nie? Dr Van Dam verduidelik dat dit in hierdie gedeelte nie oor die hoofbedekking as sulks gaan nie, maar oor die agterliggende saak.

Die gebruik van hoofbedekkings was in dié tyd ʼn uitwerking van die beginsel dat God mans en vroue verskillend geskape het.

vrou en hoed

Paulus beroep hom nie op die skeppingsorde om kopdoeke vir orals en altyd verpligtend te stel nie. Mense van alle tye moet wel eerbied daarvoor hê dat God man en vrou verskillend geskape het – elkeen skitterend in sy aard – en dat God aan elkeen ʼn eie rol toegeken het. Die universele waarheid van geslagtelikheid en elkeen se onderskeie rol moet gehandhaaf word. Die manier waarop elke kultuur dit doen, kan verskil.

Die Deelname van Vroue in die Kerk🔗

Een van die redes hoekom sommiges deesdae die amp van ouderling ook vir vroue wil oopstel, is dat, volgens hulle, vroue in die Nuwe Testament in elk geval betrokke was by amptelike bedienings. Die Skrif leer dat sowel vroue as manne deel in die gawes van die Gees en geroep is om ʼn lewenskragtige bydrae te maak tot die opbou van die kerk. Die Gees het ook aan vroue die gawe gegee van profesie (Handelinge 2:17-18 & 21:9 & 1 Korintiërs 11:5), asook gebed (1 Korintiërs 11:5), sowel as onderrig (Handelinge 18:26). Hierdie gawes van vroue moet benut word tot voordeel van God se gemeente.

Namate elkeen ʼn genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. 1 Petrus 4:10 & 1 Korintiërs 12:5

Nou is dit belangrik om te besef dat die besit van gawes nog nie iets sê oor die wettigheid om vroue in die ouderlingamp te bevestig nie. ʼn Mens hoef nie eers ʼn ouderling te wees om hierdie gawes te gebruik nie. So roep die apostel Paulus ouer vroue byvoorbeeld op om jong vroue te leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê, ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie. (Titus 2:4,5) Hierdie teks bevestig die feit dat aan vroue ook die gawe van onderrig gegee is, maar dit is daarmee nog nie ʼn bewysteks vir vroulike ouderlinge nie. ʼn Basiese beginsel hoe die Skrif uitgelê moet word, is dat die minder duidelike gedeeltes verstaan moet word in die lig van die meer duidelike gedeeltes. Ons lees byvoorbeeld dat Priscilla en Aquila vir Apollos onderrig het (Handelinge 18:26). Dit het by hulle tuis plaasgevind. Om vanuit hierdie voorbeeld te redeneer dat Priscilla daarom sou kwalifiseer om ʼn oudste te word, is om meer in die teks in te lees as wat daar staan. ʼn Kort opmerking oor Priscilla en Aquila kan nie as regverdiging dien om te beweer dat ʼn vrou in die amp van oudste kan dien nie, terwyl uitdruklik op ander plekke in die Skrif die omgekeerde staan, en dan ook nog gebaseer op die skeppingsorde wat God vasgelê het.

Ook as Priscilla, Euodia en Syntiche in Romeine 16:3 en Filippense 4:2-3, medewerkers in die Evangelie genoem word, is hierdie aanduiding te algemeen om daaruit af te lei dat daar toe vroulike oudstes was, soos sommiges deesdae beweer. Daar was baie maniere waarop hierdie vroue medewerkers in die Evangelie was en kon wees, sonder dat hulle per definisie eers in ʼn amp bevestig moes gewees het. Ook hier moet ons ons laat lei deur die meer duidelike gedeeltes in die Skrif om die minder duidelike of meer kriptiese gedeeltes te verstaan.

Ook Romeine 16:7 word soms aangevoer asof dit sou dui op vroulike oudstes, omdat dit skynbaar sou verwys na ʼn vroulike apostel. As ʼn vrou ʼn apostel kan wees, hoekom dan nie ook ʼn oudste nie … is die redenering dan. Hierdie vers lees:

Groet Andronicus en Junias, my stamgenote en my medegevangenes, wat in aansien is onder die apostels en reeds voor my in Christus gewees het.

Andronicus is duidelik ʼn naam van ʼn man, maar by Junias is dit nie so duidelik nie. Hierdie naam is destyds gebruik as sowel ʼn mans- as ʼn vrouenaam. Waarskynlik gaan dit hier oor die Griekse vorm van die Hebreeuse naam Jehunni, wat wel ʼn mansnaam is. Verder is die implikasie van hierdie teks eerder dat bedoel word dat hierdie twee persone hoë aansien geniet het by die apostels, terwyl hulle nie self apostels was nie. Ook kan ʼn mens in gedagte hou dat Paulus soms die term apostel in ʼn algemene sin gebruik – as boodskapper of afgevaardigde (sien bv. 2 Korintiërs 8:23 & Filippense 2:25). Alle gegewens pleit dus teen die stelling dat daar vroulike apostels sou wees.

Daar is nog ʼn teks wat dikwels uit die kas gehaal word deur hulle wat vroulike ouderlinge propageer, naamlik Galasiërs 3:28:

Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.

Hierdie teks kan beslis nie gebruik word om vroulike ouderlinge te propageer nie. Hierdie teks onderstreep die eenheid van alle gelowiges in Christus, maar dit beteken nie dat almal dieselfde funksie en plek in die gemeente het nie. Die apostel is in hierdie hoofstuk nie besig om die onderskeid wat daar tussen manne en vroue bestaan, af te skaf of te ignoreer nie. Die saak wat aan die orde is, is dat almal volledig deel in die redding in Christus.

Ons moet nie vergeet dat Christus self die skeppingsorde van die manlike hoofskap eerbiedig het toe Hy 12 manlike dissipels geroep het (Matteus 10:2-4), bestem om later die apostoliese amp te beklee waarop die Nuwe Testamentiese kerk gegrondves is (Efesiërs 2:20 & Openbaring 21:14).

vissers

Manlike gesag in die kerk is in lyn met die manlike hoofskap van elke gesin. Dit is ook in lyn met die feit dat die Christelike huwelik ʼn afspieëling is van die verhouding tussen Christus en sy gemeente (Efesiërs 5:22-25). En dit is alles in lyn met die skeppingsorde wat God ingestel het. Die Christelike pa wat sy eie huisgesin goed kan beheer, het daarmee die regte kwalifikasie om ook as ouderling die kerk te lei (1 Timoteus 3:4-5).

Voorstanders van die vrou in die amp skep dikwels eers ʼn vals dilemma, in die sin dat vroue andersins nie die geleentheid het om hulle talente te ontplooi tot opbou van die liggaam van Christus nie. Ons het reeds gesien dat die Heilige Gees vroue ook oorlaai met gawes tot die opbou van sy kerk. Hierdie gawes kan ʼn vrou gebruik sonder om eers te wag totdat sy in die amp bevestig is. In God se soewereine wysheid het Hy aan sowel man as vrou spesifieke rolle in die kerk gegee. Hierdie rolle komplementeer mekaar sonder om kompeterend te wees.

Die Bybel leer en vereis ʼn manlike ouderlingskap. Dikwels is daarop gewys dat die druk wat uitgeoefen word om ook vroue as ouderlinge te bevestig, meer te make het met sekulêre, pragmatiese en sosiale faktore, as om respek te hê vir die outoriteit van die Bybel. Die teoloog KK Lim het in sy boek Het spoor van de vrouw in het ambt1 aangetoon hoe drie groot kerklike groeperings in Nederland wat in die 20ste eeu die vrou in die amp toegelaat het, by hulle beslissing Bybelse gegewens oor die onderwerp slegs ʼn marginale rol laat speel het. Maar as die Skrif veronderstel is om die laaste woord te hê, dan bestaan daar geen enkele regverdiging om vroue as ouderlinge te bevestig nie.

Opvallend in dr Van Dam se boek The Elder is die oorweldigende hoeveelheid Bybeltekste wat hy bespreek. Dit is wat die boek waardevol maak, ook oor kerkgrense heen. Om hierdie rede sal die boek waarskynlik nie gou uit die mode raak nie.