Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Vry Soos 'n Voël

Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.

Galasiërs 5:13

voël

Ken jy die naam Icarus? Dit was ‘n bekende naam in die oudheid. Die verhaal vertel dat Icarus saam met sy vader Daedalus op die eiland Kreta gevange was. Daedalus het vir sy seun kunstige vlerke gemaak wat met was aan die liggaam vasgeheg is. Met hierdie vlerke kon Icarus vanaf ‘n berg in die lug opstyg en vlieg. Soos hy gevlieg het, het hy jammer genoeg al hoe nader aan die son gevlieg. Die was het begin smelt en nie ver van die eiland Samos af nie, het hy in die see gestort.

Hierdie verhaal beeld die mens se verlange uit, maar ook sy onmag om te vlieg. Om vry te wees soos ‘n voël. Daardie verlange is diep in elke mens gesetel. Om vry te wees, onafhanklik te wees. Jou aan  niks en niemand steur nie. Heeltemal jou eie gang gaan. Doen net wat jy wil. Dit lyk alte fantasties. Soos wat die jongste seun in die gelykenis die wye wêreld ingetrek het.

Maar is jy dan regtig vry? Of lyk dit slegs vir ‘n oomblik so? Soos wat dit gelyk het asof Icarus regtig kon vlieg, totdat hy in die see geval het. Is die mense rondom ons regtig vry? Of het hulle dalk tog weer slawe geword? Slawe van hulle eie verlangens? Of miskien dalk van die duiwel? En sal hulle dalk nie eendag hulleself te pletter val as dit sal blyk dat hulle nie regtig kon vlieg, nie regtig vry was nie?

Wanneer is mens eintlik regtig vry, so vry soos ‘n voël? Wanneer kan jy regtig van die lewe geniet?

Slegs deur Christus🔗

Paulus skryf in Galasiërs 5:13: “...julle is tot vryheid geroep”. Julle – daar is ook ander. Paulus noem hulle: mense, valse leraars wat vir die Galasiërs gesê het: vir jou redding is daar meer nodig as net jou geloof alleen. Jy moet ook die wette van Moses onderhou en die mans moet hulle laat besny.

Vir ons tyd vertaal: Jy moet iets vir God bewys, dat jy regtig ernstig is. Ons laat ons nie besny nie, maar ons wil op ons eie manier graag vir God wys dat ons ons bes doen vir Hom: deur dikwels en baie intensief te bid, deur ons pligte getrou na te kom en deur die minste te wees. God kan dit mos nie ignoreer nie?

Paulus trek (letterlik) ‘n kruis deur hierdie redenering. Want Christus se kruis sê nie dat jy dit so goed doen nie, maar dat jy dit nog baie beter kan doen. Die kruis sê: jy is so sleg dat net Christus jou kan red. God se Seun wat vir jou aan die kruis gaan hang het. Of jy nou ‘n lewensgevaarlike krimineel of ‘n netjiese kerkganger is, jy is vir 100% van daardie kruis afhanklik. Slegs daar is jou sondes bedek, en slegs daar word jy as kind van God aanvaar. En dít gee jou die vryheid.

Vrygekoop🔗

Die volmaakte verlossingswerk van Jesus Christus is die grond onder jou voete, die veilige ruimte waarbinne jy mag lewe. Sonder dat ons dit verdien, verwyder God al ons vuiligheid. Hy maak ons los van ons sondes. Hy identifiseer ons nie meer met ons sondes nie. As Hy vir ons kyk, sien Hy sy eie Seun. Dít is die vryheid wat God aan ons skenk. Jy is vry van die sonde en die vloek van die wet.

Wat ‘n verligting! Want jy ken jouself so goed. Miskien doen jy glad nie sulke verskriklike dinge nie, maar is daar dalk van daardie verfynde sondes. Daardie jaloesie diep in jou, die egoïsme, die ontevredenheid. Alles sondes wat jou na die ewige hel kon stuur. Sondes wat jou te pletter sou laat val as jy nie ‘n valskerm gehad het nie. Die kruis sê: God sal jou egoïsme, jou jaloesie, jou trots, jou bitterheid nooit meer teen jou hou nie. Want Christus het jou vrygekoop van die vloek van die wet deurdat Hy vir jou ‘n vloek geword het. Die straf op al jou mislukkings is gedra, die vloek is weg. Dít is vryheid. Al die magte van sonde, van vloek, van dood en hel het geen seggenskap meer oor jou nie. Met Christus mag jy ‘n nuwe lewe begin, deur die geloof in Hom,

Vry en Bly🔗

Egte vryheid is dus: ons sondes staan nie meer in die pad tussen God en ons nie. God hou nie meer rekening daarmee nie. Maar ook: God neem ook nie ons goeie dade in berekening nie. Ons hoef nie sekerheid te soek in dit wat ons vir God doen nie. Ons moet slegs in die kruis roem. Ek soek nie meer sekerheid in dit wat ek vir God doen nie, want môre kry ek dit weer nie reg nie. En oormôre is ek nie lus nie. Waar bly my sekerheid dan?

valskerm

Gelukkig is die kruis daar. Daar is die vloek gedra. Net dáár weet ek dat God my nie sal vermorsel nie, dat ek nie daar te pletter sal val nie. Daar weet ek dat God my sondes so ernstig opgeneem het, dat Hy sy eie Seun daarvoor laat sterf het. Daar weet ek: dit is goed, ek is vry – ‘n vrye en blye kind van God. Ek mag van die lewe geniet. Ek mag soos ‘n voël heerlik deur die lug vlieg; ek sal nie te pletter val nie, want ek hang aan die valskerm van verlossing. Ek dra nie meer die las van die sonde nie. Ek hoef dus nie jaloers te wees nie, want ek is rééds ‘n kind van God. Ek hoef nie krampagtig te lewe nie, want God is rééds aan my kant. Ek hoef niks te doen om in God se guns te kom nie, want Hy het ons tot vryheid geroep. Die inisiatief het heeltemal van Sy kant af gekom. God het ons lief in die Here Jesus. En alle toewyding aan God kan is slegs rus vind in die feit dat God ons reeds aanvaar het. Die evangelie is: jy is vry, danksy Jesus Christus. Jy maak ‘n sagte landing in die arms van jou Heiland.

Jou Hande Vry om te Dien🔗

Jy is vry. Klink dit darem nou nie alte maklik nie? Soos: jy kan maar liefhê en doen wat jy wil? Lei dit nie tot pure losbandigheid en willekeur nie? Dit sou so gewees het as God alles aan ons sou oorlaat. Maar dit is nie so nie. God se verlange is om ons aan die beeld van sy Seun gelykvormig te maak. Hy wil graag sien dat ons in sy voetspore sal volg. Die Heilige Gees maak dit moontlik: Hy vorm ons, Hy maak ons tot kinders van God wie se hande vry is om te dien. Paulus wys daarop in die tweede deel van Galasiërs 5:13: ‘maar dien mekaar deur die liefde’. Dis opvallend.

Mense sê: om vry te wees is om te doen wat ék wil, sonder om my aan ander mense te steur. Maar Paulus sê: jy het nie jou vryheid dáárvoor gekry nie. Dan sou daardie vryheid ‘n aanleiding, ‘n aansporing vir die vlees, vir die sonde wees. Dan gebruik jy die vryheid om jouself net uit te leef, soos jy wil. Maar dís nie waarvoor jy die vryheid gekry het nie.

Paulus sê: Daardie vryheid gaan jy nou gebruik om jou naaste in liefde te dien. Diens. ‘n Christen is vrygemaak om te dien. Daar staan letterlik: om jou naaste se slaaf te wees. Jou vryheid mag jy gebruik om te dien. Vryheid wat nie daardie doel het nie, is skynvryheid, in feite ‘n verslaaf wees aan jouself.

Dit is natuurlik ‘n baie ander mentaliteit as wat ons vandag hoor. Vandag is vry wees: kies vir jouself, vir dit waarvan jý hou. Jy moet geniet. Jy moet alles beleef, telkens weer nuwe opwinding beleef.

Maar ‘n kind van God het dit nie meer so nodig nie. Hy is mos reeds vry. Hy het netnou ‘n ewigheid om te geniet. Nou is sy hande dus nog vry om te dien. Hy kan die ander nou gaan liefhê in elke situasie.

Egte Liefde🔗

Die Here Jesus het vir ons ‘n voorbeeld gestel. Hy het altyd in liefde na sy naaste gekyk. Dis nie dat Hy alles goedgekeur of nooit kwaad geraak het nie. Maar Hy is altyd gedryf deur die gedagte: Hoe kan Ek my naaste help om tot sy of haar ewige bestemming te kom? Dít is egte liefde. Nie liewigheid nie, nie toegeeflikheid nie. Maar liefde. Dit is: hoe staan ek nie meer in jou pad nie? Hoe kan ek jou help op pad na die ewigheid? So verbind ons onsself in vryheid aan mekaar.

stap

In die kerk praat ons graag oor ons persoonlike vryheid. Dit klink amper soos: die ander traak my nie. God leer ons: ons mag ons vryheid juis diensbaar maak aan die egte liefde tot mekaar. In die kerk is daar dikwels meningsverskille. Daar is uiteenlopende menings oor verskeie sake. Maar juis dit is ‘n toets of ons mekaar werklik wil liefhê en dien, of nie. Die vraag is: hoe hou ons mekaar vas op pad na die jongste dag? Saam, as vrye kinders van God, mag ons ontdek hoe groot Christus se liefde is.

Op hierdie manier kan ons mekaar in die kerk ook ruimte gun. Ons hoef nie dadelik in alles dieselfde mening te huldig nie (vgl Romeine 14:4, 5 en Romeine 15:5). Ons hoef ook nie alles dadelik by mekaar te beoordeel nie. Ons moet juis baie versigtig daarmee wees! Uiteindelik is elkeen verantwoording aan God verskuldig en nie aan mense nie. Pas dus op vir bemoeisug in die kerk, waarmee ons mekaar se lewe behoorlik kan versuur.

Ons hoef nie angstig of krampagtig met al die vraagstukke van vandag om te gaan nie. Ons is vrye seuns en dogters van God, met die belofte van die Heilige Gees wat ons wys maak. Dít is vir ons genoeg, op pad na die totale bevryding, in die huis van die Vader.