Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Waar is die herders van die kerk?

 - ‘n Hond blaf as hy sien sy meester word aangeval -🔗

In 1545 skryf Calvyn ‘n geskrif teen die dwaling van die Libertyne1. In die voorwoord gee Calvyn ‘n aanduiding waarom dit vir hom nodig was om te skryf. Hy verduidelik wat die taak van ‘n herder in die kerk van Christus is. Die herders moet die kudde van Jesus Christus nie net voedsel gee nie, maar moet ook waak teen wolwe en diewe. Calvyn voel hom dan ook geroepe om die dwaling van die Libertyne teë te spreek.

In die vervolg van die geskrif self, gaan Calvyn in op die verwantskap van die Libertynse dwaling met die ketters soos Marcion en Valentinus uit die vroeë kerk. Hy bespreek hulle oorsprong en veral hul misbruik van die Skrif. In elf hoofstukke bespreek hy hul panteïstiese mistiek. Veel meer kom ter sprake. Marguerite, koningin van Navarre, kry die geskrif in die hande, gee later skriftelik aan Calvyn te kenne dat sy meen dat die boek teen haar en haar dienaars gerig is. Calvyn antwoord haar op 28 April 1545. Hy trek niks terug van wat hy geskryf het nie, aangesien hy dink dat haar diensknegte Thieffry en Pocque tereg berisping nodig gehad het.

Calvyn verduidelik aan die koningin waarom hy genoodsaak was om te reageer. Aangesien hy deur die Here tot amp van predikant geroep is, dwing sy gewete hom om so veel as moontlik weerstand teen die dwaling te bied. “’n Hond blaf en waak as hy sien dat sy meester aangeval word. Ek sou lafhartig wees as ek stil bly en geen geluid maak, terwyl ek sien dat die waarheid van God aangeval word nie. Ek is oortuig dat u nie dink dat ek moet swyg om u te behaag, terwyl ek die Evangelie verloën wat God aan my toevertrou het nie”2.

Hoe nodig het herders vandag nie om bemoedig te word in hul geweldige groot en dringende taak om die dwaling teë te staan nie! Wat Calvyn skryf, lyk vir my na ‘n tydige en aktuele opwekking aan almal wat met name in die amp van predikant en ouderling dien. In die kerk van Christus gaan dit nie oor ‘n vrede wat heers omdat Christus se ware diensknegte die swye opgelê word nie. Dit gaan oor die vrede wat heers omdat Christus deur sy Woord regeer en die dwaling uitwys en verwyder deur sy diensknegte daartoe geroep. Wat hier volg is ‘n vry vertaling van die grootste deel van Calvyn se voorwoord by sy traktaat teen die Libertyne (1545). Sinne is verkort om dit meer leesbaar te maak :

“Die Satan het die afgelope twintig jaar verskillende dwalings en verkeerde menings laat posvat. Sy doel was om die leer van die evangelie wat hy sien opkom het, uit te blus of te verstik of ten minste in ‘n ongunstige lig te stel en in die wêreld gehaat te maak. Baie mense wat tevore getrou onderwys gekry het in die suiwer leer van die Skrif, is skielik oorreed. Die ander, wat hulle voorgeneem het om weerstand te bied en met ‘n ferm standvastigheid die ergernisse te weerstaan, is des te meer versterk in God en in Sy Woord.

Ons Here, soos ek reeds gesê het, laat toe en beskik dat dit gebeur. Dit is sowel tot beproewing van die wat aan Hom behoort, as om die onegtheid of ydelheid van die wat wel beweer dat hulle gelowiges is, openbaar te laat word. Dit gebeur totdat die geleentheid kom om hulle werklike ongeloof na vore te laat kom. Dit is so dat daar sommige is wat oorweldig is deur pure onkunde en naïwiteit. Tegelyk is daar ook geen twyfel oor dat ons Here dié met wie dit só gaan, laat struikel, om hulle in die toekoms te verootmoedig nie. Die Here wil hulle laat groei sodat hulle nog vaster en stewiger in sy Woord gefundeer sal wees. Hy wil hulle ook bekering gee van hulle slordigheid en eiewysheid in die verlede.

Niemand kan homself verontskuldig wanneer hy van die regte weg afgedwaal het om geheg te raak aan die leuen en valsheid nie. Asof dit nie sy eie fout sou wees nie!…Hoe dan ook al, wanneer ‘n kwaadwillige en verderflike sekte begin vorm aanneem, en veral as dit begin toeneem, is dit die plig van hulle wat die Here aangestel het om sy kerk te bou, om na vore te kom. Hulle moet die dwaling teëstaan vóórdat dit gereed is om nog meer tot niet te laat gaan en te laat verval.

Voorwaar, aangesien hulle herders van die kerk is, moet hulle nie slegs aan die kudde van Jesus Christus goeie voedsel voorsit en bedien nie. Hulle moet ook dringend waarsku teen die wolwe en diewe, hulle stem teen hulle verhef en hulle van die kudde wegjaag as hulle naby dié wil kom.

Laat ons dit maar eerlik stel: die dwaalleraars is nie net soos diewe en wolwe nie, maar baie erger. Met hulle bederf van die Woord van God, is hulle soos gifmengers wat arme siele vermoor onder die pretensie dat hulle, hul wei en vir hulle goeie kos voorsit. Die satan hou nie op om alle middele in te span om die heilige eenheid wat ons in ons Here Jesus Christus deur sy Woord het, te verbreek. Terwyl dit só is, is dit des te meer nodig dat dieselfde Woord in die praktyk toegepas word as ‘n swaard en skild om dergelike praktyke teë te staan.

Dit het die Here behaag om uit sy oneindige goedheid sonder om ag te gee op wie ek was, my te voeg by hulle aan wie Hy die opdrag gegee het om sy Waarheid aan die wêreld bekend te maak en óók om dit te handhaaf teenoor alle teëstanders. Daarom moet ek my met hierdie opdrag besig hou volgens die krag wat Hy my gee. Dit doen ek aangesien talle goeie gelowiges wat gewaarsku is of deels met eie oë die verskriklike verwoesting sien wat hierdie teëstanders aanrig, nie opgehou het om my daartoe aan te moedig nie totdat ek beloof het om dit ter hand te neem.”

Endnotes🔗

  1. ^ Contre la secte phantastique et furieuse des Libertins. Qui se nomment spiritueltz
  2. ^ Calvyn aan Marguerite d’Angoulême, vgl. Select Works of John Calvin Vol. 4 Letters 1528 – 1545, p. 440 – 443