Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Was Christus in die Hel?

Vraag: Ons bely in die Twaalf Artikels dat Christus . . . neergedaal het na die hel. Waarop is hierdie belydenis gegrond? Hoe weet ons dat Christus drie dae in die 'hel' was?

Christus het op die dag van sy kruisiging aan een van die mede-gekruisigdes gesê: Vandag sal jy saam met my in die paradys wees! Hoe word die 'hel' versoen met die 'paradys' op dieselfde dag?

donker bos🔗

Prof. G.J.C. Jordaan Antwoord:🔗

Om hierdie vraag te beantwoord, moet 'n mens eers duidelikheid kry oor wat in hierdie belydenis met "hel" bedoel word. Daar is mense wat aan die hel dink as 'n bepaalde ruimtelike plek waarheen die goddelose mense na hulle dood gaan. Hierdie beskouing van die hel vind ons baie sterk by die Roomse kerk.

Hierteenoor moet ons stel dat die Bybel nêrens leer dat die hel 'n ruimtelike plek is nie (en ook nie die hemel nie). Ons lees wel in die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Lukas 16:19-31) dat die ryk man in die doderyk beland het. Die gelykenis skep inderdaad die indruk van die doderyk as 'n plek wat met 'n kloof geskei word van hulle wat by Abraham is.

'n Mens moet egter in gedagte hou dat ons in hierdie geval met 'n gelykenis te doen het, waarin Jesus die uiteinde van die ryk man en Lasarus beskrywe in begrippe en beelde wat binne die mens se ervaringswêreld val. Mense kan nie anders as om in terme van tyd en ruimte te dink nie. Jesus se doel met die gelykenis is egter nie om ons te leer dat die hemel en die hel "plekke" is wat êrens bestaan nie; veel eerder dat die gelowiges na hulle dood troos ontvang, en die ongelowiges in 'n toestand van smart verkeer (Luk. 16:23, 25).

Waar die Bybel wel na die hel verwys, wil dit voorkom dat dit orals verwys na 'n bestaan van smart en ellende, maar spesifiek 'n toestand van totale Godverlatenheid. Die toppunt van smart is tog om van God verlate te wees. In Matteus 23:15 spreek Jesus die skrifgeleerdes en Fariseërs skerp aan: "Julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom 'n kind van die hel, twee maal erger as julleself". Daarmee bedoel Hy nie dat so 'n bekeerling vir 'n spesifieke plek bestem is nie, maar dat skrifgeleerdes hom van God vervreem sodat sy uiteinde ook totale Godverlatenheid sal wees.

Om van God verlate te wees, is die gevolg van God se toorn. In Efesiërs 2:2 lees ons van die "kinders van die ongehoorsaamheid" wat aldus vers 3 "kinders van die toorn" is. In sy toorn onttrek God sy genadige bystand en hulp aan die goddelose mens, sodat alle ellende ongebreideld op hom aanstorm. Lees maar die klaaglied oor Godverlatenheid in Psalm 22. Om in 'n toestand te bestaan waarin God sy hand heeltemal van jou onttrek sodat alle ellende op jou losgelaat word sonder God se genade — dit is hel. "Hel" is dus wanneer die mens in ewigheid deur God verlaat word.

Van hierdie hel het Jesus ons bevry. In ons plek het hy in die hel neergedaal deur van God verlate te word. Wanneer was Jesus dan van God verlate? Inderwaarheid was sy hele lewe op aarde vir Hom 'n tyd van Godverlatenheid, omdat Hy sy Goddelike gestalte prysgegee het en die gestalte van 'n mens aangeneem het (Fil. 2:6-8). Hy het egter die dieptepunt van Godverlatenheid gely toe Hy aan die kruis uitgeroep het: "My God, my God waarom het U my verlaat?" (Matt. 27:46).

Daar aan die kruis is selfs die sonlig as teken van God se sorg van Hom onttrek: vir drie ure lank was daar duisternis (Luk. 23:44, 45).

graf van Christus

Hieruit is dit duidelik dat Jesus se "neerdaal na die hel" nie plaasgevind het in die drie dae tussen sy kruisiging en opstanding nie. Trouens, in die Twaalf Artikels van ons geloof bely ons nêrens dat Hy vir drie dae lank in die hel was nie — die "drie dae" is maar 'n aanname wat sommige mense sonder enige gronde maak. Nee, Christus se hele tyd op aarde was vir Hom 'n "neerdaal in die hel", en veral die laaste deel daarvan. So bely ons in Sondag 16 (vraag 44) van die Heidelbergse Kategismus.

Na sy kruisiging het Jesus wel vir drie dae lank die dood ingegaan. In die dood is sy liggaam en gees van mekaar geskei: sy liggaam is begrawe, maar sy gees is onmiddellik opgeneem na die Vader. In Lukas 23:46 lees ons dat Jesus by sy dood uitgeroep het: "Vader, in U hande gee ek my gees oor!" Eers drie dae later, met sy opstanding uit die dood is sy gees weer met sy liggaam verenig. Jesus kon dus in alle waarheid vir die boosdoener langs Hom aan die kruis sê: "Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees". Op daardie selfde dag was die man se gees saam met dié van Christus by die Vader, dit is die Paradys.

Om saam te vat. met die lig wat ons uit die Bybel het, kan ons sê dat Christus se hele tyd op aarde, maar veral sy lyding aan die kruis, die hel was waarin Hy neergedaal het. Ons kan ook sê dat Hy nie in die drie dae na sy kruisiging in die hel was nie, want hoewel sy liggaam in die graf was, was sy gees onmiddellik by die Vader in die Paradys.